Born-frees, 25 jaar later
Deur fotograaf Ilvy Njiokiktjien
Ilvy Njiokiktjien is ’n gerekende en onafhanklike fotograaf wie se werk al in baie van die wêreld se mees vooraanstaande publikasies verskyn het. Sy is ook al met twee World Press Photo-toekennings bekroon en is ’n ambassadeur vir Canon. As deel van ’n eie projek, bring Ilvy al vir meer as twaalf jaar tyd deur saam met vele van Suid-Afrika se jong gesigte.
BORN FREE, haar boek met 35 foto’s, wat ook as uitstalling bestaan, is onlangs uitgereik. Die stories wat deur die foto’s vertel word, strek wyd. Die kort dokumentêre film hierbo kyk na ’n paar van die mense en groepe wat sy al afgeneem het, van wie foto’s hieronder ingesluit is. Ilvy bring dikwels ’n paar dae saam met hierdie mense deur en beeld sodoende nie ’n plat beeld uit van diegene wie se stories sy vertel nie.
Wat dit beteken om ’n “born free” te wees, word krities ontleed in die lig van Suid-Afrika se hoë werkloosheid-, korrupsie- en misdaadsyfers, en strukturele en ekonomiese ongelykheid, die nagevolge van apartheid, sowel as die persepsies oor kleurgrense heen. Die meeste van die jeug het ’n positiewe uitkyk, en dié wat nie het nie, werk steeds hard om ’n beter lewe vir hulself en ander te bou.
Haar foto’s van die verregse Kommandokorpskweekskool wat deel van die boek vorm (nie almal hier ingesluit nie), kom vanuit ’n subprojek genaamd Afrikaner Blood wat ook ’n kortfilm opgelewer het. Dis erg, maar die kyk werd.
Vir meer oor die fotograaf en die boek kyk hier.