Luister na hierdie Afrikaanse digkuns-podsending

Luister na hierdie Afrikaanse digkuns-podsending
59773927_383502182247135_2552589065052487680_n.jpg

huiDIG, 'n poëtiese verkenning

“Ons was eintlik maar net drie vriende wat besluit het dat dit tyd was vir Afrikaanse poësie om ook die potgooi-wêreld te betree – juis omdat ons self ook graag na so iets sou wou luister,” vertel Michelle Oelofse (23), wat saam met Brigitte Geyer (20), beide regstudente in Pretoria, huiDIG aanbied.

Die program, met sjarme en ’n duidelike entoesiasme vir die Afrikaanse poësie, poog om digkuns toeganklik te maak vir almal wat van die geskrewe woord hou. Dit het ontstaan uit ’n gesprek tussen Michelle, Brigitte en Daniel du Plessis, die program se regisseur.

Die podsending is redelik ongekompliseerd en fokus op wat die gedigte by die aanbieders ontketen. “Dit was vir ons belangrik dat ons luisteraars nie te veel formaliteite of fieterjasies moet oorleef voordat hulle die program kon geniet nie. Ons was maar net twee vriendinne wat gesels het oor ons gunsteling gedigte – hoekom hulle snaaks, hartseer, mooi of belaglik was – en mense moes sommer dadelik kon voel dat hulle deel van die gesprek is,” skryf Brigitte.

Die weeklikse episodes handel oor gedigte wat met daardie week se tema verband hou. huiDIG se eerste seisoen, wat uit 12 episodes bestaan, is populêr genoeg dat daar reeds planne vir ’n volgende seisoen gemaak word. Alhoewel die program hoofsaaklik handel oor die gedigte en die digters daarvan, is daar sekere ekstra insetsels om struktuur aan die program te gee.

Een van die insetsels, Bundelstories, bestaan uit vermaaklike stories wat die twee vertel oor die digbundels wat in die betrokke episode gebruik word, soms ook oor hoe Michelle en Brigitte daardie bundels in hul besit gekry het. ’n Ander, Singstories, bring die lirieke van Afrikaanse musiek terug na die gedig.

Volgens Michelle is die naam van die podsending meer as woordspeling, sy verduidelik: “Ag, dis ’n lekker pun – maar dit druk ook op ’n heel beknopte manier huiDIG se oogmerk uit. Ons wil luisteraars bekendstel aan nuwe gedigte, maar ook ouer, klassieke gedigte weer opdelf vir luister en oorweeg in mense se lewens vándág.”

Aanbieders Michelle Oelofse en Brigitte Geyer.

Aanbieders Michelle Oelofse en Brigitte Geyer.

In die eerste episode, Gedigte wat geel is, word die kleur geel beskryf as iets wat generasie-X definieer, maar ook as ’n goue spoor wat deur Afrikaanse digkuns loop. Geel gedigte van Wilma Stockenström, Bibi Slippers, Petra Müller en DJ Opperman, ID du Plessis en Ingrid Jonker word gelees in die episode wat met ’n Spoegwolf-liedjie eindig.

“Elke aardwandelaar bestaan uit 97% sterstof, dalk is dit juis waarom ons so met die maan gepla is. Digters is in besonder met die maan gepla,” vertel die duo oor episode twee, Gedigte wat met die maan gepla is. In hierdie episode word maan-gedigte deur George Weideman, Pieter Odendaal, Daniel Hugo en Danie Marais gelees en bespreek. Zinkplaat se Piekniek op die Maan dien as die Singstorie-insetsel.

In Gedigte wat die pad vat word lekker-langpad gedigte deur Koos du Plessis, Joan Hambidge, Loftus Marais en Nathan Trantaal betrek. Karen Zoid se Deurmekaar ook.

Gedigte wat vlieg kyk na EE Cummings se uitspraak: “A poet is a penguin, his wings are to swim with”. Die episode begin met die ikoniese gedig Rooiborsduif van Breyten Breytenbach en beweeg aan na Riël Franzsen en Jeanne Goosen, om afgesluit te word met die arend se monoloog uit die liedjie Die Slang & Die Arend van Bittereinder, geskryf deur Jaco van der Merwe.

Episode vyf handel oor Gedigte wat met mekaar gesels. “Mark Twain het gesê dat daar nie iets soos ’n oorspronklike idee is nie, mens neem eenvoudig ’n klomp ou idees en plaas dit in ’n kognitiewe kaleidoskoop – en dis wanneer gedigte gebeur.” Hier kyk die aanbieders na gedigte wat onbeskaamd intertekstueel is, gedigte van Nathan Trantaal, Ronelda Kamfer, Lina Spies, Boerneef en Breyten Breytenbach word gelees. NP van Wyk Louw se Beiteltjie kom onder die loep by monde van Loftus Marais se Die digter as ’n rockster. ’n Lied van Klopjag dien as singstorie.

In episode ses val die kalklig op die Mozarts van die digwêreld – digters wat baie jonk was ten tye van hul eerste publikasie. Gedigte van Antjie Krog, Ronelda Kamfer, Annesu de Vos en huidige jong digters Elodi Troski en Andries Meyer word gelees in Gedigte wat skoolklere dra. Dit gaan saam met Glaskas se Die Liedjie Oor Die Meisie, wat Deon Meiring op skool geskryf het.

In Gedigte wat dig word dit duidelik dat digters dikwels dink (en dig) oor wat digkuns is, onder andere DJ Opperman, Johan de Lange en TT Cloete. Koma van Fokofpolisiekar duik ook op.

In Gedigte wat in die see swem bespreek Michelle en Brigitte digters se fassinasie met die oseaan.

Episode nege was ’n spesiale verkiesingsepisode: Gedigte wat protes aanteken. “Protes, politiek en verkiesings blyk een in dieselfde ding te wees vir Suid-Afrikaners. In hierdie episode val die lig op protespoësie met die verstaan, soos Mathews Phosa dit stel, dat ‘poësie ’n manier is om deur ideologiese versperrings te breek en harte te bevry’.” Gedigte van Ingrid Jonker, Adam Small, Koos Kombuis en Fanie Olivier word voorgelees en bespreek. Die jong digter, Janke van Schalkwyk, se werk wat terugverwys na Johannes Kerkorrel word ook op gereflekteer.

Dan is daar ook Gedigte wat was (episode 10) en Gedigte wat kop verloor (episode 11). Die laaste episode word binnekort vrygestel. Luister na die episodes hieronder.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Luister na hierdie Afrikaanse digkuns-podsending gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand