Veldhospitaal bied 'n vorm van kollektiewe noodhulp

Foto’s deur Clifford Roberts en verskaf
'n Soort wondverslag wat genesing bring
Verlede jaar by die Toyota Stellenbosch Woordfees het die aweregse kunsuitstalling Veldhospitaal diep spore agtergelaat – nie net op doek of papier nie, maar in die gemoed van elke besoeker wat deur die ruimte beweeg het. Dit het die beoordelaarspaneel van die Fiëstas só geraak, dat hulle in Maart vanjaar ’n spesiale Blou Fiësta aan dié produksie toegeken het. (Blou Fiëstas word toegeken vir verdienstelike werk wat nie in enige van die kategorieë val nie.)
Veldhospitaal was ’n metaforiese plek van herstel – ’n plek waar wonde, beide persoonlik en kollektief, ondersoek, verbind en soms oopgelaat word vir lug en lig.
Volgens die feesprogram is Veldhospitaal ’n ervaring, ’n avontuur na die binnewêreld, “’n lewende kunswerk wat ontstaan uit individuele kunstenaars wat elkeen organe, liggaamsdele en abstraksies van menswees verteenwoordig”.
Veldhospitaal bring verskeie Suid-Afrikaanse kunstenaars bymekaar. Elke kunswerk dien as ’n soort wondverslag – ’n poging om te verstaan hoe mense en gemeenskappe aanhou asemhaal nadat hulle deur geskiedenis, geweld of verandering oop- en opgeskeur is.
Met my destydse besoek aan Veldhospitaal ry ek die grondpad na Libertas-plaas buite Stellenbosch. Deur die klein opening in die witgekalkte plaasmuur stap ek die ruimte binne sonder om te weet wat ek sal voel of wat om te verwag. Die naam Veldhospitaal dra reeds ’n soort rou eerlikheid – iets tussen pyn en hoop, tussen asemhaal en aanhou leef. Binne is die werf stil; daardie soort stilte waarin elke voetstap ’n gebed word. Dit dwing jou om sagter te trap.
Die uitstalling verdeel die lyf in dele: Die maag is die veldkombuis waar jy iets te ete kan bestel; ander ruimtes beeld die arms, hande, voete, kop en emosies uit. (’n Volledige lys van al die liggaamsdele, “hospitaalsale” en kunswerke kan hier gesien word.) By elke uitstalling in dié hedendaagse veldhospitaal hang ’n hout-aanknipbord met die “pasiënt” se besonderhede, van kwaal tot voorskrif.
Die uitstalling in die onderskeie geboue op die plaas bestaan uit ’n verskeidenheid mediums: installasies van hospitaallinne en gipsverbande, videokuns wat die stilte van herstel uitbeeld en fotografie wat spore van siekte en oorlog dokumenteer, maar ook die sagte hande van sorg. In een vertrek hang groot doeke waar growwe kwashale die onstuimigheid van pyn verwoord, terwyl ander kleiner werke fluister oor intieme, stil oomblikke van menslikheid.
By die eerste buitegebou – die Scrubs Room – ontmoet ek modeontwerpers en stiliste Bronwyn van den Berg (die baarmoeder) en Tracey Berg (die alter ego). Tracey se “simptome” sluit in dat sy haar innerlike Afrikaner soek, omdat sy onvolledig en ontmagtig voel – sy het ’n Afrikaanse pa van Vereeniging en ’n Engelse ma wat haar grootmaak. Bronwyn se herwonne klere waarsku dat jy dalk met steke weer heelgemaak sal moet word.
Haidee Nel (arms en hande) se Rooiborsduif – ode aan Breyten Breytenbach
Bo hang ’n jellievis van Lilah Nel se Grief and insomnia series, gehekel deur Helena du Toit. Die beeld is deur Haidee Nel.
Oor die plaashuis se ou onderdeur hang Cedric October (die maag en love handles), geklee in afdroogdoeke. Soos ek deur die voorkamer stap en na die kunswerke kyk, besef ek dat kuns self ’n vorm van noodhulp kan wees.
Hier ontmoet ek die digter Debbie Ryan (die kop, of mind), ’n kaalvoet meisiekind wat sagter trap as die meeste. Sy neem my deur die vertrekke en gee ’n bietjie agtergrond voordat ons uitstap op die werf.
Sy verduidelik dat Veldhospitaal as ’n lewende beeldhouwerk beskou moet word. Kunstenaars verteenwoordig verskillende liggaamsdele en hulle kuns verskaf die medisyne om die kwale wat daardie liggaamsdele kwel, te genees. Dis ook ’n ruimte waarin die kunstenaars mekaar kan ondersteun, waar hulle kan ontsnap aan die druk om te skep vanuit die ego en die kompetisie om geld.
Sy beduie na die Teater agter die hoofhuis, waar daar saans om kampvure teater en gedigte aan besoekers voorgedra word. Sy dra hier haar monoloog ‘Donkerkamertjie’ daagliks op.
Sy vertel van die kunstenaars wie se werke ek teëkom: beeldhouers Haidee Nel (arms en hande), wat ook as Liefie bekend is; Jaco Sieberhagen (ooglens); musikante Luna Paige (emosies), Anele Jeanius en S.A.B.C 4 (voete en wortels); Mia Nel (tande); en Gert van Tonder (trane). Visuele kunstenaars Trude Gunther verteenwoordig die milt en Seun op Aarde die derms. Bernard Brand (limf) is ’n fotograaf en Freek Oerson (pypies) doen toneel.
Die ingang na Anele Jeanius (voete en wortels) se The untold story of a Jeanius
Katryn Meeding (die hippocampus) se Dromer
Seun op Aarde se Trust your gut, skat
In die ingangsportaal pryk werke van ander kunstenaars en op banke en stoele lê groot lipvormige kussings van Melissa Watson (lippe), wat herinner aan hoe kuns as vryheid van spraak noodsaaklik is vir ’n land se heling. Ou koerantuitknipsels wat in ’n kunswerk getiteld Basta! deur Celeste Coetzee omskep word, ondersoek die plek en rol van die Wit Afrikanervrou.
In die ou huis se sitkamer, die Wagkamer, met muurverfwerk van eeue gelede, sien ek ’n uitstalling gemaak deur vroue in tronke. Dit verteenwoordig geestesgesondheid en is die werk van weerlose vroue wat slagoffers van geweld is. Twee spieëls wys jou watter pad jy kies wanneer jy selfreflekteer – swart masker regs, wit masker links. ’n Simbool van hoe ons besluit watter kant van onsself ons wys en wat ons wegsteek.
Ek begin verstaan. Daar is geen dramatiese musiek of helder lig nie. Net die sagte, aanhoudende polsslag van menswees. Veldhospitaal is nie ’n plek waar jy net kyk nie – dis ’n plek waar jy voel, waar jy onthou hoe broos en heilig ons almal is.
Ons verpoos aan die einde van die trappies by die gras, waar die woorde van Barbara Wildenboer (die moedertong) in wit porseleinletters uitgespel word. Die letters loop saam met jou: “Sy droom in die berg se hart; Sy adem waterstrome; Sy verteer die weer […].” (As jy Veldhospitaal by verlede jaar se Woordfees misgeloop het, kan jy Wildenboer se kuns vanjaar by die 30ste KKNK sien.)
Die woorde van Barbara Wildenboer (die moedertong) word in wit porseleinletters uitgespel.
Gert van Tonder se Trane/tears aka liquid emotion. Die besoeker word uitgenooi om water oor die klip te gooi as ’n soort meditasie.
Ver agter in die tuin, waar die gewel van die historiese huis deur boomtakke sigbaar is, kom ons by die huilklip. Dis Gert van Tonder se Trane/tears aka liquid emotion, waar die “simptome” onder meer is: “[T]rane in my oë: vreugde, hartseer, geluidloos teleporteer deur die venster van jou siel […].” Sy voorskrif: “Staar stip na vorteks, tot trane vloei. Baie druppels saam maak ’n oseaan.”
In die buitegeboue – die Sanatorium – is daar kuns in elke hoekie, maar dit voel asof die kunstenaars in die ou sementkuipe waar wynsteensuur die mure robynrooi laat skitter, hul eie drama skep. Enkeles wat uitstaan, is die tatoeëerkunstenaar Tamara Thorn-Murphy, wat haar borskankerreis uitbeeld met tepels van verskillende groottes en teksture. Sy deel twee dele: die kwetsende, ondeurdagte aanmerkings van mense oor haar diagnose, en die positiewe woorde waaraan sy vasklou. Sy besef dat hare, voorkoms en borste ’n bysaak is – die feit dat sy lewe is die kosbaarste. Lilah Nel (insomnia en hartseer) se Grief and Insomnia series skep ’n droomwêreld van slapeloosheid, maar ook van rustigheid vir die besoeker.
Lilah Nel (insomnia en hartseer) se Grief and insomnia series in die Sanatorium
Haidee Nel se Swartskapie in die Sanatorium
Rignold Haywood (die senuweestelsel) nooi die besoeker uit om nuwe neuropaaie te ontwikkel deur te speel met kleur en klank in sy interaktiewe liquid light show The begotten, en die klankelement – Orbaphone, the 9 note tongue drum.
Ek kruip weer deur die opening van die witgekalkte muur met sy plastiek met ’n blou pleister op, en ontmoet Haidee Nel, beeldhouer en mede-direkteur van die projek. Sy vertel dat kunstenaars saam met besoekers wil heelmaak. Temas soos verlies aan identiteit, die trauma van ontheemding en die voortdurende poging tot versoening resoneer sterk met die huidige Suid-Afrikaanse tydsgees. Sy beskryf die projek as “’n noodtent vir die siel” – ’n plek waar kuns eerstehulp bied vir emosionele wonde wat nie altyd gesien word nie.
Ons kruip almal in isolasie weg en glo ons is alleen, maar hierdie uitstalling herinner ons dat ons seer én heling altyd ’n kollektiewe ervaring is. Veldhospitaal laat jou besef dat kuns nie altyd mooi hoef te wees nie; dit kan seermaak, onthul en uiteindelik genees. Te gou vertrek ons. Die helingsproses begin skaars, maar die effek resoneer lank. Hier deel kunstenaars hul wonde oor verlies, herinnering en die stukkende land waarin ons almal lê en wag vir asem. Jy kan deelneem, of koud staan.
Hou veldhospitaal.com dop vir wanneer jy volgende by dié sielsiekeboeg kan inloer.
Haidee Nel, een van die deelnemende beeldhouers en mede-direkteur van die projek, by die ingang na Veldhospitaal waar dit verlede jaar tydens Woordfees by die Libertas-plaas opgeslaan is.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Veldhospitaal bied 'n vorm van kollektiewe noodhulp gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.



