Gaireyah Fredericks se een voet innie kabr (graf)

'n Omvattende vertolking van Kaapse Moslems se lewensbestaan

een voet innie kabr (2024, Kwela) is ’n aangrypende bundel van 21 kortverhale wat ’n reeks verweefde narratiewe uitbeeld en die ervaringe van Kaapse Moslem-karakters sentraal stel. Gaireyah Fredericks – wat reeds nege selfgepubliseerde en prys-genomineerde boeke uitgegee het – skryf in Kaaps en Arabiese Afrikaans. Sy is verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland by die Centre for Multilingualism and Diversities Research, waar sy bydra tot die verryking van Kaaps deur curriculumbronne te vertaal. Die keuse om self ook in Kaaps te skryf dra ’n radikaal taalkundige en letterkundige boodskap oor en funksioneer as ’n bevestiging van ’n omgangstaal wat tot dusver ’n minder prominente rol in die Suid-Afrikaanse kanon gespeel het. Sommige woorde word agter in ’n beskrywende woordelys saamgevat, maar die leser kan ook besluit om eenvoudig die musikaliteit van klank, sonder die gewig van spesifieke betekenis, te geniet. 

Kabr beteken graf. Soos die bundeltitel se grafsimboliek duidelik aandui, speel die dood hier ’n sentrale rol. Die boek is vol doodstonele en grafte, “vars grondhoepe wat nog hoeg staan en noggie ees sementblokke om hettie” (bl.9). ’n Vrou verloor haar ma en ’n broer verloor sy suster. ’n Vrou verloor haar pasgebore tweeling en haar “[t]rane loep binnetoe” (bl.36). Rou en verlies kronkel dus tematies deur die boek, maar wat veral opvallend is, is dat die dood merendeels met die lewe geassosieer word. Mens kan dié stelling negatief interpreteer en sê dat die lewe, en ook die oomblik van geboorte self, altyd die moontlikheid van lewensduur, en dus die dood, inhou. So besin een karakter byvoorbeeld dat “[a]sse vrou geboorte gie [...] sy met een voet innie kabr” (bl.26) staan. Die geweld van geboorte hou die latente moontlikheid van die dood in, vir beide die moeder en die kind, en juis in die geval van hierdie verhaal treur die jong ouers oor ’n stilgeboorte. Die teenoorgestelde standpunt word egter ook gestel: Die dood self gee verdere vorm aan die lewe. So verduidelik ’n karakter dat “[a]s Moeslims is ôs tevriede as ôs kinnes maniengal [afsterf], wan jou kinnes sal wag vi jou byrie deere van Jannat [die hoogste blyplek] tottie dag jy daa ankom” (bl.8). Soortgelyk vertel ’n ander karakter dat “dood betieken weg en by Allah, soe jy support life” (bl.36). Die ellende van verlies geniet nuwe betekenis wanneer dit ’n sinoniem van die lewe raak.

Hierdie positiewe verwerking van die dood word baie produktief en selfs spekulatief aangewend in die verhaal ‘Die mayet’ (“die afgestorwene”; bl.12–8). Hier is die verteller self oorlede en in die proses om voorberei te word vir haar eie begrafnis. Bewus van wat om haar gebeur, beskryf sy rituele, hoe sy deur haar dogters en ander vroue in die gemeenskap gewas word, hoe haar hare gevleg word en hoe sy met ’n wit laken bedek word. Alhoewel sy nie noodwendig glo dat sy haar lewe eerbiedig genoeg gelei het vir so ’n respekvolle begrafnis nie, is die ervaring een van genoegsaamheid, tevredenheid en betekenisvolle samesyn met geliefdes. Sy vertel dat haar “gratitude die kame inne fragrance more pleasing dannie rooswate [vul]. Die plooie van doodsangs disappear en [sy] lyk soema pleased en tevriede. Algamdoeliellaah [eer aan God]” (bl.16). Die vrouens om haar sien haar glimlag. “[H]ulle harte smile trug” (bl.16). Die feit dat sy beide as ’n waarnemer van en ’n deelnemer aan haar eie dood kan optree, is tekenend van die betrokke aard van die dood in hierdie konteks. Sy is nie alleenlik ’n lyk nie. Haar liggaam word begrawe, maar haar bewussyn leef voort in die teenwoordigheid van Allah en in haar interaksies met die mense wat sy agterlaat. Vir ’n leser wat nie ’n breë kennis van die Moslemgeloof het nie, het hierdie spesifieke verhaal ook ’n eksperimentele, literêre strekking. Die oorlede verteller dra haarself surrealisties oor. Die storie val iewers tussen geloofsbetuiging en science fiction.

