Ruk en Rym: Hiér is die nuwe alternatiewe Afrikaanse kunstenaars

Ruk en Rym: Hiér is die nuwe alternatiewe Afrikaanse kunstenaars

Vir Nou Net Magé tree by die Taalgenoot-Ruk en Rym Groot Finaal by The Daisy Jones Bar in Stellenbosch op. Foto’s deur Gerrie Bezuidenhout.

Nota aan self: Volg jou intuïsie eerder as jou institusie

Alternatiewe Afrikaanse musiek is tans op ’n interessante plek. ’n Optimistiese siening van die huidige plaaslike musieklandskap se aanbod van alternatiewe klanke sou vir ons talle voorbeelde oplewer van die uithouvermoë van ou gunstelinge wat hulle weg tot in die hoofstroom gemaak het – dink maar aan Fokofpolisiekar, Karen Zoid, Die Heuwels Fantasties, Spoegwolf en des meer. ’n Meer kritiese (en dalk selfs meer pessimistiese siening) sou ons wel noop om te vra: “Waar is die nuwe alternatiewe Afrikaanse bands?”, en selfs: “Is groepe soos FPK, Die Heuwels, Karen Zoid en kie steeds ‘alternatief’, gegewe hulle populariteit in die hoofstroom?” Vanuit so ’n siening is dit dalk hoogtyd dat aanhangers van die alternatiewe Afrikaanse scene erken dat alles vir die afgelope 20-ish jaar baie dieselfde klink en lyk … Sekerlik is die alternatiewe Afrikaanse musieklandskap meer divers as die aanbod van Wit straight mans (en Karen Zoid) wat jaar ná jaar op dieselfde verhoë staan en dieselfde rockmusiek vir dieselfde gehore maak? Sekerlik behoort die kunstenaars in hierdie landskap die diversiteit van hulle luisteraars en aanhangers te weerspieël?

Voordat ek dreigemente ontvang vir dié gewaagde uitlatings: Ek is nie die enigste een om só te dink nie. Dis min of meer presies die opmerkings wat Johan Jack Smith (RIV), voormalige redakteur van die ATKV se Taalgenoot en liriekskrywer en sanger van die electro-rockgroep Volkspeler, ook gemaak het. Dis hierdie opmerkings, en die leemte van innoverende, aweregse platforms soos Oppikoppi, Rockspaaider en MK, wat hom aangemoedig het om in 2023 Ruk en Rym op die been te bring: ’n battle of the bands-kompetisiereeks wat oop is vir “enige klankskeppende kunstenaars wat alternatiewe musiek met Afrikaanse lirieke maak”. “Alternatief”, volgens die organiseerders van Ruk en Rym, beteken “enigiets wat afwyk van die hoofstroom – kunstenaars wat innoveer en wat die strewe na vars klanke en ritmes hoër ag as om neigings of formules te volg”. 

Sedert die eerste Ruk en Rym in 2023 stel die kompetisie die alternatiewe Afrikaanse musiekscene aan opwindende, vars en kwaliteit nuwe stemme voor: die queer rapkunstenaar Sampaule is as die algehele wenner van die eerste Ruk en Rym aangewys, met Hendriek Bleik (toe Hendriekx) in die tweede plek en PARKIEGRA$ en De Pozi wat saam in die derde plek was. Die tweede Ruk en Rym het ons bekend gestel aan die indie-rock supergroup Dierbaar na die Maan (die algehele wenners van 2024 se kompetisie, en die groep waaruit die driestuk Dierbaar ontstaan het), die FakboiZ, Just Mia en Die Bom en die Ster, asook ander finaliste soos Fabel en Karriers. Met hierdie eerste twee kompetisies het Ruk en Rym ditself reeds gevestig as ’n (broodnodige) spasie wat innovering, eksperimentering en ontdekking in al die gedaantes van Afrikaans nie net aanmoedig nie, maar in die eerste plek moontlik maak. Ek was daarom baie nuuskierig om tydens Woordfees die Groot Finaal van die derde Ruk en Rym by Daisy Jones in Stellenbosch by te woon. Nadat ek die vorige twee jare se kompetisies vanaf ’n afstand via Instagram dopgehou het, sou hierdie my eerste in-persoonervaring van Ruk en Rym wees. 

