Aandag, alle navorsers! Kom maak die sirkel groter by Klyn Akademie

'n Nuwe platform vir die deel van navorsing, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

Wil jy jou MA-verhandeling, PhD-proefskrif of akademiese boek verwerk tot ’n redaksionele artikel in kenmerkende Klyntji-styl? Laat vaar verwarrende jargon en stywe akademiese konvensies – maak knoop los en deel jou navorsing met die Klyntji-lesersgemeenskap, in die taal waarin jy lééf, op Klyntji.com.

Wat is Klyn Akademie?

Klyn Akademie is ’n projek deur Klyntji in samewerking met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK). Klyn Akademie is jóú platform om akademiese navorsing op ’n nuwe manier te verpak. Dink: vars, progressief, toeganklik en lekker om te lees. Dit is nie ’n nuwe akademiese joernaal nie, maar ’n inisiatief om navorsing met ’n breër gehoor te deel. Akademiese navorsing uit enige vakdissipline is welkom.

Die eerste oproep om bydraes vir Klyn Akademie is oop vir lede en beurshouers van die SAAWK. Lees hier meer oor lidmaatskap. 

Anders as ander reeds bestaande aanlyn akademiese platforms, moedig Klyn Akademie navorsers aan om te skryf soos hulle praat; om persoonlike vertellings te verweef met hulle skrywe; en om multimedia in te sluit, soos kunswerke, video’s en musiek. Klyn Akademie is die eerste inisiatief van sy soort in Afrikaans.

Wil jy jou navorsing met Klyn Akademie deel?

Stuur die volgende teen 2 Maart 2026 aan redaksie@klyntji.com

  • ’n opsomming van jou verhandeling, proefskrif of boek in sowat 300 woorde;

  • dui die universiteit waar jy jou studie voltooi het, jou studieleier, fakulteit en vakdissipline aan;

  • heg die PDF van jou tesis of proefskrif aan, of verskaf ’n hiperskakel;

  • dui aan indien jy enige ander artikels, boekhoofstukke of lesings gepubliseer het wat ook gebaseer is op die navorsing wat jy aan Klyn Akademie voorlê;

  • dui kortliks aan hoe jou navorsing vernuwend is en waarom dit met ’n groter leserspubliek gedeel moet word;

  • dui ook kortliks aan hoe jy die artikel sou benader om jou navorsing toeganklik te maak vir publikasie op Klyntji.com;

  • bevestig dat jy óf ’n lid óf ’n (huidige of voormalige) beurshouer van die SAAWK is.

Wat gebeur dan?

Voorstelle word deur die Klyntji-redaksie en betrokke bestuurslede van die SAAWK gekeur. Navorsers van gekeurde voorstelle sal teen einde Maart terugvoer ontvang, tesame met duidelike skrywersriglyne. Eerste weergawes van goedgekeurde artikels sal teen einde Mei ingewag word.

Hiermee solank 'n paar riglyne om jou gedagtes aan die gang te kry: 

  • Finale artikels gebaseer op goedgekeurde voorleggings moet sowat 2 000 woorde lank wees.

  • Hierdie artikels moet opsommend wees. Let wel: Dis nie ’n akademiese opsomming (abstract) nie.

  • Artikels moet in gewone taal geskryf word, sover moontlik.

  • Persoonlike vertellings wat verband hou met jou navorsing, word verwelkom. Hierdie artikels mag dus afwyk van tradisionele akademiese konvensies en styl – Klyn Akademie moedig dít juis aan!

  • Opskrifte is nie ’n vereiste nie, maar jy kan wel gebruik maak van kreatiewe opskrifte wat nie streng akademies is nie. 

  • Geen inteksverwysings of bronnelyste word ingesluit nie, maar wel hiperskakels, waar gepas, wat na die betrokke bronne lei. 

  • Visuele materiaal en die gebruik van multimedia word aangemoedig. Die skrywer is welkom om hiperskakels na kunswerke, video’s, musiek, leesstof en des meer in te sluit. 

  • Kyk gerus hier, hier, hier en hier vir voorbeelde van hoe ’n Klyn Akademie-artikel kan lyk.

Wat is Klyntji?

Ons Klyntji is die eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, gestig in die jaar 1896. Dit herleef as ’n zine in die 1990’s en die gedrukte Ons Klyntji- literêre zine verskyn steeds jaarliks. Klyntji.com bestaan van 2014 af en is ’n onafhanklike webjoernaal wat fokus op diverse en progressiewe kuns en kultuur. Beide die gedrukte zine en die webjoernaal word deur Klyntji (’n vrywillige vereniging met PBO- en NPO-status) uitgegee. Klyntji.com moedig die gebruik van al die variëteite van Afrikaans aan en is gratis om te lees. Lees meer hier

Wat is die SAAWK?

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, oorspronklik De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst, is in 1909 gestig. Die missie en algemene doelstellings van die Akademie is die bevordering van wetenskap, tegnologie, letterkunde en kuns in Afrikaans, asook die beskerming en bevordering van Afrikaans in al sy variëteite. Die Akademie ken verskeie literêre en prestigepryse toe, insluitend die gesogte Hertzogprys, en gee twee Afrikaanse interdissiplinêre geakkrediteerde vaktydskrifte uit, naamlik die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT) en die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW). Lees meer oor die SAAWK hier.

Vrae kan aan redaksie@klyntji.com gerig word.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Aandag, alle navorsers! Kom maak die sirkel groter by Klyn Akademie gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand