Kyk: Evita Bezuidenhout vang forel saam met Cyril Ramaphosa
'As jy voel jy is besig om te sink, hou vas aan Cyril'
Evita Bezuidenhout, die “beroemdste wit vrou in Suid-Afrika”, is een van min mense wat dit kon regkry om allerhande politiese figure aan haar tafel te laat sit. In dié fopdosser se M-Net-televisiereeks van 1994, Funigalore, het sy onderhoude gevoer met die leiers van die nuwe demokratiese regering, onder andere Nelson Mandela, Roelf Meyer, Joe Slovo, Mac Maharaj, Patricia de Lille, Pik Botha, Tokyo Sexwale, Tony Leon, Terror Lekota en Cyril Ramaphosa.
Evita Bezuidenhout is op 28 September 1935 gebore as Evangelie Poggenpoel van nederige Boere-herkoms in die stowwerige Oranje-Vrystaatse stad Bethlehem. Sy trou in die politieke Bezuidenhout-dinastie in en word die ontugtige vrou van die NP-parlementslid doktor JJ De V Bezuidenhout. Mevrou Bezuidenhout dien tien jaar as die Suid-Afrikaanse ambassadeur in die onafhanklike swart tuisland Republiek Bapetikosweti, wat ’n onuitwisbare merk op die bloudruk van verandering laat. Vandag word haar resep vir bobotie internasionaal as die basis vir versoening beskou.
Evita Bezuidenhout verdeel vandag haar tyd tussen die Bezuidenhout-gesin in Laagerfontein, waar haar man Oom Hasie woon, en die Weskus-dorpie Darling, waar haar ma Ouma Ossewania Kakebenia Poggenpoel woonagtig is.
Die onderhoud hieronder het by die Walkersons-hotel neffens Dullstroom in Mpumalanga plaasgevind.
Pieter-Dirk Uys se lewe in foto's
Die man agter dié fopdosser is ene Pieter-Dirk Uys, bekroonde teatermaker, skrywer, satirikus en sosiale aktivis. Hy vertel dat nadat hy die uiterse “middelmatigheid van apartheidkultuur” oorleef het, waaronder sy materiaal verban is, is dit sy terapie en vreugde om die bene van die apartheid-dinosourus bloot te stel vir die vermaak van demokratiese gehore van regoor die wêreld. Hy is egter ook verheug om steeds ’n regering te hê wat daagliks sy beste materiaal skryf. Sy memoires Elections & Erections (2002) en Between the Devil and the Deep (2005) is gratis aanlyn beskikbaar.