End Conscription Campaign se plakkate teen apartheid

 End Conscription Campaign se plakkate teen apartheid
Screenshot 2019-03-24 at 22.06.29.png

Botha ek's gatvol

Die End Conscription Campaign (ECC) was ’n anti-oorlogbeweging in Suid-Afrika wat aktief betrokke was in die stryd teen apartheid. Die ECC se bestaan is geskoei op die apartheidregering se gebruik van militêre mag om die regime te versterk, deur Wit mans op te roep om in die weermag te dien; diensplig was verpligtend vir alle skoolverlatende of afgestudeerde seuns bo 16-jarige ouderdom.

Maar daar was verset. Teen die laat sewentigerjare was die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) genoodsaak om te reageer op die tienduisende ontwykers van nasionale diensplig. Baie gewetensbeswaardes het hulle ontduiking aan gelowige redes toegeskryf (wat soms deur die SAW geakkommodeer is onder spesifieke vereistes), terwyl ander ’n etiese standpunt teen die apartheidpolitiek ingeneem het, of bloot net nie lus was vir oorlogvoer nie (uhm, wie is?).

Afgesien van redes wat op ideologiese of etiese gronde gebaseer is, het ontwykers ’n verskeidenheid van tegnieke gebruik om diensplig te vermy. Nie almal het openlik in verset gekom nie – sulke weiering kon twee en later tot ses jaar tronkstraf inhou. Om voltydse universiteitstudies sover moontlik uit te rek was ’n gewilde uitsteltegniek. Ander opgeroeptes het liggaamlike of geestelike ongeskiktheid as redes aangevoer. ’n Groot aantal beswaardes het oorsee gevlug en in ballingskap verenig of bloot ’n nuwe lewe vir hulself geskep.

ADIMagAUG_03_28_32-1.jpg

Die ECC het tussen 1983 en 1984 tot stand gekom as ’n samekoms van verskeie kleiner bewegings. Bekende ondersteuners sluit Beyers Naudé, Helen Joseph en David Webster in. Op 15 Oktober 1984 by die amptelike bekendstelling in Claremont in Kaapstad was daar meer as 1400 mense teenwoordig: die vergadering is toegespreek deur dominee Allan Boesak en Sheena Duncan van die Black Sash – dié organisasie het ’n kernrol gespeel in die oprigting van die ECC. Duncan het namens die Black Sash uitgelig dat hoewel dit onwettig was om in verset te kom teen die SAW, dit wel wetlik was om diensplig op ideologiese gronde teen te staan.

Die ECC het buiten die primêre kwessie van diensplig, ’n platform geword om fundamentele verandering te vereis, en om mensereg-vergrype uit te wys. Baie Wit Suid-Afrikaners is ’n mandaat gegee deur die ECC om deel te neem aan en by te dra tot die anti-apartheid-versetbeweging. Die ECC se inkorporasie by die studentepolitiek van die tyd het ’n relatief veilige platform vir die jeug op kampusse gebied om bewustheid te kweek.

Die prominente ECC-lede is egter deur die apartheidregering geteister. Openbare beswaarmakers is dikwels van ’n dag tot ’n jaar in die tronk gestop en baie moes wegkruip, terwyl hulle huise en kantore met pepersproei en bomme gegooi is. Motors en motorfietse se remkabels is afgesny, wielmoere losgemaak en bande volgepomp om later te bars. Sommige ECC-lede is fisies aangeval en ’n paar is vir moord geteiken. Al hierdie pogings het egter die weerstand versterk. In 1987 het ’n groep van 23 dienspligtiges in die Kaap opspraakwekkend geweier om gehoor te gee aan hulle oproeppapiere.

ADIMagAUG26-1.jpg

Die ECC het sigself se veldtogte en openbare profiel gedryf deur middel van die verspreiding van plakkate en pamflette, die uitreik van gereelde persverklarings, die skryf van briewe aan die media, die maak van opnames oor kwessies rakende diensplig en militarisering, protesmarse en gemeenskapswerk. Sulke optredes is altyd vreedsaam gehou, maar het gewoonlik met ’n buitensporige hoeveelheid polisieteenwoordigheid gepaard gegaan.

In die 80’s het die Voëlvry- en die alternatiewe Afrikaanse musiekbeweging ook ’n beduidende impak gehad, deels te danke aan die ECC se invloed. Die tref- en trekkrag van musiek het gelei tot ’n kollektiewe beweging teen ’n regime wat alle Wit mans wou koöpteer as medepligtiges aan apartheid. Die subversiewe musiek van Johannes Kerkorrel (Ralph Rabie), Koos Kombuis (André Letoit) en Bernoldus Niemand (James Phillips) staan veral uit – daar is as voorbeeld Kombuis se lied ‘Swart September’ wat die Nasionale Party beskaam het. Shifty Records, gelei deur Lloyd Ross, het ook die kompilasie-album Forces Favourites in 1986 uitgegee, ’n samestelling van musiek wat as deel van die ECC-beweging gebruik is. In die visuele kunste staan die werk van Willem Boshoff uit, veral BANGBOEK en Abamfusa Lawula/The Purple Shall Govern, oor sy gewetensbeswaar en verset.

Die fokus van hierdie storie is spesifiek die visuele elemente, plakkate en pamflette, waarvoor die ECC veral onthou word. Dié materiaal is deur kunstenaars en ontwerpers gemaak, maar hulle name is meestal onbekend/weerhou uit waaksaamheid teen vergeldende optrede deur die destydse owerhede. Die South African History Archive (SAHA), gebaseer in Johannesburg, besit ’n omvattende versameling van ECC-plakkate wat in 2009 by die Spier-wynlandgoed uitgestal is (onder die titel “Waar is die grens nou?”). Sien die SAHA-uitstalling en gepaardgaande navorsing as deel van die ECC-25 uitstalling-webwerf. Die ECC-plakkate het deurlopend stilisties ontwikkel en daar is genuanseerde politiese en kulture verwysings vir trefkrag geïnkorporeer by die ontwerpe. Dit word gekenmerk deur die uitbeelding van ’n gebreekte ketting waarvan die skakels “ECC” uitspel.

Waar is die grens nou?
Screenshot+2019-03-24+at+22.06.58.jpg
ADIMagAUG_03_28_32-5.jpg
Image-5.jpg
Keep The Townships Clean.jpg
pos00000000.043.053.2549.jpg
Screenshot 2019-03-24 at 22.07.17.png
Screenshot 2019-03-24 at 22.06.05.png
download (3).jpeg

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van End Conscription Campaign se plakkate teen apartheid gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand