Onder 'n bloedrooi hemel: Annemarié van Niekerk se verbysterende moed
'n Soort reaksie vir 'ons met Afrikaans op ons tonge'
Full disclosure, soos die Amerikaners graag sê: Dis nie ’n resensie dié nie, want ek en die skrywer het al in mekaar se huise gekuier, en ek is nog van die outydse soort wat glo resensente behoort nie hulle vriende se werk te beoordeel nie.
Maar ek is ’n fan van Klyntji, en toe die redaksie my vra om ’n indrukstuk of enige tipe reaksie te skryf, het ek die kans aangegryp. Want dis ’n belangrike boek en ek dink dis belangrik dat dit gelees word deur soveel moontlik van “ons met Afrikaans op ons tonge”, soos die skrywer dit self verwoord.
Ek het dit laas jaar in die oorspronklike Nederlands gelees, en dit het my diep genoeg getref dat ek sonder aarseling ’n shout vir die voorblad van die Afrikaanse weergawe verskaf het. Onder ’n bloedrooi hemel word ’n “terugvertaling” genoem, omdat Annemarié dit aanvanklik in Nederlands en Afrikaans geskryf het, waarna die ervare vertaler Daniel Hugo “in noue samewerking” met die skrywer die gepubliseerde Nederlandse teks teruggebring het na die Afrikaanse tong.
Soos die hart wat teruggebring word na lewe in die Nederlandse titel, Om het hart terug te brengen, dis hoe dit gevoel het ná ek pas die terugvertaling gelees het. Nie dat daar enigiets skort met die Nederlandse teks nie; inteendeel, dis juigend ontvang deur kritici en onlangs bekroon met ’n gesogte driejaarlikse prys vir betrokke letterkunde. Maar Nederlands is nie my eerste taal nie, dis my vierde taal as dit by lees kom, en om so ’n persoonlike en onthullende boek in my ma se taal se taal te lees, is ’n ervaring op ’n ander vlak. As die Nederlands my aan die hart geruk het, dan het die Afrikaans my selfs dieper getref, soos ’n hand wat in my binnegoed grawe en my derms omdraai.
Die Nederlandse teks kon ek op ’n armlengte van my af bekyk, soos ’n middeljarige leser wat spyskaarte en tydskrifte al hoe verder van haar verswakkende oë af vashou, maar die Afrikaans het daardie afstand uitgewis. Die Afrikaans het ek met die gretigheid van ’n bysiende kind gelees, asof ek die boek nie na genoeg aan my neus kon kry nie, asof ek die woorde moes inasem. Die Afrikaans sny baie nader aan die been – aan my eie gebeente – té na vir enige gemak.
Maar dis nie bedoel om gemaklike leesstof te wees nie. Dit gaan hier om ’n plaasmoord – daardie gelaaide woord wat Suid-Afrikaners onvermydelik in kampe verdeel – en spesifiek die wreedaardige moord op die skrywer se vriend, Ruben Gouws, en sy bejaarde ma op hulle plaas Pinevale in die Oos-Kaap. Dis ’n boeiende mengsel van outo-fiksie, faction en reisverhaal, ’n vervlegting van intiem-persoonlike herinneringe en deeglik-nagevorste politieke geskiedenis, wat nooit in ’n dooierige akademiese geskrif ontaard nie.
Dit word alles binne ’n besonder knap struktuur aangebied. Sy begin by die dag van die moord en trek die leser dadelik aan die strot by die storie in; daarna volg drie reise deur die Oos-Kaap oor ’n tydperk van byna 30 jaar. Elke reis word breedvoerig beskryf terwyl die skrywer terugdink aan haar verlede en vrae vra oor hoe hierdie verlede inpas by die onverstaanbare geweld en misdaad in die land. Die landskap word dikwels in lieflike, liriese taal uitgebeeld, sonder om weg te skram van verval en agteruitgang, van lelike dorpies en vullishope op pad na ’n begraafplaas en hoenders wat tussen verwaarloosde grafte rondskarrel.
En tog bly die belangrikste reis wat Annemarié van Niekerk beskryf, nie die fisieke reise deur die Oos-Kaap en dieper in Afrika nie, maar die emosionele en morele reis wat sy tussen die jare ’60 en ’90 moes aflê. Om te verander, van ’n gebreinspoelde kind wat tydens ’n gesinsvakansie in Swaziland weier om in ’n hotelbed te slaap omdat ’n Swart man dalk die vorige nag daarin geslaap het, in ’n jong vrou wat betrokke raak in ’n stormagtige liefdesverhouding met ’n Swart skrywer en politieke aktivis. Ondanks die feit dat haar pa sielsongelukkig is oor die “onuitwisbare skande” wat so ’n verhouding oor die kleurgrens veroorsaak, ondanks die bidgroepies wat daar vir haar gestig word in Port Elizabeth waar sy grootgeword het, ondanks haar pa se eindelose smeekbriewe dat sy die verhouding moet laat vaar.
“Kom terug na jou mense,” soebat hy in een van verskeie briewe wat sy aanhaal, anders sal “die besmetting” bly voortbestaan tot in haar nageslag.
Enigeen wat al ’n memoir probeer skryf het, weet hoeveel moed dit kos om werklik eerlik te wees, want jy gaan krap op plekke waar familie en vriende uit die verlede en die hede nie wil hê jy moet krap nie. Hierdie memoir strewe na die soort eerlikheid – ook oor die skrywer se eie vooroordele en ervarings – wat deur Antjie Krog op die agterblad aangeprys word as verbysterend-moedig.
En die “verbysterende moed” strek verder as die manier waarop die skrywer na haar eie verlede kyk. Dit moes ook ’n besondere soort dapperheid geverg het om na die polisiefoto’s van haar vriend en sy ma se lyke te kyk, die hofverslae te bestudeer, die misdaadtoneel te besoek. Voor in die boek bestempel sy self die teks as faction, en noem Truman Capote se klassieke In Cold Blood as voorbeeld van dié genre.
Die dele van Onder ’n bloedrooi hemel wat met hierdie plaasmoord te doen het, kan inderdaad gunstig vergelyk word met In Cold Blood – met die verskil dat Annemarié goed bevriend was met die mense oor wie se moord sy skryf, dat sy meermale in die moordhuis gekuier het, dat sy ook die oorlewende familie ken. Hierdie verskil maak dit wat sy hier vermag, net nog meer indrukwekkend.