Willem Anker: 'Miskien is dit reeds te laat'
Die skrywer oor sy nuwe roman, Skepsel, en wat ons moet leer voor ons 'die hele planeet opneuk'
Die bekroonde Afrikaanse skrywer Willem Anker se derde roman Skepsel (2020, Queillerie) is ’n kragtige teks teen die agtergrond van die huidige globale gesondheidspandemie. Daar word bevraagteken wat dit beteken om ’n mens tussen ander mense te wees en wat die mens se verhouding met tegnologie en die natuur behels. Hierdie vrae is verweef in die roman en dit word uitgelig deur die stories van drie karakters.
In die eerste storie keer Rebecca, wie se storie in die derdepersoon vertel word, terug na Suid-Afrika vanuit Nederland om by haar sterwende pa in die slimhuis wat hy gebou het, te woon. Die slimhuis is propvol pratende voorwerpe, plante wat vir hulself water gee en ’n kunsmatige-intelligensieprogram (AI-program) met die naam Pris. ’n Genderlose cyborg in die tweede storie, wat met ’n olieskip trou, se verhaal word in die tweedepersoon vertel en ’n navorser in die derde storie wat beendere ondersoek in Svalbard, wie se minnaar verdwyn, praat met die leser in die eerstepersoon.
Die manier waarop ons omgaan met voorwerpe in die wêreld met die verstandhouding dat hulle “lewens van hulle eie” het, word deurlopend in die roman verken. Ons sien dat Rebecca ’n averse reaksie teenoor die slimhuis het wat verweef word met haar persoonlike lewe, maar ons sien ook dat Sulla Čapek, die cyborg waardeur objektum-seksualiteit (om seksueel aangetrokke te wees tot objekte) verken word, juis méér betrokke wil raak by ’n masjien.
Die boek herinner aan nuwe materialisme, waar die mens-natuur of mens-ding dualisme afgebreek word. Nuwe materialisme het te make met die idee dat die mens nie apart bestaan van die omgewing nie en nie so anders is as die dinge waarmee ons omring word nie. Die invloed wat ons op die wêreld het en die wêreld se invloed op ons, is wedersyds. Dít gee agentskap aan objekte. “Hoeveel sampioene moet hulle drade in hom stoot, hoe ver moet sy lyf insak voordat hy volledig ontbind is, voordat hy iets anders word as Henk?” vra Rebecca byvoorbeeld oor haar pa (bl. 288).
As alles so verweef is met mekaar, wat maak ons dan mens? Bo en behalwe dit, aangesien alles so verweef is met mekaar, is dít wat ons aan die natuur en aan die wêreld rondom ons doen, nie onafhanklik van ons eie bestaan nie. Die gevolge wat menslike aktiwiteite op die natuur het, bly nie geïsoleerd in die natuur nie, daardie effekte raak ons. Verder bestaan die moontlikheid dat dit wat ons tegnologie toelaat om te doen ons fundamentele ervaring as mense beïnvloed.
Die idees en situasies wat in Skepsel vorming kry, voel vreemd, maar tog is dit nie wensdenkery of doomsday-voorspellings nie. Die gletsers wat ons waarsku oor die toekoms, voorwerpe wat met mense praat, robot en mens wat een word en ’n wêreld wat stadig besig is om te disintegreer — of dit nou vanweë ’n virus, politiek of ’n skeiding tussen die mens en die natuur is — al hierdie dinge is die werklikheid; dis óns werklikheid. In Skepsel word daar uitgewys hoedat hierdie apokaliptiese wetenskapfiksie-verskynsels waaraan ons nie noodwendig genoeg aandag skenk nie, sekere implikasies inhou vir individue — hetsy dit prakties of eksistensieel is, en of die geaffekteerdes daarvan bewus is of nie. In ’n vroeër onderhoud het Anker aan Murray La Vita vertel dat hierdie roman vir hom “soort van ’n verkenning van sekere goed; ’n verkenning van sekere maniere van leef of wees” is.
Skepsel word deur Siegfried (2007) en Buys (2014) voorafgegaan, waarvan die laasgenoemde se Engelse vertaling Red Dog (2019) die kortlys vir die 2020 Internasionale Booker-prys gehaal het. Ek het met Willem gesels oor die verhouding tussen mense en dinge, oor tegnologie en wat ons verstaan van onsself vir die planeet beteken.
INGRID: Volgens die erkennings in die boek is die sin: “In brief, Daloway’s theory was that man hadn’t discovered oil, but that oil had found man,” uit Fritz Leiber se kortverhaal ‘The Black Gondolier’, die ontstaansrede vir Skepsel. Wat omtrent hierdie aanhaling het die meeste uitgestaan en hoekom was dit vir jou so invloedryk?
WILLEM: Die agentskap van iets soos olie is wat vir my uitgestaan het. Hoe dinge as’t ware lewens van hulle eie het, in die sin dat hulle baie meer agentskap het as wat ’n mens sou dink.
“Ek sê jou, there’s a ghost in the machine.”
“But does it matter? Would it really matter if I was an android or a really good-looking zombie? Just use it for what it’s for an appliance. And if it cracks a joke while making coffee, don’t get all existential about it” (bl. 295).
INGRID: In Skepsel sien ons die averse reaksie wat Rebecca het teen die tegnologiehuis wat verweef word met haar persoonlike lewe, maar ons sien ook Sulla Čapek wat juis méér betrokke wil raak by ’n masjien. Dink jy die mensdom is besig om te beweeg in een of die ander rigting? Raak ons meer agterdogtig jeens tegnologie of is die volkome omhelsing daarvan in sig?
WILLEM: Ek dink daar word in beide rigtings beweeg, met sommige mense wat ekstreme posisies na albei kante toe inneem. Albei is interessant om in fiksie te ondersoek en met die karakter van Sulla wou ek die een ekstreme pool verken. Rebecca se aversie jeens die slimhuis het meer te make met persoonlike issues as ’n agterdog teen tegnologie.
INGRID: Dit is dan juis in hiérdie tyd waar daar ’n tipe stock take van menslike bestaan plaasvind danksy Covid-19, waar hierdie vrae al hoe meer relevant word. Ek dink aan Elon Musk aan die een kant en omgewingsbewegings soos Extinction Rebellion aan die ander. Musk is ’n voorstaander van die idee dat vinnige en aanhoudende tegnologiese ontwikkeling nodig is vir die voortbestaan van die mens, terwyl die mense van Extinction Rebellion, ’n beweging wat in 2018 in Engeland begin is, vra vir ’n radikale sisteemverandering waar mense juis toegelaat moet word om wég te beweeg van die effek wat tegnologie en kapitalisme op hulle lewens het, om sodoende nader te beweeg aan ’n eenvoudiger bestaan, in voeling met die natuur. Skepsel is die eerste Afrikaanse roman wat direkte melding van Covid-19 maak.
WILLEM: Die virus is nie noodwendig ’n vertrekpunt vir die stories of die spilpunt waarom die stories wentel nie, maar die aanvanklike uitbreek van die virus was ’n deel van die leefwêreld waarin en waartydens die storie afspeel wat ek nie kon ignoreer nie. My ingesteldheid teenoor die virus, toe dit ernstige afmetings begin aanneem het tydens die afronding van die boek, was ’n gevoel van onwerklikheid. Dit voel nog elke dag vir my vreemd om ’n masker aan te sit wanneer ek die huis verlaat. Miskien moet ek net meer uitkom? Of miskien juis nie?
INGRID: Is die manier waarop ons skryf en literatuur verstaan anders ná die uitbreek van Covid-19? Indien wel, hoe? Hoe sal jy wil sien daar geskryf moet word oor die virus, of wat wil jy juis nié sien nie?
WILLEM: Daar was nog altyd goeie (en slegte) boeke geskryf oor, en tydens, krisistydperke in die geskiedenis. Ek het ’n artikel gelees waarin iemand beweer dat die Groot Virusroman nie nou al geskryf moet word nie – dat ons moet wag op perspektief. Dit is die een kant van die argument, dat ons nou nog te midde daarvan is en nie die nodige afstand daarop gekry het om goeie kuns daaroor te pleeg nie. Dit is ’n geldige argument, maar wie weet, miskien is iemand daarbuite besig met ’n fantastiese boek of fliek met die virus as hoofakteur.
“Dit is hy, een onreduseerbare objek, wat my aantrek. Ek objektiveer hom en ek is okay daarmee.” (bl.103)
INGRID: In Skepsel word daar geskryf oor die beendere wat ondersoek word deur argeoloeë: “Daar is één ding hier begrawe, één objek wat nie reduseerbaar is tot sy dele nie.” Is daar ’n punt waar die objekte en dele van mekaar geskei kan word, of is alles wel te verweef en afhanklik van mekaar om as apart gesien te word?
WILLEM: Dinge en wesens is radikaal verweef met mekaar; ons moet baie vinnig leer om hierdie verweefdheid te herken en erken voor ons die hele planeet opneuk. Miskien is dit reeds te laat.
INGRID: Dink jy daar bestaan (reeds) ’n gelyke vormingsverhouding tussen die mens en tegnologie? Of is ons tegnologie nog nie gevorderd genoeg nie?
WILLEM: Ek sou raai die mens is nog effe meer gevorderd as haar tegnologie, alhoewel sy reeds, in tegnologiesgevorderde, ryker dele van die wêreld, radikaal afhanklik is van daardie tegnologie. Ek dink daar is ’n glyskaal van die vormingsverhouding tussen mens en tegnologie, hang af in watter buurt jy jouself bevind.
INGRID: Wat het jy ontdek in hierdie verkenningstog — wat staan die meeste uit van wat jy geleer het?
WILLEM: Broosheid.