Vier Breytenbach-gedigte vir mistieke ervaring

Vier Breytenbach-gedigte vir mistieke ervaring
 

Illustrasies deur Octavia Roodt

 

Gebruiklik vir trauma, mindfulness, mushrooms of die kerk

Die wêreld se mistieke digters is tuis in ’n verskeidenheid kontekste. Jy het hul dalk al op Instagram raakgescroll, in gesprekke oor groeipyne of selfliefde. Dalk deur Rainer Maria Rilke, Rumi of Meister Eckhart. Hul gedigte word gebruik deur terapeute, life coaches en dominees. Dit word aangehaal in die konteks van trauma, mindfulness, mushrooms of die kerk. Mistieke poësie is spiritueel – in die vae en eksplisiete gebruik van die woord.

Die mistieke behels al die omstandighede rondom die ontmoeting van die mens en die goddelike (Jones 2005:6334; Zarrabizadeh 2008:86). Daar is ’n sin van geheimsinnigheid en teerheid. In die klassieke Mysticism: A Study in the Nature and Development of Spiritual Consciousness (Underhill 1910:xiv) word die mensegees se hunkering na harmonie met die hoogste orde beskryf. En hierdie hunkering strek deur menigte kulture en godsdienste. ’n Tipiese voorbeeld, deur Rilke (1999):

 

Ek het jou lief, allersagste wet
waaraan ons ryp word, waarteen ons veg;
jy reuse-heimwee wat ons nooit bedwing,
jy woud waar ons nooit ’n uitweg vind,
jy lied met elke swyg weer gesing,
jy donker net
waarin die gevoelens vlugtend dring.

So sonder einde groot het jy begin
die dag dat jy dit met ons wou waag –
en ons is so geryp in al jou sonne,
so breed geword en so diep geplant
dat in madonna’s, engele en mense
jy tans die einde vind van al jou wense.

Laat dan maar jou hand rus aan die hemelboog
en duld verstom wat ons so donker met jou doen.

 

Die groepering van uiteenlopende digters en tradisies as “mistiek” verskaf ’n woordeskat wat doelbewus “transreligieus” is (Camus 1997:[sp]). Die Sufi’s se Islamitiese openbarings word gemaklik vermeng met monnike Thomas Aquinas en Francis van Assisi, of kunstenaars William Blake en Michelangelo se sienings. Daar word beweer dat digters Rabindranath Tagore en WB Yeats oor kultuurgrense saamgewerk het om ’n transnasionale spiritualiteit te bewerkstellig (Dutta 2022:2).

Ek stel graag Breyten Breytenbach voor as ’n kritieke stem vir só ’n beweging. Sonder om die kompleksiteit van sy werk en lewe te verklein, bly sy gedigte tog so gebruiklik. Dit kan ons oopmaak vir ’n roerende en ontroerende mistieke ervaring. Hierdeur kan ons terugkeer na dié ervaring, soos ons wil en moet. En vir my is veral Breytenbach (2000) geskik vir die taak. Ek vind woorde vir die mees intense ervarings.

 

blind op reis

ek het in die skadu van Witberg oornag
maar om die berg se hoë slape
oor die silwer slaapmus van ewige sneeu
kon ek die kranse lig sien beef

so groot so onaantasbaar so wit
so hoog kom my begrip nooit na bo
en deur my vingers het ek die bidkrale
van sterre probeer tel

om jou naam weer te proe
om jou bitter naam soos ligte druppels
reën op my tong te vang om jou naam
soos ’n afgod in my droom se grond te plant

’n god om my verdere reis te seën
want met die roep van jou naam
met die bloed van jou naam in my mond
kruip ek al hoe yler al hoe witter skuinstes uit

 
 

Om van poësie praktyk te maak – om dit te gebruik asof dit ’n middel is – stimuleer spesifieke fisiologiese fenomene. Dorit Netzer (2015:134) het aan die Hofstra University in New York mistieke gedigte toegepas op 24 individue. Die deelnemers se reaksies is noukeurig waargeneem en gedokumenteer deur ’n drie-stap-prosedure. Soos ’n mens sal verwag, toon die navorsing ’n verhoogde sin van broadening/expansion en love/connection.

Netzer (2015:128) beskryf hoe hierdie verbreding en liefde die selfgeoriënteerde vervorm na die transpersoonlike. Mistieke poësie verhoog wat die studie ’n “transpersonal awareness of spiritual freedom” noem, of ’n “participatory, co-creative experience of self-awareness beyond personal concerns”. Om deur die gedig te lees, is om daar te leef. En as ons daar leef, is ons meer.

Om deur die gedig te lees, is om daar te leef. En as ons daar leef, is ons meer.
— Octavia Roodt
 

nagvy

met die eerste daglumier – 
wat ’n mooi woord:
                              lumier
lig ja, maar ook sluimer,
daarom so sluimerlig –

met die eerste kraai van die môrester
as die nag reeds ligter slaap
moet ek weg op my togte,
die dag slaan ’n skielike kruis teen die ruit
en wég op my togte

deur roostuine vyeboorde
verby heuwels gekorf met spelonke
waar bye hul neste van heuning bou,
ver op soek na oases,
ver waar die son die vlees met liefde vrot

gee my ’n woord méé beminde beminde
’n woord waarin ek kan slaap
beskut teen Sarasene huilwolwe in die woestyn,
word ’n ligdonker woord onder my tong,
my tent teen die son
                              van die stem
want ek laat my nagte hier by jou agter

 

Ek vind die transpersoonlike in Breytenbach se liefdesgedigte. Spesifieke begeertes word saamgevleg in ’n ononderskeibare geheel. Ek verlang na die lover én die landskap. Ek verlang na verlang. Daar is ’n erkenning van totale weerloosheid teenoor al die vorms wat ’n hunkering mag inneem. Ja, dit ís liefdesgedigte, maar dit spoel oor.

 

jy strek soos ’n bergketting
oor die landskap van my lewe
jou punte en jou wolke sluit my einders in
soms so digby dat ek jou in verbeelding
met die vingers aan kan roer
soms so ver dat die tyd geen sin
meer het nie

ek weet die vrede lê in jou
die son kom uit jou klowe op
en sink weer daarin weg
wanneer dit aand word kan ek jou ruik
jou soetigheid maak my hart ’n klipspringer
en hoog teen jou spitse spoel die nabye
spoel die hemel se skuim

 

Mistieke taal, vertaling en interpretasie poog om die goddelike te verbeeld uit die beeldlose (Wolfson 1994:8). Die transreligieuse praat dus in die vorm van kuns en simbool (Camus 1997:[sp]). Flitse van emosionele en sintuiglike indrukke word voltooi in die leser se verbeelding. Skielik lyk die hele wêreld springlewendig. Soos die klipspringerhart dit wil. Ten slotte:

 

val

my oë kom nou nooit weer los
my hande is hopeloos in jou rugwerwels verstrik
my duime ken hul vingermaats nie
en my voete sal in jou koeltes bly sit
                            aanbiddend

iewers het my hart in jou verdwaal
sonder spoor of verandering van adres
’n klip het uit die aardkors losgekom
en stort nou hoër die ruimte in
                           en nader aan gebed

’n voël sprei haar vlerke
word deur die lug op die hande gedra
ek is so lug jy vlieg deur my
sonder jou is ek sonder patroon
want jy is die eiesinnigheid van my liggaam
                              so ver reeds verby
dat ek skaamteloos om ontbinding bid

 
 

Breytenbach, B. 2000. Lady One: 99 Liefdesgedigte. Amsterdam: Meulenhoff.

Camus, M. 1997. The paradigm of transpoetry. Transversales Science/Culture 44(1):Maart—April. Uit Frans vertaal in Engels deur Joseph E Brenner.

Dutta, A. 2022. Mystic modernity: Tangore and Yeats. New York: Routledge.

Jones, L (red.). 2005. Mystical Union in Judaism, Christianity, and Islam. Encyclopedia of Religion. Detroit: Macmillan.

Netzer, D. 2015. Mystical Poetry and Imagination: Inspiring Transpersonal Awareness of Spiritual Freedom. International Journal of Transpersonal Studies 34(1/2):128—143.

Rilke, RM. 1999. De mooiste gedichten. Nederlands ver-Afrikaans deur my. Uit Duits vertaal in Nederlands deur Piet Thomas.

Underhill, E. 1910. Mysticism: A Study in the Nature and Development of Spiritual Consciousness. Oxford: Oneworld.

Wolfson, E. 1994. Through a speculum that shines: Vision and imagination in medieval Jewish mysticism. Princeton: Princeton University Press.

Zarrabizadeh, S. 2008. Defining mysticism: A survey of main definitions. Transcendent Philosophy 9(1):77—92.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Vier Breytenbach-gedigte vir mistieke ervaring gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand