Kunstenaar Elzahn Nel trek lyne net waar sy wil
Haar pad na voltydse kunsmaak
“Ek dink woorde maak saak. Woorde dra gewig. Woorde moet vry wees. Ek wonder baie hoeveel van ons publieke diskoers word deur onkunde, wrok en vooroordeling gelei. Kan ons nog gesels sonder om befok te raak of gekruisig te word deur ’n kampvegter vir sosiale geregtigheid?”
Elzahn Nel woon en werk in Bangkok. Haar kuns wat uit ’n reeks mediums geskep word, word deur ’n verskeidenheid temas beïnvloed, veral die dood, beheer, maskuliniteit en identiteit in die verbeelde gemeenskap. “Ek is verlief op lyn. Ek teken figure in swart inklyne en besluit hoeveel geslagsdele hulle kry vir die blote rede dat ek geïnteresseerd is in die gevoel van mag in die studio. Ek kan besluit. Die kwas is in my hand.”
Gevra vir ’n artist statement, antwoord Elzahn: “Jirre tog. Daardie twee woorde sit nie reg in my lyf nie. Gesamentlik klink dit asof jy ’n nasie gaan toespreek, ’n manifesto lewer.” Die kunstenaar se biografie is dalk in dié geval meer gepas om haar werk mee te kontekstualiseer.
Biografie
1987: Elzahn is gebore in die Paarl Hospitaal. Haar ouers is Chris en Elsuna Nel.
1994: Ná haar ouers se egskeiding word haar kinderdae verdeel tussen haar pa in die Karoo en haar ma in die Boland. Elzahn onthou hoe sy eendjies en dammetjies uit klei buite haar ouma se ateljee bou (sy mag nie binne sit nie, want ouma stook). Sy bou ook poppe en strukture uit papier.
Op die ouderdom van nege begin sy met formele kunsklasse. Sy onthou ’n les waar sy ’n selfportret in blou en pers lyne geteken het. Sy sien ’n prentjie van ’n Matisse-kunswerk in ’n tydskrif. Sy knip dit uit en plak dit in haar plakboek. Sy weet nie wie Matisse is nie. Op tienjarige ouderdom verf sy saam met haar pa se kunstenaarsniggie, Lientjie, haar eerste olielandskap. Sy maak gebruik van vrye kwashale en skep die illusie van ’n veld vol blomme. Die grootmense maak ’n bohaai; dit is die eerste keer dat sy soos ’n kunstenaar voel. Kort daarna verloor sy egter moed ná haar familielede giggel vir ’n portret wat sy van haar niggie maak. Sy ervaar slaapverlamming en het helder drome oor die dood. Die verhaal van Jesus klink vir haar onwaarskynlik.
2001: Elzahn probeer die beste van haar hoërskoolloopbaan maak, maar sukkel met alle vorme van gesag. Sy is ’n moeilike tiener. Op 14 trek sy by haar pa in. As ’n laaste uitweg vir haar onbeheerbare rebellie stel haar ma voor dat sy deel raak van Nancy Bakkes se skildergroep. Tydens haar eerste uitstalling saam met Nancy en haar studente verkoop die meeste van haar skilderye. Sy koop ook haar eerste digitale kamera om haar werk mee te dokumenteer.
2005: Elzahn matrikuleer. Die Burger publiseer ’n artikel oor haar kunswerk met die titel: “Pasop Picasso”. Sy is nie in haar skik met die titel van die artikel nie. Elzahn spandeer haar laaste skoolvakansie, voor kunsskool, deur vrywilligheidswerk by die plaaslike kinderhospitaal te doen. Sy is geweldig geaffekteer deur die lyding van die pasiënte, veral ’n jong brandslagoffer. Sy sien hoe die verpleegsters sy wonde skoon skrop.
2006 - 2008: Elzahn begin studeer by die Ruth Prowse School of Art in Kaapstad, waar sy onmiddellik tuis voel. Hier doen sy haar eerste naakfiguurstudie. Sy onthou hoe sy gewonder het of die model werklik sy handdoek gaan laat val. Hy het die handdoek laat val. Sy maak einde 2008 klaar met kunsskool en ontvang ’n prys vir haar skryfstuk wat handel oor Afrikaner-identiteit. Een van haar skilderye en een installasiewerk word opgeneem in ’n privaat kunsversameling in Johannesburg.
2009: Elzahn reis na Europa. In Parys sien sy ’n uitstalling van Alexander Calder se draadsirkus – die speelse natuur van die werk maak ’n groot indruk op haar. Sy is opnuut geïnspireer om haar eie styl te ontwikkel. Sy spandeer die volgende paar jaar deur by verskeie galerye te werk. Sy doen ’n internskap onder die voormalige redakteur van die Contempo kunstydskrif, Johann du Plessis. Sy begin haar eie kunsskool vir jong kinders. Uiteindelik besit sy twee klein kunsskooltjies, een in Kaapstad en een in Stellenbosch. Sy voel rusteloos en verlore in haar kunspraktyk. Sy doen realistiese figuurstudies, maar wil in ’n meer ekspressiewe styl werk. Op haar laagtepunt aanvaar sy ’n kommissie waar sy twee worshonde op ’n fluweelkussing verf. Elzahn sluit aan by die Universiteit van Kaapstad en doen ’n kursus met die naam Business Acumen for Artists. Hier ontmoet sy die kunstenaar Paul du Toit. Hy nooi haar na sy ateljee in Houtbaai. In die volgende paar jaar kom hulle gereeld bymekaar om oor kuns te gesels. Hulle gesprekke verander Elzahn se uitkyk op haar kunspraktyk. Sy begin eksperimenteer met ekpressionisme en vereenvoudigde lyn. Sy pak haar werk met nuwe energie aan.
Elzahn begin werk vir Andrea Kerzner en help met die vestiging van die Lalela Project in die Imizamo Yethu-informele nedersetting. Suid-Afrika se politieke situasie word vir haar ’n realiteit. Sy sien kunswerke van Sol Kerzner se versameling, onder meer Nelson Mandela se hande in brons gegiet deur Paul du Toit. Sy teken en verf in die aande. Sy maak drie portret-skilderye in akriel met minimalistiese lyn. Sy voel sy is op die regte pad.
2010: Elzahn ontmoet haar toekomstige man, Niel. ’n Jaar ná hulle ontmoeting, besluit hulle om te gaan toer. Hulle toer deur Suid-Oos Asië en Europa en vestig hulself in Bangkok vir drie jaar. Hier ontmoet Elzahn vir Elsie Evans, ’n Skotse kunstenaar. Elsie leer vir haar die belangrikheid daarvan om ’n sketsboek saam met jou te dra. Dit is in Burma saam met Niel waar sy vir die eerste keer begin skets en noukeurig boekhou van haar proses. In Europa besoek sy ’n paar uitstallings wat die rigting van haar praktyk verander. Die kunstenaars wat ’n invloed op haar het, sluit in Patrick Neu by die Palais de Tokyo, Mona Hatoum in die Centre Pompidou, Henri Matisse in Amsterdam en Lucien Freud in Londen. In Bangkok doen sy ’n kursus by die klassiek-opgeleide Britse kunstenaar Nicholas Benedict Robinson. Haar figuurstudies vorm deel van ’n groepuitstalling. Kort daarna het sy ’n solo-uitstalling waar sy drie jaar se sketse uitstal. Niel en Elzahn keer terug na Suid-Afrika. Elzahn doen ’n werkswinkel by die landskapskunstenaar Strijdom van der Merwe. Kort daarna vind sy ’n oes granate op haar pa se Karoo-plaas. Die voëls het die granate uitgeëet en sy weef al die granate versigtig toe. Elzahn ontwikkel ’n kenmerkende styl van figuurtekeninge in dun inklyne met oorgrote hande en voete. Sy stal uit by Souk as deel van die Kaapstadse First Thursdays. Sy neem deel aan die jaarlikse lede-uitstalling by Art B.
2018: Niel en Elzahn maak ’n permanente skuif na Bangkok. Sy woon ’n praatjie van die wêreldberoemde kunstenaar Marina Abramovic by. Sy begin speel met die idee van opvoerkuns in videos wat sy aanlyn plaas.
2019: Van iPhone foto’s af teken Elzahn 229 dae aan deur sketse op ’n drie meter lange skets. Die foto’s is oor ’n tydperk van 365 dae geneem en verteenwoordig ’n jaar van haar lewe. Sien die volle werk hier. Die jaar eindig met ’n drie maand residency in Bangkok. Elzahn maak die skuif om ’n voltydse kunstenaar te wees. Ná ’n vakansie in Japan besluit sy om meer aggressief met kleur te begin eksperimenteer. Sy verf ’n reeks portrette wat sy in Japan afgeneem het. ’n Besoek aan Team Lab Planets verander haar opinie oor wat installasiekuns kan wees.
2020 - tot op hede: 2020 skop af met ’n uitstalling by die Project 189 Residency Space saam met ’n mede Afrika-kunstenaar Maku Azu. Een van Elzahn se tekeninge word in die Doomsday-groepuitstalling opgeneem. Elzahn werk tans aan ’n grootskaalse installasie wat in Oktober uitgestal gaan word. Sy hou aan om te eksperimenteer met kleur en haar groot liefde, lyn.
Besoek Elzahn se aanlyn-winkel.