Voorouer. Pelgrim. Berg. Ingrid Winterbach se digterlike roman

Voorouer. Pelgrim. Berg. Ingrid Winterbach se digterlike roman
 
 

Taal omring deur taal, taal wat taal deursyfer

Ingrid Winterbach se nuutste roman Voorouer. Pelgrim. Berg. (2021, Human & Rousseau) is die vertelling van ’n snit uit die lewe van die hoofkarakter Katerina Steenkamp, skrywer, kunsliefhebber en chat site aficionado. Die roman se storielyn self is minimalisties; die leser word aan ’n verskeidenheid van karakters voorgestel — Katerina se familielede en vriende, maar ook mense wat geraak is deur die sosiopolitiese klimaat in Suid-Afrika, mense wat sukkel met armoede, mense wat bedel, smous en net rakelings in die hoofkarakter se lewe figureer. Die roman funksioneer volgens die drie temawoorde van die titel: Die invloed van familie, van voorouers, gooi ’n lang skaduwee oor die hede (intergenerasie-trauma, kan ’n mens amper sê). Die lewe is ’n pelgrimstog van gebeure, belangstellings en intriges. Die berg gloei in digterlike beskrywings as betroubare agtergrond en dui die belang van ’n ekologiese instelling aan. Saam word die drie kernwoorde ingespan om die erns van droogte, klimaatsverandering en die moontlike eindtye uit te lig, maar altyd met ’n komiese oordrewenheid en donker humor. Deurgaans daag Winterbach haar eie taalgebruik uit en sodoende ontwikkel digterlikheid as tema — elkeen elemente waarop daar in hierdie resensie gefokus word.

Katerina Steenkamp skryf romans, “flets prulprosa,” to be precise. Keer op keer word dit aangedui, deur die verteller self, dat haar boeke onletterkundige, maklike leesstof is. “Straight up and down sal ek hierdie boek skryf,” beweer Katerina, “soos ek al my romans skryf, soos dit ’n prulskrywer betaam. Geen fieterjasies, krulletjies of narratiewe truuks nie. Wat jy sien, is wat jy kry. Gewoon ’n begin, middel en einde.” So selfbewus soos wat sy is oor die tipe boeke wat sy skryf, is Katerina ook lus vir verandering. Soms het sy ’n “intense begeerte [...] om alle kontrakte vir alle toekomstige prulromans oorboord te gooi (van my weg te wérp) en ’n vampierroman (byvoorbeeld) te begin skryf.” Maar meestal voel sy dat dit tyd vir ’n uitdaging is, ’n projek wat haar as skrywer sal laat worstel en dan groei. So meen Katerina het sy “nou so ’n (ongesonde) versugting daarna om van die voorgeskrewe, breë weg af te wyk. ’n Roman oor ’n karakter wat navorsing doen oor ’n verdwene digter, byvoorbeeld, wat op ’n dag sommer net in die woestyn ingeloop het.”

Niemand sou ooit beweer dat die veelbekroonde skrywer Ingrid Winterbach prulromans uitdraai nie, maar daar is ’n lekker verdubbeling tussen Katerina as fiktiewe skrywer en die outeur self, veral wanneer die leser die literêre metavlakke van Voorouer. Pelgrim. Berg. (VPB) begin raaksien. Eerstens is dié roman duidelik geïnspireer deur Anne Carson se digbundel Plainwater (en WG Sebald se skryfwerk oor die algemeen), ’n hoogs poëtiese boek waarin ’n digter op ’n pelgrimstog gaan; die digter vaar nie spesifiek ’n woestyn in nie (inteendeel water speel deurgaans ’n sentrale metaforiese rol), maar sy beleef wel ’n psigiese droogte en voel dor van gemoed. En tweedens — en heel uitsonderlik vir dié spesifieke roman — sou ’n mens kon voorstel dat Winterbach hier ’n doelgerigte fassinasie met taal uitleef, dat sy digterlik omgaan met die vertelling van hierdie boeiende, verrassende en indrukwekkende nuwe narratiewe werk.

Anne Carson is ’n Kanadese digter, klassikus en, deesdae, dramaturg wat die sprong uit ’n insulêre, nasionale letterkunde tot wêreldroem gemaak het. In VPB lees Katerina tydens ’n besoek aan haar dogter, Carson se 1995-bundel Plainwater en sy fokus veral op die afdeling “Kinds of Water: An Essay on the Road to Compostela.” Dié joernaalagtige prosa-inskrywings handel oor Carson se pelgrimstog saam met ’n vriend op die Camino; dit is gelyktydig ’n rekord van dit wat sy doen, sien en waaroor hulle gesels en ’n voortsetting van die digterlike toonaard van die res van die bundel — ’n reeks prosagedigte. Katerina bewonder Carson se werk: “Ek is vasgegryp, bekoor deur die frase: ‘So I set off, into the late spring wind blasting with its green states’ [...] Voorts kan ek identifiseer daarmee dat [Carson] haarself beskryf as ’n jong, suinige persoon van geen bepaalde geslag nie — alles voordelige eienskappe vir ’n pelgrim, sê sy. So is sy dan vort in die laatlentewind, loeiend met sy groen omstandigheid.” Hierdie beskrywing is een wat Katerina — of dan Winterbach as skrywer — deurgaande gebruik as refrein: “I was a young, strong, stingy person of no particular gender — all traits advantageous to the pilgrim.”

Om reëls uit Carson se werk in haar eie in te werk deur aanhaling en vertaling is ’n tegniek wat Winterbach herhaal. Wanneer Carson vra: “Are there two ways of knowing the world — a submissive and a devouring way?” wil Katerina ook weet of daar “twee maniere is om die wêreld te ken, soos wat daar twee maniere is om die wêreld te beskryf — ’n ootmoedige (submissive) en ’n verorberende (devouring) manier.” Wat Winterbach hierdeur bereik is ’n subtiele samekoms van ’n narratiewe prosaregister en ’n sterk poëtiese onderbou. Wanneer sy dieselfde reëls uit Carson se werk soos ’n sikliese gedagtelyn dwarsdeur die roman laat herhaal, beaam sy die boek se vervlegting met poësie. As die leser dalk sou vergeet dat VPB in die verskerpte taalgebruik van die digkuns geskryf is, word sy daaraan herinner deur die ewige terugkeer na Carson se pelgrimstog.

As Carson se teenwoordigheid digterlikheid voorstel, neem Winterbach nog ’n verdere sprong deur haar eie taalgebruik en storievertelling ook poëties in te stel. VPB is juis ’n roman waarin daar min gebeur; eerder as ’n ingewikkelde storielyn, ontwikkel die narratief (soos baie van Sebald se boeke) soos ’n pelgrimsreis oor onderskeie onderwerpe — poësie, beeldende kuns, porselein, sekspoppe, marxistiese politiek, apartheidgruweldade, herkoms, landskap, ekologie, onder andere. Die handeling is dan verder beperk tot ’n groot verskeidenheid “memorabele karakters” — voorouers, grootouers, ouers, ’n broer (Daan), ’n eggenoot (Simon), ’n eks-man (Konrad), ’n eks-minnaar (Jakobus), kêrels op ’n aanlyn chat site, ’n flaneur wat daagliks, doelloos deur die strate stap, ’n smous (Riduaan Aarbei), ’n vrou wat suiker bedel in ruil vir plaaslike nuusbrokkies (Joydene) — en dié karakters word gereeld deur taal geëien. Dit is nie regtig moontlik om die karakters se verskillende en kenmerkende taalgebruik realisties in ’n resensie weer te gee nie; suffice it to say dat afdelings van VPB herkenbaar is as ’n vertelling van die flaneur, byvoorbeeld, of van die kêrels op die chat site (die humorisiese Gysbert, behep met die koms van ruimtewesens!), net deur die wisselende — poëtiese — middele waardeur taal aangewend word om hulle afsonderlik te vermenslik.

Die narratief ontwikkel soos ’n pelgrimsreis oor onderskeie onderwerpe — poësie, beeldende kuns, porselein, sekspoppe, marxistiese politiek, apartheidgruweldade, herkoms, landskap, ekologie, onder andere.
— Klara du Plessis

Afgesonder deur hulle idiolekte bestaan die karakters ook nog meerendeels langs mekaar en sonder veel interaksie met mekaar. Soms voel dit asof Katerina doelbewus die vordering van ’n moontlike storielyn vermy; sy weier om mans op die chat site te ontmoet en wag honderde bladsye voordat sy ’n uitnodiging van Jakobus se weduwee aanvaar. Elke karakter is “’n beweginglose pelgrim” wat parallelle paaie loop, saam ’n wêreld skep, maar sonder om ooit ’n verweefde, dramatiese storie te vertel. ’n Mens sou dan kon sê dat VPB ’n roman met ’n liriese instelling is, een wat gelei word deur die hoofkarakter se gedagtes, waarnemings, belangstellings en seldsame kontak met kennisse. 

Verrassende beelde laat die leser onthuts terugkeer om sekere sinne weer ’n keer te bekyk: Katerina en haar eks-man wil, byvoorbeeld, “nie soos twee giftige homunkulusse wolkerig saam in ’n canfruitbottel ingelê word nie.” Of, Katerina se “kaal hand skiet uit in die duisternis, en [...] gryp na [Jakobus] soos mens na ’n vlermuis sal probeer gryp.” Beskrywend. Uitbeeldend. Sielkundig-behendig as ’n mens besef dat Jakobus nie vasgevang wil word in ’n verhouding nie. Verder is die roman soms verdeel in kort, kragtige hoofstukke wat lees soos gedigte: 

“Die slymslang (Eptatretus), geen kake, ronde, suigende mond, tong met horingagtige tande aan elke kant, waarmee hy sy pad in dooie of sterwende visse rasper terwyl hy met sy mond aan hulle vassuig.”

Dié aanhaling is ’n volledige hoofstuk. Ook die berg wat vanuit Katerina se woning sigbaar is, word ’n bron van herhaaldelike beskrywing: “Die beweginglose berg, vandag [...] meedoënloos”; “[d]ie berg is in slierterige misvlae gehul”; “[d]ie berg begin in lig oplos [...] deursigtig pienk.” Die berg sluit by Carson se pelgrimstog in Spanje aan, maar dit wys ook op die grootsheid van die landskap en die verhewe status van die natuur wat bewaar moet word.

’n Uitsig op die berg vanuit Ingrid Winterbach se studio. Foto: @ingrid.winterbach

Alles tesame omsluit Winterbach ’n digterlike skryfkwaliteit in die uitgestrekte prosa van die novelleformaat. Soos sy poëtiese tendense omring met dialoog, alleenspraak en konteksgewende paragrawe, so laat sy ook dié digterlike taalgebruik versmelt met die novellevorm — sy plaas letterlik woorde tussen hakies as ’n eiesoortige taalspel. Dit begin as vertalings — “ootmoedige (submissive)” en “verorberende (devouring)” — en ontwikkel dan tot sinonieme — “ruie (kragtige)” en “dekorum (fatsoenlikheid).” Later raak dit wat die hakies omring, langer en verder uitgebrei as die oorspronklike voorbeelde en estetiese interpretasie — “achilleshiel (die sagte ondermaag)” en “verkenner (iemand wat ’n terrein bespied, opneem, bestudeer om inligting aangaande die vyand in die omgewing te kry).” Taal is omring deur taal. Taal syfer deur taal. Verskillende modusse van taal word deurmekaar geweef of staan in kontras met mekaar en met behulp van mekaar ontwikkel dit tot ’n vernuwende, vertellende taal. Soos Katerina, oftewel Winterbach, beweer, is “taal [...] nou in ’n ander fase (sowel oorlewingsmodus as growth spurt), sy hou haar nou met ander dinge besig. Die taal vervel nou, sy kruip soos ’n insek uit haar óú vel.” Taal as skryfmedium is, tot ’n mate, ook die aksie wat die storie meesleur en die karakters aan die roman verbind.

Taal is omring deur taal. Taal syfer deur taal. Verskillende modusse van taal word deurmekaar geweef of staan in kontras met mekaar en met behulp van mekaar ontwikkel dit tot ’n vernuwende, vertellende taal.
— Klara du Plessis

Die ironie van VPB is dat die boek se fokus op taal, op die gebruik van taal, op ’n meer opsetlike, intensievolle, digterlike wyse afspeel in ’n fiktiewe wêreld waar almal juis probeer om romans te skryf. Katerina gaan mall toe en loop ’n man raak wat sy jare gelede by ’n skryfskool ontmoet het. Hy is besig met ’n roman oor die slag van Magersfontein, maar word gekenmerk as amateur deur die feit dat hy nog nie Etienne Leroux se Magersfontein, O Magersfontein! (1976) gelees het nie en dat hy “eenhonderd persent in skryfskole [glo].” Sy vrou, wat “nou pas ’n skryfkursus gedoen” het, skryf ook ’n roman. Met ewe droë humor, skryf Katerina se eks-minnaar Jakobus, ná jare se ernstige politieke betrokkenheid en marxistiese neigings, ook voor sy dood ’n historiese roman. Hy vind (natuurlik) dat dit “moeiliker was as wat hy verwag het.” Katerina se vriendin Alta “was besig met ’n roman, wat sy nooit sou voltooi nie.” ’n Amerikaner op die strand “skryf romans.” En dan natuurlik is daar Katerina self wat die kontrak met haar voormalige uitgewery opskeur en uiteindelik begin werk aan ’n meer uitdagende roman. Katerina ervaar steeds haar “prulroman” as “’n paint-by-numbers-oefening, terwyl [sy] ’n ánder soort roman sou wou skryf.” Sy beweer: “Ek het nog altyd gehou van romans van oorvloed, eerder as van skaarste [...] maar bowenal ’n roman waarin taal tot die uiterste ingespan word, ’n taal byna-byna losgesny van sy ankertoue, so oorspanne, so verwring, so verbuig dat dit byna soos ’n nuwe taal lees.” Katerina se beskrywing van haar ideale roman voel soos ’n weerspieëling van Winterbach se roman self, ’n metakonstruksie van VPB, ’n boek wat so duidelik aandring daarop om verby die tradisionele grense van fiksie as genre se meer funksionele taalgebruik te beweeg.

Voorouer. Pelgrim. Berg. is ’n roman waarin die spannings, maar ook die ooreenkomste en snypunte, tussen poësie en fiksie gedramatiseer word. Katerina en van die ander karakters skryf romans, maar lees en word geraak deur poësie. Hulle word meegesleur deur taal wat hulle nie presies verstaan nie, wat doelbewus dubbelsinnig is, wat metafories, beeldend handel. Hulle stel belang in taal wat vreemd is, moeilik is, nie eenduidig is nie. Ná al die jare van lineêre prulromans, is Katerina nou moeg vir “al die regte woorde.” Sy verduidelik dat “al die woorde daar [is], maar hulle is somehow sonder betekenis, sonder resonansie, hulle is soos, iets soos, wel, soos asbes, byvoorbeeld.” Sy “mis […] ’n soort gestotter [en sy] sou meer aanklank kon vind by iemand wat soort van vergeefs rondtas na die regte woord.” Mens moet dink aan Gilles Deleuze wat in Essays Critical and Clinical (1997) skryf: “Creative stuttering is what makes language grow.”

Die hakkelende, inkrementele voortbeuring van taal skeur die roman se chronologie, smelt die verlede (voorouers) vas aan die hede en beweeg stadig, onseker (een stap vorentoe, twee treë terug) deur die pelgrimsreis (berg) van ’n quasi-storie. “I am a pilgrim (not a novelist),” skryf Carson in Plainwater, “and the only story I have to tell you is the road itself.” “Sy is op stuk van sake ’n digter,” beaam Katerina. “Ek sien die literêre karavaan voor my verbybeweeg (hier, in die woestyn),” dig Winterbach, “skitterend op die horison.”


Klara du Plessis is ’n Suid-Afrikaans-Kanadese digter wie se transtalige debuutbundel, Ekke, in 2019 die wenner was van die Pat Lowther Memorial Award, ’n nasionale prys wat in Kanada toegeken word aan ’n digbundel geskryf deur ’n vrou. Haar tweede digbundel in Engels, Hell Light Flesh, het in 2020 in Kanada verskyn. Klara is tans ’n doktorale student aan Concordia Universiteit en woon in Montreal en Kaapstad.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Voorouer. Pelgrim. Berg. Ingrid Winterbach se digterlike roman gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand