Stuff matters and moves

Grafika: Olivia Loots
Handgemaakte lappieskomberse en ander sentimentele goeters in die Antroposeen
’n Bewustheid van verganklikheid staan sentraal in my verstaan van die wêreld al vandat ek kan onthou. ’n Tipe openhartigheid teenoor die sikliese, die kom en gaan van tye, mense, voorwerpe. Ek moes myself leer – en leer steeds – om te laat gaan. Te groet. Te aanvaar dat verlies en verandering op praktiese maniere in my lewe uitspeel, nie net ’n konsep is waarmee ek okay moet wees nie.
Daarteenoor het ek ook nog altyd hierdie neiging gehad om goed te dokumenteer en argiewe daarvan te skep en te organiseer. Ek is goed met herrangskik en hergebruik – tydskrifuitknipsels, ou serpe, gedigte of lirieke, papiersakke, ’n leë olyfolieblik – om nuwe verbande te smee wat nie voorheen daar was nie. Deur die jare het ek ’n onuitputbare belangstelling ontwikkel in wat op kruispaaie gebeur waar dinge soos verbeelding, voorwerpe, woorde, herinneringe en mense mekaar ontmoet.
My PhD is gebore uit so ’n kruispad van onderwerpe: my lewenslange bekoring met die stories wat gewone voorwerpe vertel en ’n latere, tog skielik dringende bewustheid van die onbegryplike spoed waarteen die planeet deur menslike aktiwiteit afgetakel word. Terugskouend besef ek dat my belangstelling in geheuevoorwerpe (fisiese voorwerpe wat mense bewaar om hulle te herinner aan ’n mens, plek, of tyd uit die verlede) en omgewingskwessies, veral rommelstrooiing, waarskynlik uit dieselfde bron spruit: ’n nuuskierigheid oor die rol, stories en verganklikheid van groot en klein stuff in die wêreld. Goed is nooit net goed nie; dit dra merke van tyd, plek en presence daarin.
Baie belangrike nota voor ek aangaan: Omgewingsbewustheid en geheue is altwee onderwerpe waaroor ons nie kan praat sonder om te erken dat daar ’n lang ras-, klas- en genderspesifieke geskiedenis hiermee gepaard gaan nie. Trouens, rassisme, diskriminasie en onderdrukking is dikwels in die literatuur sentrale temas in hierdie onderwerpe. Ek het my proefskrif geskryf vanuit my posisie as ’n Wit, middelklas vrou in my (toe) laat twintigs, wat voorregte het wat baie mense van my ouderdom en geslag, in Suid-Afrika en wêreldwyd, nie het nie. Die lewensvormende geleenthede wat ek het, skep ongetwyfeld my posisie in die samelewing, en ek verbind my daartoe om hierdie kapasiteite te gebruik om die wêreld ’n meer regverdige plek te probeer maak.
Ek was gelukkig om twee with-it studieleiers* te hê wat met genuine meelewendheid ingestem het dat ek ’n studie aanpak waarin ek hierdie twee uiteenlopende onderwerpe somehow bymekaar probeer trek. (Soos ek my in die literatuur verdiep het, het ek minstens 30 tekste gevind wat die kruispunt tussen geheue en omgewingsake ondersoek. Die oudste hiervan is in 2011 gepubliseer. So ek was op ’n akademiese kronkelpad wat darem al ’n paar voetslaners ontmoet het.) My studieleiers het ook nie geblik of bloos toe ek met die titelvoorstel “Stuff matters and moves” aankom nie. Dis twee akademici – alreeds ’n ryk multidissiplinêre tweeluik: een wie se werk grootliks in ekokritiek gewortel is en die ander met ’n indrukwekkende agtergrond in (kuns-) geskiedenis en argivering – wat my obsessie met die alledaagsheid en aardsheid van voorwerpe regtig verstaan het. Ek’t aan hulle verduidelik: Stuff maak saak (matters), omdat dit iets beteken, iets bydra en iets te sê het oor hoe ons die menslike toestand en ons verhouding met die nie-menslike wêreld verstaan en skep. Stuff beweeg (moves), omdat dit nie tot kategorieë ingeperk kan word nie. En soos Nataniël (of meer onlangs Aletta Francina de Kock) deur ’n kanttafeldoek of goeie camembert gemove word, so move stuff mense ook – die graad natuurlik afhangend van die stuff en afhangend van die mense.
Die vraag wat my navorsing onderlê het, was eenvoudig: Verander ons verhouding met ons geheuevoorwerpe wanneer ons meer omgewingsbewus raak? Ons leef in ’n tyd waarin menslike aktiwiteite die planeet op ongekende maniere vervorm, dikwels die Antroposeen genoem. Ek het ondersoek hoe ’n bewustheid van hierdie ingrypende omgewingsveranderinge wat deur die mens aangevuur word, ons maniere van dink oor voorwerpe beïnvloed. Ek het die navorsing vanuit nuwe materialisme en montageteorie (assemblage theory, soos voorgelê deur die Franse duo, filosoof Gilles Deleuze en psigoanalis Félix Guattari) benader. Volgens montageteorie bestaan die wêreld minder uit afsonderlike elemente en meer uit dinamiese veranderende netwerke van mense, voorwerpe, idees, sisteme, ruimtes en emosies wat mekaar beïnvloed. In die oorspronklike Franse weergawe van A thousand plateaus (1980) gebruik hulle die begrip agencement – in Engels as “assemblage” vertaal (en in Afrikaans as “montage”, grootliks te danke aan Willem Anker).
In so ’n montage is geen element ooit werklik passief nie; dit bestaan as deel van ’n groter geheel waarin betekenis voortdurend gevorm en hervorm word deur al die elemente wat daarin voorkom. Ek’t oor die 400 bladsye geskryf en geteken (aan die hand van datavisualiserings) om hierdie vraag te beantwoord. Ek deel hier ’n paar kernpunte.
“Stuff maak saak (matters), omdat dit iets beteken, iets bydra en iets te sê het oor hoe ons die menslike toestand en ons verhouding met die nie-menslike wêreld verstaan en skep. Stuff beweeg (moves), omdat dit nie tot kategorieë ingeperk kan word nie.”
Ek’t 21 Suid-Afrikaners wat hulself as omgewingsbewus beskou (wat ek ook bevestig het met behulp van Sánchez en Lafuente se vierledige model), opgespoor om met my te gesels. ’n Kombinasie van millennials wat in Johannesburg, Pretoria en Kaapstad woon. Ek het hulle in hul huise ontmoet. Ek’t vrae gevra oor hulle verstaan van en verhouding met 1) omgewingsbewustheid en 2) sentimentaliteit en geheuevoorwerpe. En ná ons oor hierdie twee onderwerpe gepraat het, het ek die twee bymekaargetrek en die vraag wat ek hierbo genoem het, aan hulle gerig: Sedert jy meer omgewingsbewus geraak het, hoe het jou verhouding met jou geheuevoorwerpe verander? Sommige het vir ure gesels, ook lang stiltes ingenooi soos hulle dink, onthou, verbeel. Party het hulle voorwerpe netjies op ’n tafel uitgepak voor my aankoms; ander het my deur die loop van die onderhoud na verskillende ruimtes geneem – kombuis, of slaapkamer, of tuin, of elders – om voorwerpe daar vir my te wys.
Wanneer ’n nuwe element by ’n bestaande montage ingeprop word, kan dit gesetelde verhoudings ontwrig of verskuif. Hierdie proses van verandering staan in Deleuzo-Guattariaanse terminologie bekend as deterritorialisering. Deur die semi-gestruktureerde onderhoude het ek ondersoek hoe die deelnemers se verhouding met geheuevoorwerpe (’n stabiele montage) moontlik verander (of gedeterritorialiseer word) soos hulle omgewingsbewustheid toegeneem het. Deelnemers het hulle verhouding met hul geheuevoorwerpe binne die konteks van hulle omgewingsbewustheid op uiteenlopende maniere ervaar. Dit het duidelik geword dat hierdie verhouding vir sommige verander het, vir ander onveranderd bly en vir baie iewers tussenin geval het.
Vir Susanna (alle skuilname is deur die deelnemers self gekies) was daar geen gevoel van teenstrydigheid tussen omgewingsbewustheid en sentimentaliteit nie; dit “pla my nie”. Nicholas “skei [...] die twee sake van mekaar”. Mary het die twee as “versoenbaar” beskryf, terwyl Mo gevoel het dat hulle mekaar selfs “voed”. Vir Hibiscus kon die twee glad nie van mekaar losgemaak word nie. Chris en Benjamin het aangedui dat hulle verhouding wel verander het, maar hoofsaaklik ten opsigte van foto’s en nie noodwendig ander voorwerpe nie. Earl het ’n verband getrek tussen “om pret te hê” en die skep van herinneringe op ’n manier wat ook omgewingsvriendelik kan wees. Vir Harry was die verhouding nuanced, en Frances het dit beskryf as ’n spektrum waarbinne ’n mens jou verhouding tot voorwerpe vind. Hellen het gevoel dat sterk emosies oor die omgewing en sterk emosies oor voorwerpe nie noodwendig in konflik hoef te wees nie.
In so net oor die 60% (13 uit 21) van die gevalle waar deelnemers wel ’n verandering ervaar het (al was dit soms subtiel), het vier breër verskuiwings na vore gekom. Eerstens het sommige deelnemers – soos River, Earl, Benjamin, Cynthia, Harry, Mary, Lolo en Sammy – aangedui dat omgewingsbewustheid die plesier van verantwoordelike hantering van geheuevoorwerpe verhoog het: Om minder goed te besit, of dit verantwoordelik weg te gee, of te hergebruik het selfs ’n gevoel van bevrediging gebring. Tweedens het deelnemers soos Jack, Alta, Chris, Rainman en Sammy ’n verskuiwing in waarde ervaar: Omgewingsbewustheid het die waarde van sekere voorwerpe verhoog óf verlaag, en sodoende hulle verhouding daarmee verander. Derdens het sommige deelnemers soos River en Jack die grens tussen “slegs sentimentele” en “slegs funksionele” voorwerpe begin verslap. Laastens het Lolo en Hellen aangedui dat omgewingsbewustheid hul begrip van wat as ’n geheuevoorwerp tel, verfyn of herdefinieer het.
Sommige temas het herhaaldelik in die gesprekke opgeduik en ’n groot deel van die studie het daaroor gegaan om hierdie temas te groepeer, te analiseer en te bespreek. Ek het verskeie tropes opgetel: 1) Deelnemers dink dikwels nog in dualismes (mens teenoor natuur, menslike teenoor nie-menslike en so aan); 2) hulle ervaar ’n spanning tussen plesier, skuld en verantwoordelikheid; 3) die waarde van ’n voorwerp kan wissel tussen “kosbare herinnering” en “vullis”; 4) hulle het oor die algemeen ’n sterk bewustheid van verganklikheid; en 5) familiebande en erfenis speel ’n sentrale rol in hoe voorwerpe betekenis kry. (Jy kan oor elkeen in my proefskrif gaan lees.)
Stuff is nie passief nie
Westerse modernisme het koorsagtig grense tussen goed getrek om orde te probeer skep: self/ander, menslike/nie-menslike, Wit/Swart, kultuur/natuur, man/vrou, aktief/passief (met eersgenoemde in elke geval die voorkeurtoestand). Dit het daartoe gelei dat baie mense, ook vandag, gewoond is daaraan om te dink dat mense agentskap het en dinge bloot bestaan vir ons gebruik. Die geesteswetenskappe en subvelde soos environmental humanities wy wesenlike aandag daaraan om hierdie rigiede (tog hoogs malleable en angstige grense) te interrogate.
Dink aan ’n kombers wat jou ouma vir jou aanmekaargestik het (6 van die 21 deelnemers het komberse uitgelig – naas foto’s en meubels, is dit die mees algemeen genoemde geheuevoorwerpe in die studie). Op die oppervlak is dit net materiaal, garing, kleure, tekstuur. Maar dit bestaan binne ’n netwerk van familieverhoudinge, herinneringe, verhale, waarskynlik ook ’n pertinente reuk, ’n verlange of ander emosies. Die kombers doen iets aan die persoon wat dit vashou. Dit wek reaksies en beïnvloed besluite; dis nie passief nie. Dit beteken nie dat voorwerpe mense beheer nie. Dit beteken bloot dat ons voortdurend deur materiële dinge beïnvloed en geshape word, net soos ons voorwerpe se waarde beïnvloed en shape. Die nuwe materialisme neem hierdie idee ernstig op. Dit vra hoe fisiese dinge deel word van die prosesse waardeur ons betekenis skep.
Een van die studie se duidelikste voorbeelde waar omgewingsbewustheid geheue beïnvloed, was in Chris se geval. Chris is ’n eerstegenerasie-graduate en het kort voor ons onderhoud in 2020 sy meestersgraad verwerf, ’n etnografiese studie oor rommelstrooiing en onwettige storting in townships. Sy drie grade is sy sentimenteelste besittings. Daarnaas is daar ’n foto van hom en sy ouer sussie, wat sowat 20 jaar gelede geneem is, toe hy omtrent vyf jaar oud was. Hulle staan teen ’n agtergrond van heldergeel kannalelies met ’n grasperk en bome in die agtergrond. Chris verduidelik dat dit in Hexagonpark in Komani (voormalige Queenstown), waar hy grootgeword het, geneem is: “It looked beautiful in the picture but now it doesn’t look like that [because] this background doesn’t exist anymore.” Toe ek vir hom vra of sy verhouding met die foto verander het nadat hy meer omgewingsbewus geraak het, het hy lank gedink. Hy het sy stilte onderbreek met die opmerking: “That’s tough”, en toe nog ’n rukkie gedink. Uiteindelik het hy verduidelik dat hierdie twee begrippe vir hom onlosmaaklik verweef geraak het:
Yes, it has [changed]. [H]ad it not been for my environmental consciousness [...] that picture would not be of sentimental value. [...] It would’ve been [...] just another picture for me, because it would not have had an impact. Hm. [...] I think, had I not been someone who was environmentally conscious at the time [of looking at the picture again], I don’t think that my relationship with that picture would’ve changed. But it’s changed because I am, and was, environmentally conscious at that particular point.
’n Skynbaar gewone kleintydfoto het iets anders geword. Toe hy dit weer sien, het die emosionele trefkrag van ’n park wat nie meer dieselfde lyk nie, hom opnuut geraak, en die verhaal wat dit dra, het selfs sy nagraadse navorsing begin beïnvloed. Wat eens bloot nog ’n foto kon wees, het ’n sentimentele voorwerp geword, juis omdat hy dit deur die lens van sy omgewingsbewustheid begin lees het. Die foto is dieselfde, maar sy verhouding met dit wat deur die blomryke agtergrond gesimboliseer word, is verbreed deur sy bewustheid van omgewingskwessies.
Hierdie onstabiliteit is juis wat montage as ’n konsep help verduidelik. Dinge bestaan nie binne vaste kategorieë nie. Hulle verkry betekenis deur hul verhoudinge. Wanneer die verhoudinge verander, verander die betekenis ook.
Die onmoontlikheid van "weg"
Die klimaatkrisis word dikwels beskryf in terme van statistieke oor koolstofvrystellings, temperatuurverhogings en dies meer. Die invalshoeke is natuurlik belangrik, maar daar is ook ’n meer intieme kant daaraan. Dit gaan oor die dinge waarmee ons leef, wat ons hou, wat ons weggooi, wat ons erf, wat ons agterlaat. Wat my opgeval het, was dat omgewingsbewustheid dikwels deelnemers se verhouding met hulle goed meer ingewikkeld gemaak het. Skielik gaan dit nie meer net oor die sentimentele of emosionele waarde van die voorwerp nie. Nou gaan dit ook oor materiaal self wat vrae ontlok soos: Waar gaan hierdie ding eindig? Kan dit herwin word? Hoeveel hulpbronne het dit gekos om dit te maak? Wat beteken dit om dit weg te gooi? Die gevolg is dat voorwerpe terselfdertyd geheuevoorwerp én afval kan wees. En dit is waarom die grens tussen herinnering en rommel ook so moeilik is om te trek.
Hierdie spanning word verder sigbaar in hoe deelnemers oor weggooi praat. Want waar is “weg”? Wanneer ’n voorwerp weggegooi word, verdwyn dit nie. Dit skuif net na ’n herwinningsfasiliteit, ’n tweedehandse winkel, iemand anders se sitkamer, af die grond in, op die atmosfeer in, of soos die oorgrote meerderheid van ons land se rommel, na ’n stortingsterrein.
Ons leef in ’n tyd van materiële oorvloed, maar ook van toenemende bewustheid van die koste daarvan. Ons weet van plastiek in oseane, illegal dumping en klimaatverandering. Tog bly ons lewens vol voorwerpe wat betekenis dra: jou ma se teekoppies, jou ou dagboeke, foto’s saam met jou oorlede vriend, jou kinders se tekeninge. Hierdie spanning maak die onderskeid tussen herinnering en rommel moeilik. ’n Voorwerp beweeg voortdurend tussen kategorieë: erfstuk, hoarding, herwinbaar, upcycled kuns, kaggelkakkie, ensovoorts. Dieselfde ding kan op verskillende tye kosbaar of waardeloos wees. Dit kan terselfdertyd sentimenteel en lastig wees, funksioneel en onnodig, treasure and trash. (Selfs digitale herinneringe ontsnap nie aan hierdie logika nie. Foto’s in die Cloud bestaan steeds op fisiese servers wat energie en hulpbronne gebruik. Omgewingsbewustheid maak hierdie netwerke sigbaar en wys hoe elke “onsigbare” stoorplek deel is van groter stelsels van produksie en afval.) In Deleuze en Guattari se terme word nuwe verbindings voortdurend geskep: Omgewingsbewustheid word by ’n bestaande montage ingeprop en die hele spul wikkel soos ’n spinnerak waarin ’n mot ingevlieg het. Die betekenis van voorwerpe en die aksies wat hul teenwoordigheid teweeg bring (of inhibeer), word duideliker.
Daar’s ook interessante teorieë oor die geheue van die aarde. Party teoretici het al voorgestel dat die aarde haar eie geheue het en dat mense (lees: bevoorregte mense in patriargale, kapitalistiese, rassistiese sisteme met die meeste mag) so ’n profound impak op die aardkors het, dat ons as ’n herkenbare geologiese laag gaan agterbly wanneer die mens nie meer bestaan nie. (Dis ook eweneens moontlik dat die aardbol net in ’n moerse skoenboks onder ’n alien se bed bestaan naas voorafgenoemde alien se ander sentimentele voorwerpe. Anything is possible.) Die punt is: Die skaal waarop montages vorm en hervorm wissel van die verhouding tussen jou en jou gunstelinghemp, tot die verhouding tussen al die lewende en nie-lewende dinge op hierdie planeet en verder.
Omdat ek nou al ’n dekade styf aan omgewingsprobleme vasgewerk is en vrae rondom geheue my altyd sal fassineer, bevind ek my gereeld in gesprekke waar een van hierdie twee temas ter sprake kom, en as ek gelukkig is, soms in dieselfde asem (geek that I am).
“Dis ook eweneens moontlik dat die aardbol net in ’n moerse skoenboks onder ’n alien se bed bestaan naas voorafgenoemde alien se ander sentimentele voorwerpe. Anything is possible.”
’n Onlangse uittog na AfrikaBurn as voorbeeld: Een van die event se 11 guiding principles is “leave no trace”, wat kortom aan feesgangers gekommunikeer word as: Wanneer jy vertrek, neem jou Moop saam. Moop? Matter out of place – enige ding wat nie andersins natuurlik in die Tankwa Karoo sou voorkom nie: plastiekverpakking, koffiemoer, sigaretstompies, glitter, gebreekte tentpale, skottelgoedwater (not kidding), die papiersakkie waarin jy jou dagga aangebring het, whatever. Ons groepie vriende vra ons af: Waar lê die grense van Moop? ’n Moontlike antwoord, soos tydens my PhD bevind, kom by my op: Dis ’n kwessie van waarde. Op die eerste dag van die fees begrawe iemand meticulously ’n bierblik met ’n wens-aan-myself-briefie daarin om op die laaste dag weer uit te grou. Vir iemand anders is dit net Moop. Ons heg waarde aan stuff, omdat dit knope in ons bestaan word – verbindings tussen tyd, plek en ervarings. Daardie waarde is nie stabiel nie, want stuff hou aan matter en stuff hou aan move. Ek raai dit gaan so aanhou solank die mens bestaan, en daarna? Dalk steeds.
NOTAS
As jy verder wil lees, my proefskrif is hier te vinde. As jy eerder verder wil gesels, stuur vir my ’n e-pos: olivialoots123@gmail.
Die moederidee agter die titel van my proefskrif kom van Maurizia Boscagli se boek Stuff theory: everyday objects, radical materialism (2014).
Een van my wegspringpunte vir die studie was Deel III van Memory in the twenty-first century: new critical perspective from the arts, humanities and sciences (2016), ’n nuttige boek saamgestel deur Sebastian Groes.
Kathryn Yusoff se boek A billion Black Anthropocenes or none (2018) pak die gesprek oor die nabyheid van Swart liggame aan omgewingskade aan sonder om te skroom.
Mary Douglas se Purity and danger (1966) gee die lowdown van matter out of place. Daar’s intussen heelwat daaroor geskryf, maar dis ’n belangrike draadjie in die groter web.
*My hectic cool studieleiers is Bibi Burger en Lize Kriel. (Hier is sommer weer ’n dankie ... Dié komposhoop vol idees verhit nog al die pad!)
Hierdie artikel is gebaseer op die skrywer se nagraadse navorsing en vorm deel van die Klyn Akademie-projek, aangebied in samewerking met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Stuff matters and moves gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.




