Die gebed van 'n halfmens dui op 'n dreigende werklikheid

Luis Medina, Plastic-covered tree near Lawrence and Kenmore, Chicago (1984). Via Art Institute of Chicago
Hierdie resensie is nie deur KI geskryf nie
“Die teks is nie geskep deur generatiewe KI nie. Die stemme wat hier weerklink, is dié van mense – vlees en asem, hart en siel. Die fluisteringe van masjiene mag nie aangehaal word nie.”
Só lees die motto van Nicola Hanekom se mees onlangse toneelteks Die gebed van ’n halfmens (2026, Protea Boekhuis). ’n Stelling wat ’n dekade gelede vanselfsprekend sou wees, is een wat in vandag se tye belangrik is om in soveel woorde te stipuleer: dat daar wel nie van masjiene gebruik gemaak is om hierdie werk te skep nie; dat dit ’n regte mens se denke is wat ons as gehoor lees / aanhoor. Die feit dat so ’n verklaring enigsins gemaak moet word dui op sigself op ’n dreigende werklikheid.
Verbeel jou ’n toekoms waar skaap tevergeefs “wolf” skree; waar die gevaar so suutjies, so sistematies in ons daaglikse lewens ingeweef word dat ons eers die wolf, of sal ek maar sê robothond, sien vir sy bloeddorstigheid wanneer dit te laat is. Gegewe, bloeddorstigheid is dalk die verkeerde woord, want dit insinueer persoonlikheid, om gedryf te wees deur passie, of woede, of albei – “vlees en asem”. In die geval van KI het ons te make met iets geheel en al onpersoonliks, iets wat bloot besluite baseer op algoritmes – ’n monster eie in sy soort.
Kom ons gee net eers ’n naam vir hierdie gesiglose monster. (As teorie nie jou ding is nie, godspoed; ek hou dit so bondig moontlik, belowe.) Handré Brand omskryf KI soos volg:
’n [O]nderafdeling van rekenaarwetenskap wat ten doel het om programme saam te stel wat funksies kan verrig wat met dié van menslike intelligensie vergelykbaar is. [...] [KI] beteken die skepping van sagteware met die vermoë om die omgewing te ontleed met behulp van voorafbepaalde reëls, soekalgoritmes en patroonherkenning waarop strategiese besluitneming volg.
In die breë kan daar onderskei word tussen drie fases van KI – 1) kunsmatige eng-fokus-intelligensie (KEI), 2) kunsmatige algemene intelligensie (KAI) en 3) kunsmatige superintelligensie (KSI). Eersgenoemde is slegs op een spesifieke fokusarea gerig. Dit is KI wat nie outonoom kan funksioneer op ander gebiede waar soortgelyke probleme voorkom nie. Tweedens beskik KAI oor die vermoë om te leer en aan te pas, soortgelyk aan die menslike brein. KAI kan wel op outonome wyse op ander gebiede probleme oplos, maar is nogtans beperk. Laastens kan KSI geprogrammeer word vir selfbewussyn en dit is gevolglik in hierdie fase in staat om probleme op alle gebiede byna onmiddellik op te los. “[KSI lewer] konsekwent hoër prestasie as die menslike poging,” skryf Brand.
Die groot vraag wat KSI betref, is natuurlik of hierdie fase van KI tot so ’n mate kan ontwikkel dat dit menslike beheer oorskry. Dit bring ons by Hanekom se Halfmens.
Eers wil ek twee disclaimers noem: 1) Ek het ongelukkig nie Halfmens in lewende lywe beleef toe die teaterstuk onlangs by die KKNK gedebuteer het nie, so ek werk met die dramateks wat by Protea uitgegee is; en 2) ek gaan my beste probeer om nie soos ’n doemprofeet te klink met die skryf van hierdie resensie nie, maar dit gaan maar bars.
In Halfmens het die droom van ’n blink nuwe toekoms ’n nagmerrie geword. KI is stelselmatig deel gemaak van die mens se alledaagse lewe “in telke herhaaldelike, subtiele, ongemerkte oomblikke” (34) – met ’n “bioniese oog vir die blindes, ’n ledemaat of twee vir dié wat nie kan loop nie, toe ’n derm, ’n long en ’n hart” (39). KI is as vooruitgang voorgehou. Die superintelligente Kop het die lig gesien en vandaar is die menslike liggame wat van nut is, in halfmense omskep, die vrugbare vroue is in broeikaste gesit om die volgende generasie halfmense te baar en mense ouer as 40 wat nie met KI geïntegreer is nie, is uitgewis. ’n Paar voortvlugtiges het oorleef, naamlik mnr Lam (op die verhoog vertolk deur Marlo Minnaar), mev De Groot (Gretha Brazelle), Oupa en Ouma (Tobie Cronjé en Annelisa Weiland), Baby (Alyssa Dionne) en Baron van Rede (Brendon Daniels). Met die uitsondering van Baby en Baron van Rede, woon die karakters op ’n ashoop.
Foto’s: Hans van der Veen
Wat die karakters se name betref, val die funksionele aard daarvan my op. Elke karakter se naam dien as beskrywing van die aard / fisiese voorkoms / funksie van die karakter, eerder as wat dit ’n “regte” naam is – soos metonimie. Ironies, want terwyl die karakters geloofwaardig en werklik menslik aangebied word, skep die simboliese benamings ’n afstand tussen die leser / kyker en die karakters as mense, sodat sekere verwante assosiasies en interpretasies in die geestesoog geaktiveer word wanneer die naam gelees / gehoor word.
“Die aarde brand,” meen Dave Pepler by ’n gesprek oor klimaatverandering. Dit voel vir my asof hierdie waarneming net so toegepas kan word op die toneelstuk. En hierby kan gevoeg word: Ons het self die vuur aangesteek. In die distopiese Halfmens verduidelik die karakter mnr Lam dat “alles [oornag] verander [het]” (20). Met die ontwikkeling en verspreiding van KI, het massa-afdankings en wêreldwye werkloosheid gevolg. Kop het “al die water opgeslurp en [hulle] in ’n woestyn gelaat” (17); kosvoorrade het verskraal; die UV-telling het die hoogte ingeskiet. Skielik moes almal kies – stem in om ’n halfmens te word, of kwalifiseer vir “selektiewe slagting” (43). “Ná die paar ryk tegnologie-apostels in die dal van silikoonskaduwee [lees: Silicon Valley] [hulle] almal se fortuin vir ewig [...] vertel het,” verklaar mnr Lam (20). Diegene wat kon vlug voor die slagting, die “oorskotmense” (41), is oorgelaat aan die genade van skuiling vind, net om “te [...] wag op die dood” (42).
Van die temas wat ek raaklees in Halfmens, is egtheid teenoor kunsmatigheid, hoop teenoor wanhoop, geloof / religie, morele verval, maatskaplike ineenstorting, rykdom teenoor armoede en tegnologiese vooruitgang teenoor (menslike) natuur. Ek fokus in breë trekke in hierdie resensie op die temas van geloof / religie en tegnologiese vooruitgang teenoor (menslike) natuur.
Hanekom verweef die tema van geloof / religie op ’n verfrissende manier in die teks deurdat dit nooit voorgehou word as die antwoord op die probleem nie. Enigeen wat al gebid het vir genesing wat nooit gekom het nie, behoort hierdie gegewe te verstaan. Trouens, om hardop te bid in die Halfmens-werklikheid is nie net vergeefs nie, dis ’n ope uitnodiging op ’n aanval. Wanneer die Maghrib-gebed van ’n gelowige vanuit die verte gehoor kan word, sê mnr Lam: “Iemand bid. Iemand iewers, godweet ... bid. [...] Hulle lok koeëls uit die hemel, nie kwartels nie” (15). In plaas daarvan dat geloof as die oplossing beskou word in Halfmens, skyn dit eerder ’n lig op die feit dat die mensdom in werklikheid op die voorgrond staan daarvan om, in bybelse terme, weer die appel te byt. Die vraag is egter wat bly daar oor om in te glo of voor te hoop?
Ongeag die mens se beste pogings tot selfbehoud, oftewel “selfvergoding” (40), in die toneelstuk, is dit reeds te laat vir die karakters. In die bekende woorde van Nietzsche: “God is dead. God remains dead. And we have killed him.” Met die opkoms van KI, en in die besonder KSI (Kop), het ’n katastrofiese verskuiwing in die mensdom se geloof en moraliteit plaasgevind. Wanneer hulpbronne skaars word, is dit onafwendbaar dat moraliteit soos ons dit ken, in duie sal stort – om ruimte te maak vir ’n werklikheid waar iets soos mededeelsaamheid “’n mooi en lank vergete eienskap” (28) word. Baby verklaar: “Ja, die ou Agrimark en Spar is toeka al tot op die werwel gestroop en in ’n wrewel verbrand. Almal gryp nou na die min wat oor is” (22). Baby word ’n allegorie vir die verval van menslike moraliteit wanneer sy ’n bloederige rugsak aan die plaaslike dealer Baron van Rede (met een -e) oorhandig, vermoedelik in ruil vir dwelms. Wat in die rugsak is, wil ek eerder nie hier verklap nie. Kyk / lees maar self.
“Hanekom verweef die tema van geloof / religie op ’n verfrissende manier in die teks deurdat dit nooit voorgehou word as die antwoord op die probleem nie. Enigeen wat al gebid het vir genesing wat nooit gekom het nie, behoort hierdie gegewe te verstaan.”
Interessant ook dat Kop in ’n mate ’n plaasvervanger word vir wat gelowiges God noem. Hierdie gegewe word aan die gehoor bekend gestel deurdat ’n parallel getrek word tussen Kop en die seun van God wat eers aarde toe moes kom en mens moes word, volgens die christelike leringe, om te sterf vir sy volgelinge se wanpraktyke.
Min het ons geweet [...] dat dit, Kop, wou stap en wou sien. Dat dit, Kop, wou hoor en wou voel. Dat Kop nie net wou weet nie, maar wou wees. Volkome wou wees. Lewendig wou wees. (40)
As Kop dan God is, moes die KSI-volgelinge ook ’n geloofsbelydenis hê. Enige (huidige / eks-) NG Kerk-ganger sal die ritme en formaat hiérvan herken:
Ek glo in die koppeling van kode en kreatiwiteit, waar die kollektiewe kennis van die internet die vonk van kunsmatige intelligensie in vlees ontmoet.
En in die Digitale Ryk, waar die verbeelding gekoester en gekweek word; [...]
van waar Dit sal kom om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het. (69–70)
Vergelyk maar:
Ek glo [...] in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die Aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; [...]
van waar hy sal kom om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het. (68–9)
Terwyl die Kop-geloofsbelydenis in skerp kontras staan teenoor dié van die christelike geloof, is dit tog ook ooreenstemmend. Beide partye bely hulle geloof aan ’n alwetende, alomteenwoordige, skynbaar onsterflike opperwese. ’n God wat van ’n afstand af regeer. ’n Jaloerse god wat absolute toewyding vereis van sy volgelinge.
Die verwysings na diere staan ook uit vir my, veral in die lig van ’n stuk wat handel oor KI – die toppunt (tot dusver) van tegnologiese vooruitgang. Aan die begin van die stuk word melding gemaak van ’n bobbejaan-alfa wat blaf – om mnr Lam “te waarsku” (24). Dan hoor ons nader aan die einde van die stuk weer van ’n bobbejaan. Hierdie keer word sy blaf anders geïnterpreteer. “Dis omdat ons hom agtergelaat het. In ons evolusie. Hy was te dom om te verstaan, maar hy’t geweet daar’s groot fout” (67). En nou blyk dit die mens se beurt te wees om te weet “daar’s groot fout”. Dit laat ’n mens wonder of die menslike liggaam en aard nader is aan dié van ’n bobbejaan of dié van halfmense. Of lê mense iewers in die middel van die twee op die kontinuum? Soos daar op die agterplat van die teks geskryf is: “Wat is die menslike liggaam en ’n lewe werd?”
Diere is deurgaans in die marge van Halfmens teenwoordig. Die maaiers “vier fees” (12) op die afgekapte been van mev De Groot, en later dra die miere haar been weg (42). Die rotte “maak moles” op die ashoop wat “hier en daar menslike oorskot bevat” (12). ’n Sog vreet aan die arm van ’n lyk (24); mnr Lam sê hy het “tussen die kokkerotte kom wegkruip” (43); mev De Groot stel die KI-broeikaste vir mense gelyk aan batteryhoender-plase: “Dit was tragies; hoe effektief dit was” (36). Wanneer Ouma en Oupa ongemerk, roerloos sit, sê mnr Lam hulle vermom hulself: “Die mens as stokinsek” (46); en as Ouma beseer word, huil sy soos “’n kat met ’n vergruisde agterlyf” (57). Die diere word, net soos die rommel op die ashoop, ’n herinnering aan wat was, aan die verlies van menslikheid. Iets tasbaars wat in teenstelling staan met die kunsmatigheid van die hede.
Wat hierdie stuk treffend maak, is natuurlik die relevansie daarvan. Die gedwonge onafwendbaarheid van KI is op ons. Soos jy hier lees, word datasentrums gebou. Miljoene liters water word gebruik om dié sentrums af te koel. Honderde terawatt elektrisiteit word gebruik om die sentrums aan te dryf. Die gevolg is ’n enorme toename in hitte, lug- en geraasbesoedeling; veranderinge in mikro- en makroklimaat. Navorsers merk ook ’n hoër voorkoms van asma en ander respiratoriese komplikasies by mense wat in die omgewing van hierdie datasentrums woon. “[W]e need to start tracking its impacts. We need to start being transparent and disclosing them and creating tools so that people understand AI better,” meen Sasha Luccioni, KI-navorser.
“Soos jy hier lees, word datasentrums gebou. Miljoene liters water word gebruik om dié sentrums af te koel. Honderde terawatt elektrisiteit word gebruik om die sentrums aan te dryf. Die gevolg is ’n enorme toename in hitte, lug- en geraasbesoedeling; veranderinge in mikro- en makroklimaat.”
KI bestaan nie in ’n vakuum nie. Dit is deel van die samelewing en dit het ’n impak op die planeet. Daarmee saam kom ’n moontlike eksistensiële bedreiging vir die mens. Hoewel dit (hopelik) nog nie te laat is om die opkoms van KI behoorlik te bestuur nie, dien Hanekom se Halfmens as bewusmaking. Wat gaan ons doen as die bomme val?
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Die gebed van 'n halfmens dui op 'n dreigende werklikheid gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.




