Antoinette Kellermann, doyenne van Suid-Afrikaanse teater

Ek, Anna van Wyk (2008). Foto’s uit Kunstekaap Argief, tensy anders vermeld

'n Halfeeu op die verhoog in foto's

Antoinette Kellermann is een van die mees gerespekteerde vrouens van die Suid-Afrikaanse teater. Sy is al meer as ’n halfeeu op die verhoog. 

Dit was daarom ’n groot voorreg om onlangs met haar te gesels oor haar indrukwekkende en omvangryke loopbaan.

Antoinette is in Bellville gebore. Sy was van kleins af die entertainer wat daarvan gehou het om mense te laat lag, ’n passie wat deels geïnspireer is deur ’n mimespel wat sy op ’n jong ouderdom gesien het. Haar pa was ook ’n uitsonderlike storieverteller wat haar geïnspireer het. Sy het later besef dat sy eintlik ’n dramatiese aktrise wou wees. Hoewel sy aan die Universiteit van Kaapstad (UK) wou studeer, het haar pa geweier om daarvoor te betaal en sy het uiteindelik haar dramaopleiding aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. Sy het ook opleiding ontvang by ’n drama-akademie wat deur Babs Laker en Suzanne van Wyk begin is. Haar professionele loopbaan het onmiddellik ná haar studies begin, toe sy by die streeksraad – aanvanklik SWAPAC (South African Performing Arts Council) en toe later SWARUK (in die destydse Suidwes-Afrika/Namibië) – oudisies gaan aflê het. Dié ongewone oudisie het in die kapel van ’n begrafnisondernemer plaasgevind, waarna sy ’n eenjaarkontrak aangebied is. As deel van ’n klein geselskap van slegs ’n paar akteurs, was haar heel eerste professionele werk gekenmerk deur strawwe toerwerk waar hulle kinderteater in die oggende en volwassevertonings in die aande aangebied het. Hierdie vuurdoop in Namibië, dikwels onder militêre beskerming weens die destydse Grensoorlog, het die grondslag gelê vir ’n roemryke loopbaan waarin sy later talle toekennings vir haar ikoniese verhoog- en mansrolle sou insamel. (Dít alles lees ek ter inleiding in ’n onderhoud deur Candice van Litsenborgh vir Sarafina Magazine.)

Gedurende die 70’s en 80’s was Antoinette ’n lid van die Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste- (KRUIK-) toneelgeselskap. Sy het al bykans elke teatertoekenning op haar kerfstok vir rolle in produksies soos Hond se gedagte (1988), Kinkels innie kabel (1989), Spoke (1990), Madame de Sade (1997) en Ek, Anna van Wyk (1999). In 2008 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die erepenning vir toneel- en verhoogkuns aan haar toegeken en in dieselfde jaar ontvang sy die Gerhard Beukes-prys vir haar lewenslange bydrae tot die teater. Sy is ook al vereer vir haar werk op televisie (onder meer vir rolle in Known gods, Song vir Katryn en Villa Rosa).

Saam met Andre Roothman in Ek is Simon (1984)

Saam met Marga van Rooy in Ek is Simon (1984)

Saam met George Ballot in En dit was môre (1985)

Saam met Gustav Geldenhuys en Neels Coetzee in Anatomie Titus, fall of Rome (1986)

Saam met Albert Maritz, Rob van Vuuren, Jan Ellis en Chan Marti in Die toneelstuk (2001)

Mees onlangs was sy by die Suidoosterfees te sien in Breyten Breytenbach se ontroerende swanesang Verwelkingslied; voor dit by die KKNK in Atropa: die wraak van vrede.

Tydens ons gesprek kan ons nie anders as om eers oor Breytenbach te gesels nie. Verwelkingslied is vir Antoinette en regisseur Marthinus Basson geskryf. Antoinette werk al vir jare lank saam met beide Breytenbach en Basson. Dit was nie die eerste vertoning van Verwelkingslied nie (dit is sedert 2025 op die planke), maar dit was besonder spesiaal om dit hier by die Kunstekaap te sien (vanjaar in sy 55ste bestaansjaar) – Antoinette, Marthinus en Breyten se verbintenis met dié teater strek ook oor dekades.

In Verwelkingslied speel Antoinette die rol van ’n ouer verhoogaktrise in gesprek met ’n sterwende skrywer (vertolk deur Dawid Minnaar). Dit is vir my noemenswaardig dat Breytenbach se werk volsirkel kom hier in die Moederstad – meer as 50 jaar nadat hy en sy vrou Yolande in 1973 die Sestiger-somerskool aan die Universiteit van Kaapstad bygewoon het. Daar (sy eerste optrede in Suid-Afrika sedert hy in 1960 na Parys is) maak hy omstrede uitlatings oor Afrikaans. “Ons is ’n bastervolk met ’n bastertaal,” sê hy onder meer. “Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so. Ons moet kompos wees, ontbindend om weer in ander vorme te kan ontbind.” 

’n Teaterplakkaat van die eerste projek waaraan Antoinette en Breyten saamgewerk het

Breytenbach se tersaaklikheid en relevansie is egter nie saam met hom graf toe nie (soos Churchil Naudé opmerk). Sy woorde is kompos wat weer in ander vorme ontbind, en hy skryf inderdaad nié toneelstukke “wat niemand wil hê” nie, soos Antoinette se karakter in Verwelkingslied verklaar.

Vir haar was Breytenbach ’n uitsonderlike digter wat lankal baie na aan haar hart lê. Hulle paaie het gekruis in die nasleep van Breytenbach se vrylating uit die gevangenis, en dit was slegs die begin van ’n lewenslange verkenning van Breytenbach se oeuvre. Later sou groot verhoogstukke soos Boklied en Die toneelstuk volg, waar die skrywer en sy vrou repetisies bygewoon het en die vriendskap verdiep het. Die welbekroonde Verwelkingslied is dus die sonsak op hierdie professionele en persoonlike vriendskap. “Dat Breyten dit nie gaan sien nie, maak dit nie moeiliker nie – net meer dringend om reg daaraan te laat geskied,” sê sy. Sy beskou dit as ’n eerbetoon aan ’n man by wie sy bowenal een groot ding geleer het: “Sy liefde vir die taal.”

En dalk is dit die kern van hulle vriendskap – ’n voortdurende soeke na betekenis in die ryk, onpeilbare landskap van Breytenbach se woorde.

Repetisies saam met Breyten

Daar is vir my ’n onvermoë om Breytenbach se werke waarlik te begryp. Dis woorddig, deurtrek van metafore en dit voel dikwels asof hy bo-oor jou kop praat. Dat Kellermann en Minnaar twee van ons beste akteurs is, is daar natuurlik geen twyfel aan nie; ook nie dat hulle die perfekte keuse vir die rolle van die sterwende digter en bejaarde aktrise is nie.

Antoinette meen die produksie verdiep en verryk met elke speelvak: “Die soeke na antwoorde hou nooit op nie.” Sy sê verder dat akteurs so min speelvakke in teaters kry en by feeste in onvriendelike ruimtes speel, “so ’n behoorlike speelvak in ’n regte egte teater is ’n geskenk”.

Verwelkingslied se gestroopte verhoog met lang stukke lap uit die dak waarteen beelde geprojekteer word, dwing jou om regtig te kyk en te luister. Dawid se kostuum – ’n rooi kimono – laat hom baie na Breyten trek, en Antoinette se pikswart kleed, bos silwergrys hare en rooi lippe staan uit bo die monotoonkleure van die stel.

“Dikwels wil mense elke woord of sin verstaan en omdat ons nie meer behoorlik kan luister nie, voel gehore dan dis te verhewe vir hulle,” besin Antoinette. “In der waarheid is die teks vol klein rigtingwysers en wat eintlik tel, is hoe die geheel die toeskouer emosioneel affekteer. Dit het my geraak hoeveel mense die klein komiese of sarkastiese tergery tussen die twee karakters raakgeluister het en dat heelwat mense ontroerd was oor die inhoud.”

Antoinette en Dawid in Verwelkingslied. Foto: Gys Loubser

“My mooiste herinneringe is nie ’n spesifieke produksie nie, maar die verhoudings tussen die tegniese personeel en die vertolkers,” antwoord Antoinette wanneer ek haar vra om terug te dink oor haar gunstelingproduksies oor die jare. “Ons was soos ’n groot familie wat mekaar ondersteun en bemoedig het.”

Sy onthou die kantien in die Kunstekaapteater waar die toneelspelers, balletdansers, musikante en operasangers almal saam geëet en gekuier het. “Die feit dat daar vaste geselskappe was het onderlinge vriendskappe en wisselwerking tussen die verskillende afdelings meegebring,” sê sy. “Ons het mekaar se werk oor en weer gesien en dit het gesprekke uitgelok en sterker bande tussen al die uitvoerende kunstenaars gesmee.”

Antoinette se ongeëwenaarde aanslag tot haar kuns het nog altyd vir my uitgestaan. ’n Paar maande gelede is dit in Oudtshoorn weer aan my bevestig, waar ek haar in Atropa op die verhoog gesien het. Ook in hierdie bekroonde stuk toon sy, soortgelyk aan Verwelkingslied, ’n leeftyd se vakmanskap. 

Verhoogfoto’s van Atropa deur Clifford Roberts (met dank aan Canon vir die leen van die Canon R6)

In Atropa is sy deel van ’n kragtige multigenerasie-rolverdeling wat antieke tragedies met moderne politiek vervleg. Sy speel saam met Anna-Mart van der Merwe, Rolanda Marais, Tinarie van Wyk Loots, Carla Smith en Geon Nel en vertolk die rol van Hekuba (die ou koningin van Troje). Die gevierde Vlaamse skrywer Tom Lanoye se Atropa is veel meer as ’n hervertelling van die Trojaanse Oorlog; dit is ’n radikale aanklag teen moderne magsug, patriargie en geweld. In hierdie produksie eis die vroue van die geskiedenis hul stemme terug met ’n liriese woede wat weerklink teen eeue se stilswye.

Antoinette sê dat twee sulke woordryke en emosionele tekste – Verwelkingslied en Atropa – ’n mens nogal uitput. “Met die laaste opvoering van Verwelkingslied was my tong en my brein vodde.”

Vir my bly Antoinette Kellermann ’n baken van sielvolle spel; iemand wat nie net woorde opsê nie, maar die gehoor toelaat om die “vryheid” van die teks saam met haar te ervaar. En die gordyn is nog ver van sak oor haar teaterloopbaan. 

Ná hulle vertonings by die Vrystaat Kunstefees reis sy en Gerben Kamper Aardklop toe met Liefde, Lafras. En daarna? “Die res is in die hande van die gode.”

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Antoinette Kellermann, doyenne van Suid-Afrikaanse teater gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand