Melany Ismail se fotoreeks Die Bruin mense

Melany Ismail se fotoreeks Die Bruin mense

'n Huldeblyk aan volharding

Volgens fotograaf Melany Ismail, wat ook in die advertensiewese werk, word Bruin gemeenskappe se stories dikwels kultureel toegeëien of verheerlik, maar min opregte aandag word werklik aan hierdie gemeenskappe gegee en aan die effek wat apartheid op hulle gehad het. Bruin mense word steeds polities, sosiaal en ekonomies gemarginaliseer.

In die Wes-Kaap, waar Bruin mense die grootste demografiese groep uitmaak, worstel hierdie gemeenskappe met hoë werkloosheid, wydverspreide straatgeweld en onvoldoende dienslewering, berig die joernaal RPJ aangaande haar werk. Maar Bruin mense kry nie nét swaar nie, en Ismail wil veral ook die vreugdes van hierdie gemeenskappe vasvang. Soos sy dit stel: Hardship en joy bestaan langs mekaar.

Ismail is gebore in Manenberg op die Kaapse Vlakte en het grootgeword in Mitchells Plain en Eerste River. Op twaalfjarige ouderdom het sy saam met haar gesin na Johannesburg getrek – en skielik was sy een van die min Bruin kinders in haar skool. Die sosiale afsondering het haar getref en bly haar steeds by.

Dís die konteks waarbinne sy haar fotoreeks Die Bruin mense aangepak het. (Sy gebruik die terme Bruin en Coloured om’t ewe en sê opregte verteenwoordiging is belangriker as vervaardigde taksering.) Die uitstalling van hierdie werk het tot einde Maart 2026 by Youngblood Gallery in Kaapstad gewys. Die foto’s sluit afdelings in van Die Wupperthallers (die dorpie in die Cederberge waar sy vakansies by haar grootouers deurgebring het), Die Agterbaaiers (vissersgemeenskappe van die Weskus) en haar videografie van Playaz Inc, ’n minstreeltroep uit Mitchells Plain.

Ismail het sowat vyf jaar gelede met vakansie begin foto’s neem van haar omliggende gemeenskap. Sy het gevoel dat dit vir haar betekenis dra wat kommersiële werk haar nie gee nie. Haar aanslag, anders as die advertensiewêreld, is om kleurgradering en stilering te vermy. Sy vang tonele vas soos hulle van nature uitspeel.

Hierdie benadering is nie toevallig nie. Dokumentêre fotografie het tydens apartheid ’n noodsaaklike politieke rol gespeel, maar dit het ook ’n visuele argief geskep waar lyding en stryd die dominante lens geword het waardeur Swart en Bruin gemeenskappe gesien is, skryf die aanlyn joernaal CEC.

Ismail reageer in haar werk deels op foto’s wat sy van Distrik Ses uit die 1960’s en 70’s gesien het. Sy het opgemerk dat strate nie meer bestaan soos hulle was nie en dat haar eie beelde dus oor dekades as argief sal dien. Haar impuls is om haar gemeenskappe vas te vang vir die kollektiewe geheue sodat dit nie, soos met die uitwissing van Distrik Ses, uitgevee kan word nie.

“My werk beeld die menslikheid uit van mense wat tydens apartheid ontheem is – en in plaas daarvan om hulle te veroordeel vir hul omstandighede, gebruik ek my lens om maatskaplike stereotipes te bevraagteken en ’n outentieke uitbeelding van Bruin mense te bied wat ons veerkragtigheid, kultuur en menslikheid vier. Eerder as om te fokus op die ontberinge wat apartheid opgelê het, daag ek hierdie stereotipes uit en hereis ek waardigheid en trots vir my mense wat te dikwels oor die hoof gesien is,” skryf Ismail.

Ismail verduidelik haar werk is nie bloot visuele dokumentasie nie – dit is ’n huldeblyk, ’n daad van liefde en erkenning vir ’n kultuur ryk aan geskiedenis, volharding en skoonheid.

Eerder as om te fokus op die ontberinge wat apartheid opgelê het, daag ek hierdie stereotipes uit en hereis ek waardigheid en trots vir my mense wat te dikwels oor die hoof gesien is.
— Melany Ismail

DIE WUPPERTHALLERS

DIE AGTERBAAIERS

PLAYAZ INC (Video-skermgrepe)

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Melany Ismail se fotoreeks Die Bruin mense gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand