'n Kweer-hollow: besmetting enni underground in Shane van der Hoven se Kruiper-Crawler

'n Kweer-hollow: besmetting enni underground in Shane van der Hoven se Kruiper-Crawler

Die foto van Shane van der Hoven is deur Amandla Singqoto geneem by Edition Events/LEGACY. Hierdie grafika en ander in dié artikel is deur Paul Kammies.

'n Resensie-bespreking deur Paul Kammies

“Some take possession of the bodies and souls of decent men and women and turn them into raving lunatics who run up and down breathing fire. It is a celebration of blood [...].” – Cion, Zakes Mda (1)

Beminde, ek skryf vanni abyss af. Uitgerus, hierri chasm hou my op aandag. Vi once is ekki bang virri creatures, die metal-salf en my lyf wat nou ’n iridescent eksoskelet uitbot’ie. My are is korwe; ek slumber soe radikaal, ’n herskeppende rave. Stamp jou wings in my mond, Kruiper-Crawler. Bied al jou hexes, prayers en vows vir my an – enchant vi my. Kô saam.


[BETREDEND] KNIELEND VOOR BONDELS MIRRE

“I’m a day old / and I want to feel / a prick in each ear / lobe / micro-evolve / my peripheral / aware air ness” – ‘Peripheral’, Eartheater

Shane van der Hoven se debuut-collection trek ôsse aandag na die vriendelikheid en sensitivity vanni natuurlike wêreld, mette belangstelling inni entomologiese. Die spreker wat Van der Hoven skep, is een wat hul personal ervarings met gemak en kwesbaarheid deel, ’n spreker wat resurrection en verbondenheid verstaan. Moreover, is ôs getuienisse vanni maniere waarop die intieme an ôs oomblikke van transformasie offer. Hierri bundel is spesiaal, omdat dit stadig en focused is. Dit wys ôs dat wanne ôs met nuuskierigheid, en audacity perhaps, na die natuurlike wêreld uitreik, wôd ôs new. 

Die opening van Kruiper-Crawler niem vi ôs hier. In ‘mierleeu’ (14) vertel die spreker hoe hulle ’n mierleeu inni chasm van hul naeltjie (ver-) lei. Die spreker doen dit deur die spore vanni mier na te boots om hulle te lei. Aanvanklik wôd die mier as ’n jagter beskou, maa dit wôd die hunted. Die spreker is nuuskierig oo wat vanni mier sal wôd – en wat gebeu, is merkwaardig en diepgaande. Die spreker se liggaam wôd ’n landskap en ’n holte vi die mierleeu om “vuilwit vlerke” (14) te photocopy, wat die bladsye van ’n digbundel suggereer wat dan hul pad na ’n uitgewer vind. Die mierleeu wôd ’n simbool van vooruitsig, wat ’n verbintenis met die divine suggest; ’n talisman tien waninligting. ’n Omen wat nog verstaan ​​moet wôd. Deur hierri daad van jag maak op die jagter, maak die spreker hulself as ’n vreeslose liggaam oop vi uitruiling. ’n Body wattie bang issi virri cacophony en onsekerheid vanne transaksie of ontmoeting. ’n Body watti bang issi ommi grense van hul menslike funksies te toets of selfs op te offer.

Hierri bundel is spesiaal, omdat dit stadig en focused is. Dit wys ôs dat wanne ôs met nuuskierigheid, en audacity perhaps, na die natuurlike wêreld uitreik, wôd ôs new.
— Paul Kammies

Ôs sien die spreker hier oek as ’n kanaal vi magie en hibriditeit; asse vessel vi iets soortgelyks aan wonderwerke wat gebeur. Die gedig ‘mierleeu’ druk die tesis van hierri versameling uit; bied vi ôs as lesers ’n herinnering dat die aarde / tuin / liggaam ’n plek is waar ôs transformasie kan meebring en oek getransformeer kan wôd. Inni creepy ruimte waarin ôs slenter, lat ôs begin om hierri tuiste te noem; lat rus en nuuskierigheid die prisma wôd vi ôs mees radikale efforts.

Die ontwerp en setwerk van die oorspronklike bundelvoorblad is deur Jennifer Jacobs en Nick Mulgrew. Hierdie verwerking daarvan is deur Paul Kammies.

MY WINX MOET JOU ONTMOET, FIJN

“Ámame otra vez / Si te atreves” – ‘Reverie’, Arca

Met die lees van Kruiper-Crawler, is ek geneig om al hoe meer oor teerheid en intimiteit te dink, op ’n vurige en confronting manier. Kruiper-Crawler vra die leser om kwesbaarheid allesomvattend en liggaamlik te maak. As ’n kweer liggaam en skrywer, begryp Van der Hoven die kompleksiteit, gevaar, vryheid, potentials van existence ​​inne wêreld waar die morele raamwerk jou ’n blind spot maak, as iets aansteekliks of iets om voo bang te wees. Die spreker laat hulself toe om soft te wies, om te mutate. Ek lees dit in ‘iemand wat op hul knieë hoort’ (26). Die spreker sê: “ek steel al van kleins af / uitie bybel vi gedigte / doen enigiets om veiliger te word”. They reminisce oo hoe hulle die eerste keer die (voor-) naam van “moffie” gekry’et voodat hulle toegelaat is om enigiets anders te wies. Die gedig note die bedreiging van geweld en onverdraagsaamheid tienie queer community. Tog is die laaste reël van die gedig ’n eenvoudige, flippant: “viraal” (26). ’n Woord watti linguistic innovation van kweer-slang oproep. Is “viraal” wat praat met mense wat extrication benodig, “viraal” vi mense wat probeer om hul plek in hierdie wêreld te vind. ’n Layered expression, ruim genoeg om solidariteit, duidelikheid en sass aan te dui, ’n mic-drop.

Van der Hoven dink duidelik oorri manier waaop ôs moraliteit en etiek konseptualiseer, enni manier waarop ôs ’n taal van contagion / viraliteit gebruik. Alhoewel primordial, spreek Van der Hoven ie meer kontemporêre betekenis van hierri woord an. Hulle roep’it op; hulle summon dit; hulle (an-) bid dit. Inne wêreld vol minagting virri othered, wôd hulle gesien as iets infectious of besmet. Die dubbelsinnigheid van op hul knieë wees, ’n simple image van onnedanigheid, seksueel, vi straf, vi glorie of supplication. And yet issit soveel meer as dit. Van der Hoven vestaan ​​hul posisie asse foundling en kondig hulself nog steeds asse profeet an. Deu hierri vehaal van self-discovery te hervertel sonne om te opaque of oordrewe intellektueel te wies. Sonne om ooit te veel te verduidelik wie hulle is, skep Van der Hoven iets inviting deur’e flair virri korrupte enni sticky. ’n Teks watti leser vra of hulle geleer het om gemaklik te voel met die ontstellende dele van hulself. And indien nie, het Kruiper-Crawler die ruimte om ’n refuge te wôd, ’n pit-stop na inner-sanctum.

Nog ’n oomblik inni collection waar die queer liggaam onne siege is, is in ‘Theseus se uber’ (88). Hierdie gedig volg’ie spreker wat wag vir ’n Uber, ’n reis waar hulle ’n Uber-bestuurder ontmoet wat minagting allude vir hul queer liggaam deu religious badgering. Die spreker is ongemaklik en hoop dat “die evangelie vannie gps ook deur kom” (90) om hul te red, selfs nadat die driver ’n ompad gery’et. Daa isse dieper spanning wanneer die spreker besef dat hulle albei bang is vir mekaar, maa datti mate van vrees undefined bly, omdat albei se bodies dalk ontmagtig is. Wat die spreker egter emphasise, issi lived reality vanni other – die konstante vrees wat in die liggaam geleef word, die konstante radikale empatie en vergifnis wat ôs bied, want soms is dit makliker, selfs as dai verlies wôd. Dit is wat die gedig spesifiek doen met die titel ‘Theseus se uber’, wat ek lees as ’n hervermenging van die filosofiese paradox oor of ’n voorwerp / liggaam / gees dieselfde object is nadat al sy oorspronklike komponente mettertyd met anne vervang / verander / verberg is. Van der Hoven kies om hulself en hul spreker te skryf as iemand wat hulself herskryf, en eindig die gedig mette sign van relief: “ek skuif uitie agterseat / sê dankie / gaan na alles wat ek nodig het” (90) – ’n uitreik na en keuse vir die self en genesing.

Sonne om ooit te veel te verduidelik wie hulle is, skep Van der Hoven iets inviting deur’e flair virri korrupte enni sticky. ’n Teks watti leser vra of hulle geleer het om gemaklik te voel met die ontstellende dele van hulself. And indien nie, het Kruiper-Crawler die ruimte om ’n refuge te wôd, ’n pit-stop na inner-sanctum.
— Paul Kammies

AFVREET, SLUIMER, RAVE HORTUS CONCLUSUS 

“Bring me home / back to you / wash off the old / put on the new / morning dew / my morning dew / morning dew / I’m mourning you” – ‘Morning dew’, Kelsey Lu

Kruiper-Crawler vra ôs as lesers oek om te worstel met ôs bestaan ​​as ’n tuin. Layered met wortels, rhizomes, ’n stelsel wat so onbegryplik verweef is met alles wat ôs maak en verwring. Elke interaksie isse flits, ’n uitbarsting van contexts wat hulself verlewendig. Kruiper dink oo hierdie uitbarstings op hul mees atomiese vlak en ontleed hul geluide, klein slinky walks, klein peuselhappies en cristae. Van der Hoven is ’n sensitiewe, versigtige en geïnteresseerde digter watti hele wêreld rondom hulle in ag niem en oekie kollig sit oppi ontkoppeling wat ôs het van ôs liggame, relationships, die aarde en die meganika wat sidder wanneer ôs besef dat ôs menslik is. Ek vind dit die interessantste in ‘wurm’ (44), waar die spreker ondersoek instel na “alles / die grond erf van die bome”. Die spreker probe die deposits totdat iemand oor hul bene vra. “[M]et ’n bek vol roltrappe / net in rotasies kan antwoord”; die geluid van wat lyk na beide ’n wurm wat beweeg (die most micro-zoomed in geluid), maar oek die geluid (“aaitsjooiek / tjiekierie”) vanne roltrap (44). Ek lees hierdie phrasing asof die spreker tot ’n dieper bewustheid kom; hul inability om ’n antwoord te artikuleer – die vraag self lees ek as ’n dubbelsinnige uitnodiging van óf concern óf seduction – emphasise die onvermoë om die visceral te vewoord. Die klanknabootsing wêk asse calling back virri spreker om oek te besef dat hulle deel is van wattie grond êf. Die woord erf dui hier op iets baie meer familiaal, geneties aangebore en spiritual. Inni gedig ‘welwitschia mirabilis se besies’ (52) rave en reverie die spreker. Hulle “dig met blits en boer met vuur” (52). Die nabyheid van die verbs dig en boer en die woorde blits en vuur onthul ’n kind of unification van twee opposing forces deur iets reinigend en soul-animating soes vuur. Herinner dan vi ôs daaraan om ôsself te reclaim, om in die spontaniteit van hierdie aarde / klub / kamer / Uber / agteryaadt te wôd.

Kruiper-Crawler is uiters vast en pragtig en ek het skaars die oppervlak aangeraak. Die spreker isse conjuring jester-nymph wat speel met idees van miracle, heartbreak, herwinning, teerheid en ’n diep respek virri natuurlike wêreld se verrassings en skoonhede wat dikwels in die vuilheid, die ongemaklike kan gevind wôd. Van der Hoven debuteer as ’n digter wat nuanses en die teksture van genesing verstaan. 

Kruiper-Crawler, jy is soes ’n Hieronymus Bosch-skildery: hybrid in taal, presenting pairs of poems in beide Engels en Afrikaans, intertekstuele verwysings. Ewe veel sterrekyk en sterremok. Ewe veel entrancing en afstootlik. Ooborrelend en koorsagtig in simpatie en vreugde. En natuurlik, humour en care wat soos onkruid groei.


Beminde, ek het so baie geniem en ek is jamme dat ekki meer kan deel’ie. Ek tik oppi dop; ek hoor die hol tinteling, vlerke wat flutter, die grond om my losmaak, avalanching. Alles verrot, “trek, hierie, kweer, rot, bloed” (72). Kruiper-Crawler, ek sien oek vi Cy Twombly se rose (96).

ᥫ᭡ ₊ ⊹ ˑ ִ ֶ 𓂃࣪𓏲ּ ᥫ᭡ ₊ ⊹ ˑ ִ ֶ 𓂃ִֶָ𓂃 ࣪˖ ִֶָ🪰་༘࿐₊˚⊹ ᰔ₊˚⊹ ᰔ

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van 'n Kweer-hollow: besmetting enni underground in Shane van der Hoven se Kruiper-Crawler gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand