Vereenselwing in die werk van Zubayr Charles

Vereenselwing in die werk van Zubayr Charles

Anzio September in Zubayr Charles se toneelstuk, Please, don’t call me moffie. Foto’s: Jeremeo Le Cordeur

'n Kaapse teatermaker wat die lig skyn op queer- en Moslem-wees

Ek het onlangs ondersoek ingestel na ’n teatermaker uit die Kaap: Zubayr Charles. Dit was ’n goeie paar maande vir hom – twee van sy toneelstukke, Please, don’t call me moffie en This bra’s a psycho, het die verhoë van die Artscape aan die brand gespeel. Zubayr bring iets eiesoortigs na die teater: ’n tongval wat nog skaars is in die hoofstroom en ’n queer-verfkwas wat van die skerpste tot die donkerste lig vasvang van wat dit is om ’n Kaaps-Moslem persoon te wees wat worstel met identiteit en geweld in die gesig staar. 

Zubayr is ’n bedrewe teaterskepper en skrywer wat projekte met waagmoed en sensitiwiteit aanpak. Sy woorde spring gou tussen Afrikaanse variante en hy onderskei sy karakters se maniere van praat gemaklik met die oor van ’n skrywer wat luister, régtig luister, na die mense om hom. Hy skryf en skep met oorgawe en deernis oor die Moslem- en queer-ervaring in Suid-Afrika. Hy gee die mikrofoon aan die Kaap en laat die mense self praat. Al is die stories hoe naby aan die been vir hom, is dit tog ook so dat die persoonlike polities is en dat die intieme ervaring ook praat tot ’n groter kollektief.

In die Artscape se intieme Innovation Room sit ’n stampvol gehoor een Saterdag in Augustus om Please, don’t call me moffie te kyk. Die akteur Anzio September is reeds op die verhoog, aangetrek in wit onderklere en ’n vessie, benoud besig om te staar na ’n selfoonskerm en dan weer onrustig rond te dwaal op ’n smal verhoog met ’n wasgoedlyn waarop verskeie kledingstukke hang. Hier ontmoet ons vyf diverse tog ietwat eenderse queer karakters, almal deur September vertolk. Eerste is dit die 30-jarige joernalis Mushfeeq wat melancholies besin oor sy lot en lewe as ’n gay Moslem man – twee identiteite wat sukkel om langs mekaar te sit. Hy kom af op die viral video van ’n brutale aanval op twee gay mans wie se seksualiteit in ’n onbekende Arabiese land ontbloot word. Dit ruk hom – en dit ruk ons wanneer hy staar na sy selfoonskerm en ons die wrede slae van ’n sambok en die noodkrete van daai twee mans hoor. Mushfeeq deel die video op ’n WhatsApp group waarop al die ander karakters is. Dis dan Abdullah, die 29-jarige boekhouer, vir wie die video volgende tref wanneer hy dit aanskou. Hy is obsessief besig om voor te berei vir ’n ete, met messe, vurke en borde wat kompulsief gepak en getel word. Orde. Hy moet orde skep van die kindertyd-katastrofe wat hom keer op keer uitmekaar wil skeur. 

Hy skryf en skep met oorgawe en deernis oor die Moslem- en queer-ervaring in Suid-Afrika. Hy gee die mikrofoon aan die Kaap en laat die mense self praat. Al is die stories hoe naby aan die been vir hom, is dit tog ook so dat die persoonlike polities is en dat die intieme ervaring ook praat tot ’n groter kollektief.
— Dianne Albertze oor Zubayr Charles

Daar word genadeloos omgegaan met geweld in hierdie stuk. Dapper is seker ook ’n goeie woord om die visuele uitbeelding te beskryf. Die brose karakters word tot heel onder op hul laagste uitgebeeld, soos Abdullah wat weer ’n laaitie word en moet broek aftrek en aanhoor watter teleurstelling hy is vir ’n generasie wat eintlik maar net hul eie onderdrukte queerheid gewelddadig uitlaat. Zubayr plaas ons in Abdullah se groot nagmerrie, sy seerste wond. 

So ook met Eesa, die 28-jarige jock-argetipe wat September met nuanse en gegrondheid uitbeeld, met kruheid, opregtheid en skaamte wat bruis onder die oppervlak. Van dick pics tot gewigte optel, probeer hy ons flous, maar agter die spiere kruip ’n tienerseun steeds weg vir die skoppe en klappe van sy spanmaats wat hom wil straf oor hy anders as hulle is. En nou moet Eesa as volwassene steeds die trauma verwerk. Volgens die oudedose klomp is dit mos onnatuurlik om sielkundiges te sien en berading te kry – ’n ouer generasie verbitter deur hul eie onopgeloste seer, veral die groot manne wat glo mans tjank nie. Dis ’n toksiese genderkonvensie wat ons oor kulturele grense heen ken. 

Moet egter nie dink dis net ’n somber drama dié nie, asseblief tog. ’n Mens kan weer diep asemhaal wanneer verskeie Britney Spears songs begin klop uit die speakers. September trek flikflooierig ’n paar booty shorts aan en begin voer vlymskerp danspassies uit en stel ons voor aan die heerlik flambojante Zayn wat niks tyd het vir snot en trane nie. Sy noem ’n ding nes sy wil en, nes vroeër met Eesa, leer ken ons al meer uit ’n ander hoek iets van die ander karakters. Zayn se storie is nie dié van vernedering en verdriet nie, o nee, dié een is heel fine om in haar argetipiese boksie van “sassy gay” te pas en vertel ons met groot oorgawe van haar eerste liefde met sy lang, mooi, donker hare. Hierdie karakter verskaf genotvolle komiese verligting voordat ons weer afsak na die bodem van die volgende verteller se binneste, ongesiene, vergete belydenis. 

Die onderskeie stories in Please, don’t call me moffie word vasgeknoop met Haroon, ’n gay man wat sy geloof bo sy seksualiteit gekies het en sy ware identiteit sodoende prysgee. September is op sy sterkste wanneer hy onderspeel en sodoende die subteks na die oppervlak bring. Met die laaste monoloog neem hy ons op ’n metafisiese reis na binne waar ons in sy droom saam met hom moet rekenskap gee en sien wat ons lot sal wees. 

In Julie en Augustus het Zubayr se ander toneelstuk, This bra’s a psycho, ook by die Artscape gespeel. Hier het ons met ’n ander tipe storiewêreld te doen, een wat die grense toets en nie bang is om met ’n “in-yer-face”-teaterstyl te speel nie.

Nadat The Bra (James Stoffberg) verskrik en verbouereerd in ’n onbekende warehouse wakker word, bly hy worstel met die trauma van die seksuele geweld wat hy pas aangedoen is. Eers probeer hy die onbekende man wat hom daarheen gelei het, op Grindr konfronteer, en wanneer dit onsuksesvol is, poog hy verskeie ander Grindr hookups met die hoop om óf liefde te vind óf sin te maak van sy trauma. Maar dit ontlok eerder emosionele snellers wat lei tot verskeie bloedbaddens – letterlik. Min wetend dat hy agtervolg word en die onderwerp is van ’n polisieman se ondersoek wat daarop gerig is om hom te vang. Die rape revenge genre, meer bekend onder Westerse films, word hier op sy kop gekeer. 

The Bra, geklee in ’n wit onderbroek en engelvlerkies, lê oorgelewer in ’n sirkel van kledingstukke soos die gehoor instap. ’n Treffende beeld. Hy spreek kykers direk aan en so begin ’n intieme verhouding met die gehoor. Ons probeer saam met The Bra sin maak van die gewelddadige gebeurtenis en word getuie van die aanhoudende Grindr-boodskappe en gedisoriënteerde gedagtes. Daar bou ’n tipe meegevoel tussen die gehoor en The Bra – tot die eerste moord gepleeg word. 

Eerste is ’n man wat hou van fetish-spel en gewurg wil word, daarna die partytjiedier by die klub en dan die skaam een wat in die biblioteek wil kafoefel. The Bra word al minder versigtig en al meer arrogant soos sy moordreeks voortbou. Moenie laat ek vergeet van die camp skouspel wanneer hy ’n kamstig heteroseksuele man aanhou en hom met ’n tang bydam nie. Eers hier begin voel ’n mens die tasbaarheid van die situasie, maar dis ook eers hier waar die kreatiewe visie lewe kry: Wanneer die bloed en wraak nie met soveel diepgang gepleeg word nie, maar eerder soos ’n tipe Almodóvar-verhoogperformance met ’n wapen as ’n dirigentstok georkestreer word.

Dit is wanneer The Bra suggestief met daai tang begin dans en die kwansuise bloed oplek dat ek tot die besef kom dat ons nog heeltyd die toneelstuk te ernstig wil opneem – dit is immers fiksie en nie feitelik nie; dit is ’n voorstelling en maak alreeds sterk staat op fantasie en fetish. Dit is egter Zubayr se verantwoordelikheid as dirigent van hierdie orkes om duideliker en deursigtiger om te gaan met sy gebruik van stylkeuses. Maar te verstane, is hierdie ook nog eksperimenteel in Zubayr se werk.

Als inaggenome, is This bra’s a psycho iets unieks en nodig vir ons LGBTQIA+-gemeenskap. Verteenwoordiging is altyd belangrik en Zubayr en sy medewerkers dra dít op die hart. ’n Mens kan staatmaak op Zubayr se werk en weet dat, as ’n queer persoon, jy êrens sal kan vereenselwig met die onsekerheid, campness of interne inkleding wat hier ten toon gestel word. Grense word getoets (en soms heeltemal gemis), maar steeds is hier ’n teatermaker met waagmoed en boonop met opregtheid aan die beurt. Ek sien uit om nog baie meer van sy werk te beleef.

Zubayr toon groot potensiaal om ’n baie belangrike stem te word, een wat met eerlikheid en insig omgaan om vir ons nog baie stories te skep wat ons nog lank gaan bybly, nes die slae van daai sambok wat vele queer mense oor die wêreld al moes voel. Laat ek afsluit met die woorde van die onlangs afgesterwe Imam Muhsin Hendricks: “The need to be authentic was greater than the fear to die.” 

Na afloop van die vertonings van Please, don’t call me moffie en This bra’s a psycho, het ek met Zubayr gesels oor sy werk. Lees ons gesprek hier onder.


DIANNE: Zubayr, kom ons praat oor taal! Jy gebruik op ’n eiesoortige en herkenbare manier in albei toneelstukke ’n ryk mengelmoes van verskeie Afrikaanse variëteite in jou dialoog. Vertel vir ons hoekom? Skryf jy soos jy praat, hoe die mense om jou praat of probeer jy juis ’n wyer, kollektiewe stem gebruik?

ZUBAYR: Dankie dat jy dit genotice het! Ek skryf soos ek praat. Taal was nog altyd ’n interessante deel van my identiteit. My ouers is Afrikaanssprekend, sowel as my extended familie. Maar my generasie praat hoofsaaklik Engels, aangesien ons na Engelssprekende skole gegaan’et. Van kleins af word ons ook geleer om in Arabies te lees. Ons code-switch dikwels in sekere omgewings, wat lei tot ’n lekker mengelmoes van Engels, Kaaps, Kaapse Muslim vernacular, Arabies en verskeie slang en dialects. Daar is deesdae meer klem op Kaapse Afrikaans as op Kaaps wat met Engels vermeng is. Dit is vi’ my belangrik dat my skryfwerk laasgenoemde reflect.

Ons code-switch dikwels in sekere omgewings, wat lei tot ’n lekker mengelmoes van Engels, Kaaps, Kaapse Muslim vernacular, Arabies en verskeie slang en dialects. Daar is deesdae meer klem op Kaapse Afrikaans as op Kaaps wat met Engels vermeng is. Dit is vi’ my belangrik dat my skryfwerk laasgenoemde reflect.
— Zubayr Charles

DIANNE: Op 15 Februarie op Bethelsdorp in die Oos-Kaap is ons eerste en enigste openlike queer Moslem prediker, Imam Muhsin Hendricks, vermoor. En nes daai video wat viral gegaan het in Please, don’t call me moffie oor die twee gay mans wat wreed gedissiplineer word oor hul seksualiteit, het die video van Imam Hendricks ook soos ’n veldbrand versprei – die gemaskerde mans wat in die Toyota Hilux-bakkie hom voorkeer, uitspring en hom koelbloedig doodskiet. Dit is skokkend dat ons skynbaar liberale land so iets kan toelaat om te gebeur, en ek sê spesifiek toelaat oor die feit dat daar nog geen beskuldigdes vasgetrek is nie. Dit moet sekerlik ’n geweldige vrees en spanning in die Moslem-gemeenskap, sowel as in die LGBTQIA+-een veroorsaak. Wil jy hieroor uitbrei?

