Vannie Kaap se memes en die politiek van die alledaagse
'Ôs gat praat soes ôs wil praat en ôs gat skryf soes ôs wil skryf'
In 2019 maak Dan Roodt die volgende uitlating op Twitter: “Dit maak by my net ’n baie dom indruk as mense Kaaps of Engfrikaans praat of skryf, só asof jy nie eens jou moedertaal bemeester het nie […]”. Alhoewel Roodt ’n kontroversiële figuur is, is sy uitlating ongelukkig kenmerkend van vele openbare menings oor Kaaps, veral binne sekere gardes van die Afrikaanse sprekersgemeenskap. Die Kaapse Twitter-sfeer het egter nie Roodt se onkundige opmerking net daar gelaat nie. Twee dae later word ’n reaksie deur Vannie Kaap op Roodt se twiet geplaas, wat volledig in Kaaps proklameer dat “[ô]s gat praat soes ôs wil praat en ôs gat skryf soes ôs wil skryf [...] Ôs en ôsse taal gat permy hie wies...is klaa waarit soe is”.
Vannie Kaap is ’n meme-page-slash-merch-store wat sedert 2018 op Facebook, Instagram, Twitter en YouTube aktief is. Die naam van die blad is ’n speling op die kenmerkende Kaapse uitdrukking “vannie” om herkoms aan te dui wat ook die Engelse uitspraak van “funny” naboots. Die naam van die blad dui dus reeds op die aard van die inhoud wat gereeld deur die admin van dié blad geskep word, wat hoofsaaklik uit humoristiese teks-memes wat in Kaaps geskryf is, bestaan. En met onderskeidelik 400 021 en 186k volgelinge (op datum van die skryf van hierdie artikel) op Facebook en Instagram, is die kanse groot dat jy reeds hulle kenmerkende blou-groen memes met die wit skrif oor jou Insta- of Facebook-feed sien rol het, in die comment section van een só ’n meme getag is, of self reeds een van hulle volgelinge is. Met ’n suksesvolle merch-winkel op hulle webwerf sowel as in Canal Walk, is die kanse ook goed dat jy of jou buurman reeds ’n VK-koppie (of -Covid19-masker) besit.
Bykomend tot die viering van Kaaps verklaar Vannie Kaap in hulle Facebook-blad se biografie dat “Vannie Kaap exists to celebrate Kaaps culture and educate other cultures about it. This is done through memes, fashion and klompie other goetes”. Vanuit Vannie Kaap se posts en dié se likes en shares, is dit duidelik dat hierdie boodskap luid en wyd deur hulle teikengehore ontvang word. Vannie Kaap se memes en merch spreek grootliks die marginalisering en stereotipering van ’n bepaalde groep Suid-Afrikaners aan, naamlik die verteenwoordigende meerderheid van Kaaps se sprekerskorps: Bruin (Coloured) Kapenaars.
Vanuit ’n besigheidsperspektief is die meme-page-turned-merch-store ’n suksesstorie, maar vanuit ’n taalkundige perspektief is die meme-blad vir ander redes ’n interessante en fassinerende gevallestudie. Suid-Afrikaanse taalkundiges is dit byvoorbeeld eens dat Kaaps nie net een van die oudste variëteite van Afrikaans is nie, maar waarskynlik ook die mees gestigmatiseerde variëteit van Afrikaans is. In 2013 voer die digter Nathan Trantraal aan dat die digters Adam Small en Peter Snyders van Kaaps ’n tipe “joke taal” gemaak het; een “waarin jy sing en dans” of as Cape Flats Gangster gestereotipeer word.
Gegewe die lang geskiedenis van die stigmatisering, stereotipering en onderdrukking van Kaaps en haar sprekers is dit vernuwend – en ongelooflik – dat ’n eenvoudige meme-blad dít regkry wat akademiese taalkundiges en taal-aktiviste al sedert Small en vóór Trantraal vir jare lank probeer doen: om die waardigheid van Kaaps as ’n taalvorm en variëteit van Afrikaans te herstel, en daarmee saam Kaaps en die sprekers daarvan te bemagtig en te bevry van stigmatisering en inperkende stereotipering.
“Joke taal” of nie, Vannie Kaap se memes kry dit reg om aan te sluit by ’n Kaapse tradisie waarin humor gebruik word om die gesag te ondermyn, om ’n gevoel van samehorigheid te skep en om sosiale en politieke kommentaar in Kaaps te lewer. Hierdeur word die lig gewerp op die potensiaal van die gebruik van Kaaps as ’n middel van verset en selfbemagtiging.
“Taalburgerskap” is die term wat taalkundiges gebruik om te verwys na die fenomeen van selfbemagtiging wat in Vannie Kaap se memes uitgebeeld en verteenwoordig word. Die taalkundige Christopher Stroud omskryf taalburgerskap as die situasie waarin sprekers self beheer uitoefen oor hulle taal, en self hulle tale en die sosiale betekenis(se) daarvan omskryf. Hierdie sprekers bepaal ook self tot watter mate bepaalde taalkwessies verbonde is aan sosiale, maatskaplike en/of politieke kwessies.
Volgens Stroud (2015) bied taalburgerskap die middele aan sprekers om stereotipes en rigiede identiteitskategorieë af te breek, en om agentskap aan gemarginaliseerde stemme te gee. Taalburgerskap gaan daarom verder as ’n nasionalistiese getrouheid aan die idee van “volk, vaderland en moedertaal”. Dit behels eerder ’n poging om verdeeldheid tussen taalgemeenskappe te oorbrug, ongelykhede tussen tale te herstel en mag tussen taalgroepe te herverdeel.
Die Sweedse taalkundige Tommaso Milani omskryf die essensie van taalburgerskap as “[...] those performances that goes against the grain by drawing upon oppositional discourses in order to disrupt established hegemonic views about language, destabilizing the status quo from the margins […]”
Die inhoudskepper in Vannie Kaap se memes posisioneer haar-/homself op die randgebied van die Suid-Afrikaanse samelewing deur uitdruklik met ’n Kaapse (Coloured) identiteit te identifiseer, en spreek vanuit hierdie marge die dominante diskoerse oor Kaaps, Kaapse identiteit en die Suid-Afrikaanse samelewing aan, daag dit uit of breek dit af. Die keuse om kommentaar te lewer in Kaaps, of diskoers te voer in Kaaps, word vervolgens ’n selfbemagtigende, byna politiese keuse, wat die geleentheid bied om stigmatisering en stereotipering uit te daag. Die inhoudskepper in Vannie Kaap se memes se identiteit is vloeibaar en genuanseerd; ’n beeld wat in teenstelling is met die stereotipes wat (indirek) in die memes aangespreek word.
Die gebruik van Kaaps in kontekste waarin dit gewoonlik onderdruk of verwerp word, sowel as die aanvaarding en viering van hierdie (talige) identiteit deur hegemoniese, normatiewe taalgroepe, dui op ’n terugwin van Kaapse sprekers se agentskap in die publieke sfere van die Suid-Afrikaanse samelewing.
Vannie Kaap benut die potensiaal vir agentskap wat sosiale media-platforms aan verbruikers leen om Kaaps en Bruin (Coloured) identiteit te herkontekstualiseer binne ’n meertalige Suid-Afrikaanse (Kaapstadse) konteks. Vannie Kaap se memes bied nie net die middel tot verset teen stigmatisering en stereotipering nie, maar moedig ook implisiet die gebruik van Kaaps – deur Kaaps se sprekerskorps en ander – aan. Kortom: Vannie Kaap het dit reg gekry om ’n meme-blad te omskep tot ’n (self)bemagtigende middel.
Milani verduidelik dat taalburgerskap juis daardie optredes, taalkeuses en taalgedrag behels wat in die “nooks and crannies of everyday life”, buite geïnstitusionaliseerde kontekste, wat in die reël nie met politiek assosieer word nie, plaasvind. Taalburgerskap behels daarom taalgedrag en -keuses wat in alledaagse kontekste uitgevoer word; waarin persoonlike en alledaagse kontekste en spasies tot invloedryke politieke spasies omskep word. As alledaagse, byna indringende verskynsel, is sosiale media moontlik een van dié invloedrykste platforms waarop hierdie sogenaamde “politiek van die alledaagse” uitspeel – nie net in die keuse van wát om te like, te follow en te share nie, maar ook in watter taal om dit te doen.
Vannie Kaap se memes bewys met ander woorde dat alledaagse optredes – soos die keuse om op ’n sekere manier te praat – in persoonlike ruimtes (soos jou sosiale media-feed) invloedryk genoeg kan wees om diskoerse, stigmas en hegemoniese houdings uit te daag. En dat ’n sogenoemde “joke taal” nie sommer ligtelik opgeneem moet word nie.
Andréa Müller is ’n Meestersstudent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch (US). Sy het vroeg in 2020 haar Honneursgraad aan die US verwerf. Hierdie artikel is ’n kort samevatting van haar Honneursskripsie. Haar M handel oor die digkuns van Bruin vroue digters.