Die storie van Anique en Jonathan se groentetuin

Die storie van Anique en Jonathan se groentetuin

Stadsjapies se passieprojek word volhoubaar, en betaal 'n salaris

“Ek en Anique [Pinkhard] het altyd gedroom daaroor om eendag nader aan die natuur te bly en om meer te kan bydra tot ons samelewing, maar het vir lank as stadsjapies nie veel verder as ons huisplante en grootpraat gekom nie,” vertel Jonathan Pinkhard. Jolly Good is ’n kleinskaalse boerdery in Albertskroon, Johannesburg, wat deur Anique en Jonathan bedryf word. Hulle groei organiese groente in herstelde, gesonde grond en maak staat op biodiversiteit. “Market gardening of kleinskaalse boerdery is ’n ou vorm van boer wat in die laaste dekade of so nuwe lewe gekry het. ’n Mens groei op ’n klein maar intensiewe skaal groente om direk aan jou gemeenskap te verkoop.”

Dit was die pandemie wat momentum aan die Pinkhards se droom gegee het. Hulle het bewus geraak van ’n oop stuk grond oorkant die pad van hulle huis wat aan ’n Portugese welsynorganisasie behoort. Ná ’n suksesvolle voorstel het hulle ’n huurkontrak geteken vir die grond van ongeveer 500m². Tien beddings is aan die begin gebou.

Jonathan vertel daar was relatiewe lae startup-kostes om Jolly Good aan die gang te kry, buiten tyd en hope kompos. Hulle DIY-aanslag behels die raadpleeg van internetgidse en die gebruik van oorskotmateriaal van grootskaalse plase of afgemerkte produkte van industriële winkels. “Soos ons wins maak, herbelê ons om nie skuld te maak nie. Die stukkie grond is so te sê ons eie landbouskool wat sy eie skoolfooie betaal; ons het baie om te leer, maar daar is baie inligting aanlyn beskikbaar.” Vriende en famile van Jonathan en Anique het ook die loods van die projek ondersteun.

Die Jang-saaier

Die Pinkhards gebruik nie veel meer as die huishoudelike tuinier nie: ’n hark, vurk, graaf en ’n mes is hulle sleutelinstrumente. Hulle maak ook gebruik van ’n ou Jang-saaier, ’n Koreaanse uitvindsel wat baie akkuraat en vinnig saad plant. Al is daar nog heelwat toerusting wat hulle lewens makliker sal maak, maak hulle gebruik van wat hulle reeds het. “Jy’t werklik baie min nodig om mee te begin.”

Die groente is organies en geen kunsmatige stowwe of gif word gebruik nie. Die grond word ook nie geploeg nie. “Ons moes oorspronklik ploeg om die harde grond los te kry en rommel te verwyder, maar nou bewerk ons slegs die boonste 3—4cm van die gesonde grond.” Hierdeur laat hulle die natuurlike mikrobiologie toe om te floreer. Gronderosie word sodoende verminder en koolstof word in die grond gestoor. “Ons gebruik nie groot masjienerie nie, die plante en ekologie verkies dit so. Ons groei wel nie groente wat te lank vat om te oes of baie ruimte opneem nie, die groente wat vir ons geld maak, groei vinnig.”

Anique het vroeg in 2022 voltyds by Jolly Good begin werk. Die projek maak vir die afgelope seisoen ’n maandelikse wins en kan een salaris betaal. Dit was eers ’n deeltydse betrekking van vroeë oggende voor werk en voluit op naweke. Hulle verskaf tans aan ongeveer 20 huishoudings en aan The Leopard-deli weeklikse groente, en sal in die toekoms graag verder wil uitbrei. “Die verhouding wat ons met ons kliënte bou, is spesiaal. Dis lekker om ’n verbintenis te hê met die mense wat jou kos groei, iets wat ons samelewing verloor het.” Hulle fokus op smaak, voedingswaarde en verskeidenheid.

In die korttermyn wil die Pinkhards nog ’n paar beddings byvoeg vir die opkomende somer en hulle sisteme verder ontwikkel. Daar is ekstra hande nodig en hulle wil graag in die lente nog ’n staflid aanstel. Vrywilligers is ook welkom: “Ons wil graag die kennis wat ons opbou met meer mense deel en hopelik ander inspireer om ook kleinskaal te boer of selfs net ’n bietjie groente op hulle stoep te groei. Alhoewel grootskaalse boerdery sy plek het, glo ons dat daar baie meer kleinskaalse boere moet wees. Sulke plasies hou soveel voordele in vir die gemeenskap, die omgewing en die plaaslike ekonomie.”

Ander planne in die pyplyn sluit samewerking met like-minded sjefs in, sowel as om eendag diere soos hoenders of bokke te integreer. “Diere is ’n belangrike deel van ’n gesonde ekosisteem en vrugbare grond, en dit kan in die langtermyn kostes verminder.” Die soeke na ’n groter stuk land sal uiteindelik nodig wees as alles goed gaan. Volgens Jonathan om in die langtermyn suksesvol met groente te boer, kyk mens na tussen 1,000m² en ’n hektaar (10,000m²), afhangend van die omstandighede.

“Ons visie is om ’n produktiewe en winsgewende plaas te skep wat in harmonie met die natuur bestaan en ons gemeenskap van gehalte groente verskaf. Hopelik kan ons eendag ander jong mense bystaan om so te boer.” Hulle waarsku vriendelik dat die uitdaging nie maklik is nie, maar dat dit al hoe makliker word soos ’n mens vorder.

“Ons eco-philosophy is heel simplisties, die natuur weet die beste. Dit is ’n wanpersepsie dat ons afsonderlik van haar kan leef,” verklaar Jonathan. Hy beveel die artikel The Myth of Wilderness Without Humans (2019) deur Mark Dowie wat hierdie idee opsom, aan. Die Pinkhards het heelwat navorsing gedoen en boeke geraadpleeg vir hulle avontuur. Hier is ’n paar skakels na inisiatiewe wat ’n indruk op hulle gemaak het: The No-Till Market Garden Podcast, Urban Farmer Curtis Stone, Nicole Masters se boek For the Love of Soil (2019), Eliot Coleman se Real Organic vs. Chemical Farming, Meuse Farm in Houtbaai, die Lowerland-plaas op die banke van die Oranjerivier tussen Prieska en Niekerkshoop in die Noord-Kaap, die Numbi Valley-plaas in De Rust (jy kan daar gaan bly) en die klimaatbewuste soekenjin Ecosia.

Jonathan is ’n filmmaker en fotograaf en het die foto’s hieronder geneem.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Die storie van Anique en Jonathan se groentetuin gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand