Xhoubroe by die Kunstekaap

Collage geskep met foto’s via capetownccid.org en Klyntji.com
Dianne Albertze se blik op drie debuutproduksies
Toe Artscape, trotse Kapenaar, onlangs weer haar feesbaadjie aantrek vir die Suidoosterfees, was daar ’n wye verskeidenheid van opwindende, opkomende kunstenaars te sien, soos die samespanning van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en die Proscenium Drama-kompetisie se Adam Small 90-aanbieding. Dan was daar groot name soos Pieter Dirk-Uys, Amanda Strydom en Elzabé Zietsman wat hulle jarelange aanhangers weer bekoor het. Daar is tente opgeslaan met kos- en drankstalletjies vir die feesgangers om, soos ons in Namakwaland sê, lekker te xhoubroe, wat beteken om sorgeloos saam te kom en te kuier. Tot almal se genot is daar ook verskeie dans- en opvoerkunsitems in die buitelug aangebied. Veral aangrypend was Ons kom van hier, ’n opvoerkunsaanbieding gefasiliteer deur Carin Bester, met Lynette du Plessis en Miché van Wyk, wat handel oor dié twee vroue se ondersoek van hulle Nama- en Griekwa-herkoms. Dan was daar ook pop-up items deur die Figure of 8-dansgeselskap, insluitend ’n witwarm paaldansvertoning.
Lat ek egter nie te lank vir julle terg nie en by my punt uitkom: die toneel!
Ek het drie produksies bygewoon wat hier debuteer het en hopelik almal deur die jaar sal terugkeer verhoog toe: Ouma slaan ’n ses hemel toe, Eugene en ’n verwerking van Ingrid Jonker se enigste drama ’n Seun na my hart.
Die ding met ’n nuwe produksie is dat daar gewoonlik nog soomnate uitsteek, edges wat nog besig is om afgewerk te word, woorde en beweging wat nog huiwerig voorkom. Daai is egter wat nuwe produksies vir my so exciting maak, want as kyker beleef jy die proses. Van hierdie produksies het skaars drie weke se repetisies deurgemaak en is steeds indrukwekkend op die planke gespeel. In dié drie stukke het temas soos verledes, vriendskap, verraad en verlies na vore gekom. Heftige tematiek wat grotendeels sensitief en deurdag aangebied is. Met skrywers soos Kirby van der Merwe, Saartjie Botha, Veronique Jephtas en Jonker kan dinge mos net vlymend en gevaa’lik, in alle goeie maniere, wees.
Ouma slaan 'n ses hemel toe
Liries, rou en feministies. Drie woorde om die werk van Veronique Jephtas te beskryf. Gehoorlede kan altyd verseker daarvan wees dat sy nie alleen kom nie; literêre moeders soos Toni Morrison en Ronelda Kamfer se invloede waai soos die suidooster deur haar werk. En dis nie net letterkundige invloede nie, maar ook dié van haar ma en ouma. Hier vertel sy ’n storie wat so intiem en persoonlik is, dat dit mens aardig laat voel om dit te beleef.
Die verhoog bestaan uit ’n gazebo gedrapeer in groen blare en vrugte, à la Tuin van Eden. Agter is ’n wit doek en ons verteller (Veronique) betree die verhoog aangetrek in ’n bronsblaargedoente wat herinner aan ’n matriekafskeidrok uit die 90’s, met ’n skinkbord rooi jellie in die hand.
Traumatiese memories eggo uit haar mond:
Moenie worry nie; meeste vroue verloor hulle eerste baba.
En:
Ek hoop en bid dat jy my laaste eerste is.
Ons leer ken die brose jong vrou wat haar miskraam herleef in terugvertellings. Ons leer van haar ma wat altyd sou seker maak dat wat daar nie was nie, sy sou voorsien. Sy kon agter haar ma se rug rus vind teen die swaarmoed van die lewe. Dan weer Ouma Ellie wat op die “derde dag” oorlede is. Of die baby daddy wat nie die verligting op sy gesig kon wegsteek toe hy uitvind sy het die baba verloor nie.
Nou wil sy maar net weet: “Vir wat rus die Jirre as ons so in onrus leef?”
Die teks se vele knal woorde kners tot in jou binneste. En wie beter as die skrywer self om hierdie skrynende verhaal te vertel? Sy bekoor ons ook met ’n vers vir Ronelda Kamfer wat in gesprek tree met Kamfer se gedig ‘Oorvertel 2’, met die vuishou slotreël: “die see is ’n teef met rooi skoene aan” uit haar bundel grond/Santekraam (2011). Jephtas sit gemaklik in haar woorde en kan opklopreëls soos weggooilyne voordra. Hierdie keer nie in haar kenmerkende voordragstyl nie, maar eerder as voortbouing op haar stuk My kroon se krank (2023), wat die grense van versdrama toets.
Die aanbieding bots egter nog met die teks, een wat vra vir gestrooptheid, of soos Jephtas noem: “’n intieme inbreek”. Hier trek die stel en kostuums nog te veel aandag af en sou kon doen met die gesegde less is more. Lee-Ann van Rooi het immers al haar staal gewys as stelontwerper met Kompoun, dus glo ek dat daar nog met die ontwikkeling van die produksie meer genuanseerd met die ontwerp omgegaan sal word. Jephtas praat regdeur met ’n ongesiene persoon, een wat nie die gehoor is nie, wat maak dat ons deurgaans sukkel om emosioneel te connect met die verteller. Ook hier kan ’n verskuiwing gemaak word.
Met ’n teks so boeiend en ’n speler so sterk, kan hierdie produksie net groei van krag tot krag, met ’n roerende boodskap aan kykers: Waardeer wat jy het, maar laat gaan ook wanneer dit tyd is. Tog sou ek aanbeveel dat hierdie droomspan terugkeer na die drawing board om die stuk tot sy volle potensiaal te ontgin.
Veronique Jephtas in Ouma slaan ’n ses hemel toe. Produksiefoto’s deur Gys Loubser
Eugene
Sal ons ooit die plooie van ons verlede kan wegstryk, wegsteek en oorbegin? Of is ons verdoem tot die lang skaduwees van wat was om ons, ons lewenslank te agtervolg? Dit is van die vrae waarmee Eugene (Carlo Daniels) worstel en wat jou as kyker bybly soos die ligte uitdoof.
Ná hierdie toneelstuk het ek gevoel soos Jane Don’t toe sy uit die 18de seisoen van RuPaul’s Drag Race huis toe gestuur word met ’n “sashay-away”. My wind was uit. My bene was te swak om aanvanklik soos die res van die gehoor op te spring en luide applous te gee. Want hierdie werk slat jou onderstebo dat jy ook, soos een van die mic stands op die verhoog, op jou sy lê. Dit herinner my aan Toni Morrison se bekende sêding: “Do not expect applause. Be prepared for silence. That is how real work happens.”
Die verhoogvloer is wit soos ’n hospitaalgang en een van die spelers (Lynette du Plessis) lê oop-oë in ’n pak klere soos ’n vermoorde. Eugene staan weer eenkant vorentoe omring deur ’n spul mikrofone nes kakkerlakpote. Die agtergrond word bedek met ’n groot wit doek. Soos die outeur Kirby van der Merwe opstap, begin hy stelselmatig die storie verf, en wat voor ons soos ’n granaatvrug oopbars, is ’n visuele skouspel wat herinner aan Robert Wilson se weergawe van Bertolt Brecht se Threepenny opera. Natuurlik op ’n kleiner skaal, want teaterbegrotings word mos voor die wind deur ons uwe minister van kuns en kultuur Gayton McKenzie gesnoei, soos bedonnerde skoolseuns se hare ná die Desembervakansie.
Carlo Daniels as Eugene in Eugene
Ná die warm stem van Miriam Makeba uitdoof, begin spreek Eugene ’n skare met hordes mikrofone toe. ’n Student is dood aangetref in die nasionale park waar Eugene gereeld stap. Hy, Eugene, die apartheidmisdadiger. Maar min goed kan ’n sleg etter soos Eugene onderkry en sy tong staan vir niks verkeerd nie. Soos die saak wegtrek, word ons saamgesleur op ’n innerlike grondpadreis deur sy grootwordjare op die kampong in die Boland met Meisie en haar mooi gesig, wie se bierlus later haar ondergang sou word. Ook sy leer met die oog oor hoe die gentleman-skollies operate. Stylish ouense wat, voor jy dit sien kom, jou gou in jou poes kan skop as jy aan hulle slegte kante kom. Hier leer hy van doringdraad, ’n ma wat Miesies genoem wil word, bywoners, stof, Jim Reeves, brakke, harre klippe en goed wat ’n kind nooit moet sien nie.