Lees ook: Hendriek Bleik se plattelandse post-punk. Afrikaans is ondood, skryf André van der Hoven

Soos die vorige twee jare s’n, het hierdie jaar se 10 finaliste nie teleurgestel nie. Die line-up was selfs nog varser en meer divers as vorige jare s’n: rapkunstenaars met verskillende aanslae tot die genre, ’n riot grrrl-esque punkrockgroep, akoestiese sanger-liedjieskrywers, indie-rockers, ’n Limp Bizkit-agtige groep wat almal op hulle voete gehad het om te mosh, ’n prekende rymkletser wat wyshede gespoeg het, en ’n wille groep wat ons met hulle klanke en lirieke op ’n psych-rock trip geneem het. Die beoordelaars, Jaco van der Merwe (van Bittereinder-faam, wat ook die kreatiewe regisseur van die kompetisie is), Paul Riekert (van ikoniese industrial metalgroep Battery 9), Augusta Zietsman (aka Sossi), digter en sanger Jolyn Phillips en Jack Parow het ’n groot en moeilike taak op hande gehad: Elke finalis voer drie oorspronklike liedjies op met die hoop om as die wenner van die derde Ruk en Rym aangewys te word, en om só die eerste algehele wenner te word om die Johan Jack Smith-trofee (gedoop Draadman) te ontvang. Hierdie jaar is ook die eerste een dat al die finaliste elk ’n musiekvideo wen. 

Die algehele wenner van vanjaar se Ruk en Rym Vir nou net Magé (uitgespreek “Maggie”), verhoognaam van Magé Troskie uit Somerset-Oos in die Oos-Kaap, het toevallig die derde Groot Finaal met haar akoestiese singer-songwriter-guitarklanke afgeskop. Die gehoor is op ’n reis deur vroeë volwassenheid deur die queer- (in elke sin van die woord) lens van Magé geneem: liefde en gebroke harte, protes teen die konvensies en sisteme wat ons in boksies en in hoofstroomrigtings druk en die kastrasie van Kersvader (jip). Weird, but incredibly wonderful, was my gedagtes terwyl ek meegevoer is deur die Oos-Kapenaar se stem en wyse van die wêreld sien en verbeel; poëties, dog onpretensieus en plat op die aarde. Tussen liedjies gesels sy met die gehoor – dis onmoontlik om nie vir haar sjarme en humor te val nie, wat nog te sê van haar treffende lirieke wat jou intrek en laat voel asof sy net vir jou sing.

Vir Nou Net Magé

Ultra-Mal

Die nu-metal/punkgroep Ultra-Mal, wat as die algehele naaswenners van Ruk en Rym aangewys is, het die moshpit behoorlik aan die gang gekry, terwyl rapper Yung Pierewiet die party verder met sy vuil beats en eksplisiete lirieke aangemoedig het – Jack Parow het geloop sodat Yung Pierewiet kan hardloop. 

Naas L!SA, die Afrikaanse punk/rock band van my tienerdrome (kwaai Afrikaanse meisies en vrouens verdien ook verteenwoordiging! Ons bestaan!), was Karel Bester en die Kraaienes Band vir my die opwindendste groep om te sien optree. Hulle psych-rockklanke en elektriese verhoogteenwoordigheid (wat nog te sê van elke lid se estetiese bydra tot hulle algehele beeld – een lid was in ’n Pollsmoor-tronkpak) is betowerend en aansteeklik. Dit was g’n verrassing toe hulle as die derde algehele wengroep aangewys is nie. RFKI, wat vierde plek tussen die wenners ingeneem het, het my wel die meeste verras – met ’n rooi breërandhoed laag oor haar oë getrek, rymklets sy teen die agtergrond van live beats oor sosiale en politieke kwessies met ’n soberheid en aktivistiese integriteit wat hoendervleis gee en die gehoor aan haar lippe laat hang. (Na dese is ek bekeer: Ek glo in die kerk van RFKI <3)

RFKI

Karel Bester en die Kraaienes Band

Karel Bester en die Kraaienes Band

Die rapper Emile Kepeal het elke kop in die huis laat op- en afskud op sy hip-hop beats. Sy swagger is aansteeklik, so ook sy slim (en lekker stoute) raplirieke – kort voor lank het hy die hele plek aan die saamsing gehad. Ná die derde keer se “hou vi’ jou lekke man, lekke soos ekke!” kon ek oombliklik voel hoe dit moet wees om met rizz (soos die jeug sê) deur die wêreld te beweeg. Daarna het Jason B van die Noord-Kaap gerap en gerieldans dat die stof (metafories gesproke) staan. Likkewaan se alternatiewe indieklanke is perfek vir ’n indie-kunsfilm; dink Cigarettes After Sex ontmoet Sticky Fingers in die ’burbs van Johannesburg. Vanja Oosthuizenwat Kaap toe getrek het om ’n musiekloopbaan te begin – se akoestiese buskklanke en mooi stem herinner aan Phoebe Bridges (of dalk is dit omdat sy baie soos Phoebe lyk; in ieder geval is die verteenwoordiging van ’n vrou alleen op ’n verhoog met net haar stem en haar guitar ’n baie welkome een). Uiteindelik het Jack Parow die dag afgesluit met ’n vertoning van sy bestes. 

Aan die einde van ’n lang en opwindende dag van musiek en blootstelling aan die wydte en breedte van oorspronklike kreatiwiteit oor diverse musiekgenres heen, was dit vir my veral opvallend hoe Ruk en Rym vanuit ’n smeltkroes van verskeie talente, kreatiwiteit en van grootdroom moontlik gemaak is. Dis verstommend wat moontlik is wanneer Afrikaanse kunstenaars die ruimte gegun word om buite verwagtings en vasgestelde formules te eksperimenteer – wanneer die reëlboek weggesmyt word en kunstenaars kan skep sonder ’n agenda, buiten dié van om hulle kuns met gretige luisteraars te deel. “Volg jou intuïsie, eerder as jou institusie,” sing Magé juis. Afrikaans ís immers ’n taal, nie ’n genre nie – en ná die derde Ruk en Rym Groot Finaal is ek hoopvol dat daar in kleindorpies en groot stede regoor die land nóg skatkiste van talent is om te ontdek. In elke variant en register van Afrikaans.

Afrikaans ís immers ’n taal, nie ’n genre nie – en ná die derde Ruk en Rym Groot Finaal is ek hoopvol dat daar in kleindorpies en groot stede regoor die land nóg skatkiste van talent is om te ontdek. In elke variant en register van Afrikaans.
— Andréa Müller

10 jaar voor die eerste Ruk en Rym-kompetisie plaasgevind het, vra Henry Cloete vir Johan Jack Smith op LitNet: “Wat is die sin van die lewe, soos gesien deur Johan Jack Smith?”, waarop Johan antwoord: “As jy weet, of dit gekry het, vertel vir my ook asseblief ... Op hierdie stadium wil ek net iets goed genoeg doen waaroor mense kan skryf, of iets skryf wat mense sal onthou.” Ruk en Rym is beslis ’n waardevolle nalatenskap waaroor baie mense nog gaan skryf en wat baie sal onthou.

Mag ons aweregses ons ore oophou, die volume altyd ópdraai en dans asof niemand kyk nie. 

Goddank vir klank – en goddank vir Ruk en Rym.

Jaco van der Merwe oorhandig die eerste Johan Jack Smith-trofee aan Magé Troskie (Vir Nou Net Magé).

Al die wenners en organiseerders van die derde Groot Ruk en Rym Finaal. Foto Emma Snyman

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Ruk en Rym: Hiér is die nuwe alternatiewe Afrikaanse kunstenaars gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand