Mmakgabo Helen Sebidi word vereer deur die Akademie

Mmakgabo Helen Sebidi word vereer deur die Akademie
Mmakgabo Helen Sebidi, A Girl Meets Her Spirit Parents (2014 - 2015)

Mmakgabo Helen Sebidi, A Girl Meets Her Spirit Parents (2014 - 2015)

Kuns na 'n voor-Christelike, voor-koloniale Afrika

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het onlangs aangekondig wie in 2019 deur hulle bekroon sal word. Die pryse sal na keuse van die bekroondes tydens die bekroningsplegtighede, op onderskeidelik 10 Julie in Stellenbosch en 11 September in Pretoria, oorhandig word. Die Erepenning vir Visuele Kunste word toegeken aan Mmakgabo Helen Sebidi vir haar bydrae tot die visuele kunste in Suid-Afrika. Die Akademie meen dat hoewel Sebidi reeds sedert die tagtigerjare wêreldwyd erkenning ontvang en plaaslik en internasionaal groot aansien verwerf het vir haar voortrekflike skilder- en beeldhoukuns, is sy tot dusver nie plaaslik na behore vereer vir haar groot bydrae tot die visuele kunste nie. “Dit is dus op grond hiervan dat dit noodsaaklik is dat die Akademie vir Wetenskap en Kuns haar as een van hierdie land se voorste kunstenaars sal erken met hierdie toekenning,” word daar gestel.

Mmakgabo Helen Sebidi, Tears Of Africa ii diptiek (2016)

Mmakgabo Helen Sebidi, Tears Of Africa ii diptiek (2016)

Prof. Alex Duffey het die motivering vir die prys aan die hand van Sebidi se CV en biografie opgestel. Volgens die motivering is Sebidi se kuns ’n poging om terug te keer na ’n voor-Christelike, voor-koloniale Afrika. Sebidi, wat in die Hammanskraal gebied in 1943 gebore is, se moeder het dwarsdeur haar kinderjare as huishulp in die stad gewerk, met die gevolg dat sy by haar ouma grootgeword het. Dit is by haar ouma waar haar kreatiwiteit aangewakker is met die bou en versiering van kraalmure, die maak van kleipotte, die versiering van kalbasse, weefwerk, kralewerk, breiwerk, kleremaak, tekenwerk en skilder.

Sebidi het die skool verlaat ná graad agt om as huishulp in Johannesburg te gaan werk. In haar vrye tyd het sy gebrei en rokke gemaak. ’n Duitse werkgewer, Heidi, het self begin skilder en Sebidi het ook daarin belangstelling getoon. Haar werkgewer het vir haar, haar eerste olieverfstel geskenk. Sy het toe kunsklasse by John Koenakeefe Mohl geneem, maar in 1975 moes sy terugkeer na Marapyane in Hammanskraal om haar toe sieklike ouma te gaan versorg.

Gedurende die vroeë tagtigerjare het sy opleiding by die Katlehong Art Centre ontvang om haar kleitegniek te verbeter. Daar het sy pottebakkers- en beeldhouwerk gedoen en klasse aangebied vir kinders. Ná haar ouma se dood in 1981 het sy in Marapyane gebly en ’n lewe gemaak uit die versiering en verkoop van kalbasse en pottebakkerswerk. In hierdie tyd het sy in relatiewe armoede in ’n townshiphostel in Johannesburg gaan woon. In 1985 het Sebidi haar eerste solo-uitstalling by FUBA (Federated Union of Black Artists Arts Centre) gehou. Dit is deur John Mohl gereël, maar hy is oorlede voordat die uitstalling geopen is. Deur hierdie uitstalling het sy vir Bill Ainslie ontmoet, wat haar aangemoedig het om meer abstrak te werk en haar aan ander kunstenaars voorgestel het. Sy het by die Johannesburg Art Foundation aangesluit en saam met ander kunstenaars begin werk. Tot voor dié verwikkelinge het Sebidi meestal haar werk aan toeriste by die Zoo Lake in Johannesburg verkoop. Ná haar eerste solo-uitstalling het sy egter bekendheid in die kunswêreld verwerf as ’n betekenisvolle en invloedryke kunstenaar, nou verbonde aan die Everard Read Gallery.

Fotograaf Adrian Steirn se portret van die kunstenaar omring deur haar bekendste werk Tears of Africa (1978 - 1988), as deel van die 21 Icons-reeks.

In 1989 het die Amerikaanse Ambassade haar genader om aansoek te doen vir ’n internasionale toekenning. Sy het die toekenning gewen en is ’n Fulbright-studiebeurs gegee om na die VSA te gaan. In Amerika het sy by die universiteite Yale en Mississipi gepraat en ’n 45-dae-kunswerkwinkel saam met Afro-Amerikaanse kunstenaars in Washington bygewoon. Oor hierdie tyd vertel sy aan ArtThrob:

When I won the [Fulbright] Scholarship and went to New York, the embassy called me and asked me what I would like to see in America. For me, it was a question that gave me an opportunity to see the agriculture, because I’m an agricultural woman myself. […] They asked me what else, and I said something that I had gotten from my grandparents and their story-telling. The elders told me that their people were stolen, people with knowledge who could do things, and that’s why we were so poor, because our people are gone. They would say that they didn’t want me to be like the people that had been stolen. When I went to the embassy I told them that I had heard that those people in America are stolen people. They said to me that they weren’t stolen people, that they are African American. I told them that I very much wanted to see them because the stories of stolen people had impacted me so strongly. And then the third request was that I wanted to see the original people in America. They asked me what I meant by the original people. I said “the people who originated there, I want to see them”. Those three questions became a major thing with the American embassy. They had never funded a person who asked questions like that.

Ook in 1989 is sy aangewys as die Standard Bank Young Artist van die jaar. Vanaf die 1990’s tot op hede het Sebidi dwarsdeur die wêreld gereis en uitgestal, insluitende in Brittanje, Holland en die VSA. In 2004 is die Orde van Ikhamanga aan haar toegeken deur president Thabo Mbeki.

Die motivering stel dat Sebidi ’n inspirasie en pionier vir die jonger generasie van Suid-Afrikaanse kunstenaars is. Sy werk hoofsaaklik met pastelle, akriel en olieverf en het ’n eie en unieke styl ontwikkel wat sterk gejukstaposeerde kleur, growwe oppervlaktes, verdraaide perspektief, abtrakte mens- en dierefigure en droombeelde insluit, met ’n soort pointillism-tegniek by die aanwending van haar pastelle of verf.

Sebidi staan vandag uit onder die ouer garde van swart kunstenaars van Suid-Afrika, ferm gevestig in ’n waardesisteem en simbole eie aan haar mense as ’n manier om sin te maak van die wêreld, volgens norme en waardes wat ooral in die platteland van Afrika nog voorkom. In haar meer onlangse werk het sy teruggekeer na beeldhoukuns. Sy het tans ’n ateljee in Parktown in Johannesburg en bestee baie van haar vrye tyd aan die inspirering en aanmoediging van die jonger generasie van kunstenaars.

Nog van Mmakgabo Helen Sebidi se bekende werke

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Mmakgabo Helen Sebidi word vereer deur die Akademie gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand