Aimee Lindeque en die surrealistiese Laeveld
Dié kunstenaar verken die dualiteit tussen kalmte en chaos
In Aimee Lindeque se sketse en skilderye ontmoet die werk van Hieronymus Bosch en Martin Handford se Where’s Wally? mekaar. Die kunstenaar het grootgeword op ’n plaas in Mpumalanga, en die trek vanaf dié afgesonderde plaas na die besige stadslewe in die Kaap, speel ’n beduidende rol in haar werk.
Daar is ’n fokus op die dualiteit tussen kalmte en chaos: die kontras tussen landelik en stedelik, oud en modern, en die verskille wat openbaar word wanneer daar tussen die twee ruimtes beweeg word. Teen die agtergrond van die inligtingsera waarin ons leef, verken Lindeque ook hoe die deel van inligting alledaagse take kompliseer; hoe sensoriese oorlading dikwels tot vreemde, onsamehangende visuele narratiewe in haar kuns vertaal. Die resultaat is ’n gedetailleerde kaleidoskoop van surrealistiese beelde wat jou aanmoedig om die raam binne te tree, om die kleurryke droomwêreld te verken en om ’n stil hoekie daarbinne uit te soek waar jy kan mediteer.
Lindeque het op Nelspruit skoolgegaan en het in 2014 Kaap toe getrek om kuns by die Universiteit van Kaapstad se Michaelis School of Fine Art te studeer, waar sy in beeldhouwerk en kunsgeskiedenis gespesialiseer het. Om beeldhouwerk met natuurlike materiale soos hout, keramiek en leer te doen, het haar liefde vir organiese kleure tevrede gestel, en het haar ’n perspektief gegee oor wat in ’n drie-dimensionele ruimte geskep kan word.
Die Laeveldse landskappe en plantegroei het ’n besondere invloed op haar skilderye en inksketse. “Selfs wanneer ek meer illustratiewe kunswerke skilder met allerhande denkbeeldige karakters, voel dit steeds asof ek inspirasie uit daardie natuurlike ruimtes by die huis put,” vertel sy.
Lindeque kyk nouliks na dít wat in hierdie ruimtes aan die gebeur is op ’n kleiner skaal, nie net in die natuurlike tonele in die Laeveld nie, maar ook in die stad. “Ek sal inbeweeg op ’n gebou naby die Kompanjiestuin en wonder oor die lewens van die mense wat daar in hulle woonstelle bly. Ek geniet dit om fantasiestories uit te dink, en om denkbeeldige spasies, kreature en plante te konstrueer en uit te beeld.”
Met onlangse besoek aan haar ouers se plaas het Lindeque ’n maandlange eksperiment aangepak waartydens sy elke dag ’n inkskets (in plaas van die groter waterverfskilderye wat sy tipies sou aanpak) gemaak het om te sien watter ooreenkomste en deurlopende temas uit hierdie waarnemende sketse sou opduik. Die 31 sketse wat uit die eksperiment ontstaan het, is ’n ryk verkenning van natuurlike, onbewoonde spasies in kontras met die wanorde van huislike ruimtes. Selfs in tonele wat aanvanklik vreedsaam voorkom, word daar inbeweeg op die fynversteekte besonderhede om die kompleksiteit daarvan uit te lig.