Ramblings of a Weskusser

Ons teksredakteur skryf oor waarheen haar tarotkaarte haar gelei het
Oor die algemeen is ek iemand wat deeglike navorsing en selfs meer deeglike overthinking doen voordat ek ’n besluit neem. Of dit nou gaan daaroor om ’n nuwe paar draftekkies te koop of wat om voor te berei vir aandete, my brein is sonder ophou aan die werskaf. Snaaks dat ek die belangrikste besluite – dié wat die grootste impak op my lewe gaan hê – dikwels op die ingewing van die oomblik neem. Of met die hulp van my tarotkaarte. Of omdat ’n YouTube-kanaal my geïnspireer het. Die spesifieke deck hier ter sprake: The wild unknown (2012), geskryf en geïllustreer deur Kim Krans. Die YouTube-kanaal: Isabel Paige se serene 2023-video’s. Die besluit: om ná 10 jaar in Stellenbosch terug te trek na die Weskus.
Om oor so ’n groot skuif in my lewe te skryf is geen maklike taak nie. Hierdie trek het my geforseer om elke element in my lewe te herdink en elke gevestigde senuweebaan te herbesoek. Dit voel bykans onmoontlik om iets wat soveel gewig dra, in woorde om te skakel. Ook inaggenome wat nou al ’n maandelange geval van writer’s B is. (Ek hoop dat as ek nie die volle woord gebruik nie, die skrywersgode my genadig sal wees.) Hiermee dan eerder ’n paar notas oor my ervaring van die Groot Trek (lol) tot dusver.
I
Dis winter. Soggens lê die steenbokkie se nagwandelingspoor netjies in ’n nuwe patroon op die skouer van die grondpad. Dieselfde geld die muskeljaatkat wat dan en wan sy rondtes hier tussen die kleinhoewes doen. Elke middag kan ’n mens sien waar die trop rondloperganse kruis en dwars oor die pad geloop het soos die weiplek en skrale son hulle daaglikse roetine bepaal het. Jy kan sien waar ’n fietswiel, perdehoewe of ’n paar veiligheidstewels weggesink het in die modderige kleigrond van die pad, veral rondom die dele waar die water begin opgaar het. Dit wemel van die paddavissies in dié waterpoele. Soos ’n skrynwerker met hout, dra die hele gemeenskap – mens, dier en weerpatrone inkluis – by tot die herhaaldelike verandering en (her-) vorming van die pad wat elke kleinhoewe verbind en waarvan ons almal wat hier woon, afhanklik is.
In elke spoor lê ’n eenmalige en unieke storie opgesluit. Elke entjie se stap word ’n verbeeldingsvlug. Hierdie grondpad lyk daagliks, selfs uurliks, anders. Afgesien van die hindernisbaan wat die grondpad veral in die wintermaande is, het ek waardering vir die insig wat dit bied.
II
Die Weskus is ’n plek van ambivalensie. Party dae moet ek myself knyp, want ek kan nie glo ek het die voorreg om so na aan die natuur te leef nie. Hierdie gedagte is natuurlik op die voorgrond in Augustusmaand se blommetyd. Dan dink ek ook aan my vierjarige broerskind se beskrywing van wat ’n eggo is: “Ek praat met die aarde en die aarde praat terug.”
Ander dae byt die isolasie weer.
“Dan dink ek ook aan my vierjarige broerskind se beskrywing van wat ’n eggo is: ‘Ek praat met die aarde en die aarde praat terug.’”
III
Ek lees dat liminaliteit uit drie fases bestaan: 1) die preliminale fase (skeidingsfase), 2) die liminale oorgangsfase en 3) die postliminale fase (herintegrasie). Party dae voel dit asof ek altyd een voet in die liminale fase sal hê – die tussenin, waar mens jou losgemaak het van ’n vorige identiteit en vorige verwagtinge en voordat jy jou nuwe identiteit of rol aangeneem het. Ek is neither here nor there. Ek weet ook nie of ek hier of daar wil wees nie. Ek wil net wees.
IV
Dalk neem ek nie groot besluite bloot op die ingewing van die oomblik nie; dalk volg ek my intuïsie.
V
“Dit lyk soos Kamp Staaldraad hierbuite,” spot ek met my pa terwyl my heining opgesit word. Noudat my tuin duidelike grense het, is dit makliker om te beplan aan die uitleg. Ek wil die tuinbankie skuif tot onder die rosyntjieboom, waar ek ook my makeshift-buitebraai-area gaan inrig – ’n ruimte waarvoor ek so gewens het terwyl ek in ’n Stellenbosse meenthuis met ’n knus tuintjie gewoon het.
Ek trek onkruid en wintergrassies uit. Haal plante versigtig uit die grond en plant hulle weer êrens anders. Pak ’n kliprandjie om die oewers van die beddings. Grawe moerse gate waarin Bokashi-emmers leeggemaak word. Ek wonder: Miskien is ’n tuin ook altyd in die liminale fase?
VI
Vandag was ’n lang dag. Jasmyn, een van die koeie, was siek. Sy het gelê en bulk vir ure aaneen, haar stem hees.
Die veearts was hier. Sy het gedoen wat sy kon, maar Jasmyn was steeds in wat gelyk het soos uitermatige pyn. Haar dood – ’n verligting. Die besef sny diep: Ek lewe hier nie net naby aan die natuur nie, ek lewe ook naby aan die dood. Trouens, ’n mens sou kon sê dis een en dieselfde ding. Ek kan dit aan my vel voel.
Ek voel simpel dat my grootste krisisse in my vorige tuiste load shedding en rumoerige bure was.
“Die besef sny diep: Ek lewe hier nie net naby aan die natuur nie, ek lewe ook naby aan die dood. Trouens, ’n mens sou kon sê dis een en dieselfde ding. Ek kan dit aan my vel voel. Ek voel simpel dat my grootste krisisse in my vorige tuiste load shedding en rumoerige bure was.”
VII
Die idee van Theseus se skip breek my brein.
So, get this: In die Westerse filosofie is daar ’n lekker storie om die paradoks van identiteit en verandering uit te beeld. Plutarch verwys in sy Life of Theseus na die gedagte-eksperiment van Theseus se skip. Hierdie skip word gebruik om etlike reise mee af te lê. Met verloop van tyd en soos wat die skip se planke verweer, word die ou planke met nuwes vervang. Die vraag is uiteindelik of dit nog dieselfde skip is teen die tyd dat al die ou planke vervang is. Sou daardie ou planke dan gebruik word om ’n nuwe skip te bou, is dit dán steeds dieselfde skip? Wanneer is die skip nie meer die oorspronklike skip nie, indien ooit?
Hierdie vrae het nie konkrete antwoorde nie. Is jy nog dieselfde jy nadat alles verander het en terwyl alles altyd in die teken van vervlietendheid staan?
Ek dink weer aan die spore op die grondpad. Hoeveel wesens en weerstoestande dra nie daagliks by tot die konstante vorming en herstrukturering van dié pad nie? ’n Superorganisme wat smul aan grondpaaie.
VIII
Parkruns, hey? Wat ’n konsep.
IX
Ná ’n jaar en nege maande op ’n kleinhoewe in die Weskus is die idee van bure en close quarters vir my ’n vreemde een. My bure hier is soms ook rumoerig. Nou neem die geraas net die klanke van ’n haan se kraai of ’n skaap se blêr aan. Goddank die diere het nog nie die goue heuning van ’n vodka-Red Bull op ’n klein-Saterdagaand ontdek nie. Kan jy jou indink watter rumoer dit dán sou wees! As dit reën op my sinkdak, kruip my katte onder my bed weg of sit laag op die vloer – glo ’n instinktiewe reaksie omdat ’n geraas van bo beteken dat iets van bo af op jou kan val. As die son skyn, bak my woonstel se mure snoesig-warm – iets waarteenoor die binnenshuise plante hulle dank uitspreek. Oggende is vir tuin natmaak; middae vir ’n dutjie; en snags, ongeag die omstandighede, lê ek in my bed en dink: Dis my huisie dié.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Ramblings of a Weskusser gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.