Fredericks laat godsdiens en realisme subtiel saamwerk om ’n wêreld te skep wat beide wonderdadig en uitermatig gedetailleerd voel. So wissel die verhale tussen portrette van gewone gebeurtenisse – ’n familie wat koeksisters bak, ’n kind wat naaldwerk doen saam met haar ouma, ’n onverwagse gesprek oor opera – en die spirituele formulering van gebed, ritueel en geloof. Fredericks dra die werklikheid van altwee pole oor. In die laaste storie word die karakter Ghaliefa uitgenooi om ’n gedig te skryf ter ere van die profeet Muhammad. Sy moet die gedig voor haar familie en gemeenskap resiteer. “Is een ding as jy soema net skryf ommat jy lus het as wat iemant jou commission om te skryf,” verduidelik Ghaliefa aanvanklik, “[d]an skielik voelitie natural ie” (bl.175). Eers sukkel sy, maar dan vind sy inspirasie in ’n droom wat haar die vers soos diktee laat neerpen. Skielik vloei haar woorde en “sône vêdere worries lê [haar] poem kant en kla” (bl.176). Dié word in Engels voorgedra:

Oh Muhammad, I dreamt of you last night.
Dreamt of your departure from this world
and now, today, I celebrate your birthday. (bl.180)

Die metafisiese aard van hierdie gedig, asook die vers se tematiese verheerliking van die Moslemgeloof funksioneer as ’n mikrokosmos van die bundel as ’n geheel en dui op ’n tipe kulturele storievertelling. Lesers van verskillende agtergronde word ’n oomblik gegun om hul kulturele horisonne te verbreed, om onbekende feesvieringe mee te maak en om medemenslik met gemeenskaplike ervaringe te assosieer. 

Sommige van die karakters, veral minder tradisionele Moslemvroue, word as deel van ’n kulturele twispunt voorgestel. So weet die karakter Fahima “[s]y was nog altyd annes, tot in haa are. Dis hoekô sy byterie framework vanne Moesliem household vrou-allien inne flat ingetrek het. Tien haa oues se belief en upbringing” (bl.106). As ’n musikant en tjellis, leer die leser, “moes [sy] trek om haa first love yt te leef” (bl.109). Die karakter Ghoemeira verteenwoordig ’n soortgelyke selfstandige figuur. Wanneer sy by haar ma se begrafnis opdaag, laat sy haar twee kinders toe om met ’n kleurvolle, plastiese graaf en emmertjie te speel, iets wat die res van haar familie as steurend en oneerbiedig ervaar. Ghoemeira voel weer dat haar kinders op hul eie speelse manier die dood van hul ouma moet verwerk. Fredericks noem nie die toneel ’n konflik nie. Eerder dui sy aan hoe meervoudig identiteit kan wees. “Soos sy is, het Ghoemeira glattie op haar bek gevallie en sy’s grootgemaak mette stêk wil wat haa inne strong opinionated Moeslim vrou ontwikkel it, een wat baie te sê het oo traditional practices en cultural fards [verpligtinge]” (bl.166). Alhoewel sy nie die reëls van haar geloof streng navolg nie, word sy steeds inklusief as ’n Moslemvrou beskryf. Die leser sien nie noodwendig die stryd wat haar keuses haar gekos het nie, maar dit is duidelik dat sy bevraagteken wat tradisioneel van haar verwag word en haar en haar kinders se bestaan volgens haar eie wil definieer.

In dié sin – maar ook in die alomteenwoordigheid van talle vroue in meer konvensionele rolle van ma’s, oumas, dogters en vriendinne – kan een voet innie kabr as ’n feministiese bundel gelees word. Met ’n paar onvergeetlike uitsonderinge (die kleremaker, Gaidien!), handel die meeste van hierdie verhale oor die lewens van vroue, hul huishoudelike verantwoordelikhede, hul verhoudings met vroue en dogters van generasies ouer of jonger as hulle, en hul interne en emosionele verstaan van die wêreld om hulle. Hierdie boek is een sonder grootse avontuur, dramatiese romanse of heroïese spanning en misterie. Liewers werp Gaireyah Fredericks ’n intieme en indringende blik op familiewaardes, vriendskappe en liefde in ’n Kaapse Moslemgemeenskap. Sy stel die alledaagse in gesprek met beide die innerlike en die transendentale en skets só ’n omvattende vertolking van ’n ryk lewensbestaan.

Hierdie boek is een sonder grootse avontuur, dramatiese romanse of heroïese spanning en misterie. Liewers werp Gaireyah Fredericks ’n intieme en indringende blik op familiewaardes, vriendskappe en liefde in ’n Kaapse Moslemgemeenskap.
— Klara du Plessis

Klara du Plessis se transtalige debuut, Ekke, is in Kanada bekroon met die 2019 Pat Lowther Memorial Award. Haar jongste bundel, G (geskryf in samewerking met Khashayar Mohammadi), en ’n versameling letterkundige opstelle, I’mpossible collab, het in 2023 verskyn. Sy woon in Montreal en Kaapstad.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Gaireyah Fredericks se een voet innie kabr (graf) gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand