Uittreksel: Die huilende bruid & ander versinsels deur Dominique Botha

Uittreksel: Die huilende bruid & ander versinsels deur Dominique Botha

Gelukkig woon ons nie in die Weste nie, maar in hierdie geweste

Dominique Botha se mees onlangse boek Die huilende bruid & ander versinsels (2026) het pas by Painted Dog Press verskyn, tesame met die Engelse weergawe The crying bride & other hallucinations. Die uittreksel hier onder (bl.11–23) word gedeel met vergunning van die skrywer en uitgewer.


Die gedig & die waarheid se maskerdans 

Ek het in die paradys beland, waar mense nie Afrikaans praat nie, hulle praat poësie. ’n Hemelse vallei in die Dwarsrivier-kontrei in die Boland, vol dominees, duiweboere en dirigente van kore in dieptes gans verlore. 

My plek se naam is Bethlehem, plek van brood in Aramees, die taal van Jesus, omring deur nedersettings wat terugstrek tot die vrystelling van die slawe. Die dorpstigters het sekerlik geweet wat dit beteken om deur die nag met die engel van God te worstel. Hul nasate het die skoonheid geërf en aanvaar dit nie as ’n alledaagse vanselfsprekendheid nie, maar as ’n daaglikse wonderwerk. Selfs my peerbome se kultivar is Bon Chrétien, oftewel Goeie Christene. ’n Oorblyfsel van die Hugenote wat vir die folterpaal gevlug en van Frankryk vergeet het, maar tot vandag toe onthou hoe om water in wyn te verander. 

Die duiwel woon ook by ons in ’n diep kloof, tussen kershout en koggelmanders en koekemakrankas. Daar waar die maan gebore word, soos ’n amandel versuiker vir ’n bruilofsfees, en in haar volte elke verliefde padda in die vlei tot raserny verlei. 

Ek kom egter van ’n plaas in die Vrystaat, daar waar die sonsondergang gebore word. Waar flaminke die laatmiddag gehys het op ’n banier van roos en vuur, en die winter was ’n wit klavier van glas. Daar waar die dood nog springlewendig is. Waar ek al meer begrafnisse bygewoon het as wat ek gedigte geskryf het. Begrafnisse waar verse geslag eerder as berym word, om aanvoorwerk te doen by die voorvaders in die Groot Kraal.

Foto’s verskaf

Op daai plaas Waaisand is die jaar se gang deur my pa bepaal. Sy woord was wet. Teen September moes die eerste reën val of die wolke is aangespreek. In Januarie moes die son skyn, want die saailinge mag nie verdrink nie. Alomteenwoordigheid was ’n groot werklas en teen die winter was Pa raadop. Sy kinders was almal dromers, sy nagwag ’n dronklap, sy handlanger ’n dieseldief. Die bestek van sy dwingelandy is voortdurend oorskry. 

Somer was ’n opera van broeiende storms wat oor die vlaktes ingerol het, maar sonder die mollige sopraan wat in Italiaans aan tering sterf. Weerlig het die beeste doodgeslaan met geweldige donderslae soos die kanonne in Tsjaikofski se 1812-ouverture en die honde het omgekom van hartaanvalle en bosluiskoors, elke dood erger as die vorige een, totdat Boetie hom in die laaste geliefde hond se graf gewerp het en Pa hom aan sy ore moes uithaal. 

Met die orde van die dag het Pa dit makliker gehad. In die somer moes die son net voor vyf opkom. Oggendkoffie met dagbreek het hy self gemaak voor hy werkswinkel toe gedraf het in sy kakieklere om die dag aan die gang te kry. Deur die wind met lemme te bekamp, het Pa die Sandveld van ’n gewisse verwaaiing gered. Hy was boer van die jaar. Hy kon Ma se vrese besweer. Hy was ’n do-it-yourself-ingenieur. Dan het hy weer afgedraf huis toe vir pap met melk en suiker, twee eiers, twee repies spek en een sny roosterbrood. En plaasbotter met Engelse marmelade. 

Middagete is gedek in die eetkamer en altyd ’n ekstra sitplek by, ingeval ’n kunsmissmous of wie ook al onverwags sou opdaag. Gasvryheid is die wet van die woestyn. En tamatieslaai met uie en asyn. In daardie jare het joernaliste van oorsee deur die platteland geswerf, verheug om ’n ketter op te spoor voordat hulle weer weggedwaal het om elders hul stedelike vooroordele te bevestig. “Geoff Allem is die enigste ware liberaal in die dorp,” het Pa altyd gesê. “Ons praat. Hy doen.”

Tydens middagete moes ons oefen om Engels te praat sodat ons tweetalig kon word. As decreed by him, our Tyrant for Life. Soms het ek die nuwe hondjie in ’n mandjie onder die tafel aangehou en stukkies vleis gevoer. Dit was my daad van verset teen die dekreet van die tiran, want diere is nie in die huis geduld nie. Ek is bly ek kon haar bederf voor sy deur ’n rinkhals gepik is en die geswolle lyfie toegedraai in ’n ou vadoek onder die wilgers begrawe is. 

Op weeksdae was daar altyd nagereg. Met asynpoeding, malvapoeding of ingelegde perskes met room het Martha ook kom aanmeld: “Baas, daar is iemand om vir Baas te sien.” Baas het dan gesug en gesê hulle moet wag. Hy het rustig verder geëet terwyl die vertoonkas agter hom gekreun het onder die gimnastiektrofees wat hy op universiteit gewen het. Die tweede vinnige koffie van die dag is afgesluk en dan is die ete summier verdaag met “Wikkel, kêrels.” Maar eers moes ons die vlieëplak help soek, of Pa se keps. 

Soms moes die persoon wat deur Martha aangekondig is, wag tot ná die son gesak het. Hulle wou ’n bees koop. Het werk gesoek. Of Pa moes ’n geskil besleg: Iemand het vir iemand anders ’n patat genoem, dat hy rank soos ’n patat onder die grond. Of die ouer mans wat toestemming wou vra om bosskole op die plaas vir die seuns se inisiasie te kom oprig. Hoed in die hand, oë na die grond, ’n stem van bepleiting. “Samblief, my Basie.” 

Die ander swart mense wat in karre opgedaag het, was daar vir goed wat in die sitkamer oor ’n koppie tee bespreek moes word. Hulle is dadelik gesien. Gesprekke oor die mense wat oornag in die polisiesel met ’n pyp oor die kop geslaan is omdat hulle nie ’n pasboek byderhand gehad het nie. Die pyp is in goiingsak toegedraai sodat die bloeding inwendig bly. 

Geen gesprek was belangrik genoeg om nie in die rede geval te word met ’n “Waar is my vlieëplak?” nie. Dan moes almal bontstaan om te soek en dan stilstaan om te kyk hoe Pa die vlieg tussen die suikerpot en die melkbeker en die teepot jaag. Pa se gedugste teenstanders was die vlieë. Hulle het hom rasend gehad. Ons kinders was heimlik in bondgenootskap met Pa se gedugste teenstanders. “Lord of the flies” het my broer Paul soms onderlangs aan tafel gemompel, of “Farter” eerder as “Father”.

Baas se hande het vir niks behalwe die vlieëplak verkeerd gestaan nie. Destyds het die goewerment onderwysers se salarisse betaal indien die boer ’n skoolgeboutjie vir sy plaaswerkers se kinders sou oprig. Pa het dit manalleen met ’n span van twintig gedoen. Toe Abel Dlamini kom aansoek doen vir die pos as skoolhoof, het Pa hom in die oë gekyk en gesê: “Ek betaal nie jou salaris nie. Ek is nie jou baas nie. Jy noem my Andries.” 

Abel het sy vrou Mary en kinders in Odendaalsrus gaan haal en in die baksteenhuis langs die skooltjie ingetrek. Vir uitstap pies na Viljoenskroon se nywerheidsgebied, of ’n treinrit na Vredefort, het die plaaswerkers se kinders springmielies in klein pakkies vir vyf sent verkoop. Dit het jare geneem om genoeg geld in te samel vir ’n avontuur. 

Saans het Abel en Mary Adult Education-klasse aangebied. Sommige boere het hulle werkers wat wou leer lees en skryf toegelaat om na tjailatyd met die trekkers en waens oor te ry na Waaisand. As weerlig die krag afgeskop het, het Abel met kerslig die stampvol klasse voortgesit. Abel en Mary wou vir die plaasmense wys dat daar ’n wêreld anderkant Waaisand se wenakkers en doringdraad was. Dat die verbeelding mag reis sonder ’n pas.

Die nag toe Abel en Mary se oudste seun, Vusi, in die lokasie met ’n mes doodgesteek is, het die polisie vir Ma en Pa gebel om die tyding oor te dra. Ma sê sy sal nooit vergeet hoe hulle die laken van sy lyk afgetrek en Mary inmekaargesak het met die kreet “My boy” nie. 

Voor sy aftrede sê Pa vir Abel: “Bou vir jou ’n huis op my plaas.” Abel het blykbaar vir Pa gesê: “Andries, ek ken jou hart, en jy ken myne. Maar wie weet wat ons kinders se harte eendag van mekaar gaan weet?” 

Ná my ouer broer Paul se swerfjare reeds begin het, het hy soms teruggekom en my die strate in verlei. Soms het ons geëindig in die dorp se kroeg waar ’n uitvaagsel my een aand probeer sjarmeer het met die glorie van sy ambisie om Andries Botha dood te skiet weens sy verkeerde politiek, onwetend dat dit my pa was, natuurlik. Die oggend toe hulle Pa blykbaar wou inwag by die plaasuitgang, het die ratkas van die Bantam gejam, want hulle het die vorige aand handbriek-esse oor die dorp se rugbyveld gegooi. 

Ná ek saam met Paul die nag op horings geneem het, het ons in die ou International-bakkie deur die breë strate van die slapende dorp met sy siersteenhuise en porseleinkatte gegly, met Paul aan die stuur, dronk en voortvarend, en Kris Kristofferson op die kassetspeler. “Freedom’s just another word for nothin’ left to lose.”

Jare later is Paul op die ouderdom van sewe-en-twintig weens ’n oordosis heroïen in Londen oorlede, in die vroeë oggendure soos gebruiklik vir geboortes en sterftes, alleen, soos ’n weggooimens, op ’n verslete rusbank in ’n nêrensplek. Sy reste het oor die see gekom en ek en Pa het sy kis gaan oplaai in die Wes-Transvaal. Ma het nie daarvoor kans gesien nie. Die wêreld was oranjeblanjeblou, droog, wyd en grou, maar sonder die vrede van voleindiging, soos Elisabeth Eybers dit onthou. 

Abel en Mary het ons by die lykshuis in Klerksdorp ingewag. Abel met ’n Bybel in sy hande en Pa wat in Mary se arms inmekaarsak. Dit was die enigste keer wat ek my pa ooit sien huil het. 

Die oggend van die begrafnis het die eienaar van een van die buurplase gebel. Die een na wie Pa verwys het as “daai vuilgoed”. Ma het die foon opgetel en toe sê hy vir haar: “Julle beeste loop in my mielies. Sê vir jou man hy moenie agter sy seun se dood gaan staan en wegkruip nie. Kom haal die beeste of ek skiet hulle vrek.” My pa het my man, toe nog my kêrel, en my jonger broer, Christiaan, beveel om oor te ry na Aandson om daai vuilgoed te gaan donder. Geen werkers kon dit uithou op daai plaas nie. Net sy vrou met haar bruin oë blou geslaan deur sy vuiste. 

Jare later het Pa my vertel dat daai vuilgoed se eie neef vir hom gesê het: “Gys, jy beter nie doodgaan nie, want daar is niemand wat bereid sal wees om jou kis graf toe te dra nie.” Ek onthou nog die warm asems van die beeste op daardie lentedag in September langs die Valsrivier, deurdrenk in eersgeborene-reeu. Ek het my broers en suster verbete liefgehad, soos ’n soldaat sy kamerade, want ons was veterane uit dieselfde oorlog wat steeds tussen Ma en Pa woed, terwyl die slagveld van ons gedeelde vreugdes en verdriet, oorgroei in roes en onkruid, al hoe verder in die truspieëltjie verdwyn.

Daardie jare was ’n vlugtige ewigheid, ’n duisend kiewiete in die sneeu en ’n woud van goue bome. Die aandson het haar brokaat van hiasint oor die pan gesprei, en ons lengte van dae in ’n oorvloed van wit lelies verdrink. 

Sedertdien het nog baie ander mense in my dagboek verdwyn. 

Sticks, Pa se oorlede voorman se oudste seun, rasend van verdriet en maer gebrand deur die siekte wat nie genoem mag word nie, wat ’n werk in Orkney kon losslaan en toe verbrand al drie sy kinders agter slot en grendel in die makuku in die lokasie. 

Tannie Marie wat drie dae lank in die gang gelê het voor sy gesterf het. Haar aanvaller het getuig hoe sy gehuil het terwyl hy haar verkrag het. Toe hy die volgende dag terugkeer om haar weer te verkrag, het sy nog asemgehaal. Die derde dag nie meer nie.

Toe Abel Dlamini vroeër vanjaar op die ouderdom van vyf-en-negentig in Kanana buite Klerksdorp ter aarde gelê is, was daar ’n duisend roubeklaers. Ons Bothas is stoele in die heel voorste ry gegun. Pa het ’n kussing gebring vir die lang sit. Uit ervaring. Boetie se baadjie het styf gesit, maar hy het ontspanne gelyk. Hy is goed met ontspan. Ma het ’n pofbaadjie geleen, want sy kry altyd koud. Ek het weer warm gekry. Ons almal se seisoene draai. 

Ma is na die verhoog geroep om te praat by ’n kateder omsoom met wit krisante. Sy was altyd besonder mooi, en word steeds mooier, asof haar eie marmerengel na vore kom. Miskien het haar seun se dood die marmermasker van verstarde lewe op haar gesig gekerf. 

Ma vertel vir die gehoor dat Abel en Mary ná ’n paar jaar van aftrede vir haar gesê het: “We are retired, but not tired.” Toe stig hulle die Kanana Retired Teachers’ Club. Die organisasie het wondere verrig. In November 2020 het NASA ’n ekspedisie na die internasionale ruimtestasie gelanseer, en Kanana-skoolkinders was deel van ’n groep leerlinge wêreldwyd wat tydens ’n downlink regstreeks met die ruimtevaarders kon gesels. 

Ma se stem het begin bewe. “Yes, Abel. You reached for the moon.” 

Sy het vertel hoe Abel kom aansoek doen het vir die pos op Waaisand. Hoe Pa vir hom gesê het: “Ek is nie jou baas nie. Jy is my gelyke.”

“Maar hy was verkeerd,” sê Ma. “Abel Dlamini was nie ons gelyke nie. Hy was ons meerdere.” 

Vir ’n oomblik lig die geskiedenis haar kop op, haar gesig onleesbaar onder ’n swart sluier, haar hande rooi soos die sykant van ’n Bybel. 

“Tsamaya hantle, ntate Dlamini,” fluister die priester. Mooi loop. 

Toe roep ’n vrouestem ’n hoë noot uit en al duisend roubeklaers val in met ’n ritmiese gestamp van voete en akkoorde, sang wat jou oopkap, soos ’n byl houtkap, en ’n afgeslagte woud van ontredderdes word vorentoe gebeur op ’n groot rivier van verdriet en gelatenheid. 

Toe dit alles verby is, ry ons ’n lang stofpad terug plaas toe. Ek het in die donker in my kamer gaan lê en deur die diefwering gekyk hoe die son in die dam sink. My oumagrootjie het ’n trop ganse gehad wat op daardie sinkende son gewoon het en saans teruggevlieg het oor die huis en langs die kombuis kom land het sodat sy hulle kon voer. In ruil vir suikermielies het hulle haar toegelaat om hul donsvere te pluk om kussings mee te stop. 

Toe die Britte die aarde verskroei het, het my grootoupagrootjie in dieselfde huis met sy kraakvloergange en osbloed dak, met sy wolke bestuif deur duiwe en sy nagte deur sterre, ’n pleidooi vir vrede geskryf. Van Boer tot Boer en Engelsman. Gesê ons moenie baklei nie. Vra maar vir my, ek het met ’n Engelsman getrou. Versoening is soveel lekkerder. My Engelsman is ’n prins, al moes ek een van hom maak, deur vele nagte op verekussings van lang vergange wit ganse. 

’n Jong joernalis het my eenkeer gevra: “Is jou stories en gedigte waar?” Die antwoord is ja-nee. ’n Leser kyk nie in ’n siel in nie, maar in ’n spieël in. In jou eie aantrekkamer lê die uitnodiging na die gedig en die waarheid se maskerdans. Skryf is ’n fatsoenlike ontkleedansery. Blaadjie vir blaadjie ontbloot jy jouself terwyl jy jou leser wil verlei, en terselfdertyd wil vermy. En die deuntjie van daardie tafeldans is vergewe my, vergeet my nie. 

“Poetry makes nothing happen,” in die woorde van WH Auden. “It survives in the valley of its making where executives would never want to tamper.” Inderdaad, hoekom sou hulle? Poësie dryf handel in verlies, nie in wins nie. Vernedering en teleurstelling lewer die dividende. Prosa se profyt spruit uit mislukking, tastend in die laaie van herinneringe, op soek na God tussen skoenveters, Zam-Buk, en kaart en transport. 

Indien jy vir kwaadgeld rondgelê het in jou jeug, is dit allermins ’n verlies, kwaadgeld is ’n skrywer se kapitaal, soos Hennie Aucamp geskerts het. Skryf was ook nog altyd ’n poging om tyd te herwin, lank voor Marcel Proust ’n madeleine in sy tee gedoop het en sy sewe volumes van À la recherche du temps perdu soos ’n swaar gewete op jou boekrak kom lê het, wetend dat jy dit nooit gaan lees nie. 

’n Leser kyk nie in ’n siel in nie, maar in ’n spieël in. In jou eie aantrekkamer lê die uitnodiging na die gedig en die waarheid se maskerdans. Skryf is ’n fatsoenlike ontkleedansery. Blaadjie vir blaadjie ontbloot jy jouself terwyl jy jou leser wil verlei, en terselfdertyd wil vermy.
— Dominique Botha

Ons maak sin van die wêreld uit mekaar se stories. Dit is nie my familie nie, dit is ’n familie. Êrens in die sop van die kollektiewe onbewuste prut ’n instink vir verhoudings eerder as objekte. ’n Stoel, byvoorbeeld, is nie ’n houtprakseersel met ’n sitvlak nie; dit is ’n ding waarop gesit kan word. ’n Klavier kan dus ’n stoel wees, of jou vet, lui, geliefde labrador. Of ’n klomp opgestapelde eksemplare van À la recherche du temps perdu. Selfs jou familie se opgehoopte besware. 

Indien enigiets ’n stoel kan wees, kan ’n stoel ’n gedig wees? Natuurlik. Kan enigiemand ’n digter wees? Miskien, maar ons is ook lui, soos labradors, en herkou aan cliché, wat filosofies onhigiënies is en die bronne besoedel. 

Skrywers is die opsigters van uitgediende beeldspraak, wat die bronne moet suiwer deur hernuwing. Hulle is meestal kerkmuise en dikwels kens, soos Katolieke priesters uit ’n vervloë era, begeester om vars lae betekenis oor verweerde woorde te verf, totdat elke frase die patina van ’n emaljehortjie uit die Karoo het, totdat elke sin gloei soos ’n ikoon in ’n kersbeligte kerkie op ’n eiland in Griekeland.

Poësie is dikwels net gebed wat ontspoor het, of ’n selfmoordbrief wat ’n sonnet geword het. Of lirieke wat begeleiding nodig het. Almal praat musiek. Daar, diep in die bron, lê die raaisel van sowel ons bestaan as die troos wat ons ontgaan, wat jy nie met taal alleen na die oppervlak kan bring nie. Daarom moet ’n digter met die oor steel. Oraloor is melodie en ritme: jou eie hartklop, die tortelduiwe wat op Sondagmiddae ’n sedige wals in 3/4-tyd koer, tot die maan wat haar romp van sy ritsel wanneer sy wegkruipertjie speel.

In die Weste probeer ons hard om die dood van kant te maak. In die Weste, waar daar soveel kennis is en so min begrip. Gelukkig woon ons nie in die Weste nie, maar in hierdie geweste, in hierdie veraf provinsie van smart en sonlig. Met genoeg voorvaderkennis om te weet: Katarsis is harde werk alleen. Jy moet kollektief in kore ween. Ideaalgesproke vierstemmig, a cappella en in Afrika. En in beurtsang, soos die bokmakierie maak.

die kind wat geen perke geken het nie 

jou broertjies en susters was so hartseer
soos speenkallers in die reën 
nat snoete in die ysterdrukgang 
van bloederige naelstring tot slagpaal
pa het in sy bakkie gesit en rook 
ma het die goedkoopste kis gekies 
om die volkies te wys 
mens mors nie geld op dooies nie 

jou kis het woekery weerspreek 
sonder die donker viool van jou hart
die polsende klok van jou heroïese vreugdes
onder verhewe kruissteek van spreeukloue gestil
op ’n katafalk van planke 
was jou vel groen soos jong piesangs
wat ons by die kruidenier 
van madeira fruits gekoop het 
hy’t nooit engels kon leer nie 
wat het ons geweet van die leivore 
wingerde en kantwerk van sy vaderland?
met ons skurwe hakskene, veldsere en douwurm
het ons gelag vir die porra 

die ure het saffraan gesprinkel oor 
die gebarste appels van jou oë 
ons midas van die alledaagse 
deur jou gesien het alles mooi geword
die kere toe ma soms gelukkig was 
haar stem ’n geskeurde blom van sy 
in die kombuis waarheen ons gewals het

met ’n mandjie vol eiers en vere en skyt
om meel deur die sif te mors 

niemand woon meer daar nie 
die vlei fluister deur die gange 
uile staan wag op niks 

jou grafsteen het geswel 
soos ’n brood uit die sooie 
die vryheid waarna jy gesmag het 
andries en sandra se oudste mooiste slimste
was ’n skag in leemte gedolwe 
en ’n skuiling teen somer 

ons het boxertwak gerol 
om ’n pappery van nagte te blus 
en dronk op jou graf gedans 

’n kooltjie brand nog soms in pa se oog
fyn linte rook uit die sprokkelhout van katarakte
wanneer hy tastend, deur rammelende laaie
vir zam-buk, veters, kaart en transport,
die god in hom laat huil 

ons strydros wat stotterend 
weerligkettings 
roggelend oor die aarde sleep

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Uittreksel: Die huilende bruid & ander versinsels deur Dominique Botha gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand