Distrik Ses: 'n diep begeerte na iets wat dalk nooit sal bestaan nie
Kramer se musical tribute: waarom ek nie lag nie
Ek skat ek was omtrent 8 jaar oud toe ek die eerste keer van District Six gehoor het. Dis toe my ouers die eerste keer die show gaan kyk het. Die musical. Ek onthou hoe ons in ons blou Chevrolet Commodore deur die strate van Paarl gery het – al singende. Ek en my boetie wat hartlik saamsing oor goed waarvan ons geen clue gehad het nie (ek kan nie onthou of my ouers ooit vir ons die storie agter die storie vertel het nie). Ek onthou wel hoedat ons vir jare daarna net positiwiteit aan hierdie musiek gekoppel het. Dit was net lekker songs wat ons as gesin gesing het; die Von Trapp Family Singers van Diedericksstraat, Mountain View, Paarl.
Ek het eers weer regtig notisie geneem van die onderwerp van Distrik Ses toe ek eendag by die conserve instap en ’n reklame flyer sien van die “musical tribute” getiteld District Six – Kanala. Ek het by myself gedink: Vaderland! Hoeveel meer kan daar nog gesê word, much less gesing word oor District Six?! Is dit nie nou al ’n holruggeryde onderwerp nie? Ek praat nou hier spesifiek van die verhooginterpretasies en -uitbeeldings daarvan. Ek sien verder Bianca La Grange is een van die gesigte op die flyer en ek dink: Okay, miskien is dit ’n nuwe storie gebaseer op ’n ware, miskien dié keer, liefdesverhaal vanuit die Distrik. Oh, well…
Kort daarna, word ek met ’n kaartjie vir die show gebless en soos ’n goeie bruin kind wys ek nie die kaartjie van die hand nie (ek is dan gebless!), al is ek nie regtig lus vir die besigheid nie. Maak okay. Ten minste is dit ’n lekker outing saam met my familie. Ons stap die Fugard-teater in Kaapstad binne en my een oom let onmiddellik die décor op. Die mure is beplak met posters van Athol Fugard se plays en ander musicals wat al vantevore daar vertoon is. My oom, wat ken van renovations en dié klas goed, let op dat die mure “sommer so nevermind” gepleister is en sê: “Weet jy, wit mense betaal ander mense om hulle huise so te maak. Ons [coloureds] sal dit nou laat regmaak sodat dit ordentlik kan lyk.” Ons bestudeer almal die mure asof ons weet waarvan hy praat, waarna ek ook my twee sent ingooi en sê: “Uncle Hylton, mens noem dit rustic.” Hy kyk my ongeërg aan en gee my net ’n droeë kopknip van erkenning, maar dis asof hy eintlik wil sê: “Wat weet jy?!”
Die konsertgangers blyk van alle soorte te wees, ’n mengelmoes van coloureds. Van Cape coloured tot Boland coloured (dis nou ons), Christen, Moslem, wit, jonk, oud. Die enigste swartmense wat ek actually daar sien, is die ushers en die verskoopsmense. Huh? Regtig? Na koffie, samoosas en koeksisters, neem ons, ons sitplekke in. Die pre-show agtergrondmusiek is musiek van die 50’s en 60’s, die Amerikaanse pop-era, soos Frankie Lymon se ‘Why do girls fall in love’ en ‘The shoop-shoop song’ deur Betty Everett, en ek wonder hoekom nou juis hierdie musiek. Ek neem aan dit het een of ander konneksie met die distrik, so ek worry nie verder nie.
Dis die eerste keer dat ek in die Fugard-teater kom. Die verhoog is klein. Ons groepie wonder hoe hulle alles op die verhoog gaan inpas, veral die gewigtige storie van Distrik Ses. Maar David Kramer (dis al naam wat ons werklik ken in die program) is mos ’n ou hand. Hy weet sekerlik wat hy doen. So ons kan nou maar ontspan en die show geniet. Die band wat die musiek vir die aand verskaf, is ietwat weggesteek binne-in ’n stel trappe wat in ’n halfmaan die band lede omring. Heel voor op die verhoog hang ’n gaas-tipe skerm en daarop word ’n map van die District Six of old geprojekteer. Die skerm steek die orkes soms weg vir die gehoor wanneer dit nodig is. Ek like nogal die effek.
Die show begin soos wat die landkaart op die skerm vervang word met ’n swart-en-wit video clip van Distrik Ses net ná dit vernietig is; ’n briesie waai oor die nou verlate landskap wat stilte eggo. Die gehoor is natuurlik onmiddellik opgesweep in ’n gevoel van nostalgie en eerbied, in kontras met die ligte pre-show musiek. Keyboard agtergrondmusiek stel die liedjie ‘When the South Easter Blows’ uit die oorspronklike musical bekend, en dit word met ’n eensame, treurende saksofoon wat die melodie speel, aangevul. Die verhoog word belig en die akteurs, nou sigbaar vir die gehoor, sing die lirieke van die liedjie. Die liedjie ontwikkel in ’n reflektiewe andante weergawe van ‘The Heart of District Six’, en ’n skielike versnelling in die oorspronklike vinnige ghoema-weergawe van die liedjie verander die mood in die saal van nostalgie na afwagting. Dit is effektief.
Die skerm word gehys, wat die musikante en die twee stelle trappe, een aan elke kant van die band, onthul. ’n Verteller verskyn; ’n meisietjie, in haar tienerjare, skat ek, hou haar ouma se fotoalbum styf teen haar bors vas. Die fotoalbum en die nagedagtenisse wat daaraan verbonde is, is klaarblyklik waarrondom die hele storie van hierdie musical tribute draai. Die meisietjie onthou hardop die stories wat haar ouma aan haar vertel het. Die ouma se perspektief word dus die narratiewe raamwerk van die musical. Die jong aktrise, wie se naam my nou ontgaan, ‘over-act’ so bietjie in die oorvertelling van die ouma se anekdotes. (Om die waarheid te sê put sy my bietjie uit.) Maar miskien is die over-acting ’n doelbewuste manier van toneelspel. Miskien is die meisie so gelei deur die regisseur vir effek (coloureds like nogal ’n over-exaggeration. Kyk nou net vir Emo Adams). Die meisietjie se oordrewe vertelling laat natuurlik die gehoor lag (en sy irriteer my nou selfs nog meer). Dié aktrisetjie, soos die res van die akteurs, praat met ’n aksent wat tipies met coloured Engels geassosieer word, waar die woorde ‘plat’ uitgespreek en die r’e gerol word. Natuurlik praat nie almal van ons so nie, maar nou ja. Ons weet almal van die stereotipering. Moving on. Merkwaardige swart-en-wit foto’s van Distrik Ses word teen die symure van die verhoog geprojekteer, asook foto’s van die ouma. ’n Inleidende liedjie wat deur die vertellertjie gesing word, beskryf die ouma se alledaagse lewe en ervaringe in die distrik. Met frases soos “let’s go back to Fairyland”, lei sy die gehoor terug na hierdie spesifieke buurt en na ’n spesifieke tyd in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.
Teen die derde liedjie ná ‘The Heart of District Six’ is ek erg geïrriteerd. Alhoewel dit duidelik is dat die gehoor die show geniet, vind ek die musiekstyl herhalend. Die lang, uitgerekte inleiding strem die plot-ontwikkeling vir my, en die meedoënlose blydskap van die karakters se kommerlose lewens word meer as enigiets anders beklemtoon. Hoe langer die show aangaan, hoe meer gefrustreerd raak ek oor wat voor my op die verhoog afspeel; die stereotipiese uitbeelding van die bruin mens. Dit blyk egter nie of die gehoor in my ongerustheid deel nie – dit is duidelik in die gelagtery wat om my aangaan.
Die eerste helfte eindig met die bekende Klopse-liedjie ‘It’s New Year’. My ma vra op hierdie stadium of die show klaar is, en ek is geskok. Maar miskien is haar vraag nie so onredelik nie, aangesien die vrolike akteurs met hulle kleurvolle Klopse outfits en coon-geverfde gesigte, op pad na die jaarlikse Nuwejaarsparade, die gehoor op ’n high gelos het. Wat egter selfs meer verontrustend is, is die feit dat my ma actually okay sou wees as dit wel die einde van die show is. Miskien het sy ook genoeg gehad van die lafheid. Sy sê niks, ek vra niks. Ek hoop en bid net dat die tweede helfte tog net meer substance sal hê, dat die storielyn tog uiteindelik sal verander, sal shift. Miskien sal die happy-go-lucky atmosfeer plek maak vir ’n meer ernstige engagement met die werklike verhaal van Distrik Ses. Ek sê nie dat die lawwigheid nie ook deel van die storielyn van Distrik Ses is of was nie, maar dis sekerlik darem nie al wat daar aangegaan het nie. Of hoe dan nou?
Die tweede helfte begin met ’n instrumentale medley van die liedjies ‘Klop Klop – It’s New Year’, gevolg deur die Afrikaanse liedjie ‘Ghoema vannie Kaap’ uit Kramer en Taliep Petersen se 2006 musical Spice Drum Beat: Ghoema. Dis eers teen die tweede liedjie van die tweede helfte dat daar iets genoem word van daardie noodlottige dag in Februarie 1966. Die hoofopskrif ‘DISTRICT SIX DECLARED WHITE’ word op die verhoogskerm geprojekteer, en dit word effektief deur die keyboard se onheilspellende klanke in ’n mineurtoonsoort onderstreep. Hierdie prentjie word verruil vir uittreksels op die skerm van die Immorality Act van 1927 en die Group Areas Act van 1950. Op hierdie punt van die show word ’n amper verwagte plot-versnellende medley van liedjies van die oorspronklike musical (‘The Eleventh Hour’, ‘The Law The Law’ en ‘Galiema’) aanmekaar geflans om die gewigtigheid van die dilemma waarin ons “jolly” karakters hulself nou op die verhoog bevind, uit te beeld. En by tyd! Die atmosfeer op die verhoog is vir ’n wyle ernstig, maar dit verander vinnig van vrees en onsekerheid tot stille berusting. Eveline, die hoof vroulike karakter, sien die distrik nou in ’n nuwe lig terwyl sy die liedjie ‘On My Way’ sing. Dit wil voorkom asof die liedjie ingesluit is om die haglike omstandighede waarin die ligsinnige karakters hulself bevind, uit te beeld, maar helaas. Ek is verkeerd. Dit gaan maar eintlik oor Eveline (die ouma) se begeerte om vir die talent show van die bekende Star Bioscope in te skryf. En my frustrasie is terug. Die nou bekende lighartigheid van die musiek trek die gehoor se aandag skelmpies (en tog nie so skelmpies nie) af van die naderende werklikheid van die vernietiging van die distrik. ’n Oënskynlik onskuldige opmerking stel die volgende toneel in plek wanneer ’n jong, bebrilde outjie kla oor die feit dat die sensuurwet hom weerhou daarvan om “’n wit vrou se tette” te sien. Die jong man se skynbaar naïewe seksuele begeerte veroorsaak (natuurlik) ’n uitbarsting in die gehoor. Die koketterige Ruth versterk onmiddellik hierdie uitbundigheid met ’n lewendige liedjie oor haar werk as ’n plekaanwyser by ’n plaaslike bioskoop en haar verleiding van die manlike klante. Weer word daar lig gemaak van ’n ernstige onderwerp.
Die onderwerp van die sensuurwette kom weer vlugtig op in ’n toneel wat om ’n karakter gaan wat nie lekker binne die onsamehangende storielyn pas nie. ’n Ou man, een van die enigste twee swart karakters in die produksie, sing hartlik oor sensuur gedurende apartheid, terwyl hy ’n pornografiese tydskrif teen sy bors vashou. In plaas daarvan dat hy oor die aakligheid van hierdie wette sing, sing hy eerder oor die tydskrif en wonder hardop wat die man se naam is wat die voorreg het om die sterretjies op die borste van die kaal vrouens te plak. My mond hang oop. Soos verwag teen dié tyd, raak die gehoor mal en lê soos hulle vir die snert lag, terwyl die kwessie van sensuur bloot benut word om die geil begeertes van ’n ou man te weerspieël. Ek het bietjie hieroor nagedink en gewonder, to be fair, of dit nie maar net ’n manier is van die regisseur, of wie ook al die (stupid!) liedjie geskryf en ingesluit het, om juis die absurditeit van hierdie apartheidswet uit te lig nie. Maar as dit wel die geval is, is die hele produksie net ’n voorbeeld van pastiche en ironiese ligsinnigheid. Is dit die onderliggende objektief of punt van die produksie? Is die storie van Distrik Ses so pynlik om mee te deal dat ons nou maar net joke daaroor? Bestaan daar te veel ernstige oorvertellings van die geskiedenis van die distrik?
Die show eindig met ‘Seven Steps of Stone’, die finale liedjie uit die oorspronklike musical, wat verteenwoordigend is van die nou ikoniese trappe, en een van die mees herkenbare landmerke, van die Distrik Ses van ouds. Hierdie liedjie, wat die luisteraar aan die struggle songs van die anti-apartheid beweging herinner, word deur al die akteurs gesing. Die liedjie is slim aan die heel einde van die show ingesluit om deurnis vir die karakters by die gehoor uit te lok, en dit werk soos ’n bom. Die show word ontvang met swaar, emosionele applous en ’n staande ovasie van die hele gehoor. Maar nie van my nie.
Ek kyk op na die eerstevloerbalkon aan my linkerkant. Ek hou twee coloured jongmans dop. Hulle lyk asof hulle in hulle vroeë twintigs is, ’n tweeling; een met skouerlengte, spirally hare en die ander een met wat ek aanneem is ’n ‘number two-cut’. Hulle glimlag nie maar staan ook en klap hande, stadig. Agter hulle staan ’n wit dame, ’n bietjie mollig, geklee in jeans en ’n swart en wit langmou top, ’n rooi-pienk blom fascinator in haar hare. Sy staan ook, glimlag tevrede in die rigting van die verhoog. Ek dink: Miskien is die tweeling te jonk om te sien wat ek gesien het, die dame kies om dit nie te sien nie. In my kop kyk sy na die akteurs op die verhoog en sê aan hulle: “Ek sien julle…” En aan haarself: “Nou kan ek weer asemhaal…”
Dit is duidelik dat ek nie baie tevrede met die produksie was nie. Miskien is ek oorsensitief. Maar soos een van die konsertgangers gesê het, ’n “meatier story”, sowel as die “raw impact of the original” het ontbreek (Thamm, 2016). Theresa Smith (2016) het die musical “heavy on the song and dance, [and] light on intriguing narrative or lasting emotional resonance” gevind. Dit het definitief ’n “emotional resonance” van die een of ander aard by my gelaat! Die storie van Distrik Ses is nou al telkemale in hierdie medium oorvertel en dis nie verbasend dat hierdie spesifieke weergawe ’n tekort aan oorspronklike inhoud gehad het nie. Die geykte Distrik Ses-storielyn, gepaard met die ou liedjies, het Distric Six – Kanala estesties oortollig gelaat.
In die produksie is daar van liedjies gebruik gemaak van vorige Kramer/Petersen produksies, soos Kat and the Kings (1998), Ghoema, en natuurlik die oorspronklike District Six – The Musical, om in my opinie, ’n konneksie van familiariteit by die gehoor uit te lok. Nostalgie. Sodoende is ’n sentimentele konneksie by die gehoor gemaak, aangesien baie van die liedjies onmiddellik herkenbaar is. Die liedjies is egter hergebruik om in die nou gedateerde narratief te pas. Dit blyk aan die begin dat dit ’n amalgamasie werk is, maar dit gaan vinnig afdraand en kort voor lank begin dit geforseerd en ongemaklik te voel; amper soos ’n lappieskombers wat sukkelend deur ’n banale storielyn aanmekaar gehou word.
Alistair Izobell, wat die band van coloured manlike musikante deurgaans bekwaam in die begeleiding lei, is verder met reg as die “musical director” aangewys, maar daar word nêrens van Petersen as die oorspronklike komponis van die materiaal melding gemaak nie. Alhoewel Petersen se naam afwesig van die erkennings is, is hy egter sonies deurgaans teenwoordig. Die musieknommers toon duidelike tekens van Petersen se kinderjare in die distrik, met ondertone van die musikale karaktertrekke van die Malay kore waarby hy self betrokke was. Tekens van die melismatiese draaie, of ‘karienkels’, wat so kenmerkend van die Malay kore is, word in die sniksang van Loukmaan Adams se karakter in ‘Lonely Girl’ gehoor, geskryf in die Amerikaanse 1950’s ballade-styl. ‘Blue Sky’, oorspronklik geskryf vir Ghoema, is in die Malay koor call-and-response styl geskryf. Hierdie liedjie word gesing deur ’n aktrise wat die rol van ’n ou Madagaskarse vrou vertolk, wat na die land van haar geboorte verlang. In die liedjie word die woord “Blue” melodies verleng en oor talle mate gesing, gevolg deur die res van die akteurs wat die titel voltooi deur die woord “Sky” te sing. Dié nommer is deur die band en Loukmaan Adams op banjo begelei, ’n instrument wat met die Malay koortradisie geassosieer word.
Dan is daar natuurlik die bekende ghoema beat. Die ghoema drom en ritme word sterk met die Cape coon carnival tradisie geassosieer, asook met Petersen se ander musicals. “[It is] instantly recognised by coloured audiences of all generations” (Jaffer 1998, 94), en dit is dus verteenwoordigend van ’n spesifieke “Cape coloured klank”. Hierdie assosiasie beklemtoon die omvang van die ghoema-klank as ’n merker van colouredness en/of coloured identiteit oor die algemeen. Dit is ironies dat die musiek van die Distrik Ses-boorlinge soos Dollar Brand (Abdullah Ibrahim) en Basil “Mannenberg” Coetzee, nie oor die algemeen in die “ghoema”-kategorie ingesluit word nie. Dit val hiervolgens buite die identifikasie van “die ware klank van Distrik Ses en van die Cape coloureds”. Dit wil vir my voorkom asof ons, as coloureds, ’n ongeldige aanspraak op Distrik Ses as “the cradle of [our] culture” (Martin 1998, 529) maak. Dit veroorsaak dat ons amper afgesluit is van die musiekstyle wat nie direk met Distrik Ses verbind word nie. Het ons hunkering na ’n “ethnic homeland” (Wicomb, 1998) in ons soeke na ons eie musikale identiteit, ons actually haweloos gelaat?
Die term “coloured”, of dit nou met ’n hoofletter geskryf word of nie, het oor die jare verskeie reaksies op verskillende tye in Suid-Afrika se geskiedenis, binne die bruin gemeenskap, uitgelok. Aangesien die term in die verlede oor die algemeen met die apartheidsregering se rasseklassifikasie-sisteem geassosieer is, is dit deur talle as ’n onaanvaarbare, rassistiese benaming beskou. Dit wil voorkom asof dit vandag minder van ’n issue is as wat dit in die verlede (te verstane) was, waar my eweknieë nou nie blyk ’n probleem daarmee te het om “coloured” genoem te word nie.
Die coloured rassebenaming is egter deurtrek met ’n stel gepaardgaande stereotipes. Dit is alombekend dat coloured mense histories gesien is as lui, onkundig, en “given to thriftlessness, drunkenness, illegitimacy, crime and so on” (Van der Ross 1979, 77); ’n groep wat “indolent, ne’er do well, happy-go-lucky” (February 1981, 167) is, en wat ’n funksionele rol binne die sfeer van, onder andere, “the comic syndrome” (February 1981, 35) speel. Soos Bessie Head in haar novel The Cardinals (1993, 16) skryf:
Every single story I’ve read … is about the happy little Coloured man and the colourful Malays. Why don’t you leave that crap to those insane, patronising White women journalists who are forever at pains to tell the Coloureds how happy they are.
Dus, die produksie van nog ’n oorvertelling (her-oorvertelling) van die storie van Distrik Ses, kwel my. Dit is ontstellend om te sien hoe hierdie stereotipes nog gepreserveer en volgehou word deur die coloured akteurs op die verhoog, onbewus daarvan dat hulle presies daai stereotipiese rolle wat onregverdig is en verkeerdelik aan hulle toegeken is, op die verhoog uitspeel of uitbeeld – die rolle wat “naturally funny” is of verantwoordelik is vir “supplying the comic note” (February 1981, 36). Is die akteurs wel onbewus van dié issues? Sekerlik nie. Of is hulle maar net onskuldige deelnemers aan rolle wat aan hulle (deur die storielyn en/of regisseur) toegeken is? Of is dit maar net “all in the name of art”? En die gehoor? Miskien is die issues wat ek nou ophaal te ernstig vir ’n Vrydagaand, terwyl mense eintlik net gekom het om te ontspan? Miskien ignoreer hulle nie die issues nie, maar is genuinely onbewus daarvan? Of is dit oor coloured mense se oorweldigende emosionele verbintenis met die distrik wat groter is as die onaangespreekte issues in hierdie oorvertelling? Is ons nie moeg daarvan om ons mense só uitgebeeld te sien nie? Of is dit net ek?
