Stet en ander little magazines se verset

Alternatiewe in teks én beeld
’n Wurm wat deur die mure van die establishment vreet. ’n Stem uit ’n verseëlde koevert uitgemaak aan “hard-core poetry readers”. In die Suid-Afrika van die 1960’s, 1970’s en 1980’s was die zine ’n kragtige middel van verset en ’n gemeenskap van andersdenkendes.
In daai jare, waartydens formele letterkundige tydskrifte en ander mediabronne dikwels staatsubsidies ontvang het en gevolglik ook onder staatsinvloed gely het, was die little magazine vry: vry van beherende befondsing, vry van sensuur (tot die Sensuurwette toeslaan) en vry om te sê wat niemand anders wou druk nie.
Dié artikel is gegrond op Jurgens Deysel se MA-tesis (in inligtingsontwerp aan die Universiteit van Pretoria), The subversive Afrikaner: an exploration into the subversive stance of the little magazine Stet (1982–1991), wat in Oktober 2007 voltooi is onder leiding van Stella Viljoen (nou assosiaatprofessor). Dit is ’n skatkis van geheue en is ’n wegspringplek om ’n handvol van die mees betekenisvolle Afrikaanse little magazines van toentertyd te verken.
Zine of tuisskrif?
In Februarie vanjaar, tydens die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se sesde Studentesimposium vir die sosiale en geesteswetenskappe, gee die Akademie erkenning aan Megan Wallis van die NWU vir die Afrikaanse nuutskepping vir zine: ’n tuisskrif. Haar definisie lui as volg: ’n Tuisskrif is ’n klein, selfgeskepte en -gepubliseerde tydskrif bedoel vir kleinskaalse verspreiding wat dikwels met behulp van selfdoenmetodes geskep word.
Ek worstel met die idee van tuis in tuisskrif – ’n zine is dikwels gebore uit omstandighede waar daar juis ’n tekort aan “tuiste” is, ’n tekort aan snoesige gemak. Hoe dit ook al sy, ek skaar my by little magazine se volksmond-afkorting, naamlik zine, wat in hierdie konteks dui op ’n publikasie wat hom buite die kanale van die gevestigde orde plaas.
verbeel tog iets beters
Deysel se navorsing betrek die destydse ideologieë en mitekonstruksie van die Afrikanerdom. Hierdie konteks dien as grondslag waarop die visualisering van verset op die omslae en inhoudsblaaie van verskeie zines semioties ontleed word.
Semioties of semiotiek beteken om iets te lees as ’n (visuele) teken. Die vredesimbool, as voorbeeld, is nie net ’n sirkeltjie met strepe nie – dit dra ’n hele wêreld van betekenis saam. So ook ’n zine: Die keuse van lettertipe, beeld, kleur, opskrifte en uitleg se betekenis strek verder as die ooglopende.
Deysel belig in daardie opsig Afrikaanse zines nie net as letterkundige artefakte nie, maar as deel van Suid-Afrika se vryheidstrewende visuele kultuur. Só verstaan, was apartheid ’n stryd om idees, en verset teen hierdie orde het daarop neergekom om ’n nuwe wêreld te verbeel en in te sien.
Zines het gehelp om nuwe, progressiewe moontlikhede oop te skryf en uit te beeld. Soos ander publikasies, neem omslae en treffende grafika standpunt in nog voordat jy ’n woord gelees het. Dié publikasies, in besonder, het nie net alternatiewe idees versprei nie; hulle het gewys dat dinge minder verkramp kán en moet wees.
Die woord as daad
Die redaksies en bydraers van die zines hier onder het ’n weerstandskultuur gevorm wat die Afrikaner-establishment uitgedaag het om te omvorm. Wat Deysel se studie spesifiek oor die zine Stet motiveer, is juis dit: Die blaaie se redakteurs het nie hul Afrikaansheid verloën nie. Hulle het dit herdefinieer. Op ’n tydstip toe die Afrikaner-identiteit internasionaal veroordeel is, en deur baie Swart en Engelssprekende Suid-Afrikaners afgemaak is, het Stet (en ander) gepoog om ’n alternatiewe Afrikaansheid te verbeel: een wat sigself verbind het aan vryheid en liberalisme, eerder as aan nasionalisme en ’n divide and conquer mindset.
Deysel verwys na navorser, Andries Oliphant, se omskrywing van die zine as ’n sosiaal-gebaseerde aktiwiteit wat ’n wye reeks prosesse insluit wat die sosiaal-kulturele omgewing uitdaag, weerstaan en omvorm. ’n Zine is dus nie bloot ’n publikasie nie – dit is ’n daad.
“Op ’n tydstip toe die Afrikaner-identiteit internasionaal veroordeel is, en deur baie Swart en Engelssprekende Suid-Afrikaners afgemaak is, het Stet (en ander) gepoog om ’n alternatiewe Afrikaansheid te verbeel: een wat sigself verbind het aan vryheid en liberalisme, eerder as aan nasionalisme en ’n divide and conquer mindset.”
Linie van baanbrekers
Die little magazine/zine is deel van ’n internasionale kultuurbeweging wat dateer uit omstreeks 1912, soos Deysel in sy tesis uitlig. Informele, goedkoop, onafhanklike uitgewery is moontlik gemaak deur nuwe druktegnologie wat onafhanklike publikasie deur diverse groepe individue toegelaat het. Zines het tipies eksperimentele skryfwerk aangebied, klein (tog, in baie gevalle, invloedryke) leserskringe gehad en gepoog om die heiligheid van kuns, politiek, samelewing en kultuur uit te daag. Hulle is aan hul konteks gebonde – en sterwe gewoonlik saam met hul konteks.
Teen hierdie agtergrond het die Sestigers, op plaaslike bodem, belangrike stappe geneem toe die apartheidstaat se eerste Sensuurwet aanvang geneem het in 1963. In dieselfde jaar het ’n aantal jonger outeurs se werk in die Tydskrif vir Letterkunde verskyn, maar dit het die gevestigde binnekring van dié staatsgefinansierde blad gegrief. Met die vrees dat staatsfondse onttrek sou word, is die outeurs versoek om te onttrek. As reaksie hierop, is Sestiger in November 1963 gestig: ’n literêre tydskrif (eerder as ’n little magazine), maar een wat ’n alternatiewe moontlikheid in die Afrikaanse uitgewersbedryf gevestig het.
Ná Sestiger het ’n reeks betekenisvolle Afrikaanse zines die weg gebaan vir Stet (1982–1992), die ikoniese linkse blad wat deur literêre kritikus, JC Kannemeyer, as die belangrikste van sy soort beskryf word, soos Deysel in sy studie belig.
Vandag kwyn gedrukte media van alle vorme en die gedrukte zine is self in die minderheid. Maar die impuls bly bestaan. Vandag is die zine dikwels ’n Substack, of ’n Instagram-rekening – beide voorbeelde steeds ’n (goedkoop) selfgepubliseerde stem buite die hoofstroom, direk van skepper na leser. Die vorm het morfeer, maar die wese bly dieselfde.
Om die tradisie voort te sit, moet mens weet wie was die voorgangers.
Wurm (1966–1970)
Dié zine se naam is ’n verwysing na ’n wurm in ’n gedig van Eugène N Marais – ’n wurm wat die mure van die establishment sou deurboor, wat die ellendige appels van Afrikaanse letterkunde sou verteer en iets fallies wat preutse mense sou laat kronkel. Só beskryf die redakteur, Phil du Plessis, die inspirasie agter een van die eerste Afrikaanse little magazines, Wurm, wat van 1966 tot 1970 in Pretoria uitgegee is.
In die redaksionele brief van Wurm 3 (1966) word die literêre establishment met ’n satiriese opsomming uitgebeeld: Die enigste digters wat erkenning geniet, is: “NP van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, NP van Wyk Louw, NP van Wyk Louw, Uys Krige, NP van Wyk Louw en NP van Wyk Louw.”
Wurm was primêr literêre protes. Kannemeyer skryf dat die blad hoofsaaklik tot stand gekom het, omdat bydraers deur gevestigde letterkundige tydskrifte afgekeur is – nie op grond van ideologie nie, maar op grond van die vermeende letterkundige gehalte van hul werk. Die redaksie het met ’n manifes gereageer: Enige bydrae sou oorweeg word – van digters, outeurs, letterkundiges, kritici, die leek én die kenner. Wurm sou onafhanklik wees, nie deur die staat of enige instelling befonds word nie en nie gesensureer word nie, behalwe deur die redakteurs se gewetens.
“Die enigste digters wat erkenning geniet, is: ‘NP van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, NP van Wyk Louw, NP van Wyk Louw, Uys Krige, NP van Wyk Louw en NP van Wyk Louw.’”
Die eerste vier uitgawes van Wurm is deur De Waal Venter versorg – ironies genoeg was hy die voormalige redakteur van ’n polisietydskrif en die seun van ’n kolonel in die Veiligheidspolisie. Sy handgedrukte linoleumsnywerk het die eerste omslag versier. Vanaf Wurm 5 (1967) is die Dadaïsme van Walter Battiss omhels. Battiss ontwerp ’n rubberseël wat Wurm 6 ’n gevoel van amptelikheid gee. Wurm 9 en 10 (1968) se omslae het ook uit linoleumsnywerk bestaan, geskep deur die kunstenaar en digter, Wopko Jensma, wat teks en beeld saamgesmelt het.
Deur ’n sameloop van omstandighede het Belgiese en Vlaamse konkrete digters begin glo dat Wurm aan die voorpunt van die avant-garde in Suid-Afrika gestaan het. Dit het tot merkwaardige tipografiese bydraes van lande oraloor gelei en die eksperimentering van Afrikaanse digters in die konkrete poësie aangewakker – ’n tradisie wat later sy hoogtepunt sou vind in Willem Boshoff se KYKAFRIKAANS (1980).
Wurm het in 1970 tot ’n einde gekom met ’n satiriese uitgawe wat die Sestigers geëer het. Die blad was grootliks stil oor politiek, maar die progressiewe gebruik van vorm en die minagting vir die literêre gevestigde orde het die weg gebaan vir Izwi.
Izwi (1971–1974)
In Deysel se tesis word die leser herinner dat terwyl die lanseerpartytjie vir Izwi aan die gang was, het polisielede in die bome gesit en loer. 11 gaste is gearresteer – saam met ’n mynbestuurder op die eiendom langsaan, wat toevallig betrap is (waarskynlik ook vanuit die bome) toe hy intiem met ’n Swart vrou verkeer het. So begin die verhaal van Izwi/Stem/Voice, die blad wat Phil du Plessis ná die ondergang van Wurm gestig het (meestal bloot na verwys as Izwi).
Izwi het van Oktober 1971 tot Desember 1974 verskyn, 20 uitgawes in totaal. Die 150 skrywers en 50 kunstenaars wat by Izwi betrokke was, is aan die volle spektrum van die staatsonderdrukking uitgelewer. Teen die einde is die meeste bydraers verban, tronk toe gestuur, in ballingskap, of het selfdood gepleeg, óf is begrawe, aldus die tesis.
Van die begin af is Izwi deur die staat bevraagteken – die redakteurs is beskuldig van verbintenis met (in ware apartheidtaal) tribalisme, paternalisme, liberalisme, progressivisme, verkramptheid én verligtheid gelyktydig, uitbuiting én intelligensie. Phil du Plessis is vroeg in die blad se bestaan deur die Veiligheidspolisie na John Vorster-plein ontbied, waar hulle hom tot orde geroep het oor sy betrokkenheid by “eks-dwelmverslaafdes, hippie-kommunes en nie-blanke literêre figure”. Hy het na Lüderitz gevlug, maar redakteur gebly, saam met Stephen Gray en Wilma Stockenström.
Izwi was baanbrekend in die gebruik van visuele materiaal. Die zine se omslae bevat oorspronklike kunswerke deur bekende kunstenaars Peter Clarke, Walter Battiss, Wopko Jensma, Christo Coetzee, Norman Catherine, Casper Schmidt, Gus Ferguson, Alexis Preller, Cecil Skotnes en Sipho Magudulela. Nommer 16 (1974) was ’n Fook Island-uitgawe deur Battiss: verseël in ’n koevert uitgemaak aan “hard-core poetry readers”, met ’n beknopte inventaris – “Contents: 20 poems; 1 short story, 1 graphic by Catherine, 1 poster by Battiss”. Izwi het vinnig versamelitems geword.
Spado (1980–1981) EN Graffier (1980–1983)
In 1980 het twee publikasies verskyn wat die volgende fase van die Afrikaanse zines aandui: Spado in die noorde (die Transvaal) en Graffier in die suide (die Kaapprovinsie). Hulle sou, soos vele gemeentes van die susterskerke, uiteindelik saamsmelt – Spado is later by Graffier ingelyf – maar elkeen het ’n eie persoonlikheid gehad.
Spado was nie soseer polities uitgesproke nie. Dié zine se stryd was teen die stowwerigheid van Afrikaanse poësie en musiek ingestel, met die aspirasie om ’n “oop” blad te wees, vry van akademiese stof. Voor die eerste uitgawe versprei kon word, het die redakteurs egter ’n telefoonoproep ontvang: Alle eksemplare sou in beslag geneem word. Die besluit is later teruggetrek, maar dit het die skrywers duidelik gewaarsku dat selfs musiekresensies nie immuun was teen staatsinmenging nie.
Graffier het ’n nouer band met akademiese instellings gehad – veral met jong akademici wat geglo het dat vernuwing noodsaaklik is. In die redaksioneel van die tweede uitgawe (1980) word little magazines geloof vir die belangrike rol wat hulle speel sonder om te veel bekommerd te wees oor ’n “beweging van Tagtig, of avant-garde-heid”. Graffier het befondsing van Perskor-Uitgewers ontvang, maar slegs vir vier uitgawes. Die vyfde uitgawe was ’n smeekbede om befondsing; in die sesde het die redakteurs dank betoon aan lesers wat finansieel bygedra het – selfs die personeel van ’n Wimpy Bar het na bewering ’n skenking gemaak.
Graffier het ’n sterk visuele aanslag gehad, met omslagkunswerke deur Suid-Afrikaanse kunstenaars, soos Nick Curwell, Pienaar van Niekerk en M Müller. Dit het na ses uitgawes gevou.
Taaldoos (1980–1981)
In dieselfde jaar as Spado en Graffier, is Taaldoos deur Uitgewery Pannevis gepubliseer – dieselfde uitgewer wat Willem Boshoff se KYKAFRIKAANS in 1980 gepubliseer het – in ’n beperkte oplaag van 500 eksemplare. Geen eksemplaar is verkoop nie; almal is gratis weggegee, deels as ’n manier om staatsinmenging te omseil. Taaldoos, soos die naam suggereer, was diep skepties oor die orde van die dag.
Die berugte Dan Roodt en sy vrou, Karen Konsentrasiekamp (Karen Bredenkamp), was die redakteurs. Hulle het erken dat hulle gepoog het om op elke denkbare manier die grense te oorskry. Hulle doel was skoorsoek, deels om die Publikasiekomitee woedend te maak. Hulle het daarin geslaag, met onder meer pornografiese parodie: ’n kortverhaal deur K Vorster met die titel ‘’n Moffie chaff ’n k*ff*r’; ’n gedig deur Konsentrasiekamp, getiteld ‘Hoe om ’n hoender te naai’; en saam met al hierdie tartende inhoud, is ’n foto van establishment-skrywer en akademikus, Henriette Grové, daarby ingesluit.
Die eerste uitgawe van Taaldoos is verban as deel van ’n veelbesproke regsgeding. Teen dié tyd is die tweede uitgawe reeds gepubliseer. Beide uitgawes is later verban en besit daarvan is in 1981 verbied – die enigste Afrikaanse zine wat dié onderskeiding ontvang het.
In die tweede uitgawe het die redakteurs enige bydrae verwelkom wat sou “torring aan die hegemonie van onnoselheid waaronder ons tans leef”. Die aggressiewe, onverskillige houding van Taaldoos en die minagting vir konvensie, wet en smaak het die grondslag vir Stet gelê.
Stet (1982–1992)
“Daar was nie ’n spreekbuis vir die Afrikaanse lefties nie.” So sê Tienie du Plessis, die ontwerper van Stet, oor die vakuum wat hom en redakteur, Gerrit Olivier, gedryf het om dié zine te begin. Vir 10 jaar, van 1982 tot 1992, sou Stet die mees invloedryke Afrikaanse little magazine wees, met ’n leserskring groter as enige van dié se voorgangers.
Die koerant, Vrye Weekblad, sou eers in 1988 deur Max du Preez en ander joernaliste gestig word.
’n Uittreksel uit Stet
Tienie du Plessis is in 1968 opgeroep vir sy dienspligjaar, ten tyde waarvan hy die weermag se werksaamhede van binne af ondermyn. Toe hy Angola verlaat, was hy, soos hy dit stel, ’n “raving pasifis”. Hierdie pasifisme sou deurdring tot sy verset deur woorde en beelde.
Teen 1980 was Du Plessis dosent in grafiese ontwerp. Hy begin ook ontwerp vir Taurus, die Johannesburgse anti-apartheiduitgewery wat in 1975 deur ’n groep akademici (Ampie Coetzee, Ernst Lindenberg en John Miles) gestig is. Dit was deur sy bande met kunstenaar, Willem Boshoff, en skrywer, John Miles, dat die idee vir Stet vorm aangeneem het.
Stet was ikonoklasties en uitdruklik nie-elitisties aangaande letterkunde. Dit was ook uitdruklik polities as ’n linkse publikasie deel van die weerstandspers. In die groter geheel van die gewapende stryd teen apartheid was dit egter ’n randfiguur. Maar as stem van verset van binne Afrikaner-geledere, was dit ’n instrument van verandering – ’n poging om Afrikaansheid van binne te herdefinieer.
Tienie word in Deysel se navorsing aangehaal dat Wit Afrikaners skeef aangekyk is deur bevrydingsorganisasies en deur Wit Engelssprekendes. “Ons moes harder probeer as enigiemand anders sodat die ouens ons vertrou,” vertel hy. Tog was die impak werklik. Stet het nou bande gehad met die End Conscription Campaign (ECC) en het gehelp met die druk van plakkate en pamflette. Dié inhoud is ook in Stet self ingesluit, ondanks wetgewing daarteen.
Stet se aanbieding was breed en veeleisend. Gasredakteurs is soms gebruik, soos met die Stellenbosch-uitgawe wat deur Lettie Viljoen (die skrywersnaam van Ingrid Winterbach) geredigeer is, maar as reël het Gerrit Olivier die redaksionele inhoud behartig. Die inhoud van die zine het ’n wye verskeidenheid genres ingesluit: aforismes; akademiese artikels (deur outeurs soos Leon de Kock, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Leonard Koza, Koos Prinsloo, Dan Roodt, Henriette Roos en Hein Willemse); briewe; dramas (deur Hennie Aucamp en Lettie Viljoen); uittreksels uit romans (deur Theunis Engelbrecht, Christoffel Lessing, Fransi Phillips en Wessel Pretorius); kortverhale (deur Arnold Blumer, MC Botha, Ryk Hattingh, André Letoit, Hansie Pienaar, Paul Riekert, Alexander Strachan, Etienne van Heerden, Chris van Wyk, Eben Venter en George Weideman); gedigte (met bydraes van Breyten Breytenbach, Daniel Hugo, Rosa Keet, Antjie Krog, Peter Snyders, Wilma Stockenström, Barend J Toerien en Marlene van Niekerk); vertalings; strokiesprente; fotoessays; en onderhoude. Stet het ook die Voëlvry-beweging gedek.
Die oplaag was gewoonlik 1 000 eksemplare, gedruk by drukkers wat geweier het om hul naam op die publikasie te plaas. Wanneer dit goed gegaan het, is al 1 000 eksemplare verkoop; andersins het hulle op 850 gereken. Intekengelde, advertensies en beduidende internasionale anti-apartheidbefondsing het Stet aan die gang gehou.
In 1992 het Stet gesluit, saam met talle ander anti-apartheidbewegings. Die grensoorlog was verby. Apartheid het ten einde geloop. Die deelnemers aan hierdie bewegings het hul aandag gevestig op integrasie en die aanbreek van die sogenaamde Nuwe Suid-Afrika. Du Plessis se laaste woorde oor Stet is kenmerkend van die gees van die little magazine:
Jy moet onthou, ons doen dit nie vir geld nie. Daar is geen salaris nie; mens doen dit vir die love van die saak. En dan, teen drie-uur die oggend begin mens wonder: “Waar is die fokken love?” Maar little magazines gaan dood. En toe Stet doodgaan, het ons nie gehuil of iets nie. Ons het nog ’n bier gedrink.
Du Plessis het daarna nog ’n uitgewershuis, HOND, begin, wat die eerste Bitterkomix van Anton Kannemeyer en Conrad Botes gepubliseer het.
“Jy moet onthou, ons doen dit nie vir geld nie. Daar is geen salaris nie; mens doen dit vir die love van die saak. En dan, teen drie-uur die oggend begin mens wonder: ‘Waar is die fokken love?’ Maar little magazines gaan dood. En toe Stet doodgaan, het ons nie gehuil of iets nie. Ons het nog ’n bier gedrink.”
Die Afrikaanse zines wat hier bespreek word, was nie alleen nie. Gedurende die 1960’s–1980’s het talle little magazines in Suid-Afrika verskyn, elk gemik op ’n eie leserskring met eie oortuigings. Oliphant onderskei vyf sulke groepe: ’n Wit Engelse liberale tradisie (Contrast, New Contrast, New Coin, Sesame); ’n Wit Afrikaanse konserwatiewe tradisie (Standpunte, Tydskrif vir Letterkunde); ’n Swart Afrikanistiese tradisie (The Classic); ’n nie-rassige demokratiese tradisie (Staffrider); en ’n liberale Wit en Swart Afrikaanse neiging – verteenwoordig deur Stet. Elkeen was ’n stem. Saam was hulle ’n gesprek wat die staat nie kon snoer nie.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Stet en ander little magazines se verset gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.




