Kuns oor die Kimberley-diamantstormloop se gevolge

Kuns oor die Kimberley-diamantstormloop se gevolge

André Rose, Stone (2021). Holga-fotografiese druk, 27 x 27 cm.

Oor Janine Allen en André Rose se uitstalling, Eureka

Volgens legende roep die antieke Griekse wetenskaplike Archimedes “Eureka! Eureka!” uit, wat uit antieke Grieks vertaal as “Ek het dit gevind”. Die eerste diamant wat in 1867 in Suid-Afrika deur ’n 15-jarige seun genaamd Erasmus Jacobs langs ’n rivierloop gevind is, word ook Eureka gedoop. Hierdie ontdekking veroorsaak ’n desperate migrasie van werkers en gee aanleiding tot die negentiende eeuse Kimberley-diamantstormloop. 

Visuele kunstenaars Janine Allen en André Rose kies ook die uitroep Eureka as die titel van hul interdissiplinêre uitstalling. Eureka open in Kimberley, toer na Gqeberha en word mees onlangs verlede jaar by die Johannes Stegmann-kunsgalery, Universiteit van die Vrystaat (UV) ten toon gestel. 

Janine Allen verwerf in 2017 ’n PhD in beeldende kunste aan die UV. Allen is ’n gerekende visuele kunstenaar, beeldfilosoof en medeprofessor in beeldende kunste aan die UV. Haar alterego The Brusher se werk kombineer skilderkuns met analoë en digitale interaktiwiteit, konseptuele fotografie, tekenkuns en performance. 

Daarteenoor is André Rose ’n openbare gesondheidsgeneesheer, asook openbare gesondheidsaktivis. As fotograaf benut hy die visuele kunste om sosiale kwessies aan te pak en hy lewer kommentaar oor ongelykhede in ons hedendaagse samelewing, met ’n spesifieke belangstelling in gemarginaliseerde persone en randfigure. 

Eureka is dus ’n transdissiplinêre uitstalling en samewerking tussen kunstenaar-en-dosent Allen en kunstenaar-en-gesondheidsgeneesheer Rose. Die projek ondersoek die komplekse multidimensionaliteit van ambagsmynbou en bevraagteken die psigo-sosio-ekonomiese uitdagings van die ambagsmynbou-gemeenskap in Kimberley. Die uitstalling ondersoek ook die meersydige stories van ambagsmynbouers, in die spreektaal bekend as zama-zamas, binne die post-koloniale en neo-liberale kontemporêre landskap. Omgewingsuitdagings word ook betrek. 

André Rose, Finding hope (2021). Holga-fotografiese druk, 27 x 27 cm.

Allen en Rose onderneem oor ’n tydperk van etlike jare reise na verskeie van Kimberley se informele nedersettings. Tydens hierdie reise word Allen en Rose, soos die ambagsmynbouers wat hulle ondersoek, ook prospekteerders. Allen en Rose speel die kunstenaarsrolle van opmeter, topograaf, kartograaf, karteerder, ontdekker, reisiger en toeris. 

As ’n besoeker aan die galery word die betragter óók ’n prospekteerder. Hy of sy moet reageer op die uitnodiging wat die kunsuitstalling uitreik en moet ook die rol van kartograaf, ontdekker en reisiger aanneem om die betekenis van die kunswerke te ontgin. 

Twee sleutel-fotografiese drukke deur Rose is Erode (2022) en Disintegration (2022). Beide hierdie foto’s is met ’n Holga-kamera afgeneem. Holga’s word aanvanklik in Hong Kong vervaardig as speelgoedkameras waarvan slegs die veermeganisme metaal is; die res van die kamera is van plastiek. Wanneer Holga’s vir die eerste keer in 1982 op die mark verskyn, word die kamera vinnig bekend vir foto’s wat wasig is en wat vignetting en ander vreemde distorsies veroorsaak. 

André Rose, Erode (2022). Holga-fotografiese druk, 84 x 118 cm.

André Rose, Disintegration (2022). Holga-fotografiese druk, 84 x 118 cm.

Buite China word die Holga vinnig deur fotograwe opgeraap om surrealistiese en impressionistiese foto’s van landskappe en stillewes te neem. Rose buit ook hierdie eienskappe van die Holga-kamera meesterlik uit. Veral die dynserigheid wat die Holga-kamera veroorsaak dra by tot die impak van Erode en Disintegration

Rose lewer deur middel van hierdie fotografiese drukke bowenal kritiese kommentaar op die omgewingsimpak van ambagsmynbou. Erosie het verminderde grondvrugbaarheid, verlies van grondvoedingstowwe en oesmislukking tot gevolg. Met Erode verbeeld Rose met ’n wasige en blurry foto die onbelemmerde vloei van water oor sand. 

Daarteenoor stel Disintegration nie net ’n geërodeerde landskap voor nie. ’n Kombers wat ook besig is om te verbrokkel, is die fokuspunt van hierdie ewe wasige fotografiese druk. Die drukke maak die betragter daarvan bewus dat die mynboulandskap konstant verander en herinner ook aan die kortstondigheid van die mynbouers en inderdaad ons almal se lewens. 

’n Reeks foto’s deur Rose wat die vignetting-effek van die Holga-kamera op opwindende dog roerende wyse ontgin, sluit die foto’s Finding wealth (2021), Finding hope (2021), Stone (2021) en Stoep talk (2021) in. In Finding wealth neem Rose ’n foto van ’n woning omring met Victoriaanse gietwerk. Hierdie foto roep dadelik Kimberley se koloniale geskiedenis en die rykdom wat dit vir ’n individu soos Cecil John Rhodes en ’n maatskappy soos De Beers gebring het, op. 

André Rose, Stoep talk (2021). Holga-fotografiese druk, 27 x 27 cm.

Die bogenoemde fotografiese drukke is almal monochroom en/of wit en swart. Rose maak gebruik van monochroomafbeeldings aangesien dit die onderwerpe wat afgeneem word, nie-figuratief laat lyk. Rose abstraheer die persone en landskappe wat hy fotografeer, deur van wit en swart film gebruik te maak. 

In teenstelling met Rose, benut Allen ’n uiteenlopende verskeidenheid media. ’n Installasie wat uit mynboutoerusting en ander diverse found objects bestaan, is Disequilibrium (2022). Die gebruik van ’n driedimensionele installasie soos Disequilibrium is vernuftig, aangesien dit besoekers aan die galery bewus maak van die ruimte waarbinne hulle beweeg. Besoekers se ervaring van die galeryruimte verander dienooreenkomstig, veral aangesien Disequilibrium meervoudige sintuie prikkel.

Janine Allen, Disequilibrium (2022). Installasie met myntoerusting en gevonde objekte.

Janine Allen, Disequilibrium (2022). Installasie met myntoerusting en gevonde objekte.

Diegene wat vertroud is met Allen se oeuvre, sal haar kenmerkende potloodlyne in Puppetmasters II (2019) herken. Allen maak gebruik van kadmium, caput mortuum en polychrome-kleurpotlode om ’n landskap te teken wat met die eerste oogopslag broos en delikaat blyk te wees. 

Die landskap is saamgestel uit rotsuitsteeksels en rotsskeure. Plek-plek let ’n mens klein figuurtjies op wat, soos die landskap, onderhewig is aan die titulêre poppemeesters – diegene wat agter die skerms werklik in beheer is. Bo-oor die landskap verbeeld Allen menigte strepe: die poppemeesters se toutjies waarmee beheer oor die landskap uitgeoefen word. 

Allen volg Puppetmasters II op met ’n litografie Puppetmasters III (2019—2022), wat ’n soortgelyke landskap karteer. Dat Allen van litografie gebruik maak, is tekenend van die kommentaar wat sy lewer. Litografie, afgelei uit die antieke Griekse terme lithos wat klip beteken en grafien (om te skryf), maak van ’n steen in die drukproses gebruik. Soos die poppemeesters die landskap beheer, beheer Allen die drukproses. Allen maak egter van klip gebruik, terwyl die poppemeesters edelgesteentes mísbruik in hul gejaag na rykdom. 

Soos in Puppetmasters II, verbeeld Allen in Puppetmasters III ook klein figure. Die figuurtjies, die zama zamas wat sonder enige mynbou- of veiligheidstoerusting alles in die stryd werp om ’n bestaan te maak, is klein teenoor ’n landskap wat herinner aan die filosofiese konsep die sublieme. Hierdie landskap gaan die verstand te bowe en herroep ’n grootsheid bo alle menslike berekening, teenoor die nietigheid en kragteloosheid van die mens. 

Janine Allen, Puppetmasters (2019). Kadmium, caput mortuum en polychrome-kleurpotlode, 72 x 100 cm.

Janine Allen, Puppetmasters III (2019—2022). Litografie, 49 x 70 cm.

’n Laaste woord oor die samestelling van die uitstalling in die Stegmann-kunsgalery. Die kurator Angela de Jesus plaas die verskeidenheid media waaruit Eureka bestaan in ’n boeiende gesprek met mekaar. Sy skep op ’n doeltreffende wyse ’n ruimte waarbinne die galerybesoeker uitgedaag word om die meersinnige betekeniswêrelde van die uitstalling te ontgin. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Kuns oor die Kimberley-diamantstormloop se gevolge gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand