Mila de Villiers rek bek oor TV-reeks Dinge van 'n kind

Mila de Villiers rek bek oor TV-reeks Dinge van 'n kind

Foto: kykNET

Verwerk van Marita van der Vyver se seminale jeugroman: En geniet, sal u

“Stick with me, baby. Ek kan jou nie famous maak nie, maar jy sal fun hê langs die pad.”  

Liewe kyker, ontmoet die karakter Dalena van Vuuren: die uitegsproke willewragtig (wat ook aan knaende, dog onbewuste depressie ly) wat ons protagonis – die teruggetrokke bibliofiel Mart Vermaak – voorstel aan ’n lewe van bevraagtekening, die status quo uitdaag, en waaghalsigheid.

As ’n voor- (of na-) smakie, afhangend van of mens vertroud is met die boek of die pilot al gekyk het, sal die onderstaande interaksie (etlike minute nadat Mart haar nuwe koshuiskamermaat Dalena ontmoet) vir jou ’n idee van me Vermaak gee.

#context: Mart is al vir ’n paar dae stoksielalleen in haar kil koshuiskamer toe Dalena opdaag. Waaroom daag Dalena laat op? vra jy. Want haar planne om die koshuis te ontduik en by die LO-onderwyseres (ene San-Mari van 7de Laan) oppie dorp te gaan bly, het nie so lekker uitgepan nie, aangesien dié se broer ~onweerstaanbaar~ is:

Dalena: “Maar toe het die juffrou ongelukkig ’n dish van ’n broer. En toe vang my pa ons saam in die stort.”

(Pappa van Vuuren word deur ’n kop-tot-toon-apartheid-two-tone geklede Stian Bam vertolk, btw.)

Mart: “Jy en die dish?”

Dalena: “Jip.”

“Kaal?” fluister Mart. 

“Stort jy met jou klere aan?” quip Dalena.

Jy sien? ;)

Kort ná Marita van der Vyver ons aan Griet (1992) voorgestel het, het sy Die Dinge van ’n Kind, wat in 1994 uitgegee is, neergepen. 

In Van der Vyver se seminale jeugroman takel sy kwessies van grootword in die 70’s — gekenmerk deur apartheid, die grensoorlog, calvinistiese Afrikanerdom, die laaste uitsending van LM Radio, perms en die verbanning van Die Ambassadeur (1963), onder vele meer — selfdood, eerste liefdes, ongewenste swangerskap, slow dance op ‘Nights in White Satin’ (1967) en (menigte) verwysings na kondome as “FL’s”. (Lol??)

...kwessies van grootword in die 70’s — gekenmerk deur apartheid, die grensoorlog, calvinistiese Afrikanerdom, die laaste uitsending van LM Radio, perms en die verbanning van Die Ambassadeur (1963), onder vele meer — selfdood, eerste liefdes, ongewenste swangerskap, slow dance op ‘Nights in White Satin’ (1967) en (menigte) verwysings na kondome as ‘FL’s’. (Lol??)
— Mila de Villiers

Die bildungsroman-aspek van Van der Vyver se boek word deurentyd afgewissel met ’n epistolêre benadering: weens ideologiese redes emigreer Mart Londen toe waar sy – in 1992, om spesifiek te wees – briewe aan ’n anonieme “liewe kind” skryf en haar kleuter Pierre vroualleen grootmaak. (’92-Mart word deur Cintaine Schutte vertolk; Schutte herbesoek die rol van Mart wat sy in die eenvrou-produksie van Die Dinge van ’n Kind in 2019 op die planke gebring het.)

Elk geval.

Liefhebbers van die boek – en neofiete van die verhaal – kan nou die oudiovisuele verwerking daarvan op kykNET (en DStv Catch Up) geniet.

En geniet, sal u. 

As ’n chroniese herleser van die roman kan ek met selfvertroue sê dat die draaiboek byna verbatim van bladsy na skerm vertolk is. (Naas die Coen-broers se filmverwerking van Cormac McCarthy se No Country for Old Men (2007), beklee Dinge van ’n Kind tweede plek op my lys van verbatim-verwerkings-van-roman-na-skerm.) ’n Pluim vir die draaiboekskrywers Elanie Rupping en Henriëtta Gryffenberg. 

Quentin Krog se regie-vernuf is tasbaar as ’n mens so na dié regisseur se mise-en-scènes kyk: Bar koshuiskamers, kitsch koffiewinkels, ’n old-skool Pretoria Dieretuin, treinstasies van ouds, slaapkamers met James Dean en Marilyn Monroe op die mure, gemsbokkoppe wat as trofeë teen mure pronk…

Die rolverdeling van ons twee hoofkarakters skrik ook vir niks. Melissa Myburgh vertolk die sagte, verwarde, onskuldige jong Mart op ’n deernisvolle en empatiese wyse. Bygesê: roman-Mart se naïwiteit en byna blinde aanvaarding van pro-Nasionalisme het my ontsettend irriteer met die lees van die boek, maar gelukkig is tiewie-Mart meer susceptible vir die transformasie wat Suid-Afrika destyds ondergaan het, en ’n mens word haar eng interne monoloë gespaar. Cue Bernoldus se liriek “oogklappe bring ’n skoon gewete” (in ‘Hou My Vas Korporaal’, 1985).

Mienke Ehlers se Dalena is ook nommerpas. Van die stoute vonkel in die oog, haar skor stem, bruingebrande bene en ongebreidelde selfvertroue wat as ’n skans dien teen ’n diepe insecurity, het Ehlers haar 100-emoji 💯 van haar taak gekwyt. (Sies vir kykNET dat hulle haar van “Elhers” in die credits spel, though.)

Aanhangers van die destydse Erfsondes (2007) sal bly wees om ’n kettingrokende Jana Kruger – met ’n bedeesde brunet bouffant (nou nie styfgespuitde, bottelblonde hare soos beskryf in die boek nie) – as Mart se moeder op die kassie te sien.

Om nie van Marius de Nysschen se kinematografie te praat nie. Van die dynserige Laeveld-tonele (Dinge van ’n Kind speel onder meer op die fiktiewe Limpopo-dorp Swartstroom af en is onder meer op location verfilm by Limpopo se Laerskool Mariepskop en Hoërskool Frans du Toit) tot Mart se warmer, byna romantiese Londense woonstel tot high-def hedendaagse Kaapstad. 

Want ja, buiten die weglating van die bepalende lidwoord (ha! Kyk wie het aandag geskenk in Afrikaans) in die titel van die televisie-verwerking, is die grootste verandering/afwyking van die roman dié van ’n hedendaagse storielyn wat bygevoeg is.

Sixty-something Mart (vertolk deur die alombekende Susanne Beyers) is ’n suksesvolle skrywer en Pierre (verhoog-favourite Ludwig Binge) ’n finansiële grootkop, getroud met die liefderyke, tog harregat Janine (Skemerdans (2021) se Chanel Adonis, Kim Syster).

As an aside: ek het tydens die Franschhoek Literêre Fees ’n paneelbespreking met Van der Vyver bygewoon en tydens die audience Q&A vir haar ’n Q gevra: “Het jy al die televised weergawe van Die Dinge van ’n Kind gekyk en indien ja, wat het jy van die kontemporêre storielyn gedink?”

The A? “Oui,” sy en haar Franse man het reeds al 10 episodes (avec subtitels) onder oë gehad en sy het net prysenswaardige dinge om te seg oor die bygevoegde storielyn, want “dis interessant om te sien wat met jou karakter gebeur het”. Sy het boonop die “jong” en “vars” benadering tot haar roman geniet, en sy beklemtoon die “jong” span wat aan die reeks gewerk het, se ure van swoeg, sweet, en sigarette-rook se werk.

Oui, dis interessant om te sien wat met jou karakter gebeur het.
— Marita van der Vyver oor die TV-verwerking

Terug na Pierre en Janine.

Twee van The Clash se tjoens is van toepassing op dié egpaar: ‘London Calling’ (1979) en ‘Should I Stay or Should I Go’ (1982). Want sien: die paar is aan’t emigreer na Rule Britannia, maar onvoorsiene verwikkelinge veroorsaak ’n “moet ons bly of moet ons waai?”-mindset. 

Liberalisme en sinisme is in tweestryd: Mart het destyds Suid-Afrika vir Londen verlaat weens die eng, onderdrukkende en regskendige apartheidregime; Pierre is wanhopig oor die toekoms van Suid-Afrika, veral vanuit ’n veiligheidsperspektief. Cue menigte debatte tussen moeder, seun, en afwesige vaderfiguur, die labour lawyer Thomas. 

Aangesien ek die voorreg gehad het om reeds die eerste vier episodes van die reeks te kyk, kan ek met (subjektiewe) sekerheid sê dat Binge se karakter met verloop van tyd die “doos” in “oude doos” beginne sit. En Janine vattie kakkie assit by dié se nuutgevonde patriargale nukke kommie. (Sê hom, suster.)

Subtiele veranderinge van die oorspronklike 70’s-storielyn behels ook die achronologiese verloop van gebeure. ’n Mens verwag om ’n besoek aan die seventies-te van die Seventies se Pretoria Dieretuin minstens in die derde episode te sien, maar nee – daar’s Mart, Dalena, Mart se broer Simon en dié se diepsinnige army-pel, ene Pierre (the foreshadowing thickens…) te siene in die pilot. 

So gepraat van die vierstuk:

’n Toneel wat my bygebly het sedert ek die roman vir die eerste keer gelees het, speel op Mart-hulle se plaas af (te siene in episode twee van die reeks), met die televisie-verwerking daarvan wat so getrou gedoen is, dat ek ’n traan of wat moes pink.

Dié uittreksel omarm aansielik meer as bloot die Sturm und Drang wat tieners deurmaak: die alomteenwoordige swarthond wat aan ’n hele paar van ons (gereeld of af en toe) knaag, en sy slagtande diep in ons psiges kan deurdring…

Aaaand scene:

Dis ’n snikhete Laeveldse-dag. Mart blaai deur ’n tydskrif en lees elke dan en wan voor. (“As ’n vrou dagga rook, is die moontlikheid dalk een uit honderd dat haar borste sal vergroot.”) ’n Bikini-geklede Suna, Mart en Dalena se giggelende maatjie, dobber rond in die swembad. Simon en Pierre lawe hulle voete. Dalena trap water en praat met Simon. 

“Dis waarvoor ek die bangste op aarde is.” Sy ril asof sy skielik koud kry. “Verveling” […] “Jou suster raak nooit verveeld nie,” sê sy ingedagte, haar arms om haar bolyf gevou. “Daar’s altyd iets in haar kop aan die gang. My kop raak soms net so swart… So ’n groot, swart gat…”

Simon en Suna lyk albei effens ongemaklik oor hierdie onverwagse ontboeseming. 

Maar Pierre knik sy kop stadig, asof Dalena net met hom praat.

Sjoe, julle. Wat kan ek seg?

Stick with this series, baby. Dit sal jou aan jou hartsnare ruk, maar jy sal fun hê langs die pad. 

Mila is redakteur van BooksLIVE.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Mila de Villiers rek bek oor TV-reeks Dinge van 'n kind gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand