Fotografie is 'n projeksie van die verstand

Roger buite die Roger Ballen Centre for Photography in Johannesburg. Foto’s en kunswerke verskaf
'n Gesprek-enesque met Roger Ballen (oor KI, kuns, kleur)
Roger Ballen: ’n naam vereenselwig met onheilspellende swart en wit foto’s van ongenaakbare ruimtes; uitbeeldings van die menslike id via ’n antropomorfiese rot; beelde van ’n dubbelsinnige, onverkende Johannesburg; oudio-visuele verteenwoordigings van die verstand; en installasies wat die mens se verwoesting van die natuurlike wêreld ten toon stel.
Dié Amerikaanse psigologiese kunstenaar bevind hom sedert die 1980’s in Suid-Afrika, waar hy as geoloog deur ons land se ryk minerale gelok is. Bykans 40 jaar later is hy steeds permanent hier gevestig en het hy die VSA vir die Stad van Goud verruil. In 2023 het hy die Inside Out Centre for the Arts gestig (Forrestlaan 48, Jan Smuts, Jol’burg – gaan loer!) en dié formidabele gebou huisves permanente uitstallings van sy kenmerkende estetiese oeuvre.
Time waits for no man-enesque en die Roger Ballen Centre for Photography se imposante deure is einde 2025 vir fotografieliefhebbers (en nuuskieriges!) oopgemaak, gepaard met ’n uitstalling van foto’s deur plaaslike en buitelandse kunstenaars wat slegs deur kunsmatige intelligensie voortgebring is, getiteld PSYCHOPOMP! (Die uitstalling is gekureer deur fotograaf Boris Eldagsen, wat in 2023 wêreldwye opslae gemaak het toe hy die Sony World Photography Award afgekeur het nadat hy openbaar het dat sy wenfoto deur KI geskep is. Boris verduidelik hier die gedagtes agter en oogmerke van die uitstalling.)
Hier volg ons gesprek-enesque – wat ek van Engels in Afrikaans vertaal het – oor fotografie, kleur, geheue, KI en vele meer.
MILA: Roger, wanneer jy die woord fotografie hoor, wat kom na vore?
ROGER: Fotografie is nie meer die werklikheid nie; dis ’n projeksie van die verstand.
MILA: En kuns as geheel?
ROGER: Kuns is kuns. Daar’s geen ander manier om dit te beskryf nie. Ek het ’n estetiese filosofiekursus by die Kalifornië-Universiteit, Berkeley afgelê en die gasspreker was wêreldberoemd in die veld van die filosofie van estetika. En ek onthou hoe hy tydens die eerste lesings gevra het: “Wat is kuns?” Sy antwoord op hierdie vraag was: “Die enigste manier om kuns te beskryf is bloot ‘uitdrukking’.”
MILA: Wat is jou benadering tot KI?
ROGER: Wel, dis kunsmatige intelligensie, maar KI word deur menslike intelligensie voortgebring. Wat is kuns? Wat is kunsmatig? Wat is nie kunsmatig nie? Dis vrae wat jy jou altyd moet afvra. Wanneer jy na die nuus kyk, dink jy: O, dis wat werklik gebeur het. Nee, nie eintlik nie. Dis ’n besluit wat deur mense gemaak is om, eie aan hulle kanaal, dinge op ’n spesifieke wyse uit te beeld. Dus wanneer ook al jy na enige nuus kyk, is dit ook KI. Mense manipuleer feite en syfers – nie noodwendig tot hulle eie voordeel nie – maar op sekere maniere deur middel van sekere mediums.
Alsoguppyme, Twisted mirrors (2025). Promptography. Deel van die Roger Ballen Centre for Photography se debuutuitstalling in 2025
Infrarouge, Heaven eats its own (2025). Promptography. Deel van die Roger Ballen Centre for Photography se debuutuitstalling in 2025
Arminda Da Silva, Things we don’t say (2025). Promptography. Deel van die Roger Ballen Centre for Photography se debuutuitstalling in 2025
MILA: Die opening van die fotografiesentrum is toegewy aan ’n uitstalling van slegs KI-foto’s, geskep deur buitelandse kunstenaars. Hoekom net KI?
ROGER: Ek glo dat die tendens van die digitalisering van beelde, en die internet, voortgesit word in fotografie wat toenemend virtueel is. Dis nie noodwendig wat werklik gebeur of iets wat iemand anders sou sien nie; dis gemanipuleerde werklikheid. ’n Geweldige, geweldige gemanipuleerde werklikheid. Wanneer jy ’n foto neem van ’n gemanipuleerde werklikheid, ontstaan die vraag: Wat is werklikheid in elk geval? Wanneer jy deur jou oë na ’n gemanipuleerde werklikheid kyk, beteken dit nie dat dit wat jy sien, die werklikheid is nie. Dit beteken nie enigiets nie. Dis jy en jou eie werklikheid, of jy bestaan of nie. Dis moeilik om te beskryf.
Hierdie woorde word baie ingewikkeld, maar ons leef in ’n wêreld waar ons al hoe meer KI het, en meer masjienintelligensie, meer dubbelsinnigheid tussen werklik en onwerklik, wat in die fisiese wêreld geskep is versus die rekenaarwêreld – en dit bring al hierdie kwessies na vore. Of KI fotografie is of nie, glo ek nie dis fotografie in die ware sin van die woord nie, aangesien jy nie – soos in die fisiese werklikheid – lig toepas nie, maar KI kan beslis as ’n parallelle vorm van fotografie geposisioneer word.
MILA: Het jy al ooit met KI gespeel?
ROGER: Nee.
MILA: Sal jy?
ROGER: Nee.
MILA: Hoekom nie?
ROGER: Want ek doen hierdie al vir jare. Ek het ’n repertoire van ’n hoogskomplekse wyse van sien geskep, so ek hoef nie terug te gaan na die begin en poog om iets te bou waarin ek geen belangstelling het nie. Wat sal die punt daarvan wees? Ek hou nie van sekere kossoorte nie, so waarom moet ek dit eet? Ek weet wat beide opbouend en afbrekend is vir my. Jy leer dit deur jou leeftyd aan. So, nee. Ek het geen belangstelling in meer gevorderde vlakke van KI nie, maar bygesê, ons maak van Photoshop gebruik vir ’n paar van my beelde. Dit kan beskou word as ’n vorm van KI, maar dit word toegepas op ’n foto wat in die fisiese wêreld geneem is. Of sekere vorms van manipulasie van fisiese fotografie KI is of nie, weet ek nie. Die lyn is maar bra duister.
“Wat sal die punt daarvan wees?”
MILA: Is Photoshop KI?
ROGER: Ek meen, dis digitale kameras se KI op sy eie wyse. Daar was selfs ’n tyd toe film as KI beskou is. Mense wat sê: Hierdie kan nie die werklikheid wees nie; dis gemanipuleerde werklikheid. Dit vorm deel van die geskiedenis van die mensdom, maar wat ons tans aanskou, is ekstreem.
MILA: Wat, tot dusver, is die reaksie op jou sentrum?
ROGER: Die reaksie is baie positief. Mense hou veral van die argitektuur van die sentrum, die beligting, die behangsels, die ligging. En ek glo mense voel uitgedaag deur die uitstalling en dit prikkel hulle belangstelling.
MILA: Nes die Inside Out Centre, is die fotografiesentrum deur die gesiene argitek Joe van Rooyen ontwerp. Is jy daarop ingestel dat die eksterne die interne moet naboots, met betrekking tot die Ballenesque-estetika? Wil jy hê dat die geboue onmiddellik met jou kuns/die Ballenesque vereenselwig moet word?
ROGER: Nie heeltemal nie. Hierdie geboue is van beton gemaak; dit neig na die brutalisme. Oor die jare heen is menigte van my foto’s geneem in kamers waar die mure uit soliede beton bestaan. Dit boots amper ’n tronksel na. Met die stigting van my eerste sentrum, het ek gesê hierdie gebou moet ’n betongebou wees. Dit voel soos my wêreld. Ek hou van die materiaal. Dis nie spoggerig nie. Dis eenvoudig. Die Romeine het dit gebruik. Ek voel gemaklik met hierdie boumateriaal; dis byna aards. Beton voel soos huis.
Daar is ook ’n element van modernistiese argitektuur, so indien mense van binne en buite die argitektuur aanskou, skep dit nie juis ’n gevoel van die foto’s nie. Die binneruim van die sentrum is aansienlik meer gestruktureerd – dis fyn, soliede lyne. Dit skep, in die foto’s self, chaos – dis belangrik om dit in ag te neem. Wanneer mense die sentrum besoek en instap, word hulle verontrus. Ek glo dis baie belangrik vir die werklike ervaring van die uitstalling, want jy daag onvoorbereid hier op.
Binne die Inside Out Centre for the Arts
MILA: Vertel my meer omtrent die noodsaak van ’n sentrum, in Suid-Afrika, wat aan fotografie toegewy is.
ROGER: Eerstens is daar skaars ’n fotografiesentrum in Afrika. Punt. Dwarsoor die wêreld is daar fotosentrums: Dit is die mees wydverspreide vorm van uitdrukking van enige media wêreldwyd. Dit word wyer gebruik as skilder, skets, beeldhouwerk, kinematografie. Almal neem deesdae foto’s, so wat, buiten fotografie, kan ’n belangriker medium wees om mee te werk, uit te stal, te evalueer, te demonstreer en om mee op te voed? Fotografie het so ’n komplekse, multi-dimensionele geskiedenis en ek kan nie aan ’n beter vorm dink wat relevant is nie.
Ons beplan om menigte vorms van fotografie uit te stal, van dokumentêre fotografie en mode tot beroemde fotograwe. Ons gaan dus vir mense ’n groter waardering van die veelvoudigheid van die vorm skep. Daar gaan moontlik sekere uitstallings wees waarmee mense identifiseer en ander wat hulle nie sal verstaan nie. Ek glo nie enigiemand gaan hier uitstap en afkeuring toon nie, maar dit sal vir mense ’n breër oorsig van die geskiedenis van fotografie gee en moontlik aanspoor om beter foto’s te neem as wat hulle tans neem.
MILA: Bied jy ooit fotografiewerkswinkels aan?
ROGER: Ja, ek het binnekort een in Wene.
MILA: En in Suid-Afrika?
ROGER: Ek het dit twee of drie maal gedoen, maar nie onlangs nie. Dalk sal ek weer in die toekoms. Dit het wel nie baie entoesiasme ontlok nie …
MILA: So gepraat van die toekoms … Wat kan ons van die Roger Ballen Centre for Photography verwag?
ROGER: Heelwat. Van ’n uitstalling van my nuwe boek Spirits and spaces, tot werk wat deur kunstenaars van Afrika geskep is en wat kommentaar lewer op kolonialisme en ’n samewerking met ’n Nigeriese modeontwerper. Die belangrikste ding, altans vir my, is om altyd terug te keer na die kernkwessies toe. Moenie in die kommersiële vasgevang word nie. Jy moet lojaal bly teenoor jou kern, andersins word jy loutere dryfhout in die oseaan.
MILA: Dink jy mode is ’n vorm van uitdrukking en kan dus as kuns beskou word?
ROGER: As kuns uitdrukking is, hoe tref jy ’n onderskeid in terme van kuns as iets wat ’n blywende waarde het, teenoor iets wat bloot ’n oombliklike uitdrukking is; iets werklik konstruktiefs? Hoe maak mens hierdie evaluasies? Hedendaagse instellings kan so oorweldig word deur dit wat in of uit is, dat hulle keuses gevorm is deur dit wat nie noodwendig aan die kriteria van tradisionele kuns voldoen nie. En dan kry jy individue wat hulle eie keuses maak. En dit is op die ou end wat ek doen: Ek maak my eie keuse. Ek besluit waarvan ek hou of nie hou nie, en dis dit. Ek sien dinge waarin ek belangstel en wat – hopelik – in my geheue ingeëts sal bly.
MILA: O, ja. Geheue. Daardie wispelturige karnallie …
ROGER: Wat bepaal geheue? Wie besluit wat vasgevang word? Dis ’n geheimsinnige kwessie. Hoe word daarop besluit? Verstandelike vermoëns, chemiese kragte, biologiese kragte. Hulle is almal geheimsinnig op sigself. Indien jy iets aanskou waarmee jy geen bewustelike verhouding het nie, verskyn dit as ’n droom. Die droom word die werklikheid en die werklikheid word die droom.
“Moenie in die kommersiële vasgevang word nie. Jy moet lojaal bly teenoor jou kern, andersins word jy loutere dryfhout in die oseaan.”
MILA: In ’n vorige gesprek tussen ons het ek vir jou gevra of jy in kleur droom. Waarom die toepassing van kleur in jou meer onlangse werk?
ROGER: Waarom kleur? Dit was heeltemal toevallig. Toe ek destyds aan die Ballenesque-boek gewerk het, het ek slegs ’n filmkamera gehad. Vriende van my het ’n digitale kamera vir my geskenk gegee. Ek wou ’n film van Ballenesque: Roger Ballen – a retrospective maak, en terwyl ek besig was met die verfilming van die video, het ek heel toevallig begin foto’s neem. Ek was nie besonders vertroud met die digitale kamera waarmee ek hierdie foto’s geneem het nie, maar wat my opgeval het, is dat die kleur – in sekere gevalle – beter was as die swart en wit foto’s. Dit was ’n groot uitdaging en ek het aangeneem dat ek nie daarin sou belangstel om foto’s in kleur te neem, maar toe hou ek op die ou end daarvan.
Roger Ballen, Enfold (2021)
Roger Ballen, Asphyxiation (2020)
Roger Ballen, Cast away (2022)
MILA: Het jou verhouding met fotografie enigsins verander met die toepassing van kleur?
ROGER: Nee, dit het niks verander nie. Dit was bloot nog ’n laag: My foto’s bestaan uit honderde lae. Kleur is nie die enigste laag wat in my foto’s verskyn nie; dis bloot ’n aanvulling. Met my vorige werk het ek rotte in plaas van gesigte begin teken. Dit is ook ’n voorbeeld van een van die lae waaruit my werk bestaan. Nes kleur: Dis nog ’n laag.
MILA: Is dit ’n belangrike laag?
ROGER: Ja, maar moontlik op ’n eenderse wyse as teken … Hoe lig gebruik word. Dit het nie verander hoe ek fotografie beskou nie. Wanneer ek na kleur kyk, is dit ’n gedempte kleur waarmee ek werk. Dis ’n monochromatiese kleur.
MILA: My slotsomvraag aan jou: Ek weet jou gunstelingwoord is niks, maar wat is jou gunstelingkleur?
ROGER: Dis ’n baie goeie vraag. Ek dink ek hou regtig van groen. Groen is plante, lewe, bome. Ek hou van hulle. My oë is groenerig. So, ja. Ek dink ek hou van groen.
MILA: Ballenesque, staan opsy: Gaan groen is die nuwe forte!
Marguerite Rossouw, Roger the rat (2020)
Mila is redakteur van BooksLIVE.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Fotografie is 'n projeksie van die verstand gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.



