Uitgelate in die Klein Karoo

Foto’s deur Clifford Roberts
Jou pitstop halfpad deur die teaterjaar
Met KKNK en Suidoosterfees in die truspieëltjie het Clifford en Maryke Roberts dié jaar al ure se teater ingeasem en ingeleef. Maryke met haar potlood en notaboekie; Clifford met sy kamera. Lees hulle feesdagboek van hulle onlangse teatertrip Oudsthoorn toe hier onder. Baie van die stukke waarvoor hulle hier ’n punt uit vyf gee (hulle stem [meestal!] saam met die Kanna-beoordelaars!), keer deur die loop van die jaar terug verhoog toe – Vrystaat Kunstefees, Toyota Stellenbosch Woordfees en Momentum Aardklop lê en wag.
Nostalgie, absurditeit en sekspositiwiteit
Die dag – en ons fees – begin met The reservation. Wow, wat ’n vertoning. Die belaglikheid van ons moderne samelewing wat restaurante soos ons eie eetkamer benader: fone uit; ongeskik met kelners en sommeliers; onredelike versoeke aan die kombuis; voorgee en vertoon – alles deur die bekroonde Figure of 8 Dance Theatre-dansgeselskap. Van die (min maar kragtige) sinne wat gespreek is: “This is not a brunch, it’s war”; “kelners en dienspersoneel voel onsigbaar”; “influencing is not a job, it is a calling”; “running a restaurant is like playing hangman – one wrong move and the rope gets tighter.” Dit som die absurditeit van The reservation op.
– MR: 5/5 | CR: 4/5
Die Vyftigers – met Neil Sandilands, Schalk Joubert, Gian Groen en Abel Kraamsaal – het die dak behoorlik laat lig. Al vier musikante het in 2025 50 geword, ’n halfeeu teenoor Afrikaans (as amptelike taal) se 100. Die bekendheid van hul kinderdaeherinneringe, verweef met van hul gunstelingtreffers, het ’n nostalgie in my binneste losgewoel. Rou, eerlike musiek en vertellinge om sin te maak van die afgelope 100 jaar van ’n taal en 50 jaar van lewe met drome en terugslae – van menswees.
– MR: 5/5 | CR: 4/5
The reservation
Dom, pasop!
Een van die Blitsteater-stukke Dom, pasop!, deur Mia Theunissen en met Lukhona Mkunyana, was treffend in sy eenvoud. Lukhona se karakter, in sy oorpak, het tussen vertonings heeltyd tussen die tente waarin die Blitsteater gehou is, vloergevee en saamgesmelt in die agtergrond as ’n skoonmaker. Dis eers as jy die stuk gaan kyk, dat jy besef dis juis daardie wegsmelt wat soveel mense onsigbaar laat voel – mense met toekomsplanne en drome en hartseer, wat dikwels uit gebroke huise kom, maar in ’n samelewing van bevoorregting moet oorleef en hul eie pad oopkloof.
– MR: 4/5 | CR: 5/5
Die vertoning van kykNET se nuwe drama Die oord is by die Kleinplaas Vakansieoord op die dorp gehou – so tussen vakansiegangers, kameeldoringhoutvure, blikbekers en kampstoele, met boereworsrolle en springmielies. Eers is die eerste episode gekyk en daarna geluister, terwyl Waldimar Pelser met die hoofspelers van die reeks Jana Strydom en Melissa de Vries en die vervaardiger Roelof Storm van Wolflight Films gesels het. Roelof vertel hoe hulle in hierdie speurreeks wat op ’n fiktiewe kusdorpie (Kalfiebaai) afspeel, die nuwe genre van sonskyn noir ontgin het. Niks kan versteek word soos in Nordic noir nie – die sonskyn verlig elke hoekie en draaitjie, maar dit beskerm niemand teen die onheil nie. Die reeks is Dinsdagaande op kykNET te sien.
– MR: 5/5 | CR: 5/5
Ons sluit ons dag op ’n interessante noot af met Raunchy renditions – Suid-Afrika se eerste sekspositiewe storievertelplatform. Dit is in 2019 deur Sophie Joans, Syd Strydom en Kelly Smith begin en is geïnspireer deur podsendings soos The moth en Bawdy storytelling, met vyf dapper storievertellers wat hul ongemaklike, skreeusnaakse en gewaagde seksuele (wan-) avonture deel. Heelwat mense het uitgestap, maar dit was verfrissend om te sien hoeveel bly sit het.
– MR 2/5 | CR: 3/5
die waarde van plek (en pannekoek)
Ons gaan vroegoggend vir ’n kuns-rondleiding deur Liza Grobler, die kurator van Plek/place, by die Prince Vintcent-gebou, voor die reuk van pannekoek wat by die trappe van onder by die stegiekafeetjie opkom, ons verlei.
Plek/place is die fees se hoofuitstalling wat nuwe werke deur die KKNK se vorige feeskunstenaars, asook werke deur twee voormalige feeskurators, vanaf 1996 tot nou, uitstal. “Plek,” verduidelik die feesprogram, “kan verwys na ’n spesifieke ligging in die wêreld, byvoorbeeld Oudtshoorn, ’n baken met fisieke eienskappe en meetbare ruimtelike proporsies, maar terselfdertyd kan dit ’n plekhouer wees. Dit hou ruimte – vir kulturele, geografiese en sosiale kontekste.” En verder: “Plek is die wyse waarop ons betekenis heg aan ligging.” Liza se insigte oor die uitstalling laat mens heel anders na die werke – en jou plek op aarde – kyk.
Met koffie en pannekoek onder by die kafeetjie, som die CJ Langenhoven-aanhaling, wat met wit verf op ’n tafeltjie aangebring is, soveel dinge – letterlik en figuurlik – op:
Die waarde
van die koelte
is in
die warm son
rondom hom
Ook hier is op watter plek jy is – in die warm son of in die koelte – belangrik.
Ek gaan maak weer ’n draai by Barbara Wildenboer (2020 se feeskunstenaar) se wit keramiekwoorde wat soos ’n slang oor die gebou se grondvloer seil. Ek het haar Moedertong by Veldhospitaal by die Toyota Stellenbosch Woordfees baie geniet.
– MR: 3/5 | CR 2/5
Collen Maswanganyi, Bird-watching Saint (2026)
Barbara Wildenboer, Moedertong
Ons drentel deur die feesboekwinkel en gaan besoek die CP Nel Museum. In die stilte van die koel sandsteengebou word die verlede vir die toekomstige geslagte bewaar. Ons is almal verweef, of ons dit nou wil weet of nie, en hoe politici ook al probeer om ons teen mekaar op te steek.
Deep Heat is een van twee plekspesifieke teaterstukke by die fees. By die renbaan buite die dorp wag ’n sinkhuisie ons in, omring deur ’n paar klippe en stowwerige jaart. Die verhaal tussen broer en suster ontvou: Hulle vlug van die polisie nadat sy ’n kêrel wat haar mishandel het, se lewe geneem het. Bloed is dikker as water, al ken die sibbe mekaar eintlik baie sleg. Dis hartseer; die seer én vreugdes loop diep en die verlate landskap dra by tot ’n gevoelvolle ervaring. Ons het ’n bottel vonkelwyn en glase in die motor en met fyngekapte biltong ry ons nog so ’n entjie uit in die rigting van Calitzdorp om die ervaring van Deep Heat te herkou en die son oor die Karoovlaktes te sien ondergaan.
– MR: 3/5 | CR: 3/5
Deep heat
two-tone én linnepakke
Police cops: the original, met Zachary Hunt, Nathan Parkinson en Tom Roe, bied verskeie deurmekaar, komiese storielyne en laat die gehoor kraai van die lag. Dié wêreldwye treffer is uitverkoop in Londen se Soho-teater en by die Edinburgh Festival Fringe, en het pryse gewen van Melbourne tot Toronto en Brighton. Dis lekker om humor van oor die waters op plaaslike verhoë te ervaar.
– MR 3/5 | CR: 4/5
Ons gaan stap by die stalletjies rond, proe wyn en witblits en gin, knaag aan gekaramelliseerde neute, voor ons soesji en vonkelwyn by die Checkers-tent kry, voete op plastiekstoele sit en vir ’n paar uur net die musiek van die reuseverhoog oor ons laat spoel. Hier ervaar jy Afrikaanse Suid-Afrikaners van alle uithoeke van die land: van two tone-hemde en sokkies met kamme in, tot linnepakkies en jelnaels met patroontjies op en kaftans.
Laatmiddag is dit tyd vir Doolhof, met Minke Marais en Vian Singleton. Die gestroopte verhoog met net ’n tafel en twee stoele is die sketsdoek vir ’n jong paartjie wat vasgevang is in die kronkels van liefde, geloof, seksuele grense en verwagting. Hulle is oënskynlik nie vir mekaar bedoel nie, maar oortuig hulself dat hulle is. Met slim beligting word hul maalkolk en afsondering duidelik uitgebeeld, en met poëtiese monoloë, realistiese konfrontasies en stiltes wat dikwels meer as woorde sê, delf Doolhof in die vrae wat jong volwassenes vra: Hoe werk liefde as jy steeds na jouself soek? Hoe ver is te ver? Is ek genoeg? Dis ’n tipiese Pretoria-paartjie en voel vaagweg bekend uit my studentedae, maar slaan meer vas by my geliefde wat daar grootgeword en studeer het.
– MR: 3/5 | CR: 4/5
Doolhof
bokke en boeke
Breyten Breytenbach se Boklied (1998) is veel meer as net ’n toneelstuk; dit is ’n grootskaalse literêre event wat die Suid-Afrikaanse teaterlandskap by sy debuut op die KKNK tot in sy fondamente geskud het. Toe dit die eerste keer opgevoer is bykans 30 jaar gelede, was daar groot konsternasie oor die naaktheid en simboliek. In werklikheid het dit juis ’n nuwe era van intellektuele en visuele waagmoed ingelui.
Met die stand van die kunste in die wêreld – die bedreiging van KI op kreatiwiteit; befondsing wat al minder word – tref hierdie toneelstuk baie diep. Op die oppervlak is Boklied ’n meta-teaterstuk (teater oor teater). Dit handel oor ’n groep akteurs wat bymekaarkom om ’n spel te speel waarin hulle moet bepaal wie van hulle as sondebok geoffer gaan word. Die handeling word gelei deur ’n karakter genaamd President M (oorspronklik vertolk deur Dawid Minnaar, nou deur De Klerk Oelofse), wat as ’n soort goddelike dog manipulerende regisseur optree. Die titel verwys na die Griekse tragoidia (boklied), die oorsprong van die woord tragedie. Dit ondersoek die menslike behoefte om skuld op iemand anders te pak om die gemeenskap te reinig. Die stuk gebruik karakters soos Adam, Isis en Ritsos om die Suid-Afrikaanse samelewing te illustreer. Daar is voortdurend ’n dreiging van ’n naderende burgeroorlog buite die speelvlak, maar dit word nooit ontgin nie. Dit skep ’n atmosfeer van naderende onheil.
Boklied
Vandag, in ’n wêreld van cancel culture en politieke polarisasie, is die konsep van die sondebok meer relevant as ooit. Breytenbach vra: Wie kies ons om te blameer vir ons kollektiewe mislukkings? Die stuk dwing die gehoor om te kyk na hoe ons self beelde van die ander skep om ons eie vrese te besweer. Alhoewel die politieke konteks sedert 1998 verander het, bly die temas van magsmisbruik en die absurditeit van hiërargie universeel. Die manier waarop karakters in die stuk vasklou aan verouderde titels en rolle weerspieël steeds die struikelblokke in ons eie transformasieproses.
Ons geniet dié stuk nog meer as die eerste speelvlak bykans drie dekades gelede op hierdie einste Karoodorp.
– MR: 5/5 | CR: 5/5
Elke keer as ons by die ATKV-Boeke-oase langs die museum verbystap, is daar een of ander skrywer in gesprek oor sy of haar nuwe boek. Mens se ore vang stukkies pitkos en jy skep moed vir ons taal en vir ons land.
In Kompoun hoor ons stories uit die Kaapse Vlakte. Om uit twee akteurs wat verskeie karakters speel, se monde verskillende stories te hoor waar hul eie families die rede vir hul hartseer en verstoting is, is aangrypend. Selfdood en selfskade staan sentraal waar jong mense moed opgegee het met die lewe. Die akteurs Angelo Bergh en Melissa de Vries speel om ’n draadplaashek wat soms skeidend, soms versoenend is. Die gehoor sit in ’n kring om die spelers en sirkelverhoog (ongelukkig was die klank onduidelik vir gehoorlede wat verder agtertoe gesit het). ’n Toneelstuk wat my lank sal bybly.
– MR: 4/5 | CR: 2/5
Die gebed van ’n halfmens reën uit en ons gaan eet afval en bredie by een van die dorp se restaurante en luister na die klanke wat van die RSG-Kuierkol kom. Laataand gaan sit ons by die feeskafee agter die museum en drink rooiwyn, terwyl die lewendige musiek ons voete laat jeuk.
Kompoun
'n kyk na die verlede, die hede, en die hopelose toekoms
Ter voorbereiding van Spoel (meer hier onder), gaan kyk ons Kiekies in die Karoo Kaarte-galery. Dis ’n merkwaardige blik op Oudtshoorn se sosiale en ruimtelike evolusie deur die samevloeiing van drie unieke fotoversamelings. Die Gibson-ateljee (1954–1994): Wat begin het as ’n kommersiële familiebesigheid, het onwetend ’n visuele argief geword van die land se verskuiwende politieke landskap en die impak daarvan op die platteland. Die Jonker-versameling: Hazel Jonker se intieme familiefoto’s dien as ’n aangrypende getuienis van die lewe in Wesbank en Noordeinde. Dit vang die pyn van gedwonge verskuiwings vas, maar vier ook die gemeenskap se uithouvermoë en veerkragtigheid. Die Saamstaan-versameling (1984–1995): Hierdie strugglebeelde, geneem deur aktivis-fotograwe, dokumenteer die realiteit van verset en die daaglikse stryd van Bruin en Swart gemeenskappe tydens apartheid.
– MR: 5/5 | CR: 5/5
Die gebed van ’n halfmens was vir my ontstellend én mees meesleurend. Dit is ’n sintuiglike, plekspesifieke ervaring wat die gehoor uit die tradisionele teaterruimte verwyder en direk in die wêreld van die karakters plaas: op ’n ashoop. Die teks delf diep in die psige van die sogenaamde “halfmens” – iets of iemand wat half-mens, half-rekenaar is – die uitvloeisel van KI waar die menslike liggaam bloot as front en broeikas nodig is. Dit is ’n ondersoek na menswaardigheid en die pyn van vooruitgang en om geweeg te word en te lig te wees.
Deur die produksie weg van die verhoog af na ’n stortingsterrein te skuif, word die grense tussen die akteur en die toeskouer afgebreek. Jy sit baie naby aan die akteurs, die windjie stoot koel om jou skouers en jy voel vir daardie uur asof die stortingsterrein regtig die enigste heenkome vir die mensdom geword het. Wanneer hommeltuie en skerp ligte gebruik word om die gevaar voor te stel, kom die hopeloosheid aan jou enkels kou. Dit is teater wat diep sny en lank ná die tyd by ’n mens bly spook.
– MR: 5/5 | CR: 5/5
Die gebed van ’n halfmens
Spoel
Die bekroonde Karoo Kaarte-span het weer bewys waarom hulle die meesters van gemeenskapsvertelling is. Spoel was ’n visuele simfonie wat Oudtshoorn se geskiedenis deur die lens van vier fotograwe herontdek. Die stuk weef die lewens van vier inwoners saam – van bewaarders van familie-albums tot ’n dapper Saamstaan-strydfotograaf. Deur hul kameras word die dorp se intieme oomblikke én sy pynlike politieke verset vasgelê. Dit bevraagteken wie die “raam” van die geskiedenis bepaal en wie besluit wat onthou word. Deur vernuftige beweging, improvisasie en fisieke spel word stilbeelde in lewende herinneringe verander. Soos die programbeskrywing dit stel, dien Spoel as beide ’n “liefdesbrief” aan die Karoo en ’n konfrontasie met geskiedenisse wat voorheen uitgewis is.
– MR: 5/5 | CR 3/5
Tog broei daar hooP
Ons eindig die fees weer by die feeskafee af. Eers is dit Anna Davel en Schalk Joubert wat musiek maak; later kom Stephanie Baartman (wat onder meer in Hoort te sien was). Stadig maar seker kom die akteurs wat ons die afgelope paar dae op die verhoë gesien het, en dans op maat van die musiek. Daar agter die museum waar die verlede se herinneringe gehou word, word die nuwe herinneringe van die toekoms gemaak.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Uitgelate in die Klein Karoo gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.




