Oor De Klerk Oelofse en Nico Scheepers se teaterstuk, 'n Akkerboom

Oor De Klerk Oelofse en Nico Scheepers se teaterstuk, 'n Akkerboom

Foto’s: Juan Pinnick

Om sin te maak van die illusie

Daar is ’n stadium tydens enige kunstefeesweek wanneer die lyne tussen die werklikheid en wat in die teater afspeel, vir my begin vervaag. Dis gewoonlik teen die vyfde feesdag, wanneer die min slaap, die baie produksies bywoon en die aura van die (dikwels) nuwe omgewing ordentlik begin insink. Tydens die eerste paar kunstefeeste wat ek bygewoon het, het hierdie grys area tussen die werklikheid en fantasie my ongelooflik ongemaklik laat voel. Maar iets het verander; dis nou een van my gunstelingervaringe tot op hede. Saam met die aanvaarding en omhelsing van hierdie tussenin-gevoel, kom ’n ongekende vryheid.

Op my vyfde feesdag by die 2023-Vrystaat Kunstefees het ek ’n Akkerboom gaan kyk – die ideale produksie om te sien as jy die absurditeit van die alledaagse ten volle wil omhels. Hierdie produksie is gebaseer op die oorspronklike An Oak Tree deur Tim Crouch; ’n wipwaentjie van emosie waardeur die wyse waarop ons die wêreld rondom ons waarneem en interpreteer en die wyse waarop ons verlies hanteer, bevraagteken word.

Kortom handel ’n Akkerboom oor ’n hipnotiseur (De Klerk Oelofse) wat per ongeluk ’n kind doodgery het. Hy word onkant gevang wanneer die kind se pa een van die vrywilligers is tydens een van sy hipnose-optredes.

By elke vertoning van ’n Akkerboom word Oelofse vergesel deur ’n ander akteur. Wie die gasakteur is, is totdat hulle op die verhoog verskyn ’n verrassing – ook vir Oelofse. In die vertoning wat ek bygewoon het, was Wynand Kotze die gasakteur. Kotze het nie vooraf die teks gesien nie en moes werk met wat hy gegee is op die verhoog om die karakter André, die pa van die kind, te vertolk. Terwyl Oelofse by tye aan Kotze woord-vir-woord-instruksies gegee het om te herhaal en daar ook brokkies van die teks aan hom verskaf is op die verhoog, bly die gehoor se aandag behoue, want soos Elodi Troskie in haar resensie van die 2022-Toyota US Woordfees-vertoning van ’n Akkerboom verwoord: “Die onverwagse is [...] déél van die gehoor se toneelervaring. Ons pluis dinge ook maar uit, nes [die gasakteur], wat die langste onvoorbereide mondeling van [hulle] lewe moet navigeer – boonop voor ’n saal vol afwagtende feesgangers.” 

Die gehoor word as’t ware sáám met die gasakteur aan die diepkant ingegooi, met instruksies wat ook aan ons deurgegee word – vir die duur van die toneelstuk is ons die besoekers aan ’n kroeg voor wie die hipnotiseur sy magic pleeg. Ons word saam met die gasakteur (en saam met die hipnotiseur) aandadig aan die gruweldaad, deurdat geeneen van die gehoorlede intree wanneer die hipnotiseur die pa probeer oortuig dat hy in werklikheid sy eie dogter doodgery het nie. As dit so maklik is om die pa te oortuig van die skynbaar onmoontlike, beteken dit dat enigeen net sowel skuldig kon wees aan dieselfde of dalk selfs meer afskuwelike wandaad? 

Terwyl Oelofse se rol die gehoor bewus maak van hoe die regisseurstaak hom afspeel, steek daar ook iets meer in die in-en-uit-beweeg in die rolle vir albei akteurs – beide Oelofse en die gasakteur vertolk inderwaarheid twee rolle: Die akteur wat ’n aangepaste weergawe van hom-/haarself as karakter vertolk (dus Oelofse as regisseur-karakter en Kotze as karakter) en die karakters wie se storie in die toneelstuk vertel word (die hipnotiseur en die pa André). Deur die loop van die produksie word die gehoor meegesleur deur hierdie afwisseling in karakters totdat jy self nie meer seker is wie die skuldige is en wat nou eintlik gebeur het nie. Interessant hoedat die “towerkunstenaar” as’t ware sy truuks aan die gehoor ontbloot en in plaas daarvan dat dit die illusie bederf, dien hierdie onthulling eerder as aansporing om juis te val daarvoor.

Om hierdie teks verder te ontsluit, lees ek oor die kunsinstallasie waarop Crouch se An Oak Tree gebaseer is (sien: Paul Kammies se resensie oor vanjaar se Vrystaat Kunstefees-vertoning van ’n Akkerboom). Die installasie deur Michael Craig-Martin, met dieselfde titel, bestaan uit ’n glas water wat op ’n glas-badkamerrakkie geplaas is. Hiermee saam het Craig-Martin ’n stel vrae en antwoorde saamgestel waarin hy beweer dat die glas water ’n akkerboom is. Hierdie idee is gebaseer op die konsep van transsubstansiasie – die nosie in die Katolieke geloof dat brood en wyn die liggaam en bloed van Christus voorstel.

Die vermoë om te glo dat ’n voorwerp iets anders is as wat die fisiese voorkoms aandui, vereis ’n sin van transformerende visie. Hierdie wyse van kyk na die wêreld lê aan die kern van konseptuele denkprosesse, waardeur intellektuele en emosionele waardes aan beelde en objekte toegeken word. Craig-Martin illustreer hierdeur dat die kruks van kuns lê in kunstenaars se vertroue in wat hulle het om aan te bied en die aanskouers se bereidwilligheid om te glo wat hulle waarneem. In ’n Akkerboom speel presies dieselfde konsep af, en word jy as gehoorlid onwillekeurig (of dalk juis willekeurig, aangesien jy instem tot dié ervaring deur die vertoning in die eerste plek by te woon) gehipnotiseer deur wat voor jou oë op die verhoog plaasvind.

’n Akkerboom is ’n intellektuele en fisiese ervaring wat op verskeie vlakke funksioneer. Oelofse se vlot vertolking van sy rol as beide regisseur en hipnotiseur dra in ’n groot mate by daartoe dat die gehoor tegelykertyd en op oortuigende wyse twee ervaringe meemaak – een waarin dit duidelik is dat dit wat jy sien, blote toneelspeel en illusie is, en een waarin jy ingee vir die illusie en saam met André die diep rou, verlies en skuldgevoel ervaar wat verband hou met die afsterwe van sy dogter. 

Deur hierdie toneelstuk demonstreer regisseur Nico Scheepers die mag van suggestie en die mens se gewilligheid en natuurlike neiging tot selektiewe geheue – ons sien, glo en onthou wat ons wil, oftewel wat die brein toelaat. Op dieselfde wyse as wat die hipnotiseur-karakter tydelik die realiteit van beide die gasakteur en die gehoor bepaal, kies ons geheue hoe en wat om te onthou ten einde die verlede te romantiseer, om dit te vergeet wat te seer maak en om ons te beskerm teen insae waarvoor ons nie gereed is nie.

Deur hierdie toneelstuk demonstreer regisseur Nico Scheepers die mag van suggestie en die mens se gewilligheid en natuurlike neiging tot selektiewe geheue – ons sien, glo en onthou wat ons wil, oftewel wat die brein toelaat.
— Elzanne Coetzee

Hierdie idee mag dalk die kyker noop om te vra of ons dan enigsins die werklikheid kan vertrou? Bestaan daar iets soos een egte “waarheid”? En die antwoord is nee, MAAR die goeie nuus is dit beteken jy het die vryheid om jou eie werklikheid te bepaal.    

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Oor De Klerk Oelofse en Nico Scheepers se teaterstuk, 'n Akkerboom gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand