Koek: van sexy lap dances tot bloederige organe
Dié reeks is oordadig, flashy en vulgêr — Elzanne Coetzee is obsessed
Met: Cindy Swanepoel, Ashley de lange, Sandra Prinsloo; regisseur: Johannes Pieter Nel; geskep deur: Christiaan Olwagen; vervaardiger: Roelof Storm
’n Paar weke gelede sien ek ’n nuwe Afrikaanse reeks op Showmax en besluit om die eerste episode ’n kans te gee. Nog voordat ek die beskrywing van Koek lees, is ek reeds geprikkel deur die legendariese Sandra Prinsloo, geklee in ’n fur tippet, animal print-bloes en ’n groot sonbril, wat in die key visual van die reeks pronk. It’s giving mob wife en ek is 100% hier daarvoor. Buitendien, ná die bingeworthy Trompoppie en Donkerbos, is Koek tog sekerlik die kyk werd, of hoe? Ek verstout my om te sê ná die openingstoneel is ek hooked.
Kitschy koekerigheid
Wat Koek so catchy en uniek maak, is die besonderse fyn spel tussen humor, erns, kitsch en gore. In die reeks word ’n vanilla huisvrou Christelle en haar jonger suster Lulu (Cindy Swanepoel en Ashley de Lange) betrokke in die wêreld van ’n ietwat onkonvensionele ontkleedansklub, Koeksusters, waar Moekie en haar dogter Stefanie Koekemoer (Sandra Prinsloo en Llandi Beeslaar) die reëls bepaal. And might I add, Swanepoel se Christelle-karakter is glad nie die Annelize van Binnelanders wat sommige van ons dalk ken nie. Wat maak van die klub ’n onkonvensionele een? Kyk maar self – jy sal nie spyt wees nie.
Dis veral die toepassing van bepaalde kitsch-elemente in Koek sonder dat dit goedkoop voel wat my aandag aangryp en behou. Kitsch word algemeen geassosieer met lae kuns of kuns wat nie as smaakvol beskou word nie. Dis oordadig, flashy en vulgêr. As ek met die metafoor kan werk: Dis stroopsoet koeksisters en ’n dubbelsjokoladekoek waarvan die suikerinhoud verdriedubbel is.
Maar dis juis wat Koek so lekker maak om te kyk! Jy cringe eintlik alreeds wanneer jy die titel hardop sê, want in baie opsigte word die titel bedoel presies soos jy die woord verstaan wanneer jou kommin buurman dit uiter. Ons het immers hier met ontkleedansers te make. Hiermee sê ek egter glad nie dat die dansers, en hierby sluit ek Koeksusters se wonderlike choreograaf Ryno Mans (Jacques Bessenger) in, enigiets minder as fabulous is nie.
Waar die ware kuns inkom, is in die vermenging van cringey kitsch en fabulosity met relevante kwessies waarmee soveel (Afrikaanse) mense hul vereenselwig maar waarskynlik nooit oor praat nie, hetsy vanweë die shame wat daaraan verbind word of vanweë trots. Van eensydige liefde, liefdesteleurstellings en mommy issues tot jeukerige mans en geheime queer-verhoudings.
Kwessies soos die feit dat dit taboe is om oor seks te praat, en soveel te meer as dit gaan om probleme in die slaapkamer. Kwessies soos die feit dat onenigheid in ’n tradisionele, heteroseksuele verhouding so dikwels op die vrou blameer word. Sy is óf te koekerig óf te los; sy moet kinders baar en hulle grootmaak en behoede haar as sy enigiets anders as heilsame moederskap en goeie wifey-wees begeer – die vervulling van ’n loopbaan, vriendskappe en stokperdjies is mos vir haar man beskore. En as haar man haar verneuk, is dít ook haar skuld.
Have you met my Art, Mama?
Koek lê iewers op die spektrum tussen alte herkenbare dialoog en abjekte tonele met skalpels en vrot niere. Net soos jy dink nóú het die reeks ’n hoogtepunt bereik, volg die volgende heerlik-skokkende toneel. Hier is nie tyd of plek vir blik of bloos nie.
In die afgelope dekade het ek so gewoond geraak daaraan dat die Afrikaanse vermaak wat ek gewoonlik genotvol vind, Kuns met ’n hoofletter-k is. Poëties, donker en absurd. Jy moet tussen die lyne kan lees, jy moet diep daaroor kan besin, jy moet akademiese gesprekke daaroor kan voer, jy moet die filosofie daaragter verstaan.
In Koek gebeur die teenoorgestelde – niks word tussen die lyne weggesteek nie. Dis in jou gesig, dis woes en wild, dis gegewe nogtans absurd, maar tog eksentriek, snaaks, eg en realisties. Koek is captivating en op die man af, en ek kan met alle eerlikheid sê dis iets wat ek nog nooit in Afrikaans beleef het nie.
Sommige van ons is dalk minder gewillig om te erken dat ons glad nie so selfvoldaan behoort te wees as wat ons is nie, want as jy eerlik is met jouself, is daar ’n bietjie van Koeksusters in elkeen van ons. Die gesegde lui immers nie “bo blink, onder blinker” nie. Die indrukwekkende regie, teks en rolverdeling maak van elke Donderdag ’n opwindende een wanneer die volgende episode van Koek beskikbaar is. As jy graag wil sien wat ’n verveelde, Afrikaanse huisvrou en die baasbrein agter ’n sindikaat-cum-ontkleedansklub-eienaar gemeen het, skiet die springmielies; hou ’n watch party; nooi jou ma, ek dare jou.