Daar is ook sy oudste vriend Alan, wat op ses jaar oud by hulle opdaag en as sy boetie langs hom grootword. Later sou Alan ’n mix tussen Bernoldus Niemand se ‘Snor City’ en Che Guevara word, waar hy “Vorster se poes” op een van die stadsmure in Johannesburg verf. In Hillbrow as jong aktivis is Eugene net daai ou, die een met musiek in sy stap en ’n afro wat vir niks terugstaan nie. Alan is kort op sy hakke. Boonop ’n baie meer aktiewe aktivis as Eugene met die enigste girl waarna Eugene se hart begeer, die harregat en rateltaai Jenny, vir wie hy skelm naai terwyl die res in Alan se squatterkroos tiep. En Jenny is eintlik Alan se girlfriend, maar aan Eugene is daar geen keer nie. Die man is gemaak uit slegte besluite, ’n verwronge lewensuitkyk en ’n vlymskerp intellek.
Soos in Robert Wilson se werk, word hier bedrewe met tyd omgegaan. Die fragmentele aard van die storie bliksem ons voortdurend tussen die hede, Hillbrow en die kampong, waar ons een van die grootste klippe op die grondpadreis ontdek: Hitler, ’n verwaarloosde bobbejaan, vasgeketting in iemand se jaart. Hierdie skepsel ontketen ’n katarsis in Eugene wat al meer begin tred verloor met die werklikheid en al meer die bobbejaanspore volg, met die skaduwees van mikrofone wat al meer ontstemmend op die verhoog raak en Talking Heads wat deur die teater blêr. Die bobbejaan sit nie net, soos die tokoloshe, ’n spoelklip op Eugene se tong nie, maar die gehoor s’n ook, en saam val ons in die metafisiese spoel van sy onderbewussyn af. Met briekmerke en die reuk van batterysuur.
Jare later kry hy vir die beeldskone Bella langs die robotte sit. Dié keer met ’n gesig vol krapmerke. Dis te seer om haar te sien. Om haar te herken. Te realise dat sy die vroumense in sy lewe verteenwoordig. Hy bieg hauntingly: “Al die vroue in my lewe is soos spoke wat verdwyn op afdwaalpaaie.”
As regisseur skep Nico Scheepers weer eens ’n visuele kragtoer met diepte en menslikheid, soos hy al voorheen bewys het met werke van Amper Vrystaat tot Speelgoed van glas. Eugene is egter ’n werk wat op sy eie voete staan, en vele, mind you, soos ’n duisendpoot. Dis ’n werk wat ’n taal van sy eie skep met ryk invloede, maar ook ’n tekstuur wat eg en onmiddellik voel. Du Plessis kwyt haar goed van haar taak en vul onbaatsugtig die krake om vir Daniels en die algehele storie tot diens te wees. Haar voordrag van Brecht se ‘Of poor BB’ gryp jou aan die kraag en broei nuwe betekenis vir die impak van sy werk. Daniels, aan die ander kant, dra amper die hele verhaal op sy skouers. Of eerder vat hy ons as gehoor soos die gesteelde War and peace en bêre ons onder sy skooltrui – teenaan en tasbaar regdeur sy vertolking. Die Eugene wat hy skep, is nie net ’n replika uit Van der Merwe se roman nie, maar ’n man met murg en moerigheid, swart woude in sy hart en ’n kop vol verf en jikspatsels. Dis hoe Daniels die karakter inkleur, met fyn afgewerkte psigoses en skreiende rou emosie.
Dambudzo Marechera skryf in The house of hunger: “There’s just dirt and shit and urine and blood and smashed brains. There’s just dust and fleas and bloody whites and roaches and dogs trained to bite black people in the arse.” Hier is dit ’n bobbejaan eerder as ’n hond. En een wat jou lank ná die kyk hiervan sal haunt, want dis wat teater moet doen – by jou spook en bring tot die genade van jou skaduwees, sodat ons as mense saam nie net individuele, maar ook kollektiewe genesing kan vind.
'n Seun na my hart
Om totsiens te sê is nooit ’n maklike ding nie. Soms kan mens eenvoudig nie laat los aan die memories, die onthou nie. En wat word dan van jou as jy weier om jou roukleed uit te trek? Jy bly eenvoudig agter in die sloot van wat was. Jy word die ou koeie. Jy word net so dood soos die geliefde wat jou agterlos.
Dis waar ons die twee vroue Maria (Michele Burgers) en Anna (Ira Blanckenberg) kom kry. In ’n hotelkamer vir lonely hearts. En dis nie net jou gewone cheap motel nie; dis ’n spinnerakweb van verlies. Die verskeie rekwisiete is toe onder sluiers van plastiek en kant. ’n Onleefbaarheid word geskets. Dof belig. Met ’n klankbaan van donderstorms, klokke, treine en honde wat in die verte blaf.
Maria stap die hotelkamer deur soos een wat die hiernamaals betree, met ’n soeklig en geklee in ’n reinwit nagrok van kant. Spook of engel? Anna verskyn op die stel soos een wat wekroep vanuit die web. Sy is weerbarstig en wil eerste weet of Maria nog ciggies het en waarom sy hulle nie saamgebring het nie.
Die teks is oorspronklik deur Ingrid Jonker geskryf en in 1968 gepubliseer. Eie aan Jonker se digstem, worstel en wrewel die twee verwaarloosde vroue deur liriese verse, op soek na wat nog oor is van hulself op hulle Job-ashoop. Maria verlustig haar in die vertellings van Anna, veral dies oor ma-wees, die gal en die soet. Anna, aan die ander kant, het min vreugde in haar oor. Sy verafsku wat oor is van die mensdom, van die liefde, van haar lot. Tog is daar ’n silwer rand aan die twee se swerweling in die hotelkamer van hulle gebroke harte: die opwagting vir die besoek van Simon (Ben Albertyn), Anna se verlore seun.
Ira Blanckenberg as Anna op die stel van ’n Seun na my hart
Die geselskap van ’n Seun na my hart: Michele Burgers (links), Ira Blanckenberg (middel) en Ben Albertyn (regs)
Hy, soos sy ma Anna, verskyn deur die webbe van die stel en word figuurlik uit die doderyk opgewek. Hy is egter nie meer die ongeskonde laaitie wat hy destyds was nie. Die verweerde foto wat Anna van hom dra, is nou geskeer. Hy kondig hom aan met ’n halfleë bottel Virginia in die hand. ’n Vuilbek klong. Skree-skree in skerwe, vuil van langpaaie van anderkant die vergeet, met ’n brakbaard en bar houding. Hy kom ontwrig die stil gevangenis van die twee vroue.
Regisseur Marí Borstlap draai Jonker se teks op sy kop sonder om enigsins afbreek aan die oorspronklike te maak. Sy werk eerbiedig met die source material, maar bly egter ook getrou aan haar styl. Simbolies en droomryk, soos sy alreeds bewys het met Breytenbach se Verwelkingslied. Hier soek ek egter na die nuanse van haar vorige werke. Die kakofonie van klanke en beelde met die dowwe beligting laat sukkel ’n gehoorlid om ’n fokuspunt te kry. Die produksie verlang na meer stiltes. Daai oorverdowende, ongoddelike geraas van verlies se doodse stilte. Die stilistiese benadering werk goed met versdramas soos dié, maar tog benodig die spelers nog meer gegrondheid. En met begaafde spelers soos in hierdie stuk, is oorgawe en rouheid veel van te kry, maar oomblikke van teerheid en subteks het verlore geraak met die oorartikulering van die stel, beligting en klank.
Mens sukkel nog ná die produksie om ’n way uit die kamer tussen verlies en verganklikheid te vind, want die werk spin jou ook vas. Ons almal weet wat dit is om iemand, iets, tot onsself, te verloor. Dus eggo Jonker se stem nog lank op die wind deur ons harte.
“[D]is wat teater moet doen – by jou spook en bring tot die genade van jou skaduwees, sodat ons as mense saam nie net individuele, maar ook kollektiewe genesing kan vind.”
Du Toit is 'n jong bekroonde skrywer, teatermaker en performer wat spesialiseer in die ontginning van queer narratiewe of net om Afrikanerskap op te fok.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Xhoubroe by die Kunstekaap gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.




