Morné Visagie se bloue wis met gedigte deur Fourie Botha

Morné Visagie se bloue wis met gedigte deur Fourie Botha
FRAGMENT I, II (AN AFFAIR BELOW)

FRAGMENT I, II (AN AFFAIR BELOW)

 

Jardin Majorelle

Ek blou van jou

“On 19 August 1735 the two men had weights tied to their bodies and, somewhere between the Cape and Robben Island, were dropped into the sea to drown, a sentence no doubt designed to cleanse the earth of their polluting presence” (Penn, 1992:25). Hierdie twee mans was Claas Blank, ’n Khoikhoi, wat in 1715 op die eiland gevange geneem is, en Rijkhaart Jacobsz, ’n Hollandse matroos uit Rotterdam wat in 1713 op die eiland opgesluit is (Penn, 1992: 24). In Robben Island: The Politics of Rock and Sand, vertaal Nigel Penn agttiende-eeuse dokumente uit die Kaapse Argief wat rekords van die gevangenisowerhede bevat. Dit bewys dat die twee gevangenes vir meer as ’n dekade ’n verhouding van dieselfde geslag gehad het voordat hulle tot die dood veroordeel is (Penn, 1992:25). Dit is die idee van begeerte, verlange, liefde, en om gewelddadig verdrink te word deur ’n samelewing wat nie die Ander aanvaar nie.

Robbeneiland is meestal bekend as die plek waar die voormalige Suid-Afrikaanse president, Nelson Mandela, 18 van sy 27 jaar tronkstraf onder die apartheidsregering moes uitgedien het. Daar is min bekend oor die eiland se vroeëre geskiedenis aan die algemene Suid-Afrikaanse publiek, behalwe miskien vir diegene wat op die eiland gewoon en gewerk het, soos vir die kunstenaar Morné Visagie wat sy vroeë kinderjare (1990-1995) op Robbeneiland deurgebring het. Dit was uiteraard ’n tydperk waarin die eiland sy politieke vorm verander het. “Hierdie jare op die eiland het ’n konstante onderhandeling tussen land en see geword: om die eiland te verlaat, om op ’n boot te klim en die see oor te steek, om in Kaapstad te land. In my werk ondersoek ek hierdie verhouding tussen land en see, ek kyk na die eiland as ’n ontmoetingsplek vir Rijkhaart en Claas. So word die eiland ’n tryst, ’n ontmoeting tussen die twee,” vertel Morné.

“Met my huidige werk ondersoek ek die geskiedenis van Robbeneiland as ’n plek van ontwrigting en verlies vir diegene wat teen gediskrimineer is (verban en daar opgesluit), sowel as die see, in hierdie geval die Atlantiese Oseaan, as ’n oorgangsone tussen lewe en dood.” Robbeneiland het ’n herhalende metafoor in Morné se verbeelding geword, met die dat die kleur blou die afgelope agt jaar die primêre medium in sy werk was; ’n persoonlike simbool van dood, verlies, nostalgie, geheue, godsdiens, seksualiteit, ballingskap en afstand. “Die onderliggende geweld in my werk handel subtiel met hierdie begrip van die dood in opwindende en sensuele maniere. Deur idees af te breek na abstrakte vorms en kleur, strip ek die werk visueel van die historiese, psigologiese en konseptuele gewig wat dit dra; deur om iets te skep wat ervaar kan word deur om jouself te doop in ’n plek van wonder en resonansie wat verwys na die subteks van geweld, maar verstaan ​​word deur skoonheid.

 

Die Bloue Wis

’n Seleksie kunswerke en gedigte deur Fourie Botha


I. Papiermond
“I am a castaway, not a prisoner”

Die eiland het my tong geskeur.
Waar lê die taal vir soveel blou?
Hier is net vlakwater se kleur.
Dit is ons pa’s wat ons hier hou.

Swimming Pool I, Robben Island 2018

Swimming Pool I, Robben Island 2018

Swimming Pool II, Robben Island 2018

Swimming Pool II, Robben Island 2018

III. There Are Gold Flecks in the Lapis, 2016
“waar die onverdeelbare blou
bly aanhou hou tót by die oesterbanke”

’n Honderd dae lank:
daagliks ’n vierkantjie
kleur op jou BlackBerry.

“busstopblou”
“alarmblou”
“emmerblou”

Jy hou boek,
katalogiseer,
benommer die spulletjie.

“tupperwareblou”
“potblou”
“confidentialpayslipblou”

Titteleer jou telefoon
smorens: ’n geskakeerde
dance of the seven veils.

“ondermykombersblou”
“stasoftblou”
“onderbroekblou”

Hierna meng jy elkeen
met ’n reseppie – bietjie van dit,
bietjie van dat – en siedaar:

“plakkaatblou”
“Kentridgeblou”
“Joburgartfairblou”

(Wyl bitterbekek wonder:
Wanneer dan
die blue movie?)

Ná 100 dae én ’n kunswerk
is dié ouskool stripteaze op ’n end
en steeds ongemeng:

“ekhouvanjoublou”
“houvanmyookblou”
“ekisblouoorjoublou”

Nr. 67 (“Kentridgeblou”)
“Chance had cast me on his island,
chance had thrown me in his arms”

’n Duifblou seël vir jou gestuur.
’n Berggansveer kon ek nie kry.
Monteer dit maar hier teen jou muur, ’
’n moordkuil vir jou galery.

Guest House Look-out, Robben Island 2018

Guest House Look-out, Robben Island 2018

VI. Nie die storie van die eiland nie

“I do not wish to hear your
desire,” said Cruso. “It
concerns other things, it does not
concern the island, it is not a
matter of the island.”

Die
storie
van die
boykie
is nie
die
storie
van die
eiland nie:
Die
keer
toe jy die
staaldeur van die
buitetoilet oopstoot die
man vierkant voël-in-die-hand sien pie
alles wit word soos ’n geweerskoot, ook nie
jou pa se swembad vol dooie meeue tydens besoeke daarna nie.


Die Bloue Wis wys tot die 5de Januarie 2019 by Nuweland in Nederland.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Morné Visagie se bloue wis met gedigte deur Fourie Botha gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand