Dominique Botha, Breyten Breytenbach en Peter Midgley se self-vertalings

Self-vertaling bevraagteken die idee van outeurskap en gesag, skryf Klara du Plessis

Vertaling word tradisioneel verstaan as ’n teks wat in ’n ander taal weergegee word, met die vertaalde vorm wat die oorspronklike so na moontlik probeer naboots. Daar is dus dadelik ’n hiërargie tussen die bronteks as die beginpunt en die vertaalde weergawe daarvan. Selfs die meer kritiese skool van eksperimentele vertaling wat die vertaler se rol as dié van ’n taalkundige herskrywer voorstaan, funksioneer volgens die verskil tussen een teks as fondament en die ander teks as ’n kreatiewe respons daarop. Hier dink ek aan vertaler en romanskrywer Kate Briggs wat in This little art skryf: “The translator [is the] writer of new sentences on the close basis of others, producer of relations.” Negatief gestel, het ’n vertaler ’n onbegonne taak. Omdat hulle ’n teks van een taal in ’n ander taal vertaal, kan die vertaling nooit perfek met die oorspronklike ooreenstem nie. Reproduksie is onmoontlik. Dit sal nooit meer as ’n interpretasie wees nie. Positief gestel, het ’n vertaler ongelooflike vryheid om voort te bou op die energie van ’n ander denker se werk, dit te bewoon en ook hul eie te maak as ’n tipe samewerking tussen tale.

Negatief gestel, het ’n vertaler ’n onbegonne taak. [...] Reproduksie is onmoontlik. Dit sal nooit meer as ’n interpretasie wees nie.
— Klara du Plessis

Wanneer ’n skrywer hul eie werk vertaal verswak dit die tweedeling van oorsprong en verwerking, of versterk dit die verbintenis van die twee aan mekaar. Die skrywer-vertaler hoef nie meer te wonder wat die outeur se aanvanklike bedoeling was nie. Die skrywer-vertaler kan meer radikale woordkeuses aanwend en betekenisverskuiwings doelbewus toepas, want tot ’n mate is beide weergawes van die werk die oorspronklikes. In Say translation is art, ’n manifes oor vertaling, stel Japannees-Amerikaanse digter Sawako Nakayasu voor dat self-vertaling ’n demokratiese kunsvorm is. In kort poëtiese stellings ontwikkel sy die idee dat “self-translation [i]s eliminating the myth of the original”. ’n Gedig deur ’n outeur in Afrikaans en ’n gedig deur dieselfde outeur in Engels het gelyke status (of volg ander kriteria as taal om verskille te meet). Die een gedig mag dalk op die ander een geskoei wees, maar beide volg die digterlike intensie en denkproses van dieselfde skrywer-vertaler.

Ver-Taal. Verstaling. 

My ore is altyd gespits wanneer ek hoor dat ’n outeur in meer as een taal skryf, hetsy afsonderlik, transtalig (om die intensiteit van meer as een taal in een teks aan te wend) of deur ’n proses van self-vertaling. Drie relatief onlangse voorbeelde van self-vertaling tussen Afrikaans en Engels is Dominique Botha se Donkerberg / Bloodwood (2021), Peter Midgley se perhaps i should / miskien moet ek (2010) en Breyten Breytenbach se oorblyfsel / voice over (2009). 

Dominique Botha se tweetalige digbundel Donkerberg / Bloodwood, bekroon met die 2023-Ingrid Jonker-prys, is simmetries verdeel tussen Afrikaanse gedigte aan die een kant van die bundel en hul Engelse vertalings aan die ander kant. Die boek bevat geen inligting oor die aard van dié vertalingsproses nie. Dus staan die twee afdelings onafhanklik van mekaar, sonder ’n bepaalde chronologie tussen die Afrikaanse en Engelse weergawes; beide die Afrikaanse en die Engelse kante kan as die oorspronklike gesien word. Botha lê wel klem op presisie in haar vertaalstyl. Die Engelse titel ‘everything is pollen even the bitter flowers’ (6) is byvoorbeeld ‘alles is stuifmeel selfs die bitter blomme’ (11) in Afrikaans. Al is die vloei en intonasie van die twee tale natuurlik anders, is daar duidelike ooreenkomste tussen die gedigte beide in terme van betekenis en sinskonstruksie. Vertaling beding duplikasie in hierdie bundel.

Dominique Botha

Dit is moeilik om hierdie getroue trant van die vertaling te vertrou. Ek begin wonder wat Botha se bedoeling is met die vertalings. Is dit eenvoudig om ’n breër leserskap te betrek? So blaai ek heen en weer in Donkerberg / Bloodwood om die gedigte se weergawes in twee tale met mekaar te vergelyk. My leesstyl word ’n warrelwind van bladsye soos ek die boek omdraai om te soek na spesifieke vertalings. “ons raak van afrikaans ontslae om afrikaans te red” (‘die digter staar na die maan’ [61]). “we get rid of afrikaans in order to save afrikaans” (‘the poet talks to the moon’ [54]). Soos die groot meerderheid van hierdie bundel, is dié versreël amper verbatim vertaal. En tog, om in Afrikaans die taal te red, spreek tot ’n ander sentiment as om van Afrikaans ontslae te raak in Engels. ’n Spanning ontstaan tussen die emosionele lading van betekenis en die medium van taal. Hierdie gedigte wat afspeel in ’n Suid-Afrikaanse platteland, in ’n idiomatiese familielandskap van pa’s, oumas en broertjies, word ’n vervreemde kritiek van hulself wanneer die gedigte na Engels oorslaan. Wat aanvanklik voel soos ’n bundel wat getrouheid tussen tale eerste stel, word ’n bundel wat die gewig van verskil as vorm aanneem. 

En tog, om in Afrikaans die taal te red, spreek tot ’n ander sentiment as om van Afrikaans ontslae te raak in Engels.
— Klara du Plessis

Peter Midgley

Ek is natuurlik, soos baie ander Suid-Afrikaanse lesers, altwee tale magtig en kan beide afdelings van Donkerberg / Bloodwood ewe maklik lees. Dieselfde geld vir die tweetalige perhaps i should / miskien moet ek. Hierdie bundel is in Kanada uitgegee, ’n land waar die meeste lesers egter nie Afrikaans verstaan nie. Geskryf deur Namibies-Kanadese digter Peter Midgley, volg dié bundel ook ’n ander strategie as Botha s’n en Afrikaanse en Engelse vertalings word langs mekaar gedruk sodat die leser hulle dadelik met mekaar kan vergelyk. Verder is daar addisionele Engelse gedigte wat sonder vertalings aangebied word, ’n keuse wat die aanname dat die leserskap Engels is versterk en dat die Afrikaanse gedigte eerder as rariteit as semantiese afbeelding verskyn. So open die bundel met die titelgedig se reëls: “miskien moet ek ’n nuttelose gedig skryf / sonder seks sonder liefde sonder politiek / sonder ’n verlede [...] blote papierwoorde” (‘miskien moet ek...’ [4]). Dit is opmerklik dat Midgley nie die stelling “sonder betekenis” tot die lys toevoeg nie. Ja, die Afrikaanse “papierwoorde” verloor die nasionale konteks wat hul aan Namibië of Suid-Afrika se letterkunde, geskiedenis en politiek koppel, maar terselfdertyd is daar ’n gewin aan taalkundige samewerking tussen Afrikaans en Engels. Anders as by Botha waar die tweetalige leser die vertalings met mekaar kan vergelyk, gebruik Midgley se Engelssprekende leser die vertaling as stut en ondersteun die twee weergawes mekaar. Die leser sien die Afrikaanse gedig, ontsyfer dit dalk effens en lees dan die betekenisdraende Engelse gedig om die ervaring te voltooi.

Vertaling word ’n verwelkoming en nie alleenlik in Afrikaans in nie. In ’n gedig met die titel ‘Welcome’ (9) skryf Midgley: “The word translates so effortlessly: / Tawaw: Wamkelekile: Wilkommen: Welkom. // ‘Will cuma,’ they said in Old English: desired guest; well come.” Deurgaans gebruik Midgley ook titels of versreëls in isiXhosa en Khoekhoegowab, tale eie aan Suid-Afrika en Namibië, en heg dan vertalings in Engels agterin die bundel aan. Dié digterlike integrasie tussen tale skep ’n leesprogressie van semantiese onbegrip, nuuskierigheid en verwondering soos mens die vertalings begin inneem. Die leser vertaal “effortlessly”, sonder inspanning en met kreatiewe momentum, om hulself in die ruimte tussen tale in te leef – Afrikaans, isiXhosa en Engels – om daar in die gaping betekenis te skep. Die gasvryheid van vertaling verwek dus die moontlikheid om taal te interpreteer, vir die leser om deel te raak van die vertalingsproses. Die skrywer-vertaler werk implisiet saam met die leser-vertaler om die semantiese veld van tale wat in Afrika gebruik word, na ’n Kanadese konteks toe te verskuif.

In oorblyfsel / voice over werk Breyten Breytenbach konsepsueel saam met sy oorlede vriend, die Palestynse digter Magmoed Darwiesj. In ’n nota agterin die bundel verduidelik hy dat die 12 genommerde gedigte wat langs mekaar in Afrikaans en Engels verskyn, ’n “‘collage’ raak [van] getransformeerde ‘variasies’ van [Darwiesj] se werk”. Hy wat Breytenbach is, tree in poëtiese gesprek met sy vriend se digkuns om hierdie stel gedigte te skryf en hulle dan van Afrikaans in Engels te vertaal. Maar nie as “woordelikse ‘vertalings’ nie”. “Vertaling [...] is ook ’n reis,” verduidelik hy, “die landskap verander, winde met die reuke van onbekende groei waai soos nuus oor die hoogland [...] die lied bly ’n wisseltong tussen bekend en onbekend.” ’n Mens kan terugdink aan Botha se vertalings waar die verskil tussen tale voorgee om as spieëlbeeld van mekaar op te tree. Vir Breytenbach, daarteenoor, is daar ’n dinamiese en veranderlike energie tussen wat ’n gedig in een taal is en wat ’n gedig in ’n ander taal is. In vertaling kan ’n gedig gelyktydig bestaan as refleksie en transformasie.

“’n ander dag sal aanbreek, ’n vroulike dag”
“another day will inbreed, froglike and female”

[…]

“niemand / sal sin hê in die swaard van selfmoord en afskeid / nie”
“no knifeman / will ache for the sword of selfhood or departure” (58–9)

In hierdie voorbeelde uit die twaalfde gedig van oorblyfsel / voice over herken mens dadelik die kreatiewe aard van Breytenbach se vertaalwerk: “aanbreek” word “inbreed”; “vroulike” word “froglike”; “niemand” word “knifeman”. En “selfmoord” word “selfhood”. Die woorde rek hulself visueel en deur klankspel om ’n gedaanteverwisseling te ondergaan, om betekenis te verdraai en om vertaling as skryfproses daar te stel. Alhoewel die Afrikaanse en Engelse gedigte nie sonder mekaar sou kon bestaan nie – ook nie sonder Darwiesj se Arabiese digkuns nie – funksioneer die dinamiese, kreatiewe verhouding tussen tale as ’n tipe toorkis (of eerder black box) waarin woorde gaan, verwerk raak en veranderd uitkom. Vertaling word verstaling – ’n voortsetting van die digterlike proses.

Breyten Breytenbach

Daar is ’n groter sin van outeurskap in self-vertaling as in die vertaling van ’n ander digter se werk. As ’n skrywer en vertaler gewoonlik in ’n vertikale verhouding tot mekaar staan, verkeer die skrywer-vertaler of self-vertaler in ’n horisontale gelykheid teenoor hulself. Soos Anthony Cordingley daaroor besin: “Self-translation escapes the ethical regime that applies to translation” (Self-translation, 2013, Bloomsbury Publishing). Een teks hoef nie getrou aan die ander te wees nie en kan dan steeds as een teks, as ’n eenheid, beskou word. Identiteit – daardie self van self-vertaling – kan vermeerder, kan ’n veelheid van skrywers loslaat in die gedig. Self-vertaling bevraagteken die idee van outeurskap en gesag. Dit voer skrif as aksie terug in die ver-taal van vertaling in.


Klara du Plessis se transtalige debuut Ekke is bekroon met die 2019-Pat Lowther Memorial Award. Haar jongste bundel G (geskryf in samewerking met Khashayar Mohammadi) en ’n versameling letterkundige opstelle I’mpossible collab het in 2023 verskyn. Sy woon in Montreal en Kaapstad.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Dominique Botha, Breyten Breytenbach en Peter Midgley se self-vertalings gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand