Johan Louw Stegmann se kuns oor geskiedenis se dualiteit
'n Goeie Dag vir 'n Slag-ting
Dinge is nie altyd wit of swart nie – dit is daardie konflik en oorgangsone wat kunstenaar Johan Louw Stegmann ondersoek en uitbeeld in sy kuns. “Ek bestudeer tweeledigheid in geskiedenis, moraliteit en in die skeiding tussen intellektuele en intuïtiewe denke,” skryf hy. Verder ondersoek hy die Westerse aard van kontemporêre Suid-Afrikaanse en wêreldwye kultuur deur om op ’n speelse manier geskiedenis oor te vertel. “Ek skep beelde wat op die oog af ooreenstem met die kenmerke en sogenaamde gesag van klassieke Westerse kuns, maar wat dan daardie einste kuns en die aannames wat daarmee gepaardgaan ondermyn.”
Johan bly bewus van sy identiteit, en vertel dat weens sy Afrikaanse agtergrond sy stem nie neutraal kan wees nie. “My werk bevraagteken die konsep van ’n neutrale geskiedenis en stel voor dat ’n ‘neutrale’ of ‘korrekte’ stem nie bestaan nie. Wanneer ’n kunstenaar in die Westerse tradisie werk en van historiese beelde gebruik maak, bestaan daar die risiko dat hy/sy die sogenaamde gesag van daardie beelde onderstreep eerder as om dit te bevraagteken.
“Maar, deur die oorgee aan my bewondering vir Eurosentriese beelde en deur hulle algemeen aanvaarde narratiewe te oordryf tot in die absurde, glo ek dié idees kan van hulle outoriteit gestroop word. Die feilbaarheid van ’n spesifieke wêrelduitkyk kan uitgelig word in die feilbaarheid van ’n beeld. Ek poog nie om ’n narratief vir die kyker voor te skryf nie, maar eerder om hulle uit te daag om hulle begrip van ‘geskiedenis’ te ondersoek.
“Die Slag van Bloedrivier was uiters belangrik in die geskiedenis van Suid-Afrika. Dit is die toonbeeld van die digotomiese aard van geskiedenis. Dieselfde stel feite (as jy die feite aanvaar as die waarheid) kan verskillende betekenisse hê afhangend van watter kant van die Ncome rivier jy staan. Die titel ’n Goeie Dag vir ’n Slag kan beteken dat dit uiteindelik ’n goeie dag is, of dat dit ’n goeie dag is vir ’n slagting.”
Johan vertel dat die impak van hierdie geskiedkundige gebeurtenis hom gemotiveer het om met opset die stories van Bloedriver en die ervarings van hedendaagse Suid-Afrikaners in een beeld voor te stel. Hierdie gebeure word dan ook teenoor die fassinerende verhaal van die wyle Ds. Johan Heyns geplaas (sien die video).
“Ek probeer om beelde te skep waar onversoenbare idees gemeng kan word om nuwe gedagtes, idees en gevoelens te laat onstaan – hopelik om dan die binêre te oorskry. Ek hoop dat die ondersoek van tweeledigheid in ons geskiedenis kan bydra tot belangrike gesprekke sowel as sosiale samehorigheid.”
Johan Louw Stegmann werk vanuit Johannesburg as meganiese ingenieur en visuele kunstenaar. Hy is in 1988 in Pretoria gebore, maar het in Polokwane in die Limpopo-provinsie grootgeword. In 2012 ontvang hy ’n Baccalaureusgraad in Meganiese Ingenieurswese van die Universiteit van Pretoria. Teen hierdie tyd het hy al wye blootstelling aan die kunswêreld geniet as assistent in die ateljees van Louis Olivier, William Kentridge en die Workhouse Bronsgietery. Al konsentreer hy hoofsaaklik op tweedimensionele monochromatiese werk, tree hy ook op as kurator van uitstallings en voer kunsopvoerings uit.
Sien die kunswerke se onderskrifte vir verdere verduidelikings en bespreking.