Wadde-WAT is 'n leksikograaf?

Collage van kaartjiemateriaal uit die WAT se argief deur Maryna. Skermgrepe van woordeboekartikels wat ter illustrasie in hierdie artikel geplaas is, is met toestemming en waardering uit die Woordeboek van die Afrikaanse Taal geneem.
Iemand wat help onthou, die hede kan weerspieël en die boustene vir die taaltoekoms lê
Onlangs nooi ’n vriendin my saam na ’n braai – haar niggie en dié se man is net vir ’n rukkie in die Wes-Kaap en almal kom bymekaar. Ek stem in, en soos te verwagte van ’n aand waar ’n mens ander vir die eerste keer ontmoet, is daar die tipiese ysbrekervrae: Wat wil jy drink? Gaaf, waar het jy grootgeword? O, hoe het dit dan gebeur dat jy dan nou in X woon? Dis baie interessant dat jy in Y studeer het; watter werk doen jy nou?
Dit is toe dat my liewe vriendin, met die beste bedoelings, my onderbreek voor ek nog iets kon uitkry om te sê ek is ’n leksikograaf in training. Oorkant my is die reaksies interessant: Die een se gesig vertrek in ’n vraagteken en die ander se oë raak dof. Wat de fok is dít?
Die leksikograaf en die leksikografie
Voor ek meer spesifiek kan antwoord, moet ek daarop wys dat die leksikograaf (die wie) haar binne die leksikografie (die vakgebied, of die wat) bevind. Dit is meer sinvol om te begin met die wie as die wat, en om dit te doen, kan daar (met apologie) uit Ambrose Bierce se The Devil’s Dictionary geleen word om te verduidelik dat die leksikograaf ’n “persistent fellow” is wat ’n taal (of dele daarvan) opteken. Die optekening kan verskillende vorms aanneem, maar die algemeenste is naslaanbronne oor taal, spesifiek woordeboeke. Meer spesifiek nog, sou ’n mens kon sê dat ’n leksikograaf haar meestal besig met die samestelling van naslaanbronne, soos woordeboeke, en dat sy haar in die proses besig hou met allerlei klein take of besluite wat uiteindelik aanleiding gee tot die naslaanbronne as leksikografiese produkte.
Die vertrekpunt is vir die leksikograaf om te besluit watter leksikale items (die woorddele, woorde en uitdrukkings in ’n taal) in ’n woordeboek opgeneem behoort te word. Hierdie besluit word dikwels gebaseer op bewyse uit korpora en ’n oorweging van gebruiksfrekwensie en -konteks, oftewel versamelings of databasisse tekste in ’n taal of variëteite daarvan (byvoorbeeld resensies, boeke, tydskrifte, koerante, tesisse, webblaaie en selfs blogs) wat vir die leksikograaf ’n aanduiding gee van watter leksikale items gebruik word, hoe baie of gereeld en in watter kontekste, streke of areas. Hoe ’n korpus saamgestel word en die tekste wat ingesluit word, hang van ’n paar faktore af, onder andere die tipe woordeboek en vir wie dit beplan word. Maar wanneer daar genoegsame bewyse is van ’n bepaalde item (’n woorddeel, woord of uitdrukking) se gebruik, word daardie item opgeneem in ’n woordeboek en ’n lemma genoem. Dit is die lemma waarna jy soek wanneer jy deur ’n woordeboek blaai.
Vir die gebruiker van ’n woordeboek dien ’n lemma daarom as ’n gidselement – dit is daardie deeltjie van ’n woordeboek wat wys waar ’n nuwe artikel begin, of met ander woorde waar die leksikograaf haar aandag op ’n bepaalde item spits en meer daaroor gaan sê. In ’n woordeboek kan dit so lyk:
Die artikel vir poelpetaat in die WAT
Dit is ook hier, by die “meer sê”, waar die leksikograaf se ander take intree: In baie woordeboeke verwag die gebruiker morfologiese data, ’n verklaring van die betekenis(se) van die leksikale item wat deur die lemma verteenwoordig word, en ’n voorbeeld of tipe illustrasie van hoe die leksikale item gebruik word.
Ek sal dit later prakties illustreer, maar tot dan beteken dit eerstens dat die leksikograaf data moet gee wat verband hou met die taalkundige struktuur van ’n item en die vorms wat dit kan aanneem, wat morfologiese data genoem word. Dit beteken byvoorbeeld dat die meervoud of verkleiningsvorm van ’n item gegee word, die trappe van vergelyking, of die verskillende vorms van ’n werkwoord. So kan ’n woord soos onstabiel ook die vorm aanneem van onstabiele, onstabieler (of meer onstabiel) en die onstabielste (of mees onstabiele). ’n Woordeboek moet hiervoor voorsiening maak dat ’n gebruiker die variasie en verskillende vorms kan sien.
Die meeste mense wat iets in ’n woordeboek naslaan, wil egter weet wat iets beteken. Om dit te kan vasstel, moet die leksikograaf tweedens ’n verskeidenheid optekeninge van die item bestudeer, oftewel neergeskryfde, afgetikte of geskandeerde voorbeelde van hoe die item al gebruik is. Dit is nodig sodat sy kan sien hoe die item gebruik word en daarvolgens kan verduidelik wat mense bedoel wanneer hulle ’n item gebruik en dus die betekenis kan distilleer uit werklike taaldata (nie haar kop nie!). In die geval van sommige leksikale items, is dit betreklik maklik, want ’n mens is self bekend daarmee sodat jy maklik verstaan wat bedoel word en miskien aan sinonieme kan dink, soos met tevergeefs x vergeefs x vrugteloos. Verder kan ’n mens soms klaarkom met een betekenisverklaring, wat beteken ’n leksikale item is eenduidig of monosemies, soos by doodsiek, trammakassie of mannemoed.
Ander kere is dit taamlik moeilik, soos wanneer ’n mens iets moet verduidelik waarvan jy nog nooit gehoor het nie (of laas in die graad 10-biologieklas). Leksikograwe is taalmense en die meeste is minder gesteld op ’n perikarp, stagflasie of triakontaan, maar ’n mens kom ook voor dié terme te staan. Veral uitdagend, is leksikale items wat baie betekenismoontlikhede het, oftewel meerduidig of polisemies is. Dink hier aan items soos -siek: As iemand koopsiek is, is hulle gek daarna of behep daarmee, maar ’n karsiek of seesiek persoon is nie noodwendig iemand wat gaande is oor motors of bote nie. In sommige gevalle is die betekenismoontlikhede boonop nie vir alle taalgebruikers met die eerste oogopslag ewe duidelik nie, maar die leksikograaf moet die bedoelde betekenis ontsyfer deur na die konteks te kyk en dit akkuraat weergee. Die woord swartbier of stout lyk op sy eie redelik maklik en is tog ’n bekende konsep, maar afhangend van die sin, kan dit verwys na die tipe bier, ’n spesifieke soort swartbier (soos Guinness) of ’n glas, houer of bottel met swartbier daarin. So ook is daar soms figuurlik betekenisse en gevoelens wat ’n rol speel; ’n kêrel wat sy meisie bokkie noem, is immers nie besig om haar met ’n blaarvretende vierpotige soogdier te vergelyk nie. Dit alles is iets waarmee die leksikograaf moet rekening hou.
“Leksikograwe is taalmense en die meeste is minder gesteld op ’n perikarp, stagflasie of triakontaan, maar ’n mens kom ook voor dié terme te staan.”
Naas hierdie betekenisverklaring wil die leksikograaf derdens gewoonlik probeer om vir ’n woordeboekgebruiker te wys hoe die tersaaklike item gebruik moet word. Hiervoor kan leksikograwe kollokasies, poëme of sitate aanbied. Wanneer leksikograwe kollokasies gee, lys hulle algemene kombinasies van woorde wat met die leksikale item voorkom. ’n Voorbeeld hiervan vir die woord stink sou kon wees “stink doeke, skoene, water”. Poëme is weer studeerkamervoorbeelde; dit is opgemaakte voorbeeldsinne wat die leksikograaf op bestaande taalgebruik baseer. Sitate is regte sinne wat iewers neergeskryf is (dikwels nou vasgevang in die leksikograaf se korpus), en wat die leksikograaf nou met ’n bronverwysing aanhaal.
Dit is alles tot dusver een deel van die leksikografie, naamlik die praktiese leksikografie. ’n Leksikograaf kan haar verder met ’n meer teoretiese komponent besig hou wat woordeboektradisie en woordeboekinnovasie oorweeg. Sy kan hier byvoorbeeld woordeboekresensies skryf of leksikografiese teorieë ontwikkel wat voorstelle maak vir hoe die praktiese leksikograaf beter woordeboeke kan saamstel. Die doel hiervan is dus om terug te ploeg in die praktyk.
Die geskiedenis en ontwikkeling van die leksikografie
Die leksikografie is eeue oud en het in sy tyd al verskeie hoede gedra. Dit is duidelik as ’n mens van die vroegste woordeboeke vergelyk met die moderne begrip van ’n woordeboek. Die leksikografie se afstamming is al teruggespoor tot een- en tweetalige woordelyste in Sumeries en Akkadies. Dié lyste is nog op kleitablette uitgekap en dikwels tematies georganiseer – byvoorbeeld met ’n afdeling vir plante, diere, die liggaam en gode. Woordeboeke is van vroeg af beskou as praktiese gebruiksinstrumente wat menslike kennis in houers moes saamvat, byna slegs vergelykbaar met die vernaamste houer van kennis, die menslike brein. Later het meer uitgebreide woordelyste met definisies begin verskyn en die leksikografie het al meer ontwikkel tot die eerste dictionarium (dictiō: “spraak” + -ārium: “plek” of “stoorplek”) wat teen die laat dertiende eeu verskyn het.
Nadat Johannes Gutenberg sy drukpers in die vyftiende eeu ontdek het en dit begin versprei het, het die leksikografie behoorlik posgevat. Woordeboeke is nou alfabeties georden en die fokus het verskuif van houers van kennis na ’n manier om inligting oor taal te versprei. Die bestendige groei het voortgegaan en dit wat nader aan die eietydse leksikografie is, het gedurende die agtiende en negentiende eeu behoorlik begin vorm aanneem. Dit is hier wat vername leksikograwe ’n nis gevind het en verskeie waardevolle bydraes gelewer het wat vandag nog bekend is. Dink byvoorbeeld aan Samuel Johnson, die samesteller van A Dictionary of the English Language (1755), wat die eerste groot eentalige Engelse woordeboek met sitate is om betekenisverklarings te staaf, of Vladimir Dal en sy Explanatory Dictionary of the Living Great Russian Language wat in vier volumes (gepubliseer vanaf 1863 tot 1866) ’n versameling Russiese woorde en uitdrukkings, gebaseer op volkstaal en mondelinge tradisie, saamvat.
“Woordeboeke is van vroeg af beskou as praktiese gebruiksinstrumente wat menslike kennis in houers moes saamvat, byna slegs vergelykbaar met die vernaamste houer van kennis, die menslike brein.”
Met die koms van rekenaars en later kunsmatige intelligensie het die leksikografie opnuut gegroei. Rekenaars het dit vir leksikograwe moontlik gemaak om woordeboeke makliker saam te stel en met groter gemak data te bekom om in daardie woordeboeke te sit, veral deur die samestelling en deursoek van korpora en natuurlik die gebruik van die internet. Dit het ook beteken dat verskeie tydrowende take nou heelwat minder tyd neem. Daarnaas kon woordeboeke elektronies en aanlyn beskikbaar gestel word, wat vir die woordeboekgebruiker baie voordele en gebruiksgemak inhou.
Die leksikografie op eie bodem
Buiten die tegnologiese ontwikkelinge, het heelwat prioriteits- en ideologiese verskuiwinge plaasgevind en die begrip van dit wat ’n woordeboek is (of eerder behoort te wees) het aansienlik deur die jare verander. Woordeboeke is van meet af saamgestel om gesaghebbend te wees, maar die teikengebruiker het verander. Woordeboeke is voorheen, veral rondom Samuel Johnson en sy eweknieë se tyd, saamgestel om deftige, welvoeglike taalgebruik vas te vang. Daar is gedink aan “die woordeboek”, eerder as “’n woordeboek”, wat duidelike grense moes stel om goeie, elegante taalgebruik duidelik te onderskei van Jan Alleman se taal. Die doel was vir ’n woordeboek om te wys wat om te doen, of wat om nié te doen nie.
In ’n mate is daar vandag nog woordeboeke wat min of meer normatief is en gemik is op ’n standaardvariëteit van ’n taal. In die Afrikaanse leksikografielandskap is dit byvoorbeeld die werk van woordeboeke soos die Verklarende Afrikaanse Woordeboek of ’n huishoudelike naam, die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (dalk beter bekend as die HAT). Die eietydse leksikograaf hou haar egter ook toenemend besig met die beskrywing van “gewone”, onopgesmukte taal soos dit regtig gebruik word. Daar is in dié verband interessante woordeboeke, soos die Woordeboek van Afrikaans Vandag (die WAV), waarin die redakteur poog om tred te hou met eietydse taalgebruik en ouer leksikale items wat meestal nie in ander woordeboeke opgeneem is nie. Ander woordeboeke, die kroonjuweel van ’n taal se naslaanbronne, het weer die doel om ’n taal in sy wydste omgang (waarvoor betroubare taaldata gevind kan word) op te teken sodat almal kan meepraat in die woordeboek oor hulle taal.
Vir Afrikaans is dié kroonjuweel die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (die WAT), wat volgens sy inleiding só saamgestel moet word om te weet wat is wat en die Afrikaanse taalgemeenskap in die breë te verteenwoordig. Die WAT (vanjaar in sy honderdste bestaansjaar) moet dit regkry om die Afrikaanse woordeskat op drie vlakke so omvattend moontlik voor te stel. Eerstens moet ’n mens die omvattendheid uit die lemmas (die opgenome leksikale items) kan sien – van gestandaardiseerde items tot variëteite; leketaal tot ’n mate van vakkundige terme; en deftige taal tot plat, kru of lasterlike taal en vloekwoorde moet opgeneem word. Die WAT-redaksie is nie die polisie wat moet keer dat sekere woorde (waarvoor daar genoegsame bewyse is) opgeneem en erken word nie.
Dit sal hier onder prakties gewys word, maar die tweede vlak is dat die WAT se verklaring van betekenisse omvattend moet werk. ’n Mens wil nie in die WAT net een of twee betekenismoontlikhede teëkom as ’n leksikale item geweldig veelsydig is nie. In die derde plek moet voorbeeldmateriaal uitgebreid wees; dit is verkieslik dat die spektrum van Afrikaans geïllustreer moet word en, waar moontlik, voorbeelde van werklike taalgebruik uit verskillende gebruiksdomeine en tye aangebied word.
Die WAT moet ’n skatkamer wees waarin allerlei leksikale items en betekenisse gevind kan word. Ter illustrasie kan die bewerking van tand oorweeg word. Die HAT gee twee hoofbetekenisonderskeidinge en 13 uitdrukkings daaronder, terwyl die WAV ’n unieke uitdrukking onder die lemma tuisbring. Hierteenoor gee die WAT vyf hoofbetekenisonderskeidinge (maar 14 as ’n mens in terme van subonderskeidinge tel) en ’n verstommende 28 uitdrukkings waarvan sommige twee betekenisonderskeidinge het. Sien byvoorbeeld ’n deel van die artikel:
’n Deel van die artikel vir tand in die WAT
Met hierdie omvattende aanbod kom ’n mens ook maklik af op interessante of komiese woorde, soos ’n ut (’n bleek persoon) of kakografie (onder andere ’n slegte handskrif). Veral ’n kroniese woordeboekleser behoort die streekvariëteititems te waardeer, want waar anders vind ’n mens woorde soos magol (’n vraat), poelpetaat (’n tarentaal), akkeltjies (dansbewegings, dikwels komies) of prikketasie (’n petalje) opgeteken wat die rykdom van Afrikaans weerspieël?
Die WAT bestaan egter nie in isolasie nie en bevind hom voortdurend in samewerking met ander Afrikaanse organisasies, groepe of individue. Dit sluit onder andere samewerking in met Afrikaanse vakkundiges (vrywilligers, soos professore, wat as vakkundige medewerkers optree) wat kan help wanneer ’n leksikograaf vasdraai met die verklaring van ’n tegniese term. Verder het die WAT saam met verskeie Afrikaanse taalorganisasies van regoor die land – insluitend die Afrikaanse Taalraad (ATR), die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) – by ’n slypskool bymekaargekom om ’n projek te loods. Die projek, naamlik ProVARIA (die Projek oor Variasie in Afrikaans), het dit ten doel om Afrikaanse variëteite na te vors, te beskryf en te dokumenteer, en hierin het die WAT ’n belangrike vennootrol.
“Veral ’n kroniese woordeboekleser behoort die streekvariëteititems te waardeer, want waar anders vind ’n mens woorde soos magol (’n vraat), poelpetaat (’n tarentaal), akkeltjies (dansbewegings, dikwels komies) of prikketasie (’n petalje) opgeteken wat die rykdom van Afrikaans weerspieël?”
Buite die Afrikaanse gemeenskap, is die WAT een van 11 nasionale woordeboekeenhede binne die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) se strukture. In dié hoedanigheid dra die WAT by tot die bevordering van meertaligheid en hy vervul ’n belangrike ondersteuningsrol aan die ander 10 eenhede deur redaksionele of bestuursopleiding aan te bied. Buiten dit, is die WAT, soos die ander eenhede, deel van die LexiEditors’ Forum. Hulle ontmoet om gemeenskaplike uitdaginge, soos kontrakte en die beskikbaarheid van fondse, te bespreek, en ook hier dra die WAT voortdurend by deur advies te gee en opleiding te bied.
’n Leksikograaf is uiteindelik wel iemand wat ’n taal opteken, maar ook soveel meer. Sy is die persistent opvolger van die leksikografiese seders voor haar wat met kleitablette ’n brug wou bou tussen ’n taal (of tale) en die sprekers daarvan. Sy poog om vele hoede te dra as ’n argivaris, bemiddelaar, vertolker en kurator – sy wil die verlede kan help onthou, die hede kan verstaan en weerspieël en die boustene vir die taaltoekoms lê. So ook leef sy ’n netwerkbestaan uit waarin sy nie sonder die breër (Suid-) Afrikaanse gemeenskap kan klaarkom nie.
En dít, verduidelik ek aan vraagtekengesig en dowwe ogies, ons glase al leeg en weer vol gegooi, is waddefok ’n leksikograaf is.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Wadde-WAT is 'n leksikograaf? gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.



