Alle bestaande ordes is tydelik

Anton Kannemeyer en Conrad Botes in hulle tweede jaar op universiteit, 1989. Foto’s verskaf
Celeste Theron wonder steeds hoe en waar om Bitterkomix te plaas
Bitterkomix is vanjaar 34 jaar oud en het einde 2025 ’n nuwe boek uitgebring, Bitterkomix, sketchbooks and journals (hierna BSJ) deur Anton Kannemeyer en Conrad Botes.
Die eerste uitgawe van Bitterkomix het sy verskyning gemaak in die jaar dat die Boipatong-slagting plaasgevind het en FW de Klerk aangekondig het dat daar in 1994 ’n veelrassige verkiesing sal plaasvind. Dit was ook die jaar dat Gerard Sekoto, bekend vir sy beelde van townshiplewe, gesterf het in ballingskap in Parys; die Europese Gemeenskap (die huidige EU) sanksies teen Suid-Afrika begin lig het; en Johannes Kerkorrel sy mees bekende album, Bloudruk, uitgereik het. Slegs twee jaar vantevore het Anton Goosen Houtstok Rockfees geopen met ‘Wit k*ff*rs van Afrika’ vir ’n skare van 20 000 mense. Te midde van hierdie wilde Wit tye van geweld, is Chris Hani ’n jaar later in 1993 vermoor en ontvang FW de Klerk en Nelson Mandela gesamentlik die Nobelprys vir vrede.
In 1988, op die rand van die nuwe Suid-Afrika, ontmoet twee ywerige randeiers mekaar by die Universiteit Stellenbosch tussen lowergroen wingerde. Botes, wat vir my klink soos die cooler een van die twee,* het as ’n “teenage surfer” begin golwe teken in sy vroeë sketsboeke, terwyl Kannemeyer meer in die rigting van Die eerste lewe van Colet gemik het met ’n vals bloemlesing, The complete works of Anton Kannemeyer – wat bestaan het uit ’n roman, kortverhaalbundel, digbundel en erotika. Hierdie bloemlesing van Kannemeyer is geïnspireer deur sy Engels-onderwyser by Paul Roos in standerd 6 en het sy dagboekloopbaan afgeskop. Die tydperk wat in BSJ gedek word, strek van 1991 tot 2025 – met ander woorde, my hele leeftyd.
Van die vroeë 1990’s kan ek niks onthou nie. Een van my eerste herinneringe is waar ek ons land se nuwe vlag wapper in my kleuterskool se reënboogtema-skoolkonsert en my ouers in die kar debatteer of hulle my sal toelaat om my Swart maatjie se partytjie by sy huis by te woon. Terwyl my ouers nog besig was om te wik en weeg, het Anton Kannemeyer en Conrad Botes alreeds vir twee jaar ’n behoorlike gemoedsbekakking in die Afrikanerpsige veroorsaak wat besig was om in duie te stort. Spoiler alert: Ek het die partytjie toe misgeloop.
Met die skuilname, Joe Dog (Kannemeyer) en Konradski (Botes), het hulle hul eerste strokiesprent saam in 1989 gepubliseer in Stet, ’n Afrikaanse anti-establishment- literêre tydskrif. In 1992, gedurende hul eerste jaar van nagraadse studies, verskyn Bitterkomix no 1, ’n satiriese strokiesprenttydskrif. Hulle strokiesprent, ‘Gif (Afrikaner sekskomix)’, word kort ná die eerste demokratiese verkiesing in 1994 verban.
Soms is hulle bygestaan deur die kunstenaar, Mark Kannemeyer (skuilnaam Lorcan White), Joe Dog se broer. Geen heilige koei het die bloedbad oorleef nie. Hulle het alles as teiken geneem, van karakters in Afrikaanse kinderboeke en histories-gevierde Afrikanernarratiewe, tot Anton en Mark se pa, JC Kannemeyer, ’n prominente figuur in die Afrikaanse literêre establishment.
In JC Kannemeyer se boek, Die Afrikaanse literatuur 1652–2004 (2005), onthou hy die 90’s soos volg:
Die groot meerderheid is nie aangetrokke tot die nuwe regering se credo van een geskiedenis, een amptelike taal en een “patriotiese” party nie. Hulle is sonder sterk leiers en organisasies, maar hulle is besig om hul eie besondere gemeenskapsidentiteit te herontdek en te herbeskryf. Dit is ’n identiteit wat gesmee is in komplekse en onstuimige geskiedenis, in hul liefde vir die taal wat hulle praat en hul toewyding aan die pragtige maar harde land waarin hulle woon. Hul uitdaging is om hul geskiedenis reguit in die oë te kyk, om hul liefde vir hul taal en hul land te koester en te vernuwe en om hul kulturele erfenis aan ’n volgende geslag oor te dra. (bl.547–8)
Dit is ook so dat die liefde vir die taal voortgeleef en verander het, en dat JC Kannemeyer sy kulturele erfenis aan sy seun, Anton, oorgedra het. Anton het toe wel ’n nuwe gemeenskapsidentiteit gevorm, saam met Conrad, wat die komplekse en onstuimige geskiedenis reguit in die oë gestaar het met Bitterkomix (heel moontlik tot sy pa se groot spyt). Anton is in 1967 in Kaapstad gebore, ’n jaar nadat Hendrik Verwoerd vermoor is – en vyf jaar nadat Sewe dae by die Silbersteins deur Etienne Leroux gepubliseer is. Die sestigers was Joe Dog en Konradski se Bybel, as jy mooi daaroor gaan dink. Net soos wat ek grootgeword het met Konradski op die voorblad van Art South Africa (in volume 6, issue 4, winter 2008) onder my bed in my koshuiskamer (daar was immers tieties en duiwels op), het Joe Dog en Konradski hulle immertrillende jeug met protesromans deur die sestigers oorleef. Daar is heelwat ooreenkomste tussen die narratiewe struktuur van Bitterkomix en die sestigers, onder andere die buitestaander wat die menigte naamlose gesigte van ’n afstand bestudeer.
Blaai mens deur Bitterkomix se nuwe Sketchbooks and journals, is die invloed van die sestigers opvallend al vanaf die eerste bladsy. In een skets deur Joe Dog is ’n lieflike tekening van Etienne Leroux as ’n pharaoh met die nimlike, half-pornografiese Isis wat bo sy kop dryf, met die woorde: “[L]ove is an angel disguised as lust”. Die seks was nog altyd in die teks wanneer dit kom by Bitterkomix. Joe Dog en Konradski het nog nooit ’n geheim daarvan gemaak dat hulle diep deur Leroux beïnvloed is nie, en noem spesifiek in die boek dat Leroux se Die mugu (1969) ’n groot indruk op hulle albei gemaak het. Op bladsy 3 is ’n skets van Leroux met sy kenmerkende donkerbril waar hy mymer oor die groen vlam.
“Is dit Leroux?” check ek gou met Joe Dog oor ’n WhatsApp.
“Ja! Ek het hom as kind geken. Was by toe hy praat oor die groen vlam.”
Dis belaglik, dink ek by myself.
“Hy was uiters cool. My pa het sy gasvryheid misbruik, ek is bevrees,” gaan hy voort.
“Hoe?” wil ek weet.
“Hy was goeie vriende met my pa. Ons het soms vir twee weke lank op sy plaas gebly. Ek en my broer het die Suid-Vrystaat platgery met sy perde. Elke wintervakansie van my hoërskool.”
Blaai ek weer deur Die mugu op my boekrak, glimlag ek toe my oë oor die eerste bladsy gly:
Die orde dra in homself die kiem van sy eie ondergang. Dis kenmerkend dat alle bestaande ordes tydelik is. Die hoof van elke alternatiewe regeringsvorm, elke opvolgende diktator, elke moontlike staatsvorm is mugu. Elke reorganisasie skep ’n mugu. Die wese van mugu is ongerymdheid. Daarom is die mens mugu. Heimlik soek die mugu altyd die vernietiging van sy muguskap; openlik soek hy begenadiging; ten einde raad is hy bereid om ontvlugting te koop. Sy ontvlugting neem die vorm aan van: blinde aanpassing by die orde, meskalien, alkohol, marijuana of seks. (bl.1)
Ek vra of daar foto’s is wat ek kan sien van hulle vakansies op die plaas, maar Joe Dog moet my op ’n stadium herinner dat hulle boek nie oor Etienne Leroux gaan nie – daar was ander invloede, soos Hugo Pratt, Robert Crumb, Jello Biafra, Patti Smith en Hergé.
Stephen (Etienne Leroux), Abraham de Vries, Daniel Hugo en JC Kannemeyer op Leroux se plaas, Janee
Anton en sy broer, Mark, by die Voortrekkermonument
MESKALIEN, ALKOHOL, MARIJUANA, OF SEKS?
As die sestigers as eksistensialisties beskryf kan word, voel Konradski en Joe Dog se genadelose goddeloosheid meer aan die nihilistiese kant, of sal mens sê bitter?
Wat my opval, is dat die twee kunstenaars en skrywers met soveel erns kon woed oor hulle woedende verset teen die nasionalistiese naaiers wie se smorende liefde vir Afrikaans vir soveel ellende gesorg het. Van my skooldae onthou ek Konradski se werk beter as Joe Dog s’n, meestal uit Art South Africa, VISI en Elle Decor se bladsye. Botes is in 1969 in Ladismith in die Klein Karoo gebore, die jaar toe Die mugu gepubliseer is, en het grootgeword in ’n konserwatiewe Afrikaneromgewing. Sy pa was ’n onderwyser by ’n Afrikaanse skool, en religie, skuld, dissipline en calvinistiese moraliteit sou later sentrale temas in sy werk word.
Selfs as ’n vrypostige tiener het ek nie mooi geweet waar om Bitterkomix te plaas nie. Yes, filosofies-gesproke het ek byklank gevind, die Afrikaner se anargie is mooi gepackage – maar ek kon nie besluit hoe ek voel oor die manier wat vroue uitgebeeld word nie. Do they love or hate women?
“Sex and power are not unrelated, although its recurrence as biological actuality points to a sustained attempt, by Botes and Kannemeyer, to showcase eroticism as an ‘aspect of inner life’, to quote philosopher Georges Bataille, and by so doing to transcend it as a taboo,” lees ek in BSJ (bl.vii).
“Selfs as ’n vrypostige tiener het ek nie mooi geweet waar om Bitterkomix te plaas nie. Yes, filosofies-gesproke het ek byklank gevind, die Afrikaner se anargie is mooi gepackage – maar ek kon nie besluit hoe ek voel oor die manier wat vroue uitgebeeld word nie. Do they love or hate women?”
Wat het jou pa gedink van hierdie vernuwende stem wat Bitterkomix vir Afrikaners gebied het? wil ek by Joe Dog weet.
“Ek en hy het kort ná die ‘nuwe’ Suid-Afrika ophou om met mekaar te praat. Ek het ná 1995 nooit weer met hom gekommunikeer nie, so ek sal nie weet nie.”
Sy antwoord herinner my aan hierdie gedeelte uit Die mugu:
En nou kom ons by die amusantste eienskap van die mugu, ’n kenmerk van sy teenstrydigheid: dat hy telkens vol idealisme ’n orde omwerp en onmiddellik daarna ’n nuwe orde skep. Daar is net een wyse waarop die mugu vernietig kan word: die finale antitese van mugu – ’n onveranderlike mite. Elke mite word gekenmerk deur sy simbole. (bl.1)
ELKE MITE WORD GEKENMERK DEUR SY SIMBOLE
Naas hierdie bemoeienis met mag en seks, openbaar die sketsboeke ook hulle belangstelling in ’n wroegende selfondersoek deur hul onderskeie strokiesprent-alter-ego’s. Konradski en Joe Dog is so painfully self-aware – which was a thing in die 90’s en 2000’s. As mens dink aan ander kunstenaars van daai tyd, soos Tracey Emin (een van die Young British Artists) wat in 1998 haar bed uitgestal het, My bed, wat aan die wêreld ten toon gestel het in watse warboel van bedmaats en depressie sy woeker, besef mens Gen X was lief daarvoor om hulleself in die publiek te kasty – die teenpool van die self-care saga waarmee ons onsself vandag paai. En dan is daar die talle uitbeeldings in Konradski en Joe Dog se werk van teken as ’n daaglikse praktyk.
Ek vra vir Joe Dog of hulle self-aware was voordat self-awareness ’n thing was.
“Ja, nou probeer ek die opposite doen,” laat weet hy. “Raak ontslae van die self.”
“Mens moet nogal ryk wees om te verdwyn,” merk ek op.
“Ja, goeie punt. Ek is gelukkig ryk: My boekversameling is feitlik volledig. Ditto my filmversameling. Al wat my te doen staan, is om dit klaar te lees (of te kyk) in die volgende 30 jaar. Ek koop nie meer nuwe boeke nie, want ek is te bang dis gesensor deur sensitivity readers. Slegs boeke gepubliseer voor 2015. Ditto nuwe movies. Vandat equity ons waardesisteem geword het, is kwaliteit daarmee heen.”
Die sketsboeke en joernale bevestig ook die opkoms van ’n woke-imperium, wat die Amerikaanse geleerde, Christopher Mott, in 2022 gecoin het. “Ek het dit eers nie opgemerk nie,” skryf Botes in BSJ, “maar dit is waarheen dit gegaan het: Niks mag aanstoot gee nie; betekenis moet dof wees” (bl.13). (Alle vertalings van BSJ is my eie.)
In Maart 2016 het toenmalige Suid-Afrikaanse president, Jacob Zuma, tydens ’n byeenkoms in Durban verklaar (my vertaling): “Dit is van kritiese belang om die ontkenning en die neiging om beskuldigings van rassisme af te maak, te beëindig en verdedigende standpunte in te neem. Ons moet ook bewus wees van die feit dat sommige rassiste kuns as ’n vorm van uitdrukking gebruik.” Dié aanval is gerig op spotprenttekenaar, Zapiro, aka Jonathan Shapiro, maar het ook ’n nuwe konsensus rondom identiteit, verteenwoordiging en satire opgesom. Gevolglik is Botes en Kannemeyer deur hul galery gevra om hulle eksplisiete kommentaar te temper. Hierdie onderonsie wat Zuma met Zapiro gehad het, het nie in ’n vakuum ontstaan nie. 2015 is ook die jaar dat die Fees Must Fall- en Rhodes Must Fall-optogte in Suid-Afrika plaasgevind het, en Breyten Breytenbach, David Goldblatt en Diane Victor se werk gesensor is. Kuns is verbrand en vernietig by die Universiteit van Kaapstad en ’n biblioteek is gebom in Durban. (Lees meer hieroor in BSJ.)
Ek dink weer aan Die mugu: “As die mite ten gronde gaan, disintegreer die simbole en herleef die mugu. Want mugu sal die mens bly totdat sy simbole ewig is. En sy mite ewig is” (bl.1).
DAAR IS NET EEN WYSE WAAROP DIE MUGU VERNIETIG KAN WORD
Oor die politieke bewussyn in sy werk, skryf Joe Dog in BSJ:
Daar is baie politieke werk van my, veral in die middelste afdeling, wat die tydperk was toe ek die golliwog in my tekening begin gebruik het. Die gebruik van die stereotipe (en hiperbool, natuurlik – visuele metafore van die satirikus) was om sistemiese rassisme aan te spreek en te kritiseer voordat die term veel trekking gekry het. Vandag lees mense dit as onaanvaarbaar, aangesien ek as “wit” en “cis-manlik” geklassifiseer word, maar op daardie stadium glo ek dit het ’n snaar geraak, veral omdat dit die medepligtigheid van wit liberales uitgewys het. Deesdae neig ’n internasionale gehoor daartoe om wit Suid-Afrikaners as ’n enkelvoudige groep te vereenvoudig; die feit dat sommige van ons apartheid aktief teëgestaan het en gelykheid omhels het, word gerieflikheidshalwe vergeet. (bl.13)
Alhoewel die joernale en sketsboeke bestaan uit wonderlike politieke satiriese juwele, is dit hulle persoonlike lewens wat sagkens deurglip, wat my bybly tussen al die piele. Dit kom veral voor in hulle travel journals – Joe Dog se beautiful klein lewe saam met die kunstenaar, Claudette Schreuders, en hulle kinders. Konradski wat so lief is vir sy vrou, Jeanne Botes, maar steeds eerder by die huis wil skets as om op ’n strand te sit saam met sy familie oor vakansies.
Conrad en Anton in die Oos-Kaap, 1989
Joe Dog sê dit is skaars vir twee kunstenaars om so lank saam te werk soos hy en Konradski. Hy meen BSJ is ’n soort skatkis vir iemand wat regtig in hulle werk belangstel. Met die lees van dié boek, besef mens vinnig dat daar niks ligsinnigs aan Bitterkomix is nie; Joe Dog en Konradski neem hulle craft ernstig op. In ’n onderhoud met Tudor Caradoc-Davies sê Botes: “Ek is nie ’n groot aanhanger daarvan om ’n tekening ’n ‘skets’ te noem nie, want dit klink asof jy net rondgedoemel het. Die tekeninge in ons boeke is ernstig” (bl.9). Kannemeyer stem saam: “’n Skets is nie ’n finale tekening nie. En ’n skets is, na my mening, nie wanneer jy met materiale of verskillende penne en kwaste eksperimenteer nie. Soms is die tekeninge in hierdie boek eksperimenteel, soms het ons dinge uitgetoets om ’n idee visueel te kommunikeer, en dikwels is die tekeninge volledig. Kunswerke in eie reg” (bl.9).
Hierdie stelling kan ek ten volle bevestig. As ’n informasie ontwerp-student in 2009, het ek die voorreg gehad om by Mark Kannemeyer klas te kry vir so ’n paar weke. Ek het dit gelove, maar my projek ietwat afgerammel. Nadat almal hulle werk ingehandig het, het hy my laat weet ek moet agterbly.
“Jy kan beter doen,” het hy droog gesê.
Ek was stomgeslaan.
“Dis nog nie afgerond nie. Ek sal vir jou wag tot jy dit klaarmaak.”
Op ’n Vrydagmiddag het hy daar tot 17:00 vir my gesit en wag om my projek oor te doen. So embarrassing soos wat dit was, het ek myself werklik verdiep in my werk en dit behoorlik ingehandig. Ek het van daar af geweet Bitterkomix is fokken ernstig.
WANT MUGU SAL DIE MENS BLY TOTDAT SY SIMBOLE EWIG IS
In 2020 is verskeie van Anton Kannemeyer se werke van Superbalist en The Artists’ Press verwyder. The Artists’ Press het gesê dat hulle toenemend ongemaklik word met die karikatuuruitbeeldings van Swart figure in sy werk. Volgens gerugte is Bitterkomix ook uit ’n UCT-kursus oor Suid-Afrikaanse cartoons verwyder. In 2019–2020 het Conrad Botes gesukkel om sy boek, The erotic drawings of Conrad Botes, gepubliseer te kry. Hy het dit beskryf as ’n nuwe manier van informele sensuur of “deplatforming”, volgens ’n artikel in Financial Mail. Botes het ook gesê dat hulle doelbewus so “onsensitief moontlik” teenoor die Afrikanerestablishment waaruit hulle gekom het, wou optree. Hierdie debat was belangrik, omdat dit gewys het hoe Bitterkomix steeds dekades ná apartheid ontwrigtend bly.
Ek dink dis van belang om die kont in konteks te plaas wanneer mens hierdie erotiese en satiriese politieke beelde van nader beskou: Bitterkomix het die Afrikaner se aandag gevestig op die skynheilige beginsels wat ons aangeneem het om ons eie belange te beskerm. Die Afrikaner moes ontmasker en ontbloot word. Die afgryslike stereotipes wat uitgebeeld word, het daarin geslaag om die toeskouer te ontnugter en te ontstel. Hopelik het daardie ontsteltenis bygedra tot die ontwikkeling van ’n nuwe morele kompas.
Het ek sopas die term morele kompas gebruik om Bitterkomix te beskryf? As tiener het ek dalk my bedenkinge oor Anton en Conrad se kuns gehad; as volwassene kon ek bietjie verder dink oor die saak.
Een van Botes se kunswerke (op bladsy 52 in BSJ) beeld byvoorbeeld die banaliteit uit tussen insanity en ethics deur moraliteit aan ’n penis te meet. Maar waar is die ethics in Bitterkomix? Dis ’n boere-babe-noir wat afspeel in ’n gruwelike wêreld, en die karakters is nie moreel daaraan verskuldig om hulself visueel aan jou te verklaar nie. Daar is ook oomblikke wat histeries snaaks is, soos wanneer Kannemeyer na sy pa verwys as ’n “literêre reus” wat dan ongevraagd en onemosioneel verskyn uit die blou van onse hemel, of besoedeling blameer vir “decline in penis size” (bl.64). Die humor in die boek is ongenaakbaar en brutaal: “O is for OH MY GOD! OSCAR KILLED REEVA!” (bl.104). Elke Afrikaner-hero word voor jou afgeslag en afgelag – oukei fine, nie net Afrikaners nie – dit geld vir almal. Die karakters klim in jou siel in, omdat jy weet iets hiervan is waar en jy is self onseker waar om die streep te trek.
Die sketsboeke vanaf 2015–2025 is waar dinge werklik ongemaklik raak. Hier, in ’n surprising turn of events, word die selfkritiese en selfondersoekende enkeling die martelaar. Wat is mens veronderstel om te voel? Die penis dien steeds sentraal as die skaal, maar dit is merkwaardig dat al die oopgesperde vaginas van die toneel verdwyn. Is seks nie meer seksie nie; is dit te riskant om verder te neem, of kry die martelaar bloot nou net politieskorrekte-ereksies?
Daar is iets van Ouroboros wat by my wil opkom, maar dalk het ek die slang aan die stert beet. Die selfkritiese enkeling word selfvernietigend. Die boek sluit af met landskappe, portrette en werke wat Anton en Conrad se uiteenlopende tegniek ten toon stel, maar ook hulle onwrikbare verhouding as kunstenaars en vriende oor die verloop van 35 jaar. Daarmee kom iets kosbaars en weerloos. Nee, julle is nie “cancelled” nie; ek dink nie cancel culture bestaan meer nie. Kultuur kan sekerlik nie gekanselleer word nie. Die fyngevoelige landskaptekeninge en pragtige voëls laat my wonder: Sit hulle nou met hulle verkykers op die stoep, dalk op soek na ’n ander tipe voël?
Deurdat ek deur die hele Bitterkomix-oeuvre gewerk het in hierdie boek, blyk dit egter dat hulle nie evolve het nie, en dit is hoekom Bitterkomix dikwels as problematies beskou word. Hulle het hul doel reeds in die 1990’s bereik en het daarna nie aangepas by die huidige epog nie. Sedertdien is daar vir my geen vooruitgang nie. Wat die debat van die laaste paar jaar veral ongemaklik maak, is dat Bitterkomix nie die kritiek wat teenoor hulle uitgespreek is, kon hanteer nie, in vergelyking met wat hulle uitdish. Hulle is dus fyngevoelig en sensitief vir kritiek, maar tog is dit al wat Bitterkomix doen: om kritiek te lewer.
Wat hierdie boek wel reggekry het, is om my slapelose nagte te gee deur my te laat wonder waar sit my morele kompas: Hoe voel ek oor elke snippet wat so snedig en kompleks bedien word? Party mense sou kon sê dit is ’n meesterstuk van vertwyfeling.
“Deurdat ek deur die hele Bitterkomix-oeuvre gewerk het in hierdie boek, blyk dit egter dat hulle nie evolve het nie, en dit is hoekom Bitterkomix dikwels as problematies beskou word. Hulle het hul doel reeds in die 1990’s bereik en het daarna nie aangepas by die huidige epog nie. Sedertdien is daar vir my geen vooruitgang nie.”
Voordat ek die gesprek afsluit, moet ek eenvoudig by Joe Dog weet: Hoe voel jou kinders oor jou werk?
“Toe hulle klein was [op laerskool] het ek gesê hulle moet tog om godsnaam nie Bitterkomix lees nie. Nou is hulle beide klaar met skool en wil dit nog steeds nie lees nie. Fok weet.”
Dit is immers soos Konradski in BSJ skryf: “In ’n wêreld waar mense obsessief is oor hoe hulle in die samelewing gesien word, is dit belangrik om te verstaan dat ons almal dinge verskillend sien” (bl.15).
*Naskrif: By navraag het Joe Dog my laat weet daar is ’n paar factual foute met die artikel. “Ek is cooler as Conrad, ons sal seker cool moet definieer ... Hy is beslis meer relaxed as ek.” Tydens die tyd van publikasie kon ek nog nie Konradski in die hande kry om dit te bevestig nie.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Alle bestaande ordes is tydelik gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.



