Een spreker, twee tale aan die Universiteit Stellenbosch
Inge Engelbrecht oor vasgevang wees in die US-taaldebat
My oupa was ’n waardige man. ’n Opgevoede man. ’n Onderwyser en uiteindelik ’n skoolhoof. Hy was lief vir die Afrikaanse taal en vir Afrikaanse (en Afrikaner-) kultuur. Hy het Afrikaans gepraat op ’n manier wat heel waarskynlik vandag as ordentlike of Standaardafrikaans beskou sou word. Hy sou definitief die Afrikaaps-beweging verafsku het, bloot omdat dit nie die korrekte manier is om die taal te praat nie. Hy sou hierdie “bevryding” van Afrikaans beskou as ’n bastardisering van dít wat suiwer en ordentlik is; “die regte manier”. Tot ’n groot mate skryf ek die manier waarop ek vandag dink, toe aan hom en sy opgevoede, welvoeglike eweknieë, met wie ek as kind op talle geleenthede in aanraking gekom het. En, as ek nou hieroor besin, is my besluit om my tesis in Afrikaans te skryf tot ’n sekere mate uit lojaliteit aan my oupa wat ek innig liefgehad het.
Afrikaans is my moeder- en akademiese taal. Dit is die taal van my familie en die taal waarin ek lewe. Ek was trots om hierdie taalkundige nalatenskap van my voorvaders te kon voortsit en akademies daartoe te kon bydra: nie tot die Wit Afrikaners wat teen imperialisme in die Anglo-Boereoorlog (1899—1902) geveg het nie, maar tot die kwansuise “lammervangers” en “kinders van die ‘dop’-stelsel” (Croucamp, 2016). Die mense wat op plase en in die kombuise van hulle base hierdie kombuistaal gepraat het; die plaaslike variant van die Nederlandse handeltaal (Coplan, 2008:16). Dit is húlle nalatenskap waarna ek hier verwys.
Ek het my honneursgraad in Musiekopvoedkunde in 2010 voltooi met ’n skripsie wat ek in Afrikaans geskryf het. Gepaardgaande met die bogenoemde agtergrond in gedagte, was dit ’n logiese aanname en natuurlike verloop van sake dat ek enige toekomstige akademiese projekte in Afrikaans sou aanpak. En ek het. Ek het in 2014 met my Meestersgraad onder die leiding van twee Afrikaanse studieleiers begin, en het volle vertroue in hulle leierskap gehad. Die motivering om my tesis in Afrikaans te skryf terwyl die meeste Afrikaanse akademici klaarblyklik verkies het om hulle tesisse in Engels te skryf, was nie lojaliteit teenoor die taal of die behoefte om ’n “statement” te maak nie. Die doel was nooit om ’n standpunt vir die taal in te neem en gevolglik teen ’n ander nie. Dit was ’n blote natuurlike keuse.
Die akademiese onderwerp wat ek gekies het, was nóg ’n aansienlike motivering wat my voorneme om in Afrikaans te skryf, versterk het. Ek het gekies om oor ’n onderwerp te skryf wat die geskiedenis van die Afrikaanse Bruin gemeenskap betrek het, en ek wou eer bring aan Sacks Williams, Dan Apolles en Dan Ulster deur in hulle moedertaal te skryf. Van my mede-akademici het my keuse betwyfel en die gebruikersvriendelikheid van die finale produk bevraagteken. Ek moet bieg dat die laasgenoemde kwessie my ook kortliks laat twyfel het, maar ek het myself egter reeds aan die besluit toegewy. Soos Le Page (1985, aangehaal in Milroy en Muysken, 1995:7) dit stel: “each utterance a speaker makes and the language choice which it embodies [is] an ‘act of identity’ associated with the different sources of influence […] in his or her multilingual and multicultural community.” So graag as wat ons hierdie idee wil betwis, het Afrikaans ’n genootskap met Bruin mense. Dit is deel van ons identiteit. My taalkeuse het dus onbewustelik ’n daad geword om hierdie identiteit te versterk, en dit is hierdie identiteit wat deur my gebruik van taal voortgesit word. Die Martinisiese skrywer Edouard Glissant (2007:35) stel voor: “Maybe we should be suspicious of the idea of identity, but even more of keeping silent about it.”
Die besluit om my tesis in Afrikaans te skryf, het egter beteken dat ek sonder bedoeling by die saak oor die taalkwessie om Afrikaans as primêre taal van onderrig by Universiteit Stellenbosch (US) te behou, aangesluit het en dit aangemoedig het. Dit het ook begin blyk dat ek nou verplig was om dié saak te ondersteun waarvan ek aanvanklik salig onbewus was. Ek het vasgevang geraak in die middel van twee opponerende kante: diegene wat onwrikbaar was oor die taal en die volhouding daarvan as onderrigtaal by US, en dié wat Afrikaans steeds met apartheid assosieer het en dus die rol daarvan as primêre onderrigtaal wou verminder. Ek het Afrikaans nooit as die “taal van die onderdrukker” — soos een van my Engelse kollegas daarna verwys — beskou nie, maar dit is waar ons onsself nou bevind.
In 2015 is die South African Society for Research in Music oftewel die SASRIM-kongres by die Universiteit van Kaapstad gehou, waar ek ’n referaat oor Sacks Williams aangebied het. Dit was die eerste keer dat ek ’n akademiese teks in Engels geskryf het. Die referaat is goed ontvang en die positiewe terugvoer was van beide Afrikaans- en Engelssprekendes. My daaropvolgende belangstelling in Engels as ’n akademiese taalkundige alternatief, sou ’n stryd word vir die res van my studies: die taalkwessie sou my eie word.
Om die referaat in Engels te skryf was nie so skrikwekkend as wat ek verwag het dit sou wees nie, en ek het gevind dat ek die proses eintlik geniet het. Ek het opgemerk dat daar ’n mate van linguistiese vryheid en gemak was waarmee ek in Engels geskryf het — iets wat vir my afwesig was in my Afrikaanse skryfstyl. Ek het begin twyfel in my vermoë om in Afrikaans te skryf en het dit daarom vlugtig oorweeg om alles wat ek tot op daardie stadium in Afrikaans geskryf het, in Engels te herskryf. Ek verstaan nou dat my onsekerheid oor die taal te doen gehad het met ’n twyfeling oor my eie vaardigheid. Ek het geglo dat my Afrikaanse woordeskat begin stagneer het in vergelyking met my ewiggroeiende Engelse woordeskat. As ek nou terugdink, besef ek dat dit selfopgelegde voorbehoude was, aangesien beide my studieleiers my aangemoedig het om aan te hou skryf in Afrikaans.
Nietemin, na maande se skryf (in Afrikaans) aan die lewens van Sacks Williams, Dan Apolles en Dan Ulster, het ek myself by ’n kruispad bevind. Afrikaans het vir my ’n beperkende ruimte geword waarin ek veronderstel was om met gemak rond te beweeg, maar eenvoudig nie kon nie. Hierdie analogie is miskien ekstreem, maar dit illustreer die wyse waarop die taal my ingeperk laat voel het. Die teks was besig om in iets rigieds te ontwikkel en ek het nie die nodige kennis of ervaring gehad om die situasie reg te stel nie. In 1998 skryf Roz Ivanič die volgende in Writing and Identity, wat my gehelp het om die ongemak wat ek ervaar het, te verstaan:
I have often had the experience myself of not being able to find the right words for what I want to write, and then realising that it is not so much a problem of the meaning I want to convey as a problem of what impression of myself I want to convey.
Afrikaans, en my toegewydheid daaraan, is aan die hand van die Stellenbosch-taaldebatte getransformeer tot ’n posisie waar my volgehoue skryf in die taal ’n indruk van myself geskep het waarmee ek nie gemaklik was nie. Bowendien was ek bekommerd oor die indruk wat ek oor Williams, Apolles en Ulster oorgedra het. Ek was bewus van my verantwoordelikheid teenoor hulle en die belangrike narratiewe wat waarskynlik meer toeganklik sou wees as die teks in Engels geskryf is. Soos reeds genoem, betrek ek in my tesis die Afrikaanssprekende Bruin mense meer as die Engelssprekende Bruin gemeenskap, sonder om hierdie groep heeltemal uit te sluit. Wanneer daar egter van Afrikaans gepraat word, is dit noodsaaklik om die Bruin mense by die gesprek in te sluit, aangesien dié taal, wat een van die drie taalwonderwerke van die laaste honderd jaar is (Prah, 2010:141), aan hulle behoort; aan ons behoort. Dit is ook belangrik om te onthou dat Nederlands die voorkeurtaal by opgevoede Wit Afrikaanse kringe was, aangesien die Afrikaans wat op daardie stadium gepraat is, te nouliks met die Bruin gemeenskap van veral die Kaap geïdentifiseer kon word (Prah, 2007:7).
In Religions of South Africa (1992) noem David Chidester dat die idee van eienaarskap met betrekking tot Afrikaans, problematies is sedert pogings om Afrikaans as ’n embleem van suiwer Afrikanderdom in die vroeë 1800’s te eien, in die tyd toe daar ’n kulturele beweging in die Kaap gevorm is om Afrikaans as ’n taal te bevorder. Hy skryf:
As a spoken language, Afrikaans was used by people of Khoisan, European, and slave descent who came to be classified as “Coloureds”. Furthermore, as a written language, it had been used by Muslims in the Cape to produce Afrikaans texts in Arabic script. Nevertheless, the leaders of the Genootskap van Regte Afrikaners […] claimed Afrikaans as the authentic language of white, Dutch-Afrikaners, producing a grammar […] and a history in hopes of mobilising an Afrikaner identity.
Dit is duidelik uit hierdie teks dat Afrikaans nie eerste met die Wit setlaars geassosieer is nie, en dat dit eers later deur die Afrikaners opgeneem is, soos dit blyk uit die openingsaanhaling deur Dr DF Malan wat Afrikaans as “the vehicle of our culture” (Giliomee, 1989:43) beskou het. In Suid-Afrika is Afrikaans later as een van die “undigested features” van post-apartheid Suid-Afrika beskou (Prah, 2007:5).
Die deurlopende en uitgerekte debat oor die gebruik van Afrikaans by die US het die agtergrond vir die skryf van my tesis gevorm. Wat ek dalk mees kommerwekkend vind, is dat die Bruin mense, na wie NP van Wyk Louw verwys as “ons broers”, en wat slegs erken word wanneer stemme benodig word (Croucamp, 2016), nou slinks genader word om teen die afskaffing van Afrikaans as taal van onderrig te veg. In baie opsigte meen ek dat die geveg nie aan ons behoort nie. Ja, ons eis die taal as die primêre taal van die Bruin mense, maar ek erken ook dat hierdie stryd baie min te doen het met die taalkwessie, en sterker handel oor die afbreking van ideale waarna James de Villiers (2016) verwys as die “apartheid nostalgia” by die US; ideale waarmee daar lank gelede al weggedoen moes wees. Deur die komponiste van Genadendal in Afrikaans in die geskiedenis in te skryf – ’n besluit wat ek aanvanklik geneem het sonder om aan enige politieke implikasies te dink – blyk nou vir my problematies te wees omdat dit met hierdie nostalgie van ander resoneer, en dit miskien selfs daardeur beskerm word.
Die tweede deel van my tesis, wat in Engels geskryf is, is ’n refleksie op my Afrikaansskrywende self. Dit het nie net ’n wyse geword waarop ek oor my onderwerpe gedink het nie, maar ook oor die manier waarop ek hulle in die taal geplaas het, en hoe ek self binne-in die taal geposisioneer is. Hierdie skuif van Afrikaans na Engels, of eerder die skuif tussen die twee tale, kan ook as ’n vorm van “code switching” gesien word, wat gedefinieer word as die “alternatiewe gebruik van twee of meer tale in dieselfde gesprek deur tweetaliges” (Milroy en Muysken, 1995:7), ’n linguistiese tegniek wat gewoonlik toegepas word as ’n “element in ’n sosiaal-ooreengekome matriks van kontekstualiseringsaanwysings en -konvensies wat deur sprekers gebruik word om geadresseerdes, deur die loop van voortdurende interaksie, op die sosiale en situasionele konteks van die gesprek te waarsku” (Gumperz, 1982: 132—52; 1984: 112).
My besluit om ’n gedeelte van my werk in Engels te skryf is dus deels polities. Maar die besluit om hierdie reflekterende essays te skryf, was ook meer as ’n politiese een. Hamilton en Pitt (2009:61) definieer kreatiwiteit in verband met akademiese skryfwerk as die verbeeldingryke gebruik van kommunikatiewe hulpbronne deur dit op nuwe maniere te kombineer en/of om te eksperimenteer met konvensies om idees voort te bring wat oorspronklik en produktief is vir die akademiese poging. Met hierdie karakterisering in gedagte het ek hierdie deel van my tesis benader, en het ek my taal nie vrygeskeld van ekperimentering nie. Ek voel natuurlik tot ’n sekere mate aandadig deur die gedeeltelike verwerping van my moedertaal vir wat Eusebius McKaiser so elegant beskryf as ’n posisie waar mens “vasgevang is tussen geoefende verengelsde identiteite en Afrikaanse egtheid”. Hierdie geoefende verengelsde identiteit is egter presies wat ek nodig het om my sogenaamde Afrikaanse outentiekheid te beskryf en daarmee om te gaan. Hierdie imperatief mag minder te doen hê met politiek as met die distansiëring wat ons benodig om perspektief te bekom, en die verskillende paaie wat geopenbaar word in kennis deur verskillende tale.
Hierdie essay het ook in Engels op Herri verskyn.
Inge Engelbrecht is tans ’n PhD-kandidaat in musiekwetenskap aan die Africa Open Institute for Music, Research and Innovation aan die US. Die hooffokus van haar studie is die musiek en bygaande praktyke van die koortjie in die Bruin kerkgemeenskappe in die Wes-Kaap.
Ook deur Engelbrecht op Klyntji: Distrik Ses: 'n diep begeerte na iets wat dalk nooit sal bestaan nie.