Nina van Zyl se 'Los Asseblief 'n Boodskap'
Die toekoms lyk helder vir Nina van Zyl, die borrelende popsensasie van Kaapstad, ná die sukses van haar treffer ‘Net Nog Een (Dans)’. Waarheen gaan mens na jou liedjie vir drie maande eerste op omtrent al die Afrikaanse radiostasies se ranglys was? “My volgende single gaan mense regtig wegblaas,” sê sy. Ons sit in ’n besige kafee op die waterfront. Nina drink koffie met skuim op. Sy’s skamerig, of net geheimsinnig. “Ek wil nie te veel weggee nie,” sê sy, “maar dit is ’n… departure vir my.” Vanwaar hierdie verandering? Sy vat ’n sluk koffie en vee ’n skuimsnor met een lenige hand weg. “Ek kyk om my en ek sien al hierdie mense wat like siek is, of arm is, of dood is, of wat ook al. Maar dan is daar ook al hierdie mense wat soos rêrig gelukkig is en like, totally fine is, en ek is net soos, whaaaat? Ek dink ons, as sterre, jy weet, ek en Kurt en Steve en Nadine, ons het almal ’n verantwoordelikheid om mense bymekaar te bring met die gawe van musiek.”
Ons kon ongelukkig nie te lank gesels nie – Nina is besiger as ooit tevore en sy maak verskoning vir ’n dringende afspraak om haar volgende musiekvideo te beplan. Sy gooi haar handsak oor haar skouer terwyl sy selfversekerd sê: “Glo my, julle gaan julle oë nie glo nie.” En met dit is sy weg.
Kitsfeite
Die eerste plakkaat teen my muur was:
Cyndi Lauper!
In my vrye tyd geniet ek dit om:
Met my kêrel Dirk te chill.
My gunstelingfliek is:
Breakfast Club, maar ek is stout vir Patrick in Dirty Dancing.
My gunstelingliedjie van die oomblik is:
Nadine se ‘123’ is sooo catchy.
Dis jare later en Nina van Zyl is terug in die teaterstuk Los Asseblief ’n Boodskap, maar dit gaan nie meer baie goed met haar nie. Haar pop-ster loopbaan het altwee voete in die graf, sy’t al vir ses jaar writer’s block, en toe het haar ex boonop die vermetelheid om kanker te kry. Classic Dirk. Sy gaan op ’n plattelandse reis van dorpie tot dorpie met die hoop om ’n paar gigs te kry, maar dié donker komedie lewer heelwat meer op.
Met Simoné Nortmann as Nina van Zyl
en Ilana Cilliers as die stem van Angie die Agent
Regie behartig deur Maude Sandham
Verhoog-, kostuum- en beligtingsontwerp deur Stefan Benadé
Musiek ge-arrange, ge-record, ge-produce en ge-alles deur Marius van Wyk
Verhoogbestuur deur Catherine van der Hoven
Teks geskryf deur Louis Roux
Foto’s: Chanél van der Merwe
Make-up: Catherine van der Hoven
Teks: Louis Roux
Klere: The Wardrobe Studio
- Slegs 6 en 7 Februarie by Atterbury Teater, Pretoria – kaartjies by Computicket.
Louis Roux is veronderstel om 'n skrywer te wees, maar meeste van die tyd sit hy net en stres. Volg hom op Instagram.