Alhoewel baie coloureds nooit in Distrik Ses gewoon het nie, is hierdie verbintenis met die distrik wat Zoe Wicomb (1998, 95; 94) noem “a politics of nostalgia that sentimentalized the loss [of an adopted] ethnic homeland”. Hierdie politics of nostalgia, gepaard met die uitbeelding van die distrik as ’n ligging van colouredness, dien as ’n “representation of pastness” (Tonkin 1992, 3), ’n tipe mitologisering van Distrik Ses wat die gemeenskap van ’n “sense of self” verskaf (Battersby 2003, 125).
Die coon carnival tema speel natuurlik ’n sentrale rol in hierdie mitologiese uitbeelding. Die insluiting van hierdie tema verseker ongetwyfeld ’n gunstige respons by die gehoor. In die antologie, Cry Rage!, berispe die Suid-Afrikaanse politiese aktivis, digter en skrywer James Matthews deelnemers oor die coon carnival (Matthews en Thomas, 1971, 51):
Coloured folks garish in coon garb
Sing and dance in the hot sun
Their faces smeared a fool’s mask
Happy New Year, my baas, a drunken shout
To whites who applaud and approve
Their annual act of debasement
Matthews se oënskynlike frustrasie is nie soseer met die coon carnival nie, maar met coloureds wat, soos die akteurs van District Six – Kanala, die vernederende rassestereotipes oor hulself versterk. Soos Matthews, het ek nie issues met die coon carnival nie, maar wel met die bestendiging van die idee dat dit die enigste verteenwoordiging van coloureds en/of coloured identiteit is.
Denis-Constant Martin (1998, 529) meen dat die coons die stad op Nuwejaarsdag in besit neem. Hulle marsjeer deur areas waar hulle nie voorheen toegelaat is om te bly nie, “affirming thereby that they belong to the Cape – and that the Cape belongs to them – despite prejudices and laws”. Martin se geromantiseerde beskrywing vat my terug na die einde van District Six – Kanala waar die akteurs op die sentimentaliteit van die gehoor inspeel. Volgens Martin se standaard hou my afkeuring van die stereotipiese uitbeelding van coloureds in die coon tradisie, verband met die siening van die “coloured elite” (1998, 530). Volgens Martin (1998, 530, my italics):
it should be pointed out that this elite, in considering especially the coon carnival as an overt manifestation of culture as defined by the apartheid system, was in essence denying disadvantaged members of the coloured community the opportunity to make light of their daily sufferings … an opportunity to rejoice, to have fun. … An occasion when they could demonstrate their creativity.
Is dit die enigste tipe kreatiwiteit (om onsself stupid te maak) wat ons coloureds toegelaat word? En wanneer gaan ons ophou bestempel word as disadvantaged? En hoekom maak hy ’n distinction; was ons almal nie in elk geval maar disadvantaged nie? Clarify, Mr. Martin.
Weer gee ons in vir wat Vernon February (1981, 45) noem “benevolent paternalism”, weer onderdanig aan die wit man “who [is] forever at pains to tell the Coloureds how happy they are” (Head 1993, 16). Maar om regverdig te wees, die wit man neem ook sy cue van die coloured in dié geval, aangesien die coloured uitspattig lag wanneer hy konstant as ’n dronklap, draler en ’n gangster uitgebeeld word. Die wit man se medepligtigheid in die skepping van hierdie beeld in die eerste plek, word sodoende verlig. So, lag maar voort, coloureds.
February skryf in 1981 dat “the coloured public is irritated, embarrassed and not amused” deur die tipiese uitbeelding van die coloured (1981, 51). Maar dit blyk nie vandag, by dié musical vertoning, die geval te wees nie. Die aanvaarding en natuurlik die genot wat hierdie uitbeelding by hierdie spesifieke gehoor uitlok, verbyster my en gaan February teë. So ek vra myself af: Van watter coloured public praat February nou eintlik? Martin se coloured elite? Dan is ek in goeie company met ou Vernie.
Ek is gebore in die jaar wat Vernie February se boek gepubliseer is. Ek is ’n Westerse Kunsmusiek-praktisyn (wat dit ookal deesdae beteken) en ek is ’n coloured vrou met geen verbintenis aan die Kaapse musiekkultuur nie. Daarom bevraagteken ek tog ook my eie stem wanneer ek hierdie issues konfronteer. Diskwalifiseer my agtergrond my, wat so anders is as wat in hierdie storie en in so baie ander verteenwoordig word, egter daarvan om hierdie vrae te vra of om die aanhoudende toepassing van hierdie suf temas uit te daag? Ek wonder wat my eweknieë oor dié stereotipiese uitbeeldings te sê het. Miskien is hulle in stille ooreenstemming met my, of miskien probeer hulle net om aan en weg van die verlede te beweeg. Miskien wil hulle net hulle lewens bou, en in dié post-apartheidera op die toekoms in plaas van op die verlede fokus. Maar dan, waarop bou ons presies? Hierdie stereotipe wat ons nog steeds omhul, wat werksonderhoude vooruitgaan, wat nog steeds ons bestaan in ’n negatiewe tint verkleur?
Ek besef dat ek ’n diep begeerte het na iets wat dalk nooit sal bestaan nie. Ek weet nie. Al wat ek vir seker weet is dat ek moeg van hierdie uitbeelding van die coloured is. Dit is sekerlik nie die enigste storie van die coloured nie. Maar wie sal die ander stories vertel? En wat is die ander stories?
Laat ek maar terugdeins in die herinnering aan die Von Trapp family singers van Diedericksstraat 8, Mountain View, Paarl...
Bronnelys:
Battersby, John. 1988. ‘Musical Re-Creates a Razed Cape Town Slum’. The New York Times. Accessed April 2016.
Battersby, Jane. 2003. ‘Sometimes it feels like I’m not Black enough: Re-cast(e)ing Coloured through South African Hip-hop as a Postcolonial Text’. In Shifting Selves: Post-apartheid Essays on Mass Media, Culture and Identity, eds. Hermann Wasserman and Sean Jacobs. Cape Town: Kwela Books, 109-129.
Erasmus, Zimitri. 2001. Coloured by History, Shaped by Place: New Perspectives on Coloured Identities in Cape Town. Cape Town: Kwela Books.
February, Vernon. Mind your colour. The ‘coloured’ stereotype in South African Literature. London: Kegan Paul International Ltd.
Head, Bessie. 1993. The Cardinals. With Meditations and Short Stories, ed. Margaret Daymond. Oxford: Heinemann Educational Publisers.
Martin, Denis-Constant. 1998. ‘What’s in the name ‘Coloured’?’. In Social Identities 4(3), 523-540.
Matthews, James and Thomas, Gladys. 1972. Cry Rage! Johannesburg: Spro-cas Publications.
Smith, Theresa. 2016. ‘District Six-Kanala’. Theatre Review. Available online: http://www.artlink.co.za/news_article.htm?contentID=39534. Accessed April 2016.
Thamm, Marianne. 2016. District Six-Kanala: ‘Commemorating the void that still remains’. The Daily Maverick. Accessed April 2016.
Tonkin, Elizabeth. 1992. Narrating Our Pasts: The Social Construction of Oral History. Cambridge: Cambridge University Press.
Van der Ross, Richard. 1979. Myths and Attitudes. An inside look at the Coloured people. Cape Town: Tafelberg Publishers Ltd.
Wicomb, Zoe. 1998. ‘Shame and Identity: the case of the coloured South African’. In Writing South Africa. Literature, apartheid and democracy, 1970-1995, eds. Derek Attridge and Rosemary Jane Jolly. Cambridge: Cambridge University Press, 91-107.
Die artikel het in die tweede uitgawe van herri verskyn (ook in Engels). herri is ’n poging om die volgende vraag te beantwoord: Hoe lyk dekolonisering in hierdie hibriditeitsperiode? Daar word geskryf dat ons ontdek het dat daar nie net een antwoord is nie. “herri is ’n klankmyn van vertellings, mitologieë, ideologieë, uitsprake, onduidelikhede en idees wat net wag om uitgegrawe te word. herri is slegs een opsie onder baie. Diskontinuïteit is die kontinuïteit. Ontkoppeling is die verbinding. Onsamehang is die samehang.” herri word bedink, saamgestel en geredigeer deur Aryan Kaganof, en uitgegee deur Stephanus Muller vir die Africa Open Institute. Dit word bestuur deur Hilde Roos.