Uittreksel: Seuns weet deur Frederick Botha

Outofiksie, domestic noir, coming of age-vertellings
Seuns weet (2026, Protea) is Frederick Botha se debuutkortverhaalbundel.
Hy het hom vroeg as kortverhaalskrywer begin vestig, met sy eerste publikasie in 2009 as student in die destydse kunstydskrif Bravo!. Verskeie van sy verhale is daarna in Human & Rousseau se Nuwe stories-projek opgeneem; een is in 2014 as wenverhaal bekroon. In 2016 het een van sy verhale die langlys van die PEN International New Voices-toekenning gehaal en dit is in Engels en Spaans vertaal. Hy is ook opgeneem in die bloemlesing Op die spoor van (2017, Tafelberg), saamgestel deur Rudie van Rensburg.
Hier onder dink Frederick na oor die temas en skryfproses van Seuns weet. ‘Rocket man’, een van 16 verhale in die bundel, word met vergunning van die skrywer en uitgewer ingesluit as lusmaker, soos dit in Seuns weet verskyn.
KLYNTJI: Frederick, Seuns weet is gebaseer op jou MA in kreatiewe skryfkunde. Kan jy meer vertel oor die tesis wat jy daarmee saam geskryf het en die skryf- en redigeringsproses van die verhale?
FREDERICK: Ek het in my finale jaar van my doktorale studie in Afrikaanse letterkunde besluit om aansoek te doen vir keuring om ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkunde onder leiding van Alfred Schaffer en Willem Anker aan die Universiteit Stellenbosch te voltooi. Ek het besef dat ek die dissipline en struktuur van ’n MA-program aan ’n universiteit nodig het, indien ek ooit my manuskrip wil voltooi! (Ek was ook bietjie bang om ná al die jare se agtereenvolgende studies vanaf graad 1 tot PhD bloot cold turkey te gaan ... Die meestersgraad bestaan uit ’n kreatiewe, sowel as akademiese komponent, so dit was die perfekte oplossing.)
Ek het reeds van die begin af geweet dat ek ’n kortverhaalbundel wil skryf. Ek wou egter veral met die struktuur en aanbieding eksperimenteer, en daarom het ek gereeld teruggekeer na ’n gunsteling van my, MS Burger se Bloedfamilie, waar sy die verhale as ’n kortverhaalsiklus aanbied. Ek wou outonome verhale skep wat so ’n sterk onderlinge verband met mekaar toon, dat hulle as’t ware inspeel op mekaar, en dat die teks in sy geheel dus ook as soort gefragmenteerde roman gelees sou kon word.
Die idee met die akademiese komponent is dat jy ’n mini-tesis skryf oor ’n letterkundige studie wat verband hou met jou eie skryfwerk. Die idee is dus dat die mini-tesis jou eie skryfwerk voed, hetsy tematies of tegnies. Tydens ons eerste ontmoeting het my studieleiers uitgewys dat die verhale wat ek ingedien het om vir die graad gekeur te word, dikwels gemoeid is met die abjekte. En so is die saadjie geplant om verder Julia Kristeva se konsep van abjeksie op kreatiewe wyse in my eie bundel te verken, maar ook in die mini-tesis. Omdat Seuns weet in ’n sekere sin as die (gay) manlike reaksie op MS Burger se Bloedfamilie gelees kan word, het dit sin gemaak om dit die fokus van my mini-tesis te maak, en het ek ondersoek ingestel na die wyse waarop abjeksie bydra tot die (lesbiese) verteller-karakter se identiteitskepping.
KLYNTJI: Kan jy meer vertel oor die temas en narratiewe aanbod van die bundel?
FREDERICK: Manlikheid is uiteraard die belangrikste onderwerp. Die tema van manlikheid het my nog altyd gefassineer. Ryan Pedro het dit só mooi en treffend in sy uitsonderlike pienk ceramic-hondjies uitgebeeld. Manlikheid is vir my steeds een van die mees aktuele temas, omrede ons elke dag daarmee gekonfronteer word, veral die toksiese vorme daarvan. Ons kan bloot na vandag se wêreldprobleme kyk om te besef waartoe chauvinisme in staat is.
Omdat ek met die tema van manlikheid gewerk het, kon ek nie anders as om in te speel op Jan van Elfen se Wat seuns wil weet nie – daardie destydse moralistiese tienergidse wat onder andere seksualiteit bespreek het. Vandaar die titel, asook die motto wat ’n bisarre aanhaling uit Van Elfen se gids is. Dis natuurlik ’n spesifieke soort manlikheid wat ek ondersoek: gay manlikheid. En dit lei weer na die tema van seksualiteit/die seksuele. Deur die wat en wil van die oorspronklike Van Elfen-titel weg te laat, neem ek stelling in deur te verklaar dat seuns (en hiermee spesifiek gay seuns) nie hierdie uitgediende raad wat hy aanbied, nodig het nie – ons weet rééds. Hierdie titel stel dus ’n alternatiewe orde bekend, ’n nuwe soort gids: ’n troosboek vir soortgelyke seuns wat hulself in die verhale kan herken.
Die bundel word dus aangebied as domestic noir, as coming of age-vertellings, maar ook as outofiksie. Uiteindelik gaan dit hier ook oor (Afrikaner-) kultuur, familie, geloof, vriendskap en die maatskaplike omstandighede in ons samelewing.
KLYNTJI: Is daar spesifieke tekste of skrywers by wie jy jou geskaar het tydens die skryfproses?
FREDERICK: MS Burger se Bloedfamilie. Koos Prinsloo. Johann de Lange se kortkuns en poësie. Loftus Marais se gedig ‘Wederkoms’ en sy digbundel Jan, Piet, Koos en Jakob. JD Salinger se The catcher in the rye. Ryan Pedro se pienk ceramic-hondjies. Dominique Botha se Valsrivier. Raymond Carver se kortverhale. Hennie Aucamp en Abraham H de Vries. Ingrid Winterbach.
Ek het ’n Apple playlist saamgestel met die 16 liedjies waarna daar in die 16 verhale verwys word. ’n Klankbaan dus!
KLYNTJI: Waarom skryf jy juis kortverhale?
FREDERICK: Ek skryf kortverhale, omdat ek nie ’n digter is nie. Soos meeste skrywers, het ek in my tienerjare my hand aan gedigte probeer waag, maar poësie is ’n baie spesifieke sportitem waarvoor ek nie oor die nodige bou en atletiese vermoë beskik nie. Tog is daar iets in die gestrooptheid daarvan en die wyse waarop daar in so min woorde ’n ganse ervaring, ’n gevoel, ’n lewe vasgevang kan word, wat my aantrek. Dieselfde geld vir die kortverhaal.
Maar in wese is dit eintlik ook maar net weens die aard van die kortverhaal. Die onmiddellikheid daarvan. (As leser – ek is bevrees ek het nog nie die talent bemeester om ’n kortverhaal in een sitting klaar te skryf nie.) Ek het ’n kleintjie dood aan mense wat bloot na kortverhale as “korter stories” verwys, want dit doen afbreek aan die komplekse en tegniese uitdagings wat hierdie genre aan skrywers stel. Dis korter in omvang as die roman, ja, maar soos met die poësie, gaan dit oor wat ’n goeie kortverhaal jou laat vóél.
Lesers van kortverhale let graag eerste na die titels en die slotte op. Meeste van die verhale in Seuns weet het hulself as titels aangemeld. Ek sou die idee kry dat ’n woord of frase ’n goeie titel vir ’n kortverhaal sal maak, en dit dan neerskryf. Nadat ek die storie rondom hierdie titel in my kop gebou het, kon ek die verhaal begin ontwikkel deur met die skryfproses te begin. Kortverhale se titels moet treffend wees en dadelik die leser se aandag en nuuskierigheid trek. Maar belangriker nog: Dit moet met die slot skakel. Die slot is immers die sleutel waarmee lesers ná die lees van die verhaal nuwe betekenis uit die titel ontsluit. Die slot moet soos ’n vuishou die leser in die maag tref, juis vanweë die impak wat die skielike besef of verstaan van die titel op hul leeservaring het. Of selfs net omdat hulle steeds aan die einde bly raai en wonder ...
KLYNTJI: Wil jy nadink oor die proses en ervaring om jou debuutbundel uit te gee, terwyl jy self ook in die uitgewersbedryf werk? Is daar iets aan beide prosesse wat jy nou beter verstaan, of in die toekoms dalk anders sal benader (in jou eie skryfwerk en jou uitgewerswerk)?
FREDERICK: My loopbaan as fiksieredakteur is eintlik maar nog aan die beginstadium en ek probeer nog om my eie publikasielys op te bou. Ek sou wel meen dat dit ’n verrykende ervaring is om as uitgewer ook in die posisie van skrywer te staan, want dit gee jou daardie eerstehandse ervaring van hoe weerloos die skryf- en publikasieproses die skrywer laat. Omdat ek begrip vir die proses het, kan ek nie anders as om ’n meer persoonlike benadering te volg wanneer dit by my skrywers en hulle tekste kom nie. Ek hoop werklik dat my skrywerskap my redakteurskap op ’n positiewe manier gaan beïnvloed.
“Ek het ’n kleintjie dood aan mense wat bloot na kortverhale as ‘korter stories’ verwys, want dit doen afbreek aan die komplekse en tegniese uitdagings wat hierdie genre aan skrywers stel. Dis korter in omvang as die roman, ja, maar soos met die poësie, gaan dit oor wat ’n goeie kortverhaal jou laat vóél.”
‘Rocket Man’, 'n kortverhaal uit Seuns Weet
’n Panfluitweergawe van Elton John se “Sacrifice” speel oor die draagbare CD-speler langs die mikrogolf. Voor die ketel is ’n piering met gebruikte teesakkies waaruit daar nog ’n koppie of twee getrek kan word, bokant die wasbak is stukkies afgespoelde clingwrap teen die muurteëls vasgeplak om later weer te gebruik. Ek vat nog ’n vleispasteitjie, al sit die kouerige vetterigheid van die vorige een nog teen my verhemelte vas.
“Die nodigste?” vra my ouma verontwaardig. “Nou wat sal jy as net die nodigste beskou?”
Ma sug en draai nog ’n bord in koerantpapier toe. “Ses van alles. Dis nie asof Ma die spasie gaan hê om te onthaal nie.”
My ouma skakel die CD-speler af. “Julle ken nie van swaarkry nie.” Sy gaan sit by die kombuistafel, en die blad druk haar groot borste op dat dit byna onder haar ken sit. Ma sien dit ook, maar sy lig haar wenkbroue as waarskuwing dat ek nie eens daaraan moet dink om te lag nie.
“Elke liewe ding in hierdie huis is met bloed en sweet verdien,” sê my ouma terwyl sy haar trouring om haar knopperige vinger draai. Blou are bult tussen die donker lewervlekke op haar hande.
“En dít?” Ma hurk voor die kombuiskas en haal ’n boks heel onder uit.
“Dis my Royal Albert. Die Old Country Roses-stel. Die volledige twintig stuks eetware met die teestel. Dit was pa George se trougeskenk aan my.”
Ma haal een van die teekoppies uit. Die porselein lyk ekstra fyn en sag in haar growwe en haastige hande. Ek hurk langs Ma en bestudeer een van die pierings. Al om die goue rand is daar rose wat in skakerings van rooi, pienk en geel teen donkergroen blare blom.
“Is dit nie besonders nie?” vra my ouma. “Dis ’n internasionale versamelstuk, nog nooit gebruik nie. Ek sidder om te dink wat jy vandag daarvoor sal betaal.”
Ma staan op. “Nou hoekom verkoop ons dit dan nie? Dink net hoe nuttig daai geld vir Ma sal wees.”
Die praktiese raad beïndruk nie my ouma nie. Sy skuif haarself effens dwars oor die stoel sodat haar regterbors van die tafelblad afgly.
“Dit bly in die familie,” sê sy ferm met oneweredige borste.
“Ek sal dit eendag vir my eerste skoondogter gee,” sê Ma en stoot ’n boks waarop Farm Eggs aan die kant staan in my rigting. In groot, skewe letters het sy Kombuis bo-op geskryf. “Vat solank hierdie boks kar toe,” sê sy vir my. Ma druk die volgende platgevoude boks oop en vou die onderste flappe oor mekaar voordat sy dit met bruin maskeerband vasplak.
***
Ek sit die boks met kombuisware op die agtersitplek langs die ander bokse met goed wat Ma besluit het my ouma nie meer nodig sal kry nie. My oupa se graf was skaars toegegooi, toe kry my ouma die nuus dat sy volgens die reëls nou na ’n enkelwoonstel in die aftreeoord moet trek. Woonsteloppak was die laaste ding wat ek met die kort September-vakansie wou doen, maar enigiets is seker beter as om in ’n spookdorp van ’n Potch agter te bly.
Ek en Elodie was hoog in haar kamer besig om na Iron & Wine te luister, toe Pa bel en sê oupa George het ’n beroerte gehad en het ’n rukkie later in die hospitaal gesterf. Toe ek vir Elodie vertel, het sy Virginia Woolf aangehaal – “Someone has to die in order that the rest of us should value life more” – en later in die badkamer haar polse probeer sny. Dit was ’n maand gelede, en ek het nog nie weer van haar gehoor sedert sy in die kliniek opgeneem is nie.
Ten minste is al my moeite nie verniet nie. Toe ons vanoggend hier aankom, het my ouma reeds ’n hopie boeke vir my eenkant gesit. Stowwerige hardebandboeke met verbruinde bladsye wat soos alles in die woonstel na motbolle en Vicks ruik. Die reuk het by die outydse boektitels gepas: Bart Nel, Dwaalstories, Tristia, Sy kom met die sekelmaan, Die meulenaar en Die vrou op die skuit. N.P. van Wyk Louw en Eugène Marais is die enigste twee name wat ek van skool af herken het, maar my ouma reken dat ek as letterkundestudent die enigste een in die familie is wat nut daarvoor sal hê. Ek het haar op haar sagte, koue wang gesoen om dankie te sê; ek gril te veel vir haar mond wat meer ghwel as lip is.
“Weet jy hoeveel kos handdoeke?” hoor ek my ouma protesteer toe ek terugkom van die kar.
In die slaapkamer is Ma besig om ’n hele linnekas vol handdoeke in ’n boks te pak. “Waar wil Ma alles bêre?” vra sy geïrriteerd. “Ma het gesien hoe klein die woonstel is.”
Langs die dubbelbed waarvan die matras aan beide kante uitgehol is, sit my ouma op ’n stoel. Agter haar teen die muur hang ’n kruis en ’n foto van pous Benedictus. Sy vryf ’n rosary tussen haar vingers – ek herken die swart bidsnoer met silwerkettinkies en plaatjies met afbeeldings van verskillende Heiliges. Dit het altyd aan die truspieëltjie van hul kar gehang – kleintyd het ek my verkyk daaraan wanneer ek saam met hulle gery het. Soms het my ouma dit afgehaal en vir my gegee, dan het ek ook die kraletjies tussen my vingers gevryf en die hele “Onse Vader” in my kop probeer opsê.
Ma steek my dadelik in die werk en gee ’n swart plastieksak aan. “Begin solank met Oupa se skoene.”
“Ek gaan maak liewers tee,” sê my ouma met ’n bewerige stem en sit die bidsnoer op die bedkassie neer voor sy met ’n kreun opstaan. Ma gaan by die badkamer in en maak die deur agter haar toe. Haar straal sjor hard soos dit die water onder in die toiletbak tref. In die kombuis begin die panfluit-CD van Elton John-treffers weer speel.
Ek gaan sit voor my oupa se klerekas en haal een van sy swart leerskoene uit. Die dun veters is plek-plek besig om uit te rafel, die sole is deurgeloop. Tussen een van die gleuwe onder die skoen sit ’n klein grys klippie. Ek grawe dit uit en rol dit tussen my duim en wysvinger, kyk na Ouma se bidsnoer wat op die bedkassie lê.
Die toilet spoel. Sonder om haar hande te was, kom Ma uit die badkamer en gaan help my ouma met die tee. Dit neem my ’n rukkie om die wysie van “Rocket Man” te herken.
Ek maak my oë toe, sit my oupa se regterskoen oor my mond en neus, en asem die reuk van leer vermeng met sweet en voetpoeier in. Ek hoor ’n koppie breek in die kombuis. Ek vat die swart rosary en druk dit in my sak.
Terug in Potch maak Elodie asof niks gebeur het nie. Gisteraand kom klop sy aan my woonsteldeur met ’n bottel wyn, ’n vol pakkie sigarette en die nuus van ’n Halloween-partytjie waarheen ons die volgende aand móét gaan. Ek het heelaand probeer om nie na die letsels op haar linkerpols te staar nie.
As kinders het Pa en Ma ons verbied om enige Halloween-partytjies by te woon, maar ek het toe al daarvan gedroom om eendag soos ’n ruimtevaarder aan te trek. Elodie het egter ander planne. “Fairytale gone bad” is haar voorstel.
Eintlik is dit net ’n verskoning vir haar om ’n sletterige Rooikappie te wees met rooi hoëhakskoene, geskeurde swart sykouse, ’n stywe swart rokkie en ’n rooi mantel om haar skouers. Elodie meen dat die swart broek, wit hemp, kruisbande en my paar Converse-skoene in my klerekas die perfekte outfit vir ’n soort Gothic Prince Charming is. Sy het vroeër vanmiddag vir my ’n tiara by Crazy Store gaan koop en die pienk nagemaakte diamant in die middel met ’n swart permanent marker ingekleur. Om alles af te rond cutex sy ook my naels swart en verf groot swart kringe om my oë. Dit is my idee om my hemp se kraag wyd oop te knoop en my ouma se rosary te dra.
Teen skemertyd parkeer ons voor die huis in Presidentstraat. Elodie kyk na haarself in die smukspieëltjie en sit rooi lipstiffie aan. Sy smak haar lippe. “Sien jou binne,” sê sy en klim uit asof sy nie vinnig genoeg van my af kan wegkom nie. Ek bly ’n rukkie sit en bekyk die hele affêre.
Dis net ’n kwessie van tyd voor die bure die polisie sal bel. Behalwe vir die musiek wat ek tot binne-in my kar kan hoor, is daar reeds ’n bakleiery in die oprit: Fred Flintstone stamp aan Darth Vader terwyl Marilyn Monroe hulle uitmekaar probeer kry.
Deur die karvenster sien ek ’n ruimtevaarder op die tuinmuurtjie sit, presies aangetrek soos ek altyd gewens het ek kon. Dis eers toe hy sy helmet afhaal dat ek hom herken: die ou met die oorbel wat altyd met ’n flat cap op sy kop voor die grasperk by die biblioteek sit en pyp rook terwyl hy Breytenbach se gedigte lees. Elodie was verlede semester in sy tutorgroep vir Filosofie, maar sy het nie genoeg omgegee om sy naam te onthou nie.
Hy kap sy pyp teen die muurtjie skoon en stop dit vol tabak. Elodie het vertel dat hy vreeslik hakkel en glad nie enige oogkontak met hulle in die klas gemaak het nie – volgens haar ruik hy soos die houtsaagsels onder in haar boetie se hamsterhok.
In die laaste bietjie lig sien ek die ruimtevaarder se voorkop blink, maar ek is nie seker of dit van sweet of van olierigheid is nie. In die middel van sy keel sit ’n groot adamsappel; daar is bietjies grys tussen sy dik bos swart hare, sy baard kruip af in sy nek.
Agter hom in die tuin pose Freddy Krueger en Florence Nightingale vir ’n foto wat Elvis van hulle neem. Die ruimtevaarder sien ek kyk vir hom; ek kyk vinnig weg.
Daar is ’n klop voor teen die ruit. ’n Man met ’n bloedrooi korset, stywe swart speedo en swart visnetkouse en stiletto’s tuit sy bloedrooi lippe vir my en gooi sy swart feather boa oor sy skouer. Elodie gaan nie gelukkig wees as sy dié outfit sien nie. Die man loop al giggelend die erf binne, spiere bult op sy skouers en borug.
Die ruimtevaarder hou my steeds dop.
Toe ek en Ma ná die pakkery my ouma groet, het sy my lank teen haar vasgedruk. ’n Sterk reuk het aan haar gekleef, soos dié van die rookoffers op my oupa se begrafnis. “Die Royal Albert is joune,” het sy in my oor gefluister sodat Ma nie moet hoor nie.
Die ruimtevaarder suig aan sy pyp, blaas kringetjies op na die donker naghemel. Hy staan op en kyk na my, beduie met sy kop in die rigting van die huis en verdwyn na binne.
Ek haal die rosary om my nek af, hang dit om die truspieëltjie en klim uit.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Uittreksel: Seuns weet deur Frederick Botha gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.