ZUBAYR: Please, don’t call me moffie is nie geskryf met enige political of religious agenda nie. Die storie is geskryf om die uitdagings te reflect wat queer, Bruin mans in die gesig staar en hoe hulle dikwels uit hul religious gemeenskappe verstoot word. In hier’ie toneelstuk worstel een karakter met sy religious identiteit en seksualiteit. Hy voel hy kan nie die twee versoen nie en dat hy ’n keuse moet maak. Al wat ek wil hê, is dat die gehoor hier’ie mans se stryd moet verstaan en empatie moet hê met hul ervarings, eerder as om hulle te judge.

DIANNE: Seksuele geweld teenoor mans bly ’n amper-taboe onderwerp. Ek wil amper sê wêreldwyd, maar kom ons bepaal dit maar eers tot ons hier in Suid-Afrika. Dis moeilik vir ons as ’n samelewing om te herken dat die aanvanklike beskermers en fisiek sterker geslag ook weerloos en in gevaar kan wees. Wanneer ons president so besorgd praat oor geslagsgebaseerde geweld, word daar vergeet om te noem dat almal ’n slagoffer hiervan kan wees – álmal. Jy draai egter nie doekies om in jou dramas nie. Dit word op die vrou af aangespreek. Van huishoudelike geweld tot date rape. Wat is die motivering hier agter vir jou? 

ZUBAYR: Eerlikwaar, ek is moeg om dieselfde tipe storie oor en oor raak te sien. Ek wil hê my stories moet real wees. Mense moet hulself in literatuur kan sien. Ons as mense deel similar ervarings; deur dit het ek besef dat daar ’n gedeelde trauma is wat ons beleef, want ongelukkig het geweld en seksuele geweld in Suid-Afrika common geword. Ons ken soveel mense wat deur hier’ie moeilike situasies gegaan het, maar dit bly steeds taboe onderwerpe.

DIANNE: Wat This bra’s a psycho betref – wat interessant is, is dat ons nie veel sielkundige rillers op ons Suid-Afrikaanse verhoë sien nie (die veelbekroonde Kaapse dramaturg Louis Viljoen as uitsondering). As gehoorlid ken ons dit amper meer as ’n rolprentgenre. Waarom het jy besluit om met hierdie genre op die verhoog te werk?

ZUBAYR: Verlede jaar het ek deur ’n lelike en traumatiese break-up gegaan. Op my healing journey het ek ’n obsessie ontwikkel met thrillers en true crime. Ek het toe vi’ myself gechallenge om my eie thriller te skryf, maar vanuit ’n manlike, Coloured en queer-perspektief. Net soos die flieks waarna jy verwys, wou ek die psychological aspekte van mense ondersoek. In anner woor’e, hoeko’ doen ons die dinge wat ons doen?

DIANNE: Daar is verskeie inisiatiewe in ons land vir opkomende kunstenaars om hul vaardighede op te skerp, geleenthede te kry en werkskepping, maar hoe volhoubaar is dit? In jou opinie, dink jy daar kan meer gedoen word om opkomende kunstenaars te bemagtig, en hoe?

ZUBAYR: Ongelukkig word daar in Suid-Afrika nie genoeg klem op die kuns geplaas nie. Soveel kunstenaars sukkel. Die bedryf help ook nie rêrag’ie. As dit by skryf en teater kom, word daar van kunstenaars verwag om reeds ’n track record te hê, maar geleenthede is so skaars. Hoe kan ’n mens dan ’n track record opbou as jy nie eers ’n kans kry nie? Ek weet’ie wat die regte antwoord issie, of wie presies om te blameer’ie, maar al wat ek kan sê, is dat kunstenaars moet nooit hul drome verlaat’ie. Soos my skryfmentor, Rachelle Greeff, eens gesê het: “Jy moet jou eie deure afskop!” En met daai raad hoop ek anner kunstenaars kan aanhou vorentoe druk.

Du Toit is 'n jong bekroonde skrywer, teatermaker en performer wat spesialiseer in die ontginning van queer narratiewe of net om Afrikanerskap op te fok.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Vereenselwing in die werk van Zubayr Charles gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand