Joha van Dyk bepeins haar kleindorpie-herkoms
Skrywer van Branderjaer oor haar kinderdae in Kleinzee, Namakwaland
Ek onthou warm somersaande en die stofstrate van ’n Boland-dorpie. Ek, my beste vriendin, en haar plaaslike laerskoolvriende. Hoe die seuns skelm rook, ’n meisie word ge-abba deur haar beste pel. Ons stap verby huise met ligte aan en half-oop, half-toe gordyne. Nou en dan sien ons ’n skadu soos iemand nuuskierig uitloer, ’n hand wat die gordyn effe subtiel terugtrek. ’n Hond blaf en ander val in ’n koor daarby in, terwyl ’n kar eers stadig ry en dan rumoerig verbyskiet. Die dorp is stil, behalwe vir ons. So stil, ons hoor net onsself. Musiek word uitgebasuin deur ’n selfoon-speaker – lirieke wat die sisteem bevraagteken, stemme wat sing oor die samelewing, kapitalisme en vlug. Ek onthou die woorde “leaders of the not-coming-backs” en die reuk van die bome wat na die sterrehemel reik. Ek onthou ons lag, die lug wat koeler raak en hoe ons begin praat oor hoe hulle wil wegkom uit die dorp, die kleindorpie stof van hulle voete wil afskud… En ’n kerkklok wat lui.
Die Boland is die antitesis van my eie kleintyd. As ’n koshuiskind in Hoërskool Stellenbosch kon ek net soveel keer ’n jaar huis toe gaan. Met sewe ure in ’n taxi Springbok toe en nog ’n uur en ’n half tot by ons plaas, was dit nie altyd die moeite werd om net vir ’n halwe dag by die huis te gaan draai nie. Dus het ek dikwels op uitnaweke na vriende toe gegaan en so, stukkie vir stukkie, die pragtige en lowergroen Boland beter leer ken. My vriendin was self van ’n klein dorp, wat egter in ’n sterk kontras teenoor Kleinzee, die dorp waar ek op laerskool was, gestaan het. Die plaas waar ek grootgeword het, was net buite die dorpsgrens. Klein, kleiner, kleinste. En Namakwaland is inderdaad valer, die afstande langer, die ruimtes groter. Kleinzee grens aan die see, die populasie baie kleiner as in enige Bolanddorp. Tog het ons baie gemeen gehad. Die hiërargie, die slu politiek tussen die kerk, die besighede, die plase, die warm, spontane vriendelikheid van die platteland. En natuurlik, die geheime… Ek onthou gesprekke, hoe ek my grootoog kon verluister. Fassinerende skinderstories van die ingewikkelde agtergronde van die grootmense, ouers en studente wat ons in die dorp geken het. Die lewensdrade van ’n kleindorp is amper altyd iewers oorkruis, verstrengel en dis baie raar dat almal nie van almal se besigheid weet nie. Klein dorpies is skatkiste vir stories, met verhale agter elke hoek en draai.
Onlangs het ek die geleentheid gehad om terug te keer na my kleintyd-dorp. Covid-19 het vir ons op die regte tyd op die plaas gevang en ek was bevoorreg om die lockdown-periode in Namakwaland te spandeer, met stilte, blommetyd, familie en die klank van die see. Boonop handel my Meesters-tesis oor Kleinzee. Vir my MA in English Studies het ek besluit om ’n kreatiewe skripsie aan te pak oor die dorp. Dit het behels dat ek kortverhale oor Kleinzee skryf, sowel as ’n paar hoofstukke teorie. My ondersoek in Kleinzee se geskiedenis het vir my net weereens bewus gemaak van die “stories agter die stories”, die werklike narratief wat opgesom word in ’n paar sinne van ’n Google-search, dit wat weggesteek word of selfs net verskuil word in die daaglikse verloop van gebeure van ’n kleindorp. Ek kon self my herinerringe ondersoek, en dié van ander inwoners van die dorp, om konteks rondom my fiksionele verhale en Kleinzee se groter geskiedenis te kry. Dit het na baie albums, “vertel-my-’n-storie”-gesprekke en dorpsbesoeke gelei wat vergete gebeure weer aangewakker het by my. Ek kon my grootword-jare in Kleinzee vergelyk met my hoërskooljare in Stellenbosch en werklik kontempleer hoe baie ek verander het in ’n kwessie van 800km; hoe baie ek moes aanpas, prysgee en bewaar.
Die wêreld het skielik baie groter geword en, terug in die veiligheid van my kleindorp, met die Covid-19-krisis en al my ervaringe van die wêreld daarbuite, was dit vir my ’n verligting om weer geborge te voel, in Kleinzee en op die plaas. Oomblikke van ongekunsteldheid was makliker om te onthou, makliker om te herleef tydens lockdown. Dit het gevoel soos ’n sirkel wat voltooi word. Die skemer-stapsessies teen die rooipad het herinerringe gewek van ’n kaalvoet meisiekind, met lang skaduwees wat haar jaag en ’n Border Collie-skaaphond wat dieselfde doen, op dieselfde pad, net jare tevore en met soveel drome en onsekerhede in haar toekoms. Ek kon die mense in Kleinzee se winkel groet, hulle onthou van my kindwees-jare en vir die eerste keer in jare kon ek weer voel soos ’n lid van die gemeenskap – nie meer ’n buitestander nie. Daar is ’n groter omgee-gemeenskap, waar almal mekaar ken – of ten minste van mekaar weet. In Kleinzee was dit maklik om weer die plek van gemeenskapslid in te neem, om geselsies aan te knoop, nuus te deel, saam met mekaar opgewonde of hartseer of bang te wees – jou medemens te waardeer in plaas van net reguit afpyl op jou motor en terug huis toe ry.
Steeds onthou ek hoe ons gesels het oor eendag en die dag wanneer ons gaan wegkom, die fantasieë wat ons opgebou het oor wie ons kon wees wanneer niemand kyk nie, wanneer daar net onbekendes is wat geen verwagtinge van jou het nie – dis jou verantwoordelikheid om jouself uit jou eie uit te bewys. Ons wou almal die kleindorpmentaliteit ontsnap. Daar is ’n persepsie dat kleindorpe jou vasvang, aan jou sal vasklou en jou groei stuit. Dat jy is soos ’n perd met oogklappe… En dit het ons inderdaad angstig gemaak.
As ’n kind in ’n klein dorp voer jy wel dikwels ’n baie liniêre bestaan. Jy word meer eenvoudig groot, want daar is werklik nie in die ware kleindorpies die geleenthede wat groter dorpe en stede bied nie. Ook nie soveel kompetisie nie. Nie dat dit die druk op jou in die platteland minder maak nie, veral nie as jy die dokter, predikant of prokureur se kind is nie. Die ouers is dikwels meer kompeterend as die kinders. Daar is beperkte klasse wat naskool aangebied word en sportontwikkeling en selfs musiekonderrig is nie altyd beskikbaar nie, daarom dat die blink stadsliggies gewoonlik ’n magiese aantrekkingskrag het. In die platteland is dit dus nie altyd moontlik om buite jou gemaksone te beweeg nie, juis omdat daar nie werklik blootstelling aan baie dinge is nie. Verwagtinge van selfs die ander dorpbewoners is beslis meer voelbaar as in die stede waar mense nie verby hulle hoë mure kan sien nie. Ek was gelukkig om ’n geleentheid te hê om my vlerke wyer te sprei, sodat ek kon uitpluis wie ek was en wat ek kon wees. Tussen vreemdelinge kan jy jou eie identiteit vind en leer hoe om onafhanklik te funksioneer.
In klein dorpe word jy soms gebrandmerk met ’n sekere identiteit, dikwels teen jou sin. Die druk vanaf die sisteem, binne jou dorp – van mense wat jou sien grootword, wat verwagtinge rondom jou geskep het, jou klasmaats, vriende en familie – dit kan jou opstandig maak en dryf na rebellie of, in hartseer gevalle, passiwiteit. Ek was (is) ’n plaaskind wat baie lief was vir lees, wat nie noodwendig ingepas het tussen die dorpskinders nie, wat nie elke middag na die speelparkie toe kon gaan nie, wat nie elke toer bygewoon het of elke kinderpartyjie nie. Omdat ons buite die dorp gewoon het, het ek dikwels soos ’n waarnemer gevoel. Toe die meeste van my beste vriende wegtrek in Graad 2 en 3, as gevolg van die myn se onttrekking van die dorp, het ek gewoond geraak aan vriende word met die ander kinders. Die gastehuis wat my ouers op ons plaas bedryf, het my ook blootgestel aan baie vriende, “maatjies” wat na ’n aand of drie ook weer Namakwaland verlaat het. Dit het gewoonte geraak om mense te groet en kontak te verloor. Ek het my neus in boeke begrawe en eerder eenkant gesit, biblioteek toe gegaan op middae wat ons langer in die dorp moes bly ná skool. Met die konstante warboel van die gastehuis, die vreemde gaste, en die lugkastele rondom die boeke wat ek gelees het, was stories nog altyd deel van my wese. Ons familie, Namakwalanders, is gebore storievertellers en ek het myself verkyk aan hoe ’n groep mense stil word om na my pa, broer of ooms te luister wanneer hulle stories aanmekaar weef. Ek wou ook ’n storieverteller wees. Dis iets wat vasgesteek het by my, wat ek saam met my gedra het na Stellenbosch, waar ek lewenslange vriende gemaak het en geskryf het, my skryf kon deel met hulle en uiteindelik voel asof ek word wie ek nog altyd moes wees. My ervaring in ’n kleindorp was meerendeels goed, maar dit het ’n fassinasie by my wakker gemaak omtrent die konsep van identiteit – hoe dit ontwikkel, hoe dit binne ’n kleindorp moet ontwikkel. Ek het altyd gewonder, as daar ’n hoërskool in Kleinzee was en ek daar gebly het, wie sou ek dan wees? In Stellenbosch het ek besef dat, selfs al is ons in ’n groot dorp, identiteit en vrae rondom die toekoms nie minder raak nie – jy het soveel meer opsies en dis moeilik om uit te pluis watter een die regte een vir jou is, veral as jy so jonk soos sewentien en agtien is.
Die naweek ná ek een-en-twintig geword het, was ek op ’n rooibustoer saam met my gesin. Ek het die woord “branderjaer” gehoor, vasgehaak daarby, dit neergeskryf en maande later het ek my karakters gehad en van daar af die storie vir myself ontrafel. Draad vir draad. Dit was meer as net toeval – alles het net so uitgewerk, oor my pad gekom op die regte tyd. In Branderjaer wou ek identiteit, die konsep van die “toekoms” en die invloed wat dit het op tieners en hoe hulle leef, die kleindorpie en die geheime daarbinne, ondersoek. Ek het die geleentheid gehad om ’n groep karakters te skep wat elkeen op hulle eie manier met hierdie kwessies worstel en in die skryfproses het dit gevoel asof ek hulle al jare lank ken – vyf seuns vasgevang in ’n klein dorpie, in die donkerte wat daar skuil, in ’n hegte broederskap gesmee deur skuld en pyn.
Oor Branderjaer
In Branderjaer is identiteit ’n sentrale tema. Een van die hoofkarakters, Deidre, leef volgens haar ma se plan vir haar toekoms. Haar neef se tragiese dood, wat skynbaar veroorsaak is deur sy eie, skielike, waaghalsige besluit, laat verder ook ’n groot leemte in haar. Die tragedie van Frederik se dood het ook daartoe gelei dat haar ma se beheer oor haar dogter se lewe toeneem en Deidre aanvaar dit, verwelkom dit in ’n tydperk van rou en onsekerheid. Wanneer Deidre se pad met dié van Louw kruis – ’n lid van die Branderjaer-bende – word sy bewus gemaak van haar eie passiwiteit, van hoe haar aanvaarding van ’n ander se beheer oor haar lewe, haar identiteit verweer het. Haar soeke na haar ware self begin wanneer sy vir haarself begin afvra: waag of waarheid? Gaan ek kanse vat, gaan ek aktief wees, gaan ek eerlik wees met myself? Met die wêreld? Die Branderjaers lei Deidre, indirek, na ’n herontdekking van haar identiteit en eindelik neem sy beheer oor haar eie lewe.
In teenstelling met Deidre, bevind Louw hom binne ’n vakuum, sonder familie of familie-vriende wat beheer oor hom uitoefen of verwagtinge koester vir sy toekoms, of selfs net ondersteunend is. Sy vriende is sy bendebroers, sy enigste werklike familie, sy gekose gesin, en hulle is, tot ’n mate, in dieselfde posisie as hy. Die Jaers probeer self nog hulle identiteite ontwikkel, probeer vanaf laerskool groei en rebelleer teen die boelies en die metaforiese bokse waarin hulle geplaas is. Louw, alias Bittereinder, die arm seun van die huisie in die baai, die “bitter einde”-kind word met ’n wrede realiteit gekonfronteer, een waar hy besef dat sy paadjie moontlik uitgelê word om soos sy pa op te eindig — om te verdwyn in die sisteem en om die kaarte wat die lewe vir hom uitdeel, te speel. Hy wil ontsnap van die storms in sy lewe en vind daardie vryheid in sy stokperdjies en sy enersdenkende bende.
Nog ’n gepaste voorbeeld van die “kleindorp-identiteitskrisis” sal die karakter Jak Human wees – ook ’n lid van die Branderjaers. Hy is goed in drama, goed in sport, maar wanneer hy agterkom dat hy deur ander skoolleerders gedruk word om in ’n sekere rigting te beweeg en ’n sekere identiteit aan te neem, besef hy hy het ’n keuse. Doen waarvoor hy lief is en word daarvoor geboelie, of swyg en doen wat vir almal anders aanvaarbaar is. Hy rebelleer hierteen en verkies om buite die voorgestelde reëls te leef.
Alhoewel ek nie ’n kenner is van boeliegedrag nie, glo ek daar is verskeie redes waarom dit ontstaan. Soms ontstaan dit uit gedrag wat kinders by mekaar aanleer. Soms is dit ouers en grootmense wat ’n swak voorbeeld stel en dit raak die norm. Soms kom dit voor omdat mense minderwaardig voel teenoor iemand anders, of oor die algemeen. In my roman wou ek demonstreer hoe pynlike ervarings as gevolg van boeliegedrag in iets positiefs omskep kan word. Ek wou wys hoe my karakters hulle ervaring kon gebruik om te ontsnap aan hulle omstandighede. Jy hoef nie ’n boelie te wees om in te pas nie. Jy hoef nie omdat jy inherent jaloers of minderwaardig voel, dit op ander uit te haal nie. Jy hoef nie toe te gee aan groepsdruk of sosiale druk nie, bloot om in te pas en jouself te distansieer van iemand wat nie sosiale guns het nie. Die Branderjaers se filosofie is om die ekstreme na te jaag, om so voluit moontlik te lewe alhoewel hulle ervaringe met boelies steeds hulle bybly. In plaas van fokus op hulle lyding as jong kinders, probeer hulle hulself genees, hulle fokus op hulself, die nou, die liefde, die broederskap – want aan die einde is dit al wat oorbly.
Ná skool het dit duideliker geword, het universiteit ’n wyer blik oor die lewe gebied en dit is gevestig as my derde hoofstuk in die lewe. Kleinzee, Stellenbosch en nou ’n ander Stellenbosch, een waar ek nog meer vryheid het om myself te vind, waar ek ’n buitestander is en terselfdertyd hóórt. Ons dink altyd ons sluit hoofstukke stuk-vir-stuk af soos ons ouer word, maar in die realiteit bly elke plek deel van jou. Kleinzee het van my ’n sekere kind gemaak, met sekere maniere van doen, sekere gelowe en stokperdjies. Stellenbosch het my aangeneem en verder aan my identiteit geskaaf. Nou is dit my beurt om wie ek is te bepaal, te vorm, te ontwikkel. Alles gebeur met ’n rede – daarom het ek nou die geleentheid om karakters te skep wat self verstrengel is in die soeke na hulleself, ’n eindelose soektog juis omdat ons die vryheid het om te verander. Die Branderjaers strewe daarna om buite die sisteem te bestaan, om te wees wie hulle wil wees en ek deel dieselfde filosofie. Aan die einde van die dag is dit al wat jy het – wie jy is en wat jy daarmee gaan doen. En jy het nie nodig om die kleindorpiestof van jou voete af te skud nie, want die kollektiewe invloed van die platteland mag jou dalk help om eendag sterk te staan en diep spore te trap.
Joha van Dyk het grootgeword op ’n plaas in Kleinzee, Namakwaland. Sy het haar BA Geesteswetenskappe-graad in 2018 verwerf, sowel as haar TEFL-sertifikaat. Tans werk sy aan haar Meestersgraad in Engels aan die US, terwyl sy deeltyds by die Stellenbosch Universiteit-biblioteek werk. Branderjaer (2020, Human & Rousseau) is haar debuut.