Hoe om oor Afrika te skryf
Die nalatenskap van Binyavanga Wainaina
Die Keniaanse skrywer Binyavanga Wainaina (1971—2019) is een van die mees prominente stemme wat tot op hede uit Afrika na vore gekom het. Wainaina het in 2002 bekendheid verwerf as die wenner van die jaarlikse Caine Prize for African Writing vir sy kortverhaal ‘Discovering Home’. In 2005 het hy weer die literêre wêreld se aandag geniet, weens sy artikel How to write about Africa wat deur Granta gepubliseer is. In dié satiriese artikel kritiseer hy die manier waarop Afrika en Afrikane in Westerse fiksie uitgebeeld word.
In 2003 gebruik Wainaina sy Caine Prize-prysgeld van £10,000 om die joernaal Kwani? (’n Sheng-term vir “so what?”) te stig as ’n platform vir eksperimentele skryfwerk. Die joernaal het ’n belangrike spreekbuis vir kontemporêre skrywers uit Afrika geword en word steeds deur die Kwani Trust voortgesit. Kwani? het menigte skrywers se loopbane help vestig, insluitend Uwem Akpan; Yvonne Adhiambo Owuor, die wenner van die 2003-Caine-prys; en Billy Kahora, die huidige redakteur van die joernaal.
Kenneth Binyavanga Wainaina is in 1971 in Nakuru, Kenia gebore. Sy pa was ’n besigheidsman en sy ma, wat van Uganda afkomstig is, het ’n haarsalon besit. Wainaina bring sy jeug deur in die haarsalon en by die bloekomboomstomp in sy ouers se tuin op die maat van Boney M, Maroon Commandos, Fred Obachi Machoka, Michael Jackson en Miriam Makeba. Hy hou sy ouer broer fyn dop en dra sy jonger suster op die hande. Sy laatlam tweede suster word groot terwyl hy in Suid-Afrika by die Universiteit van Transkei studeer. Hy lees. Hy skryf. Hy besluit dat hy eendag ’n skrywer sal wees. By ’n familiebyeenkoms waar die familielede van oral oor Afrika en selfs Amerika reis om mekaar vir die eerste keer in jare te sien, besluit hy: “One day I will write about this place.”
Sy gelyknamige memoir, One Day I Will Write About This Place (2011), verewig Wainaina se herinneringe van sy kinderjare in Kenia, sy universiteitsdae in Suid-Afrika en van sy latere reise deur Wes- en Suidelike Afrika, Engeland en Amerika. Deur hierdie teks vestig Wainaina homself as ’n vaardige memoiris, ’n prosaïese waarnemer van karakter en landskap, en ’n onvervangbare bydraer tot die argief van literatuur wat vanuit die kontinent ontstaan.
Draai egter die tyd effens terug — wat begin het as ’n laatnag e-pos geskryf aan Granta in ’n “fit of anger” om die publikasie se 1994-uitgawe te kritiseer, het nie te lank daarna nie een van Wainaina se mees bekende skryfwerke geword. “I was responding to its ‘Africa’ issue, which was populated by every literary bogeyman that any African has ever known, a sort of ‘Greatest Hits of Hearts of Fuckedness,’” het hy later vertel. “It wasn’t the grimness that got to me, it was the stupidity. There was nothing new, no insight, but lots of ‘reportage’— Oh, gosh, wow, look, golly oooh — as if Africa and Africans were not part of the conversation, were not indeed living in England across the road from the Granta office. No, we were ‘over there,’ where brave people in khaki could come and bear witness. Fuck that. So I wrote a long — truly long — rambling email to the editor.”
In dié artikel kritiseer Wainaina die homogene uitkyk op Afrika en hy vestig die aandag op die verskeie kulturele stereotipes van die kontinent wat herhaaldelik in die Westerse media en literatuur waarneembaar is. Afrika as kontinent word dikwels reduseer tot ’n enkele land waar ’n bepaalde stel kenmerke veralgemeen word en aan alle Afrikane toegeskryf word.
“Always use the word ‘Africa’ or ‘Darkness’ or ‘Safari’ in your title. Subtitles may include the words ‘Zanzibar’, ‘Masai’, ‘Zulu’, ‘Zambezi’, ‘Congo’, ‘Nile’, ‘Big’, ‘Sky’, ‘Shadow’, ‘Drum’, ‘Sun’ or ‘Bygone’,” skryf Wainaina in die essay. “Also useful are words such as ‘Guerrillas’, ‘Timeless’, ‘Primordial’ and ‘Tribal’. Note that ‘People’ means Africans who are not Black, while ‘The People’ means Black Africans.”
Wainaina lewer ook kommentaar oor die verskynsel in Westerse literatuur om te versuim om oor die gewone aspekte van lewe in Afrika te skryf. Wanneer daar oor Afrika geskryf word, adviseer Wainaina satiries dat die “taboe onderwerpe” insluit: huishoudelike tonele, liefde tussen Afrikane en verwysings na Afrikaanskrywers of -intellektualiste. “Broad brushstrokes throughout are good. Avoid having the African characters laugh, or struggle to educate their kids, or just make do in mundane circumstances. Have them illuminate something about Europe or America in Africa. African characters should be colourful, exotic, larger than life — but empty inside, with no dialogue, no conflicts or resolutions in their stories, no depth or quirks to confuse the cause.”
Diere, aan die ander kant, moet as goedafgeronde, komplekse karakters behandel word. Leeus toon familiewaardes, olifante is feministies en gorillas is waardige patriarge. “Never, ever say anything negative about an elephant or a gorilla. Elephants may attack people’s property, destroy their crops, and even kill them. Always take the side of the elephant.” Wat verder behoort ingesluit te word — die groot, rooi Afrika-sonsondergang, nadenke oor fauna en flora, ’n nagklub genaamd Tropicana, en ’n aanhaling deur Nelson Mandela (“something about rainbows or renaissances”).
Die gesprek wat Wainaina deur die essay inisieer, herinner aan Chimamanda Ngozi Adichie se TED-toespraak, The Danger of a Single Story (2009). Adichie, wat een van Wainaina se naaste vriende was en met wie hy sy skryfwerk gedeel het en vice versa voordat beide van hulle ’n naam gemaak het vir hulleself as skrywers, verduidelik in dié toespraak dat die “single story” van Afrika sy oorsprong in die Westerse literatuur het. “The consequence of the single story is this: It robs people of dignity,” sê Adichie. “It makes our recognition of our equal humanity difficult. It emphasizes how we are different rather than how we are similar.”
Sy vertel ook: “If I had not grown up in Nigeria, and if all I knew about Africa were from popular images, I too would think that Africa was a place of beautiful landscapes, beautiful animals, and incomprehensible people, fighting senseless wars, dying of poverty and AIDS, unable to speak for themselves and waiting to be saved by a kind, White foreigner.”
Hierdie beeld van Afrika word ook deur Wainaina beklemtoon in sy artikel. “In your text, treat Africa as if it were one country. It is hot and dusty with rolling grasslands and huge herds of animals and tall, thin people who are starving. […] The continent is full of deserts, jungles, highlands, savannahs and many other things, but your reader doesn’t care about all that, so keep your descriptions romantic and evocative and unparticular.”
In sy toespraak The writer and responsibility (1983) stel Breyten Breytenbach voor dat dit die skrywer se taak is om die “questioner” en “implacable critique” van die gebruike, houdings en mites van hulle samelewing te wees. Terwyl daar in How to write about Africa ’n probleem uitgelig word met hoe Afrika deur die Westerse wêreld gedokumenteer word, dien One Day I Will Write About This Place dan as ’n kreatiewe voortsetting van hierdie kritiek. Wainaina se memoir is dus ’n antwoord: Hoe om wél oor Afrika te skryf.
Vir Bernadine Evaristo is How to write about Africa ’n pittige verligting vir dié wat moeg is vir die Weste se aandrang op ’n sub-Sahariese Afrika wat alleenlik deur oorlog, korrupsie, despotisme, misdaad en hongersnood gedefinieer word. Evaristo beskryf Wainaina se memoir as “shockingly normal”; ’n verkenning van die skrywer se veilige kinder- en tienerjare in Nakuru en ’n “radical departure from the usual tragic narratives”.
In die artikel How Western Journalists Actually Write About Africa (2018) bevestig Toussaint Nothias dat kontemporêre Westerse mediaverteenwoordiging van Afrika steeds deur koloniale idees, eksotisme, en houdings van Wit meerderwaardigheid en rassisme gevorm word. Tesame met hierdie uitbeelding van Afrika, bestaan daar ’n tendens om geïsoleerde gebeurtenisse wat in ’n enkele Afrikaland plaasvind, aan die kontinent as geheel toe te skryf. In sy memoir onderstreep Wainaina egter die diversiteit van Afrika: “[N]either our anthem nor our tax base nor our language nor our view of the world is in any way universal.” Wainaina slaag daarin om die kompleksiteit van Afrika in sy oeuvre vas te vang deur ’n wye spektrum van ervaringe en waarhede uit te beeld. Sodoende word die kulturele stereotipes van Afrika en Afrikane uitgedaag as kritiek teen die Westerse media wat steeds aan koloniale houdings vasklou.
Ngũgĩ wa Thiong’o, die bekroonde Keniaanse skrywer en akademikus wat in Kenia in hegtenis geneem is en vir baie jare uit die land verban is as gevolg van sy skryfwerk wat die destydse regering omgekrap het, het ’n merkwaardige impak op die jong Wainaina gehad. Ngũgĩ glo dat skrywers uit Afrika in hulle moedertale moet skryf as deel van die dekoloniale projek. Oor Ngũgĩ se argument vir die gebruik van moedertaal mediteer Breytenbach in sy toespraak Imagine Africa (2007). Breytenbach meen moedertaal is die “living repository of the experiences of the people from many origins and stations who gave tongue to it over the ages”. Hoewel Ngũgĩ se Decolonising the Mind (1986) Wainaina geïnspireer het om in sy moedertaal te skryf, is dit tog van aansienlike waarde dat sy werk in Engels beskikbaar is om ’n wyer gehoor te bereik — miskien juis dié op wie sy kritiek die meeste van toepassing is. Wainaina se literêre nalatenskap dra by tot Ngũgĩ se prioritisering van taal om Afrika vry te maak van die houvas van die Westerse wêreld.
Wainaina het ’n MPhil in Kreatiewe Skryfwerk aan die University of East Anglia verwerf. Gedurende sy loopbaan het hy onder andere vir The EastAfrican, National Geographic, The Sunday Times, Granta, The New York Times, Chimurenga en The Guardian geskryf. As ’n koskenner het hy gereeld oor Afrika-kookkuns geskryf en hy het meer as 13,000 tradisionele en moderne resepte van oral oor die kontinent versamel. By die Bard College in New York, waar hy ’n Bard Fellow was, het hy gedien as direkteur van die Chinua Achebe Centre for African Literature and Languages.
Hy het ook ’n toekenning van die Kenya Publishers Association ontvang vir sy bydrae tot Keniaanse literatuur, en hy het ’n Young Global Leader-nominasie van die World Economic Forum van die hand gewys. “The problem here is that I am a writer,” het hy aan die organisasie en nominasiekomitee geskryf. “And although, like many, I go to sleep at night fantasizing about fame, fortune and credibility, the thing that is most valuable in my trade is to try, all the time, to keep myself loose, independent and creative… It would be an act of great fraudulence for me to accept the trite idea that I am ‘going to significantly impact world affairs.’”
In 2014, kort ná sy 43ste verjaardag, het Wainaina weer die hoofopskrifte gehaal met sy kort essay, I Am a Homosexual, Mum waarin hy ’n alternatiewe waarheid verbeel om sy ma, wat jare vantevore oorlede is, te vertel dat hy gay is. Die artikel het gevolg op ’n reeks anti-gay wetgewings in Nigerië en elders in Afrika, en is deur die skrywer beskryf as ’n verlore hoofstuk van sy reeds gepubliseerde memoir. In 2016 het hy ook aangekondig dat hy MIV-positief is.
In 2019 is Wainaina oorlede enkele dae voor die langverwagte hofuitspraak in Kenia rakende die afskaffing van die wetgewing wat homoseksuele aktiwiteite kriminaliseer. In die lig van Angola en Mosambiek wat op daardie stadium beide in onlangse jare homoseksualiteit gedekriminaliseer het, was die queer-aktiviste in Kenia hoopvol dat hulle land dié patroon sou volg. Die petisie is egter deur die hooggeregshof van die hand gewys en huwelike tussen dieselfde geslag is steeds onwettig in Kenia, sowel as in talle ander lande in Afrika.
In die jaar voor sy dood, het Wainaina sy verlowing aangekondig aan sy Nigeriese partner. “I asked my love for his hand in marriage two weeks ago,” het hy op Facebook geskryf. “Nothing has surprised me more than coming to love this person, who is gentle and has the most generous heart.” Hulle het beplan om die jaar daarna te trou en na Suid-Afrika te trek, waar Wainaina ’n aantal jare deurgebring het, nie net as ’n student nie, maar ook in latere jare as ’n reis- en kosskrywer en sjef.
Wainaina se durf om die Westerse blik op Afrika en Afrikane oop te skryf het die weg gebaan vir ’n nuwe generasie van skrywers. Adichie, Maaza Mengiste, Aminatta Forna en Chika Unigwe is onder meer van Wainaina se tydgenote en vriende wat hom met bewondering onthou ná sy dood. Malaika Adero skryf dat Wainaina in die spore van briljante Swart aktivisskrywers soos Ngũgĩ wa Thiong’o, Toni Cade Bambara, Audre Lorde, Amiri Baraka en Sonia Sanchez gevolg het. “[H]e was moving the movement to the last revolutionary frontier of LGBTQ rights from the diaspora to, yes, the continent of Africa. He began to use his voice — and his gender fluid fashion style — to call for the release of the African imagination, the freeing of our minds…” Ook Ngũgĩ bring hulde aan Wainaina: “He was simply a literary force of nature: He will always be part of our lives.”