Om vrede te maak met die natuur

Om vrede te maak met die natuur

Karabo Poppy se plakkaat vir WePresent se Global Climate Strike-reeks

Aantekeninge van die Amazwi-konferensie oor literatuur, erfenis en ekologie

“I think humans struggle with the meaning of knowledge, often believing themselves to be its sole owners. Might we connect to another way of knowing, in which understanding is derived from watching how life nurtures living? […] No matter what language you speak, a hidden, nurturing world has already discovered you and is already at work with you, whether you know it or not. Humans have already been given the gifts, tools, and potential for this relational knowing and yet this source often goes unacknowledged, because we lack understanding of the sublime intelligence of Nature’s nurturing, the nurturing that becomes the human body, that is the human body.”

Tiokasin Ghosthorse, uit ‘Nurturing Thoughts’

Hoe kan die gaping tussen mense en die meer-as-menslike wêreld oorbrug word? Hoe kan menslike ekosisteme opnuut met die natuurlewe in verbintenis tree deur kuns en literatuur? Wat kan ons by inheemse kennis leer? Is vrede moontlik ná die einde van die wêreld soos ons dit ken? 

Hierdie vrae het die grondslag van die Amazwi South African Museum of Literature se onlangse Amazwi Literature, Heritage and Ecology (LHE) Conference gevorm. Die konferensie is vanjaar in Maart vir die derde jaar in ’n ry aangebied, dié keer met die tema “Making Peace with Nature”. Die byeenkoms het sowat 25 sprekers van regoor die land verwelkom om nuwe konneksies tussen die kunste en wetenskap te ondersoek in reaksie op die sosio-ekologiese kwessies wat ons tans in die gesig staar. 

Die tema is gebaseer op die oorhoofse idee dat die huidige generasie in staat is om “vrede” met die natuur te maak en die verdeeldheid tussen die mensdom en die natuurlike wêreld te genees. Amazwi se fokus op letterkunde en die kunste, erfenis en bewaring, en ekologie en die omgewing skep ’n besonderse interseksionele wegspringplek vir aanbieders om te besin oor die mens se verhouding met die aarde. 

Die Amazwi South African Museum of Literature, voorheen bekend as die National English Literary Museum, is geleë in Makhanda. Die museum is in die 1960’s gestig as ’n bewaarplek vir Suid-Afrikaanse literêre manuskripte. In die jare sedert die ontstaan van die museum het die instelling se mandaat egter uitgebrei na die bewaring van literêre artefakte in alle Suid-Afrikaanse tale. 

Die omgewingsingesteldheid van die Amazwi-organisasie strek verder as die letterkunde en akademie. Die gebou waarin die museum sedert 2016 gehuisves word, het plaaslike geskiedenis gemaak as die eerste museumgebou in die land om ’n 5-ster gradering van die Green Building Council of South Africa te ontvang. Dié gebou is gekonstrueer volgens volhoubare ontwerp- en konstruksiemetodes, onder meer ’n groen landskapdak, energie-doeltreffende elektriese en meganiese sisteme, lae-watergebruik badkamers, herwonne materiale, en vloer- en muurbedekkings wat help om binnenshuise temperature te reguleer om sodoende energie te bespaar. Amazwi herken en erken die probleem aangaande die kommerwekkende hoë koolstofvoetspoor in die boubedryf en verteenwoordig ’n landmerk vir natuurbewuste argiktektuur in openbare ruimtes. 

Die Amazwi-museumgebou in Makhanda is gebou volgens volhoubare ontwerp- en boumetodes.

Die konferensie het afgeskop met ’n aanbieding deur die hoofspreker, Joanne Macgregor, wat met die intrapslag reeds die aandag gevestig het op die Westerse houding om natuurlike hulpbronne te domineer eerder as om in harmonie met die lewende wêreld te leef. Hierdie ingesteldheid op die lewe op aarde het tot ’n reeks ekologiese rampe gelei, waarvan die mensdom daagliks die oes afhaal. Dit is belangrik om te oorweeg hoedat klimaatsverandering en natuurrampe sekere individue en gemeenskappe disproporsioneel beïnvloed — daarom kan die omgewingskrisis nie van sosiale en ekonomiese ongelykheid geskei word nie. Macgregor verwys na die groeiende letterkundeveld, green-lit, as ’n waardevolle medium om ekologiese boodskappe aan kinder- en tienerlesers te kommunikeer. Omgewingsfiksie-skrywers kan lesers help om ekologiese kwessies beter te verstaan deur nie bloot die natuur te skets as “êrens daarbuite nie”, maar deur te herken hoedat die mens inherent deel vorm van die natuurlike ekosisteem. 

Volgens dr Tom Jeffery, hoofkurator van Amazwi, is die konferensie gelei deur die organiseerders se verstaan dat sosiale en ekologiese geregtigheid nouliks verweef is, en dat museums gelyktydig met omgewingsverantwoordelikheid moet optree om waarlik sosiale verantwoordelikheid uit te leef. Jeffery se werk as kurator is gesentreer rondom die dekolonisering van museumpraktyke vanuit ’n sosio-ekologiese perspektief. Hierdie fokus is ook gedemonstreer in sy aanbieding by die konferensie, getiteld ‘Eco-Decolonial Theory and Practice: Revitalising the Agency and Relevance of Museums’.

Heelwat van die navorsing wat by die byeenkoms aangebied is, het te make met inheemse kennis — onder meer Mia Strand, Nina Rivers en Bernadette Snow se ‘Reimaging Ocean Stewardship and Coexistence: Arts-Based Approaches to Highlight Indigenous and Local Knowledge in Marine Governance’; Mbali Marais, Angelique Michaels en Dominique Santos se ‘Healing the Broken Links between People and Nature: Exhibition as Storyteller’; Nompucuko Hluma Zakaza se ‘Amazwi oomakhulu: IsiXhosa Folktales as Viable Stimuli for Environmental Education in Rural Eastern Cape Classrooms’; en Ayanda Mncwabe-Mama se ‘Nursing the Rattling Bones: The Role of Indigenous Archaeology’.

Die literêre belangstellingsveld van ekokritiek was ook ’n prominente tema, soos gesien in Wade Smit se ‘Eco-Centric Isizulu Nature Poetry as Resistance to Climate Change and Environmental Amnesia in Three Collections from 1963’; Tamara Guhrs se ‘Where Elephants Tread: Using Theatre to Re-Story Human-Elephant Relationships’; Dan Wylie se ‘Unsustainable Memory: Ecology and Paradox in Ruth Miller’s Poetry’; Isabel Rawlins se ‘The Tear of the Tortoise: Making Peace with Nature in Carol Campbell’s Third Novel’; Marike Beyers se ‘Of Stones and Mountains: Inner-Outer Worlds in the Poetry of Kobus Moolman’; en Anthea Garman se ‘Shaped by Forests: Richard Powers’ Anthropomorphisation of the Trees of Turtle Island’.

Luister hier na opnames van die aanbiedings. Artikels van dié konferensie sal binnekort op Klyntji verskyn.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Om vrede te maak met die natuur gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand