Die geskiedenis van braaibroodjies

Alle foto’s en onderskrifte is deur Frans de Villiers verskaf. Die foto links is uit Die Huisgenoot, 1946. ’n Uitbeelding van braai in daardie tyd. Dit was iets wat baiemaal gepaard gegaan het met kamp, asook piekniekhou. Die foto regs is ’n Castle Lager-advertensie in Die Brandwag, 1963. Hierdie advertensie beeld die samekoms van twee wêrelde uit: die tradisionele metode om vleis op ’n tweevurk-vleispen te braai (1930’s tot 1950’s) en die koms van die toeklaprooster (1960’s) – ’n deurslaggewende innovering vir die braaibroodjie.
En ander vreemde en fassinerende dinge uit die Suid-Afrikaanse media-argief
As jy op Afrikaanse Instagram boer, het Die Algoritme moontlik al die profiel @geskiedenis_van_braaibroodjies aan jou gesmous. As die nuuskierigheid jou reeds beetgepak het, het jy waarskynlik al deur dié profiel se versameling van ou Huisgenoot-voorblaaie, koerantartikels en advertensies geblaai, terwyl jy seker ook gewonder het: Wat het dít met die geskiedenis van braaibroodjies uit te waai? En belangriker nog, wonder jy ook nou seker: Wat ís die geskiedenis van braaibroodjies nou eintlik?
Die Insta-profiel se beskrywing verklap nie veel nie: “Deel ou advertensies, kookboeke, artikels en stories wat ek raakloop terwyl ek my boek navors.” Die boek is, natuurlik, getiteld Die geskiedenis van braaibroodjies. En die misterieuse admin agter dié blad is ’n man met die naam Frans de Villiers. Ongelukkig is Klyntji nie die eerste om hom te ontmasker nie, maar ons kon hom met ’n paar vrae peper (pun unintended) en ’n keur uit sy versameling hier deel. Stok’ie kole, en lekker braai lees!
ANDRÉA: Frans, kan jy ons asseblief meer oor jouself vertel? Wat is jou agtergrond? (Is jy ’n historikus? ’n Sjef? ’n Braai-guru?) Vanwaar kom jou belangstelling in braaibroodjies? En, natuurlik, waarom @geskiedenis_van_braaibroodjies?
FRANS: Ek is ’n bemarker van beroep en doen navorsing en skryf wanneer ek kans kry. Dit voel soms of ek twee identiteite het, soos Batman. Of die Swart Kat.
Vir my nege-tot-vyf is ek die bemarkingshoof van ’n maatskappy wat digitale infrastruktuur verskaf aan besighede – van .co.za-domeine tot kragtige servers wat gebou is vir kunsmatige intelligensie. Baie van my werk draai rondom KI en hoe om dit toe te pas, asook wat dit beteken vir die toekoms. Maar ná werk verander ek in ’n historikus en skrywer. Ek verdeel dus my tyd tussen die toekoms en die verlede en moet myself ook soms herinner om in die hier-en-nou te wees. Ek is al tevore gepubliseer as digter in LAPA se Toulopers-bundel en het ook vir Ons Klyntji en WatKykJy geskryf.
Ek is ’n baie nuuskierige mens. My grootste avontuur was toe ek in 2004 van Kaïro tot Kaapstad gereis het.
ANDRÉA: Kan jy meer vertel oor die boek waaraan jy werk? Wat presies vors jy na, en het jy al antwoorde daarop?
FRANS: Die boek wat ek skryf, se naam is Die geskiedenis van braaibroodjies en dit is die hart van my groter projek. My uitgewer is Flyleaf Publishing en ek is baie trots om saam met hulle te werk. Hulle Bloei + blom-boek, wat julle ook oor geskryf het, is ’n groot treffer in my huis. Om in dieselfde stal as Danie Marais, Adriaan Basson en veral Faf du Plessis te wees, is ’n groot eer vir my.
Hierdie Die Huisgenoot-voorblad uit 1942 is een van die oudste braai-uitbeeldings wat ek tot dusver as deel van my navorsing raakgeloop het. ’n Mens kan duidelik die direkte verhouding tussen braai en kamp sien, iets wat op sy beurt gegrond is in die populêre voorstelling van hoe mense tydens die Groot Trek kos gemaak het.
Coca-Cola se feestyd-advertensies het baie anders gelyk in 1949, soos hierdie een uit Die Brandwag. Dit was in die Versoeningsdag-uitgawe (toe Dingaansdag) en mens moet byvoeg dat die meeste handelsmerke ook op ’n Afrikaner-tema gespeel het. Vreemd om vandag te sien, maar nietemin belangrik as ’n stukkie geskiedenis.
ANDRÉA: Wat is die interessantste, vreemdste en/of verrassendste ding wat jy tot dusver in jou navorsing oor braaibroodjies teëgekom het?
FRANS: Daar is so baie stories wat ek kan vertel, maar die een oomblik wat my die hardste getref het, was ’n artikel in Die Huisgenoot oor twee boerseuns wat gorillas gaan jag het in die Kongo. Dit gee ’n mens koue rillings as jy dit lees.
ANDRÉA: Is daar iets oor ander aspekte van die Suid-Afrikaanse of wêreldgeskiedenis wat vanuit die geskiedenis van braaibroodjies afgelei kan word?
FRANS: Baie merkwaardige oomblikke in die geskiedenis word gedryf deur die behoefte aan kos. Dit word veral duidelik met iets soos brood. Die Franse Revolusie se uitbreek was gedeeltelik te danke aan broodlyne. Op eie bodem was dit net so belangrik: Die eerste rebellie aan die Kaap is deur graanboere gedryf. En die verbanning van witbrood ná die Tweede Wêreldoorlog het baie Afrikaners so kwaad gemaak vir die Verenigde Party, dat dit bygedra het tot hulle nederlaag in die verkiesing van 1948 teenoor die Nasionale Party. Kos bied ’n unieke lens om na die geskiedenis te kyk, want as mense daarvan ontneem word, volg daar altyd moeilikheid.
Verder is ek veral verras oor hoe belangrik uie in die geskiedenis is. Jan van Riebeeck het byvoorbeeld in sy Daghregister vertel hoe hy “pereij of jonge ajuijn, ende loocq” ontvang het by die plaaslike Khoekhoe-stamme kort na sy aankoms. Dit was waarskynlik die Kaapse ui (Allium synnotii) en die wildeknoffel (Tulbaghia alliacea), beide veldkosse, waarna hy verwys het. Ek is al twee jaar op die spoor van beide hierdie plante en het onlangs uiteindelik die wildeknoffel gevind en hom geproe. Dit is heerlik. Ek is nog steeds op soek na die Kaapse ui, wat ek hoop om binnekort te sien (en te proe).
Voorblad van Die Huisgenoot, 1957
Die Huisgenoot, 1962. Blykbaar steel almal baba se poeier. En baba, natuurlik, word besete deur demone.
Rook maar 50 000 sigarette ’n dag! So sê dr Shapiro van Rustenburg se tabaknavorsingsinstituut. Soos gesien in Die Huisgenoot, 1963. Mal dat die vervaardigers hiermee kon wegkom.
Die Huisgenoot, 1975. Lyk of sy eerder iets kort vir daardie dooie siel. Daai oë lyk of dit mens rondvolg.
Huisgenoot, 1980. Het jy ’n bielie van ’n dors? Drink melk! Die adverteerder was die Suid-Afrikaanse Suiwelraad, uit die era toe bemarkingsrade hele produkkategorieë (soos melk, kaas, of vrugte) sou bemark, eerder as spesifieke handelsmerke (soos Clover of Dairy Fresh). Hierdie advertensie was duidelik ’n poging om te spreek tot “cool”, jong kinders. Onderaan die advertensie kon jy selfs ’n poster-grootte print bestel. Ek wonder hoeveel tienerseuns het destyds hierdie beeld teen hulle muur gehad.
Huisgenoot, 1985. Dit was ’n era waarin Huisgenoot week ná week probeer het om die tannies lekker te skok. Tipiese temas was satanisme, videospeletjies, skaatsplankryers en ander volksvreemde praktyke. En hierdie storie ... so baie om oor te praat, maar my gunstelingfrase: “Dik gedisko.”
ANDRÉA: Na jou expert-mening, wat is die vereistes of kriteria vir die perfekte braaibroodjie?
FRANS: Ek glo in winkelbrood, verouderde cheddarkaas, blatjang, uie en botter buite. Ek gebruik die vleisrooster, veral ná tjops, want die skaapvet help vir ekstra brosheid. Maar ek gun mense die reg om te speel met die vorm van braaibroodjies. Die enigste element wat absoluut krities is, is dat dit oor die vuur gemaak moet word, anders is dit maar net ’n toasted sandwich.
ANDRÉA: Kon jy al ’n miershoop vind om brood in te bak? En het jy al in jou navorsing afgekom op soortgelyke ander maniere om te braai?
FRANS: Nee, maar ek het die afspraak op die boeke! Ek gaan kuier een van die dae by ’n vriend in die Noord-Kaap wat sê hy het die perfekte miershoop gevind.
Die Voortrekkers het soms olifantbol gebruik om vure aan te steek, want as dit uitgedroog word, brand dit fantasties. Ek en my seun het die plofbaarheid daarvan in die Knysna-woud getoets, nadat ons die mis van die enigste oorlewende Knysna-olifant gaan haal het by die boer op wie se plaas Oupoot verskyn het – die eerste keer in ses jaar dat iemand haar gesien het. Ons het die meeste van die mis geskenk aan die Universiteit Stellenbosch se navorsingseenheid wat met olifante werk, en net genoeg gehou vir ’n paar braaibroodjie-vure.
ANDRÉA: Wanneer kan ons verwag om Die geskiedenis van braaibroodjies op die rakke te sien?
FRANS: By Woordfees 2026 – hou maar Instagram dop vir meer detail!
“Ek glo in winkelbrood, verouderde cheddarkaas, blatjang, uie en botter buite. Ek gebruik die vleisrooster, veral ná tjops, want die skaapvet help vir ekstra brosheid.”
’n Springbok-vuurhoutjiedosie uit 1932 waarmee ek my vuur soms aansteek as ek historiese resepte toets
Ek en my familie by Pinnacle Point in Mosselbaai, waar ons voorvaders reeds 72 000 jaar gelede vuur gebruik het om gereedskap te maak.
Ou braairoosters en -gereedskap by die Drostdy Museum in Swellendam
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Die geskiedenis van braaibroodjies gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.




