Alles wat jy moet weet oor Karoo Kaarte

Alles wat jy moet weet oor Karoo Kaarte

Foto’s: Ryan Dammert

Hierdie projek bring Oudtshoorn van die kantlyn na die voorgrond

Dit is geen geheim dat die inwoners van Oudtshoorn ’n komplekse verhouding met die KKNK het nie. Dit is veral waar ten opsigte van ekonomiese en kulturele insluiting vir die inwoners van die gasheerdorp. Dit het ook te doen met hoe die fees se programmering oor die jare nie genoeg gedoen het om verteenwoordiging en inklusiwiteit te bevorder nie. Dit is seker maar die olifant in die teater. Ja, ons mense kry jaarliks ’n “ou jobpie” vir ’n week en ons moet dankie sê daarvoor. By die hek, voor die deur, maar nie op die verhoog nie. Hier is seker waar Karoo Kaarte inkom. Om vir plaaslike stories ’n site te maak in ’n ever elusive industry.

Wat is Karoo Kaarte?

Die KKNK se Karoo Kaarte is ’n storievertelprojek, gestig in 2021, wat ’n reeks kreatiewe (teater en visuele kunste) en navorsingsmetodologieë gebruik om ’n multi-dissiplinêre kunsteprogram saam te stel wat tydens die jaarlikse KKNK-fees in April aangebied word. Karoo Kaarte werk noukeurig om die verhouding tussen storie en plek te wys; die projek se naam verwys na hierdie kruising deur te speel op die dubbele betekenis van kaarte in die Oudtshoorn-volksmond. Die Engelse vertaling vir “kaarte” is “maps” en in die plaaslike volkstaal verwys “om kaarte te sny” na kuier en stories vertel. 

Die kernspan wat Karoo Kaarte vorentoe dryf, bestaan uit 15 lede wat Oudtshoorn-gebaseerde visuele kunstenaars, digters, skrywers, inheemse kennishouers, musikante, navorsers, leerders, opvoeders en aktiviste insluit. Visuele kunstenaar, Vaughn Sadie, en teatermaker, Neil Coppen, fasiliteer en bestuur die projek met die hulp van myself en Glenisha Tarentaal. As assistent-projekbestuurder en hoofskrywer het ek insider knowledge van hierdie baanbrekende projek, wat vir ’n tweede agtereenvolgende jaar by die 2023-Kanna-toekennings van die KKNK met die gesogte Herrie-prys vir innovasie bekroon is. Tog moet ek bieg dat ek aanvanklik skepties was toe ek in 2021 genader is om deel te word van Karoo Kaarte. Toe was dit nog “Oudtshoorn Living within history”, en fun fact: Ek het die naam, “Karoo Kaarte”, voorgestel. Daar het al weergawes van ’n projek soos hierdie een gekom en gegaan. Daar was ook die vrees dat ons idees, stories en arbeid exploit sou word. Ek het aanvanklik gewonder of dit die geval sal wees dat ons hierdie mense sou help om ons stories namens ons te vertel, of hulle ons sou bemagtig om ons eie stories te vertel.

Process driven

Karoo Kaarte word in twee fases geïmplementeer. Die eerste fase sien die uitrol van deelnemergedrewe navorsingsprosesse waarvolgens ’n reeks collaborative mapping, collaging, storievertel- en teatermaakmetodologieë gebruik word as navorsingsinstrumente om stories wat rondom mense, plek, tradisionele kennis en gemarginaliseerde geskiedenisse sentreer, na vore te bring. In die tweede fase word hierdie onderhoude, stories en geskiedenisse gebruik om ’n 10-dae-lange openbare program by die KKNK-fees te ontwikkel wat teater- en visuele kuns-interpretasies van die navorsing insluit.

KKNK 2023

Vir die 2023-fees het Karoo Kaarte daarop gefokus om stories wat verband hou met inwoners se ervarings uit hul kinderdae en verlore openbare ruimtes, na vore te bring. Hierdie jaar het die projek sy programmering en omvang aansienlik uitgebrei, met die vervaardiging van die bekroonde teaterproduksie Droomkraan Kronieke, ’n opwindende argief-app Die Karoo Kaarte App, ’n geïllustreerde kinderstorieboek getiteld Spekskiet en tandetel, vier geïllustreerde zines rondom inheemse kinderspeletjies getiteld Loop speel en twee kunsuitstallings getiteld Qokolela (versamel/saamstel) en Spilpunt onderskeidelik. In 2023 het die span die Karoo Kaarte Project Space (op die hoek van Baron Van Reede- en Kerkstraat) regdeur die fees bestuur en ’n verskeidenheid geleenthede aangebied, insluitend kuiers, optredes, musiekgeleenthede, praatjies, storiekringe, werkswinkels, kompetisies, projekbekendstellings en kulturele netwerkgeleenthede. ’n Mondvol!

Ekonomiese impak: Skills development en employment

Die oordra en uitruil van vaardighede kom natuurlik voor in hierdie dinamiese projek. Vaardighede soos mondelinge geskiedenis-navorsing en kreatiewe metodologieë, spanwerk, museumkurasie en argiefpraktyke word gekweek. Deelnemers administreer, bemark en fasiliteer die projek self. Hier is ’n constant exchange en transferral of skills wat die ontwerp en uitleg van publikasies, kopieredigering, vertaling, proeflees en publikasie insluit.

Vir diegene wat aan die teaterproduksie deelgeneem het, het rolle en verantwoordelikhede vervaardiging, dramaturgie, toneelspel, improvisasievaardighede, fisieke teater, regie, klank, beligting, stel en ontwerp ingesluit. Die deelnemers aan die visuele kunstenaarsprogram is aangemoedig om ’n uiteenlopende reeks illustrasiestyle, media, kurasie, uitstallingsontwerp en installasie te verken. Dit is maar onder andere. 

Vaardigheidsontwikkeling is natuurlik nie die enigste kersie op die koek nie. Karoo Kaarte kon in 2023 deur middel van befondsing en finansiële ondersteuning 66 voltydse en deeltydse werksgeleenthede skep. Dit is amper dubbel die 37 werksgeleenthede wat die projek in 2022 geskep het. 

Sosiale en kulturele impak: Representation en social cohesion

KKNK en Karoo Kaarte werk om platforms te skep om die ryk kulturele erfenis van Oudtshoorn en die plaaslike mondelinge geskiedenis van die dorp van die kantlyn na die voorgrond te bring. Hierdie werk het tot gevolg dat nuwe gehore uit voorheen benadeelde gemeenskappe ontwikkel word. 

’n Mens moet seker ook iets sê oor die vermoë wat die kunste het om social cohesion te bevorder. ’n Woord wat gereeld tydens die proses opgekom het en omtrent op my nerves gewerk het, was “re-traumatising”. In die groep het die vrees bestaan dat die kuns wat ons uit Oudtshoorn se stories sou maak, veral met die toneelstuk, gehore sou “re-traumatise”. Dis so naïef om te dink dat die trauma ooit genoeg gekonfronteer is dat ons actually daarvan kon genees. Blykbaar is daar vyf fases van rou en mense van kleur bevind gereeld hulself in either denial, anger, bargaining of depression, want aanvaarding, en gevolglik genesing, kom baiekere van konfrontasie. Wanneer ons by ’n plek van aanvaarding kom, is dit nie dat ons nie meer die pyn van verlies voel nie. In plaas daarvan weerstaan ons maar net nie meer die werklikheid van ons situasie nie. Met dit gesê, glo ek dat hierdie projek ’n verantwoordelikheid teenoor die inwoners van Oudtshoorn het om te alle tye eerlik in ons aanslag te wees. Sodoende kan ons net hoop dat hierdie belangrike werk mense bemagtig om sin te maak van komplekse verledes, verhoudinge met hulself, hul plek en hul herkoms.

Danie Maart, ’n inwoner van Oudtshoorn, het vertel hoe diep Karoo Kaarte se toneelstuk, Droomkraan Kronieke, hom geraak het:

Weet jy, ek het regtig nie woorde nie. Ek is so emosioneel uit daai saal uit. Ek is nie iemand wat baie maklik emosioneel raak nie. Ek dra altyd ’n sakdoek, maar, weet jy, ek het dit nooit nodig gehad tot vandag toe nie. Ek was so oorweldig tydens die show én toe ek uitstap, maar ek het nie ’n sakdoek gehad om my trane af te vee nie. Emosies het hoog geloop, want dit was die reality, dit was die waarheid. Wat ’n enorme deurbraak! Daar was goed wat julle in mense wakker gemaak het wat mense al vergeet het. Dankie dat julle dit weer vir ons teruggegee het. Weet jy wat? Ek het by julle toneelstuk uitgestap soos iemand wat ’n bord kos geëet het wat versadig was.

Holding the space aka 'maak site'

’n Mens verstaan seker nooit die waarde van ’n platform tot dit van jou af weggevat word nie. Dit is ’n magtelose gevoel. Van die gunsteling-phrases in die span is “holding a space” en “curating a space”, en ek is van mening dat dit presies is wat Vaughn Sadie, Neil Coppen en die KKNK reggekry het deur hierdie projek. Letterlike en figuurlike ruimtes is geskep vir kunstenaars en ander praktisyne om kuns te vervaardig en te skep. 

“Holding a space” in praktyk is om ’n deelnemer self toe te laat om met die Kunste Onbeperk-personeel en diensverskaffers te liaise. Dit laat ons toe om self konneksies te bou wat ons in toekomstige rolle sal verryk. It is, fundamentally, to pull out a chair at the table, to make room. 

In ’n meer letterlike sin: Van die begin van die projek het ons gewissel tussen die CP Nel Museum Oudtshoorn, die Kunste Onbeperk-kantoor by die Neelsie en die Toekomsrus Gemeenskapsaal. Elkeen ruimtes wat oor agt maande ingerig is vir kunstenaars en skeppers om na hartelus te skep en te leer. Hierdie ruimtes was toeganklik en het die nodige hulpmiddels, tegnologie en voorraad gehad vir skrywers, teatermakers én visuele kunstenaars. As kunstenaar het jy ook toegang tot ’n klein gemeenskap van gelyksoortige individue.

Me Personally: Exposure

Mense gooi oor die jare die woord “exposure” rond asof dit ’n brood se geld is. Dit is veral waar as dit by kunstenaars kom. In my personal experience met Karoo Kaarte het die konsep van blootstelling ’n nuwe betekenis gekry. Om kunstenaars te posisioneer soos dit verband hou met platform en inclusion, die toestande waarin hulle skep en die geleenthede wat hulle gebied word om hul kuns te deel, definieer “blootstelling”. Dit is die backbone van exposure omdat dit die Swart of Bruin kunstenaar se ervaring in die groter sisteem, ’n sisteem wat notorious daarvoor is dat dit mense soos myself exclude, influence.

Ons veg vir inclusivity, representation en social cohesion — deur die kunste, mondelinge geskiedenis en collaboration kan ons daardie doelwit bereik. In hierdie projek ondervind ons die mag van allegiance in die geveg om marginalised narratives op die voorgrond van toekomstige feeste te sit. Ek besef ook as iemand wat my byna doodgewerk het vir die agt maande waarin Karoo Kaarte aktief was, dat die verantwoordelikheid om ’n fees wat nog steeds ’n lang pad moet stap tot ware hervorming, nie net op hierdie een projek se skouers mag rus nie.

So ’n masjien operate ongelukkig nie op water en komplimente nie. Befondsing is steeds die doring in ons spreekwoordelike vlees. Ons het vir twee agtereenvolgende jare gewys dat die model werk en dat daar waarde is in hierdie geskiedenis. Ek sou wou glo dat hierdie projek inwoners van die dorp help om hul stories en plek in ’n nuwe lig te sien. Vir 2023/2024 is ons visie om navorsing rondom Oudtshoorn se queer community, asook haarsalonne en barbershops as ’n site of congregation en storytelling te doen. 

Hugo Theart, Lizanné Basson en die res van die Kunste Onbeperk-raad en -span het my verwagtinge werklik oortref met die manier hoe hulle hierdie projek gesteun het. Hul hulpbronne, invloed en tyd word ons s’n. Ek het die projek ge-join met onsekerheid en scepticism, die general public is ook entitled tot hul scepticism en opinies, maar kom ons gee due waar due hoort. KKNK se Karoo Kaarte maak site vir die toekoms. 


Hierdie storie is moontlik gemaak deur die Art Stories Incubator-program van Breinstorm Brand Architects, in samewerking met Klyntji, Iqoqo en die KKNK. Dit is befonds deur ’n PESP-3-toekenning wat ondersteun word deur BASA en die Departement van Sport, Kuns en Kultuur.

Creative Commons Licence
Dié storie is ingevolge ’n Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivatives-lisensie gepubliseer. Dit mag dus herpubliseer word onder die lisensievoorwaardes, solank ’n skakel na die oorspronklike Klyntji-storie ingesluit is, saam met die erkenning hierbo.
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Alles wat jy moet weet oor Karoo Kaarte gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand