Charmaine Africa se Amma is nié 'n tipiese memoir nie
'n Resensie deur Anschen Conradie
Lewensdefiniërende oomblikke is daardie gebeurtenisse wat in die geheue vasgebrand word en bakens vorm tussen daarvoor en daarna. ’n Kind se eerste skooldag is dikwels een daarvan. Samyn Africa se eerste word nie met vrolikheid begroet nie. “Skool se moere, ammel se moere” (13). Amma en Derre is reeds werk toe en Ouma Biya moet haar skool toe neem. Sy is aangetrek in ’n bottelgroen kussingsloop-rok met gate vir haar kop en arms, gewapen met ’n tas wat slegs twee snye brood met hoendervet bevat. Biya stel haar voor as Charmaine Africa wat op dieselfde dag as Liewe Jesus in 1960 gebore is, maar daarvan wis Samyn niks. “[E]k was gebore innie mirrel vannie winte” (127).
Amma (2024, Tafelberg) is Charmaine Africa se debuut. Die teks word aangebied as ’n memoir uit Samyn se eerstepersoon-narratief, verdeel in drie dele wat elk saamgestel is deur kort, individueel-getitelde hoofstukke. Deel 1 open op Samyn se eerste skooldag in 1966; in Deel 2 is sy ’n tiener en jong volwassene; Deel 3 volg haar lewe daarna. Die aanbieding toon sterk ooreenkomste met Ronelda S Kamfer se Kompoun (2021, Kwela). In beide gevalle word daar gereflekteer op traumatiese gebeurtenisse vanuit ’n soortgelyke agtergrond, maar die narratiewe dek verskillende tydperke en Africa se aanbieding is chronologies, in teenstelling met dié van Kamfer.
Anders as die tradisionele memoir wat hoofsaaklik op die fokaliseerder fokus, is Amma se visier, soos in die titel verklap, gerig op die verteller se ma eerder as op Samyn self. Deur haar perspektiewe en herinneringe kry Mathilda Lewis – Amma, soos Samyn haar ken, en Tillie, soos ander haar ken – waarlik gestalte.
Oplettende lesers sal merk dat die skrywer se getroude van, asook dié van die kopiereghouer nie Africa is nie, maar Trantraal. Inderdaad. Nathan. André. Amma se nalatenskap strek ver verby woorde. Want komvandaan maak saak.
'Die hele biesagheid maak my nou baie befok'
Samyn se verhaal strek oor drie dekades en is die narratief van ’n familie gebuk onder apartheid, armoede en alkoholmisbruik, vanaf die 1960’s tot die 1990’s. Die kleintjies moes soms andere se weggooiskille en -stronke as enigste ete van die dag loop en optel, en die reuk van teer, afkomstig van die houtvloer se blokkies wat vir brandhout gebruik word, was goeie nuus – dit het beteken dat daar kos in die huis was. “As daa ooit mense was wattie gewiet het van ophou nie, wassit my familie, ôs haloep verbyrie finish line en stop ees as ôs biene afval” (67). Hierdie bykans gelatenheid herinner aan Adam Small se “die Here het gaskommel / en die dice het verkeerd gaval vi’ ons / daai’s maar al [...]” (Kitaar my kruis, 1974, HAUM), maar dit verhoed haar nie om soms wel te ontplof nie: “Die hele biesagheid maak my nou baie befok” (83).
Samyn word deurlopend bewus van die konflik tussen christen en Moslem in die Lavis, synde Amma na laasgenoemde verwys as “Slamse” en hulle dreig: “Die regte ding is om te fokof voo ek julle vebrand met koekwate” (99). Samyn ontmoet ook vir Isiah, alias Oupa, en vertel van hulle eerste fliekafspraak. Enter the dragon is sedertdien vir haar sinoniem met die gekraak van ’n Franse brood onder die lem van ’n Okapi en die reuk van smeerwors.
Bishop Lavis is die tuiste van die Africa-gesin. Tillie, Samyn se Amma, is werksaam by ’n hoenderfabriek en is ’n meester in die gebruik van hoendervet. Derre, Josef Africa, eers werksaam vir die spoorweë en later vir die poskantoor, is meestal onder die prop en beskuldig dan Samyn se ma van hoerery, maar sy glo: “Assie liewe vi jou sielemoene gie, gooi bietjie syke op en iet die ding met skil en al” (87). In ’n ander toneel verklaar Derre: “I believe in God the Father, the Son, the Holy Ghost en Josef Africa homself” (43). Biya se voortydige dood is vir Samyn “soese bright light wat direk in jou oë skyn. Daai pa sekondes van blindheid, dan die gesukkel om jou oë te adjust voo jy kan sien wat om jou angan” (70).
In Samyn se huis is byname ’n gegewe. Benewens Biya, Derre, Amma en Samyn, is daar die ouer susters, Viola en Simone, beter bekend as Ola en Mona. Edith, oftewel Edie, is effe jonger. Dan is daar die broers. David is David, maar Baby is eintlik Nigel. Amma het later besluit Aaron is meer gepas, maar Baby is die naam wat vasgesteek het. Ola en Mona is reeds getroud, Edie is die ordentlike kind, David die kunstenaar. Baby, die reus met die sagte hart, is Samyn se eie Simple Simon, die een wat vir ’n blikkie tamatievis winkel toe gestuur word en terugkom met ’n stukkie soutvis en ’n blikkie tamatiepasta.
Amma ontbreek glad nie aan humoristiese beskrywings nie. Rachel, ’n kindervriendin, “hette funny oeg wat flicker soes krismis lights” (35); iemand mag ’n kerkmens wees, maar as daar baklei moet word, trek jy vinnig jou “bekeerbaadjie” uit, en ’n aantyging van alkoholdiefstal word opgevolg met: “[H]y moet eintlik dankie sê ôs het sy wyn ytgesyp, wannit kan nou hy gewieset wat hie oppie grond sit mettie moerse kopsee” (114).
'And I will follow soon'
In 1982, met die opening van Deel 3, trou Samyn en haar Isiah. Hulle trek mettertyd uit Amma se huis vol kinders en kleinkinders uit. Laterjare, wanneer Amma onverwags sterf, vertel Samyn met treffende patos van haar Derre, wat Amma soveel keer verniel het en die oorsaak van ongekende ellende was, se reaksie op die doodstyding. “Amma is dood, Derre... rêrag.” Sy verslae: “And I will follow soon” spreek boekdele (166).
In die nawoord onthou Samyn egter ná haar pa se dood ’n ander Derre. Nie die gevreesde dronklap nie, maar die een wat haar hare sorgvuldig en sagkens gevleg het, die een wat vyfsente as sakgeld op betaaldag uitgedeel het, die een wat haar kleintyd belowe het dat haar prins ook eendag sal kom. Sy het ’n bietjie van Biya, bietjie van Derre en ’n “hele longvol” (175) van Amma ingeasem.
Die groot uitdaging van ’n memoir is natuurlik die onbetroubaarheid van geheue, ’n aspek wat deur menige ander tekste, fiksie sowel as nie-fiksie, uitgelig word. Julian Barnes se The sense of an ending (2011, Random House) verwoord hierdie verskynsel as volg: “We live with such easy assumptions, don’t we? For instance, that memory equals events plus time. But it’s all much odder than this.” Samyn se herinneringe is hare en hare alleen, die absolute waarheid ingekleur deur emosies en subjektiewe gewaarwordings. In verskeie gevalle onthou sy merkwaardige details, in andere haar eie gevoelens eerder as die koue feite. Gekonfronteer met dieselfde uitdaging in ’n Hart is so groot soos ’n vuis verklaar PP Fourie: “[D]ie verlede [is] meer as wat met jou gebeur het of wat jy oorleef het” (2021, Kwela).
Samyn se narratief bied ’n onvergeetlike blik op die lewe in Bishop Lavis. “Wan as jy ytie Lavis kô issit soes jy nie kan wegbly nie” (158). Africa skryf met rou eerlikheid, evokatiewe beskrywings en egte humor. In teenstelling met die aanhaling op die agterplat: “Op skool was ôs gelee… om cursive te skryf… En kyk nou vi ons… ôs met ôs mooi handskrifte en nieman om voo te skryffie” waarin die oënskynlike sinneloosheid van opvoeding betreur word, beleef Kaaps-Afrikaans ’n oplewing en welverdiende erkenning in die letterkunde.