Cyril Ramaphosa se heilige vee

Fotografie deur Daniel Naudé

Cover-photo-media-1024x819.jpg

Daniel Naudé se nuutste fotoboek, Cattle of the Ages, is ’n versameling foto’s van Cyril Ramaphosa se kudde van Ankole-beeste op sy plaas in die Badplaas-omgewing, geleë op Mpumalanga se eskarpement. Die boek is deur Ramaphosa vrygestel tydens sy 65ste verjaardagpartytjie. Dit is hier waar daar R204,000 ingesamel is vir ’n plaaslike skool deur die veiling van Naudé se gedrukte kunsfoto’s. 

Die Ankole-spesie kom hoofsaaklik in Uganda voor, waar Ramaphosa hulle vir die eerste keer gewaar het tydens ’n besoek aan Uganda se president en sy beesplaas in 2004. Ramaphosa, nou Suid-Afrika se grootste teler van Ankole, vertel in die boek hoe hierdie boerdery van hom tot staan gekom het. Volgens hom was dit nie ’n maklike taak nie, aangesien die invoer van Ankole-beeste streng verbied word deur die Departement van Landbou, ter beskerming van die plaaslike landbousektor teen onbekende siektes. 

 
08-COTA-website-1024x819.jpg
03-COTA-website-1024x819.jpg
33-COTA-website-1024x819.jpg
69-COTA-website-1024x1024.jpg

Die oplossing was om ’n plaaslike kenner in embrio-oordragte, Professor Jan Bonsma, te kry om die Ankole vir Suid-Afrika te kloon. Ramaphosa boer nou met drie verskillende Ankole-spesies, waarvan een uniek is aan Suid-Afrika.

Naudé, wat reeds bekend was aan hierdie diere deur sy vorige fotografiewerk, was die ideale kandidaat om die suksesse van Ramaphosa se onderneming vas te vang. Hy is ook vol van lof teenoor Ramaphosa as leier en ANC-president.

Hy vertel dat hy dit geniet om oor berge te hardloop, om oor heinings te klim en om met moeilike ligkondisies te werk met die najaag van die perfekte skoot. Naudé sê ook dat dit belangrik is dat die trop sy teenwoordigheid erken – ’n element wat na vore kom in die foto’s.

Naudé se werk kyk na die dieper lesse van telery en verskillende rasse van diere. Hy het vir twee jaar lank beeste in Indië, Uganda en Madagaskar vasgevang met sy Hasselblad. In dié lande word die diere as heilig geag, in kontras met die Weste se kommersiële aanslag. Sy foto’s van die wilde Africanis-hond, wat die Karoo hul tuiste noem, het ook al opspraak gemaak. Dié diere staan vry van getelery en die invloed van kolonisasie. Naudé sien die honde se bestaan as ’n metafoor vir die komplekse vraagstukke oor ras, vryheid en identiteit wat post-apartheid Suid-Afrika in die gesig staar.

31-COTA-website-1024x953.jpg
18-COTA-website-1024x819.jpg
37-COTA-website-1024x819.jpg
81-COTA-website-1024x819.jpg
 
29-COTA-website-1024x819.jpg

Naudé was feeskunstenaar van 2016 se OppiKoppi, waar sy kunsfoto gebruik is in die bemarkings- en identiteitsveldtog.

Cattle of the Ages sluit ook foto’s van die plaaslike omgewing en landskap in, insluitende aalwyne en ander inheemse plante, wat Naudé as ’n breek van sy klassieke taksonomiese diereportrette ag. “Deur om foto’s soos hierdie by te voeg, skep ek ’n visuele ritme tussen die landskappe om die kyker se aandag te behou, soortgelyk aan dit van ’n musikale orkes,” vertel Naudé.

Ramaphosa haal in die voorwoord ’n tradisionele Afrika-gesegde aan: “die bees wek die man.” Ook hy kyk na die beeste in ’n persoonlike en politiese wyse. Hy vertel in die boek dat sy pa geweldig trots op hom sou wees dat hy sy eie boerdery begin het en dat vir hom self ook belangrik was om terug te keer na die aardse, die land. Hy beskou hierdie as een van sy trotsste prestasies. Die boodskap wat dit na ’n breë gemeenskap uitstuur is waarskynlik ook een in die voordeel van sy openbare beeld, berig The New York Review of Books in ’n breëdvoerige artikel. Hy het ook bekendgemaak dat hy beplan om sy diere aan plaaslike boere beskikbaar te stel om hul eie troppe se bloedlyne sterker te maak; ’n egalitariese benadering vir ’n opkomende staatspresident.

Cattle of the Ages word deur Jacana uitgegee en is beskikbaar teen R850.

96-COTA-website-1024x819.jpg

Redakteur van Klyntji, assistent-kurator van die Konstitutionele Hof se kunsversameling en tans besig met 'n LLM in mediareg. Instagram / redakteur@klyntji.com

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Cyril Ramaphosa se heilige vee gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand