KYK: tx, ch (thanks, christof), 'n film deur Adam Heyns oor sy pa Christof Heyns

KYK: tx, ch (thanks, christof), 'n film deur Adam Heyns oor sy pa Christof Heyns

Skermgrepe uit tx, ch (thanks, christof)

Om 'n merkwaardige lewe in fragmente te onthou

tx, ch (thanks, christof) is ’n dokumentêre film deur Adam Heyns oor sy pa Christof Heyns (1959–2021). Adam se suster, die singer-songwriter Willemien Rust, oftewel Philomène, se musiek word in die film gebruik.

Christof Heyns was ’n professor in en internasionale kampvegter vir menseregte. As voormalige dekaan van die regsfakulteit aan die Universiteit van Pretoria (UP) het hy ’n groot bydrae gelewer tot menseregteonderrig in Afrika, veral deur die Centre for Human Rights (CHR) wat hy in 1986 by UP help stig het. Hy was internasionaal bekend as raadgewer oor en aktivis vir menseregtekwessies, asook vir die opleiding van die volgende generasie menseregteadvokate en regters. In die 2010’s was hy ’n spesiale rapporteur vir die Verenigde Nasies (VN); hy was ook ’n lid van die VN se menseregtekomitee. In 2026 is dit vyf jaar sedert Christof se afsterwe. Sy vermenging van teorie en praktyk is sy blywende nalatenskap. (Lees in Christof Heyns: In Memoriam, saamgestel deur die CHR en die UP se regsfakulteit, meer oor sy lewe en werk.)

Met tx, ch poog Adam Heyns om sy pa in fragmente te onthou. Lees hier onder wat Adam deel oor die skeppingsproses van die film. Hy dink ook na oor hoe dié film verskil van en ooreenstem met die kort dokumentêr Exorcist of apartheid (2019) wat hy oor sy oupa, die oorlede Johan Heyns (1928–1994), gemaak het. Johan Heyns, bekend vir sy opstand teen die apartheidsisteem en die NG Kerk se destydse ondersteuning daarvan, is in 1994 in ’n sluipmoordaanval by sy huis om die lewe gebring. Hier onder vertel Willemien ook meer oor die musiek wat sy vir tx, ch geskryf het.


Adam Heyns vertel

Ek dink baie filmmakers het projekte wat hulle net uitstel. Dis veral die persoonlike goed wat in die agtergrond ingeskuif word. Dis ironies, want dit is juis daardie projekte wat uiteindelik die meeste vir jou beteken. Hierdie film was een van hulle. Ek het kort ná my pa se dood geweet ek sal een of ander tyd iets oor hom moet maak, maar ek het dit lank uitgestel. Miskien was ek net te besig. Miskien was ek net nie gereed nie? Maar die Christof Heyns Memorial Lecture by Oxford-Universiteit in 2025 was die deadline wat ek nodig gehad het om dit uiteindelik te doen.

Aanvanklik het ek probeer om sy lewe chronologies te orden: gebore hier, studeer dit, werk daar, reis hierheen, ensovoorts. Ek het ook geweet hy het ’n memory box gehad, so ek het my ma gevra om vir my materiaal Kaap toe te pos. Dit het die basis van die film geword. Op ’n stadium het ek besef ek gaan nie ’n volledige portrait van my pa kan maak nie, maar ek kan werk met wat oorbly: fragmente, herinneringe en goed wat nie altyd heeltemal ’n plek het nie. Dit was by tye oorweldigend. Dis intens om vir ure met jou oorlede pa se beeld te sit in ’n edit en dit oor en oor te kyk.

Daar’s ’n deel waar ek hom afneem terwyl hy Pink Floyd se ‘Wish you were here’ op die kitaar speel. Ek dink my pa was nogal badass vir ’n academic. Hy’t in bands gespeel; mense oor die hele wêreld connect. Tydens sy termyn as UN- special rapporteur het hy gevaarlike plekke besoek waar mense dikwels op baie wrede maniere vermoor is. Tog was hy amper radikaal optimisties oor die mensdom en oor geregtigheid. Ek hoop daai deel van sy karakter kom deur in die film.

Die collab met my suster Willemien was nie iets wat ons vooraf beplan het nie. Dit het baie organies gebeur. Sy was in die demo-fase van haar nuwe album toe ek aan die film begin werk het. Daar is ook ’n voice note wat sy vir my gestuur het terwyl ek besig was om te edit. Dit was nie bedoel vir die film nie, maar dit het iets vasgevang van hoe sy oor ons pa dink en oor hoe mens tussen generasies en van die ander kant van die dood mekaar nog steeds kan liefhê en na verlang. Ek het dit net so ingesit en dit het een van die sleuteloomblikke in die film geword wat klomp van die idees saamvat. Soms gebeur daar sulke mooi goed in ’n edit. Ons het ook ’n track van Jacob Israel gebruik, saam met wie ek al voorheen gewerk het op Exorcist of apartheid. Sy musiek is so intiem, maar ook effens dringend – ’n bietjie soos my pa aan die einde van sy lewe.

Ek dink my pa was nogal badass vir ’n academic. Hy’t in bands gespeel; mense oor die hele wêreld connect. Tydens sy termyn as UN- special rapporteur het hy gevaarlike plekke besoek waar mense dikwels op baie wrede maniere vermoor is. Tog was hy amper radikaal optimisties oor die mensdom en oor geregtigheid.
— Adam Heyns

Ek wil graag vir Frans Viljoen van die Centre for Human Rights by die UP bedank. Hy het dit moontlik gemaak vir my om saam met my ma Oxford toe te gaan en die film by die Christof Heyns-gedenklesing te wys. My vriend en musikant James Robb het op die laaste oomblik gehelp met die stemopname; my verloofde Lana Mathews het my afgeneem; en Bibi Slippers het ’n ogie gehou oor die edit en onderskrifte.

tx, ch en Exorcist of apartheid gaan albei oor iemand in my familie, ’n prof Heyns, wat op sy eie manier vir geregtigheid gestaan het en te vroeg oorlede is. In albei films werk ek met materiaal wat deur hul vroue bewaar is. In Exorcist of apartheid was dit VHS tapes wat my ouma vir my gegee het, en in hierdie film was dit ’n boks foto’s en albums wat my ma vir my gestuur het.

Toe ek destyds Exorcist gemaak het, het ek elke nou en dan stoom verloor met die produksie. My pa het op ’n stadium die projek (oor sy eie pa) byna oorgeneem en dit het spanning tussen my en hom veroorsaak. In hierdie film het ek myself meer direk ingeskryf en gewys. In Exorcist het ek teruggestaan en die materiaal toegelaat om self te praat. In tx, ch het ek gevoel dit was nodig om iets van die verhouding tussen ’n pa en ’n seun in te sluit. Dit maak die storie meer universeel as net ’n Wikipedia-styl showcase van ’n persoon se lewe.

Ek is trots op my pa en ek wens ek het meer tyd saam met hom gehad. Miskien is hierdie film ’n manier om nog in gesprek met hom te wees. Dis ook ’n poging om iets van hom te deel met mense wat hom nie ontmoet het nie. Daar is ’n toneel in die film waar ek en hy saam roei in Stilbaai. Dis ’n GoPro clip uit 2017 wat ek op my foon gevind het. Ons begin saam roei, dan gaan ons op ons eie paaie; ons bots selfs, maar aan die einde vind ons mekaar weer. Dis amper soos ’n metafoor vir ons verhouding.

Willemien Rust vertel

Met tx, ch het ek en Adam die afgelope paar jaar eintlik onafhanklik aan dieselfde subject matter gewerk. Adam se film oor ons pa se lewe, legacy en dood word so mooi vervleg met terugflitse en besinnings oor hul pa-en-seun-verhouding. My mees onlangse musiek handel ook oor baie van dieselfde temas. Ons het laasjaar toevallig op die regte tyd gesels en besef ons tydsberekening kan reg uitwerk om van my musiek in sy film te integreer.

Ek het onlangs gehoor mense praat van die sesde fase van rou, genaamd meaning. Soos ek dit verstaan, is die idee nie om sin te probeer maak van die afsterwe van ’n geliefde nie; dis eerder ’n fase waarin jy betekenis skep met die “leftover-liefde” vir die oorledene wat jy nog steeds saamdra. As creatives probeer ek en Adam seker maar net om iéts te maak uit al die hartseer – elkeen op ons eie manier, maar ook nou sáám. Ons pa het ’n besonderse writable, filmable, singable, memorable lewe gelei en dis ’n helende proses om aspekte daarvan te probeer vasvang. Natuurlik is dit ons uiteindelike hoop dat ons werk ook vir die kyker of luisteraar van waarde sal wees. 

Foto: Suzanne Loots

“Philomène” is my Franse alterego wat ek destyds aangeneem het toe ek vir lang tye op my eie in Frankryk gewoon en gereis het, danksy studiebeurse. Ek het daardie tyd gevoel dat die gebruik van ’n Franse naam my meer selfvertroue gee in die geselskap van die Franse! Later het dit sommer die naam geword wat ek as Franse dosent by Tukkies gebruik het, en deesdae is dit my verhoognaam. ’n Demo version van ‘Sonsoeker’ (my eerste single en die titel van my album wat op pad is) en ‘Ek moes’ word in die film gebruik. Die album behoort in Julie vanjaar vrygestel te word. Die meeste liedjies is in Afrikaans, maar daar is ook ’n Franse verrassing of twee, sowel as toonsettings van Engelse gedigte.

As creatives probeer ek en Adam seker maar net om iéts te maak uit al die hartseer – elkeen op ons eie manier, maar ook nou sáám. Ons pa het ’n besonderse writable, filmable, singable, memorable lewe gelei en dis ’n helende proses om aspekte daarvan te probeer vasvang.
— Willemien Rust

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van KYK: tx, ch (thanks, christof), 'n film deur Adam Heyns oor sy pa Christof Heyns gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand